Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 299 of 328)

Dankbaarheid

Wat is daar waarvoor jy vanoggend werklik dankbaar is en kan wees? Dit is so maklik om beswaard en vol vrese te lewe. Dink maar wat nuuswaardig is? Ja, slegte nuus is nuus-waardig. Goeie nuus, het nie noodwendig ‘n positiewe impak in ons lewe soos wat slegte berigte van moord, staatskapings en bedrog het nie.

‘n Positiewe ingesteldheid teenoor God, my medegelowiges en die wêreld is nie iets wat maklik van ons as mense uitstraal nie. Die wonderlike in die Christelike geloof, is juis dat die Heilige Gees ons in staat stel om met ander oë na God, ons naaste en die wêreld te kyk. Jesus Christus is die Een wat die donkerte en die lelike kom verander het. So leer Romeine 12:2 dat dit God is wat ons innerlik verander om met ‘n positiewe en dankbare ingesteldheid te kan lewe.

Hierdie dankbaarheid hou in dat my verhouding deur Jesus Christus my leer om vir mense in my lewe, God in my lewe, ja, vir elke ding en vir elke dag dankbaar te wees.

Dankbaarheid fokus egter nie net op die wonderlike genade in en deur Jesus Christus nie, maar dit laat my ook in dankbaarheid lewe na buite. Ons leer in 1 Petrus 3:9 dat ons deur God se genade die slegte met die goeie kan beantwoord. So kan ons geloofwaardige getuies wees van God se liefde, sy goedheid en sy genade.

Dankbaarheid in Christus stel my in staat om na die wet te luister en my te verwonder oor alles waartoe ek opgeroep word en bemagtig word deur die Heilige Gees.

Dankbaarheid in Christus verander die aard en trant van my gebedslewe. In plaas van vrees kan ek dankbaar wees. In plaas daarvan om te vra en vra, kan ek God dank vir so baie wat ek onverdiend uit die Hand van die Here ontvang.
Dankbaarheid in Christus is een van die beste teenvoeters vir negatiwiteit, vrese en bekommernis.

Mag jy groei in jou dankbaarheidslewe vir al God se genade en mag jy bekend staan as ‘n vreugdeskind van die Here. Vergenoeg in alle omstandighede.

Ds Paul

Net die beste (goud) is vir God goed

Skriflesing: 1 Kon 6:1,2; 11-38
Teksvers: 1 Kon 6:12,13; 1 Kon 8:12,13

Alles op aarde behoort aan God. Jesus Christus is egter so nederig dat Hy ’n donkie-vul gebruik om Jerusalem binne te ry. Tog is net die beste goed genoeg vir God. Goud is baie duur en getuig van net die beste. Daarom bou Salomo ’n tempel wat vol goud was.

Gee jy die beste van jouself en alles wat jy is en het vir God?
Is jou lewe toegewy aan God? Ons gaan na drie sake kyk:

  1. God woon by Israel in ’n tempel van baie goud. (1 Kon 6:20-37)
  2. God woon by gelowiges in hulle harte wie se geloof kosbaarder is as goud. (1 Petr 1:7)
  3. God woon in die hemel met goue strate. (Open 21:21,22)

Laai af

Glo jy?

Skriflesing: Joh 1:1-12; Joh 20:26-31
Teksvers: Joh 1:1 en 20:30,31

Die evangelis/apostel Johannes skryf aan ons sý weergawe van die Evangelie naas dié van die Sinoptiese Evangelies (Mat, Mar, Luk) om sy lesers te oortuig dat Jesus van Nasaret werklik die Messias is wat so lank verwag is. Hy wil ons en al sy lesers oortuig dat geloof in hierdie Jesus die verskil maak tussen ewige lewe en ewige dood. Sy aanpak is dus nie om ‘n chronologiese weergawe van die ver-haal van Jesus te gee nie. Van die 35 opgetekende wonders word net na die 8 verwys en daar is geen gelykenisse in Johannes se skrywe nie.

Dus skryf hy op ‘n heel unieke wyse aangaande Christus. Om sy leser te prikkel noem hy Jesus aanvanklik ‘Die Woord’ (Logos). Ons woordjie “logika” stam daarvan af.

My konklusie is dus dat Johannes wil skryf: Dit is absoluut logies dat as jy die ewige lewe begeer, dan moet jy glo dat Jesus werklik die Christus, jou Verlosser is. Daarsonder is jou geloof tevergeefs.

Laai af

Die aanloop tot Dordrecht (1618)

Die Dordtse Leerreëls is die geformuleerde reaksie van die Sinode van Dordrecht op die remon-stransie (protes of teenbetoog) van ’n groep predikante wat later as die Remonstrante bekend geword het. Die Sinode, wat in dié stad in Nederland plaasgevind het, word op 13 Nov geopen en sluit af op 29 Mei 1619.

Die aanloop tot die Sinode word ietwat vroeër gevind in die dispuut wat tussen twee professore ontstaan aan die teologiese fakulteit van Leiden en hul volgelinge, naamlik Jacobus Arminius (1560-1609) en Franciscus Gomarus (1563-1641). Die dispuut tussen hulle ontstaan oor die uitverkiesing wat vir Arminius daarop neerkom dat God van ewigheid besluit het om sommige in Christus vir wie Hy geloof skenk, te regverdig, tot kinders aan te neem en aan hulle die ewige lewe te skenk. Eweneens is die verwerping van ander ’n besluit van die toorn of van die streng wil van God waardeur van ewigheid besluit is dat hulle nie sal glo nie en buite die gemeenskap met Christus gestel is, verdoem tot die ewige dood. Eenvoudiger gesproke het dit ook gegaan oor die vraag of gelowiges ’n bydrae tot saligheid kan lewer al dan nie.

Die aanvanklike meningsverskil tussen Arminius en Gomarus en hul volgelinge verbreed en loop uit op twee strydende partye wat bekend sou staan as die party wat Arminius gesteun het, naamlik die Remonstrante, teenoor die Contra-Remonstrante wat uit die aard van die saak Gomarus se standpunt verder gevoer het. Behalwe die twee kerklike partye wat teenoor mekaar te staan gekom het, raak die owerheid ook betrokke – wat in dié tyd as normaal beskou is.

Die aard en omvang van die verskille tussen Arminius en Gomarus kom aan die lig in die dispu-tasies of openbare lesings wat respektiewelik op 7 Feb en 31 Okt 1604 plaasvind. Die spanning verhoog sodat dit uiteindelik vir die kerkraad van Leiden en die kuratorium duidelik word dat daar inderdaad diepliggende verskille tussen die twee professore was. Arminius wend hom tot die Staten van Holland en Wes-Friesland (die owerheid van twee Nederlandse provinsies), en op 30 Mei 1608 verskyn Arminius en Gomarus saam met vier predikante op las van die Staten voor die sogenaamde Hoge Raad. Die samekoms lewer nie die gewenste resultaat nie, selfs as onder leiding van Johan van Oldenbarnevelt (1547-1619) (raadspensionaris of landsadvokaat) op 12 Aug1609 verdere gesprek gevoer word oor regverdiging, predestinasie en hersiening van die belydenis. Die spanning neem toe en versprei verder in die kerk. Nog voor die vergadering formeel beëindig is, moes Arminius hom weens siekte onttrek; hy sterf op 19 Okt 1609. Tydens die Sinode van Dordrecht 1618 word egter beslis dat Arminius se dwaalleer nie aanvaar word nie en die Dordtse Leerreëls word as antwoord opgestel.

Ds Maarten

« Older posts Newer posts »