Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 298 of 328)

Waar kom die Evangelies van Markus vandaan?

Die mense het nie destyds boeke geskryf soos ons nie – die meeste kon nie skryf nie en die materiaal was baie duur. (Daar was nie CNA’s waar mens vinnig papier kon koop nie). Omdat alles nie neergeskryf is nie, is die mense van kleins af geleer om te onthou – hulle moes dinge memoriseer. (Daar word vertel dat van Griekse kinders verwag is om bv. Die Iliad – ‘n reuse dik boek – te memoriseer). Juis omdat niks neergeskryf is nie, was dit ‘n storiekultuur. Die aand om die vuur is die stories wat belangrik was oor en oor vertel en die mense het daaruit geleer. So deur en saam met stories het hulle baie belangrike kennis opgetel oor die lewe.

So het dit ook gewerk met Jesus. Hy het niks neergeskryf nie. Sy dissipels het alles gehoor en… onthou. Na Jesus se hemelvaart het die dissipels die verhale oor wat Jesus gesê en gedoen het, oorvertel aan die Christene. Hulle het dit weer onthou en vir ander vertel. Dit was die eerste wortels van die Evangelies – die verhaal van Jesus was in die koppe van die Christene bewaar. Die dissipels/apostels het gesorg dat die ouens nie sommer die stories verander nie. Hulle was die waarborg vir die waarheid van die stories.

Toe die apostels begin doodgaan en die kerk begin uitbrei het dit nodig geword om ‘n ander plan te maak – die verhale is neergeskryf. So is die verhale “bewaar” – nou kan mense dit nie verander nie en het dit outentiek gebly soos die dissipels dit vertel het.

Markus was die eerste evangelis wat die verhaal van Jesus neergeskryf het. Die Markus-evangelie is dus ons oudste evangelie. Dit het so 30-40 jaar na Jesus se hemelvaart ge-beur, dus so tussen 60 en 70nC. Dit is belangrik om net weer te sê: die evangelie het nie toe tot stand gekom nie. Dit is net toe neergeskryf. Dit wat van die begin af in die geheue van die Christene was en elke dag aan mekaar oorvertel is, is toe net neergeskryf.

Hoewel dit altyd moeilik is om vas te stel wie ‘n boek geskryf het (hoe weet ‘n mens presies as jy nie die persoon self sien skryf het nie), is daar tradisioneel aanvaar dat Markus die skrywer was. Dit is ook nie seker waar hy presies was toe hy die evangelie geskryf het nie, maar Antiogië aan die Orontes (die hoofstad van Sirië) is ‘n goeie moontlikheid. Dit was in die eerste eeu die hoofstad van die Christene buite Jerusalem en was ook die stad vanwaar Paulus sy sendingreise onderneem het.

Prof Jan vd Watt

Praat in liefde altyd die waarheid

Skriflesing: Ef 4:8-16
Teksvers: Ef 4:15

Ef 4:15 “maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag…” ’53 vert.
Ef 4:15 “Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly…” ’83 vert.
Eph 4:15 “Instead, speaking the truth in love,…” NIV

Die Griekse woord vir betrag of bly beteken dat ons altyd die waar-heid moet praat en daarin bly, maar dan die waarheid met liefde praat en bedien. So dikwels kan mense onder die dekmantel van dit is die waarheid uit die Skrif harteloos en hard en ongenaakbaar wees teenoor ander mense se foute of sonde. Waarheid sonder liefde is harteloos. Waarheid sonder liefde maak seer en stoot weg. Jesus Christus het ons sonde aangespreek, maar nooit veroordelend nie, maar met bewoënheid met die oproep tot bekering.
Paulus leer aan ons in hierdie verse twee sake:

  1. DAT ons die waarheid moet praat en
  2. HOE ons die waarheid moet praat.

Laai af

Eenmaal ‘n kind van God, altyd ‘n kind van God: Waar of vals?

Skriflesing: 1 Petrus 5:10
Teksvers: 1 Petrus 5:10

Kan dit wees dat iemand verlore kan gaan wat werklik tot geloof in die verlossing in en deur Jesus Christus gekom het? Paaie loop uiteen in die geloofswêreld oor volkome geloofsekerheid en blywen-de geloofsekerheid. Waarom is daar uiteenlopende beskouinge oor geloofsekerheid? Die rede kan gesoek word in die verskil in beskou-ing oor Wie God is en in die beskouing oor wie die mens is, asook waartoe die mens in staat is na die sondeval.

Is daar iets goeds in die mens self? Is die mens in homself in staat om in die geloof enduit te kan volhard? Of is dit eerder God wat met die gelowiges enduit volhard?

Het jy geloofsekerheid? Op grond waarvan het jy hierdie sekerheid? Of aan die ander kant wat is dit wat jou laat twyfel?

Laai af

Eljada Huis 6 September 2018

(Last updated on Februarie 21st, 2019)

 ELJADA HUIS

Boekenhoutkloofstraat 949, Claremont
012 377 0503 / 060 984 0809(An) / 079 377 5711 (Petro)
eljadahuis@mweb.co.za / www.eljadahuis.weebly.com
Bankbesonderhede: Eljada Huis, Standard Bank, Montana,
Marketlink spaar, 044396058, Bankkode 051001
***********************************************************

6 September 2018(14)

Goeiemôre Almal,

Waarlik ‘n voorreg om met ander te gesels oor die Here en wat Hy vir ons doen. Hierdie was ‘n dolle week van dink en doen en dankbaarheid onbeskryflik groot.

Maandag het ons gaan patats laai in East Lynn waar bykans 14ton afgelaai is. Bevoorreg soos altyd het ons ook ‘n uitnodiging ontvang om te gaan haal soveel ons wil. Dadelik het elke individu en ander instansies se name in my kop gerol om seker te maak dat soveel moontlik ander swaarkry mense ook voordeel kan trek. Hierdie onbekende donateur het hierdeur ontelbare mense ‘n stukkie kos op die tafel gegee. Eljada Huis het 40kg verwerk en gevries en verder vir bykans 500 mense kon gee. Dit is nogal die pienk patat en gevul met baie meer vitamines as die wit een. Selfs my hondjies het van die afval stukkies begin vreet en dit baie geniet. Ja wanneer die nood op sy hoogste is tree God self in om te voorsien. Ons dank Hom daarvoor.

Ons opedag verlede Saterdag het weer ‘n heerlike kuier oggend geword en ek wil elkeen wat hier was weereens bedank vir die moeite wat hulle gedoen het. Om met medegelowiges oor die Eljada Huis te praat is altyd vir my die hoogtepunt van elke dag. Om ook vir almal wat betrokke is deur veral gebed, kos, kontant, klere en ander lewensmiddele wil ek my opregte dank uitspreek.

Ons het ‘n skootrekenaar gekry en was die man se oë vol trane toe ek hom vertel. Hulp vir die jongman wat verder wil studeer wat nie kan verstaan dat ons soveel het om te gee net omdat ons in volkome afhanklikheid leef en werk hier nie. Ek het vir hom gesê dat solank dit nodig sal wees vir hom om sy studie te voltooi sal ons hulle ondersteun met kos, klere en ander behoeftes en die onbegryplikheid in sy oë wat met trane gevul was het my weer laat besef hoe groot ons God is. Dankie Vader. Amen

Ons was gister by oom tandmaker en die 4 wat hy na gekyk het moet nou eers tande laat trek en stop en skoonmaak voordat hy kan begin. Ek sal julle op hoogte soos die behoefte vir die maak van die tande en draadjies verbykom. Dankie reeds daarvoor.

Ons dogter is baie goed versorg vir haar leirskapskamp in Oktober en wil ek aan die onbekende borge weereens my dank uitspreek.

Ons het ‘n groot behoefte aan klere vir die Koningskinders by GK Daspoort. Saterdag 15 September is daar ‘n werwingsdag om meer kinders en ouer betrokke te kry. Ek is self ‘n Daspoorter en wil graag help.

Twee dogters wat by ‘n spesiale skool is se skoolsakke is flenters. Sal waardeer as ons dalk vir hulle nuwe tasse kan gee. Onderskeidelik 16 en 15 jaar oud dus ‘n tas wat baie kan akkommodeer. Dankie by voorbaat.

Ek vra ook vir appelbokse en kratte want baie van die wat ek gehad het is in die brand verwoes. So ook 2 van ons staaltafels. Baie dankie.

Ek herhaal my versoek van verlede week:

Ja ons bly steeds in die NOOD vir suiker, koffie, pasta, boksmelk, nie-bederfbare blikkies of pakkies, tee, ontbytpap, broodsmere, en toiletware.  Ek wil graag weer die voorstel of uitdaging rig vir elke gemeentelid om net EEN blikkie, bottel of pakkie elke Sondag by die kerk af te gee. As al die lidmate dit doen van al die gemeentes sal ek nooit weer hoef te noem dat daar ‘n NOOD by Eljada Huis is nie en sal die kaste kreun van oorloop. Elkeen wat ‘n pakkie kos hier wegdra WEET dit kom nie uit ons hande nie maar van BO. Amen.

Lekker naweek                                                                                   Annatjie

*************************************************************************************

Dankbaarheid

Wat is daar waarvoor jy vanoggend werklik dankbaar is en kan wees? Dit is so maklik om beswaard en vol vrese te lewe. Dink maar wat nuuswaardig is? Ja, slegte nuus is nuus-waardig. Goeie nuus, het nie noodwendig ‘n positiewe impak in ons lewe soos wat slegte berigte van moord, staatskapings en bedrog het nie.

‘n Positiewe ingesteldheid teenoor God, my medegelowiges en die wêreld is nie iets wat maklik van ons as mense uitstraal nie. Die wonderlike in die Christelike geloof, is juis dat die Heilige Gees ons in staat stel om met ander oë na God, ons naaste en die wêreld te kyk. Jesus Christus is die Een wat die donkerte en die lelike kom verander het. So leer Romeine 12:2 dat dit God is wat ons innerlik verander om met ‘n positiewe en dankbare ingesteldheid te kan lewe.

Hierdie dankbaarheid hou in dat my verhouding deur Jesus Christus my leer om vir mense in my lewe, God in my lewe, ja, vir elke ding en vir elke dag dankbaar te wees.

Dankbaarheid fokus egter nie net op die wonderlike genade in en deur Jesus Christus nie, maar dit laat my ook in dankbaarheid lewe na buite. Ons leer in 1 Petrus 3:9 dat ons deur God se genade die slegte met die goeie kan beantwoord. So kan ons geloofwaardige getuies wees van God se liefde, sy goedheid en sy genade.

Dankbaarheid in Christus stel my in staat om na die wet te luister en my te verwonder oor alles waartoe ek opgeroep word en bemagtig word deur die Heilige Gees.

Dankbaarheid in Christus verander die aard en trant van my gebedslewe. In plaas van vrees kan ek dankbaar wees. In plaas daarvan om te vra en vra, kan ek God dank vir so baie wat ek onverdiend uit die Hand van die Here ontvang.
Dankbaarheid in Christus is een van die beste teenvoeters vir negatiwiteit, vrese en bekommernis.

Mag jy groei in jou dankbaarheidslewe vir al God se genade en mag jy bekend staan as ‘n vreugdeskind van die Here. Vergenoeg in alle omstandighede.

Ds Paul

« Older posts Newer posts »