Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 300 of 328)

God stel alles in werking om sy wil deur te voer

Skriflesing: 1 Samuel 16
Teksvers: 1 Samuel 16:18 en 23

In hierdie perikoop openbaar die Here sy mag en beheer oor alles wat in die wêreld gebeur. Niks gebeur toevallig nie. Selfs die feit dat Dawid die gawe van die Here ontvang het om die lier (harp) te kon speel, word nou instrumenteel gebruik om Dawid in Saul se paleis te laat kom woon. God het dit so laat gebeur.

God is op tyd en op plek met die uitvoering van sy groot raadsplan. Selfs die oënskynlike kleinste dingetjies, soos ‘n lier, word gebruik om met nuuskierigheid en opgewondenheid te sien hoe die Here vir Dawid voorberei om eendag koning te word.

Kyk gerus weer ‘n keer hoe die Here in jou lewe selfs die klein-ste dingetjies gebruik om sy wil te laat geskied.

Laai af

Hoe word ek met die Heilige Gees vervul?

Skriflesing: Joh 14:15-31
Teksvers: Joh 14:16,17,25; Ef 1:13,14; Ef 5:18b

Ons moet onderskei tussen “die inwoning” van die Heilige Gees en “die vervulling” met die Heilige Gees. Ons ontvang die Heili-ge Gees net een keer as Hy in ons kom woon. Niemand kan uit vrye wil besluit of die Heilige Gees in jou moet kom woon of nie.

God bepaal dit. Aan al sy uitverkore kinders gee Hy die Heilige Gees op sy tyd en op sy wyse. Maar as ons die Heilige Gees in ons het moet ons voortdurend bid om al meer en meer met die Heilige Gees vervul te word, dit is om al meer en meer onder sy beheer te staan. Ons gaan na drie sake kyk:

  • Hoe kry jy die Heilige Gees
  • Hoe word jy vervul met die Heilige Gees?
  • Wat beteken dit om vervul te wees met die Heilige Gees?

Laai af

“Kuier onder die sterre”

Psalm 8:4,5

“As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink,
die mensekind dat U na hom omsien?”

In hierdie lofpsalm word die Skepper, God, in die skepping in digterlike taal beskryf. Sy grootheid, sy almag, sy heerlikheid en sy wonderlike Naam word beskryf. Dawid wat sekerlik baie nagte in die natuur onder die sterre deurgebring het besing hoe glansryk en onbeskryflik groot is die hemelruim met die maan en die sterre daarin. Hy voel homself klein voor God en die skepping van God.

Dit vervul hom met soveel blydskap en vreugde dat hy ook diep onder die besef kom van sy eie nietigheid, sy kleinheid as mens voor hierdie pragtige skepping. Hierdie Psalm is so belangrik dat Jesus Christus dit self aanhaal met die reiniging van die tempel in Mat 21:15,16. Die mens is so belangrik vir God gewees dat Hy sy eie Seun Jesus Christus ‘n mens laat word het sodat Hy sy kinders kon red en verlos met sy dood aan die kruis. Heb 2. God kry al die eer vir die skepping, die maan en die sterre en ook vir die mens wat God as heerser geskape het.

Saterdagaand, 8 September gaan ons as gemeente onder die sterre kuier. Dit gaan daaroor dat ons as gemeente aan God die eer toebring onder die sterre met ‘n heerlike kuier, Koinonia, gemeenskap van die heiliges. Ons gaan ‘n paar Psalms sing, die groot-heid van die skepping beleef en lekker saam eet aan potjiekos en lekker kuier.

Mag ons die grootheid van God altyd raaksien in die skepping.

Mag ons God altyd eer en verheerlik.

Mag ons saam met die Psalmdigter altyd God se grootheid besing met die woorde: Ps 8:2,10

“Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het!”

Ds Gerrit

God het alles goed geskape

Skriflesing: Gen 1:1-31
Teksvers: Gen 1:311; Pred 7:29; Tim 4:4,5

Genesis 1 is baie meer as net ’n verhaal oor die skepping. Dit is baie meer as net ses dae waarin alles gemaak is. Dit gaan hier oor die Drie-enige God wat geopenbaar word as die enigste God wat geskape het omdat Hy almagtig is. Hoeveel keer het u al gevra, gereël sodat iets gedoen moet word en dit het nie gebeur nie. God het net gespreek en dit het gebeur. Psalm 33:8,9 “Die hele aarde moet die Here vrees, al die bewoners van die wêreld moet vir Hom ontsag hê, want Hy het gepraat en dit was so, Hy het beveel en dit was daar.”

Ons gaan na drie sake kyk met die klem op die woorde in vers 31 “…en dit was baie goed.”

  • God het geskape.
  • God het geëvalueer.
  • God het alles baie goed verklaar.

Laai af

« Older posts Newer posts »