Die ingrendeling het ons as kerk tot baie insigte gebring… Dit laat ons opnuut nadink oor die doel en die wese van ons geloof, en natuurlik die wese van die kerk. Is daar iets dieper aan die belydenis van “heilige, algemene, katolieke kerk, die gemeenskap van die heiliges”?
Prof. Dries du Plooy skryf ‘n baie goeie en belangrike artikel in Die Kerkblad, Junie 2020 oor die wese van die erediens en of dit moontlik is om sakramente so oor die internet te bedien.
Hy skryf: “Die tegnologie het in ons tyd geweldig ontwikkel en ons almal het ‘n goeie begrip van hoe kerke nuttig gebruik maak en kan maak van die tegnologie. Sondae kan ons met gemak en effektief elektronies inskakel en luister (en selfs kyk) na ons predikant (of na ander predikante) se aanbieding van ‘n virtuele diens.”
Hy skryf verder: “Dit is egter nie ‘n erediens nie. Die begronding vir ‘n erediens word in die vierde gebod gegee, en die prinsipiële raamwerk hiervoor vanuit die Skrif verder in Sondag 38 van die Heidelbergse Kategismus geformuleer. Belangrike elemente daarvan sentreer rondom die feit dat dit ‘n fisiese samekoms van gelowiges onder leiding van die Heilige Gees is waartydens na die bediening van die Woord geluister moet word, sakramente gebruik moet word, saam gebid word en die Christelike liefdesgawes gegee word.”
Hy verduidelik dan: “’n Inherente eienskap van die erediens is deelname en geloofsaktiwiteite tussen God en sy volk. Dis ‘n ontmoeting tussen God en sy volk op ‘n geskikte plek van aanbidding. Dit is ‘n amptelike vergadering van gelowiges (of kerk) onder leiding en toesig van die ampte wat God self daarvoor ingestel en laat bevestig het. Tydens sodanige erediens/ontmoeting met God is daar ‘n bepaalde liturgie (sakrale of heilige handelinge) wat van die aanvang tot die afsluiting ‘n besondere amptelike toonaard en karakter daaraan verleen (vgl. Ook die NGB art 27-32). “
‘n Erediens word uit die hemel as opdrag gegee. Dit is nie die “kerk” se erediens nie, maar die Here s’n. Dit is daar waar die gelowiges almal saam kom, om in die eenheid van ware geloof die Here met lofsange en danksegging en gawes te eer.
Die erediens is ‘n amptelike vergadering tussen God en volk. Amptelik. Met ander woorde die ampte moet teenwoordig wees. Want die amp gaan die kerk vooraf. Die Here gee eers die ampte, die gawes, en daarna versamel Hy die kerk.
“Hy het immers gegee, sommige as apostels en ander as profete en evangeliste en herders en leraars om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk…” Efesiërs 4:11 ev.
Daarom stel die apostel in Romeine 10:14 ev “Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie?”
Die geloof is dus uit die gehoor en die gehoor is uit die Woord van God… Deur die verkondiging van die evangelie kom ons deur die werking van die Heilige Gees tot geloof.
Die amp is noodsaaklik vir kerkwees. Sonder die ampte kan ons ook nie erediens hou nie, ten minste, nie soos die Here dit as opdrag gee nie. Daarom het ons as predikante onder leiding van die “Corona-kommissie” wat die bedieningskommissie is, soos aangewys deur die kerkraad, sover dit vir ons moontlik was die virtuele dienste gehou soos ‘n erediens.
Nou het ons egter weer toestemming van die owerheid om met die ampte ‘n erediens te mag hou. Ons bede is dat ons spoedig saam met die gemeente mag saamkom, soos die Here dit van ons verlang om Hom met ons hele hart en siel en al ons kragte te aanbid.
Lourens (vdm)