Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 160 of 332

Begin en Einde

Open 21:6
“…Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde….”

Vir elke mens is daar ’n tyd om gebore te word en ’n tyd om te sterwe, behalwe vir Henog en Elia. Selfs na sy mensheid was daar vir Jesus ’n geboortedag en ’n sterfdag. Dit is weer die einde van nog ’n jaar. ’n Jaar waar ons terugkyk en ook die geweldige impak sien wat dit op ons en die hele wêreld gehad het. Maar die einde van die jaar is dit ook ’n tyd van dankbaarheid. ’n Tyd van dankbaarheid dat ons nog ’n jaar kon leef tot eer van God. Ja en selfs waar ons nie tot Sy eer geleef het nie, het God dit so gemaak dat ons wel tot sy eer kon leef in en deur Jesus Christus se versoeningswerk. 

  • Vir ons as mense is daar in alles ’n begin en ’n einde. 
  • Vir Jesus Christus is daar net ’n ewigheid. 

As Jesus homself openbaar as die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde, dan beteken dit Hy is aan die begin reeds daar gewees. Aan ons einde is Hy steeds daar en sal altyd daar wees. Want Jesus Christus het nie ’n begin en ’n einde nie, maar Hy IS die Begin en die Einde, die Alfa en die Omega. 

So vier ons weer Chrisus se geboorte op aarde. Vir ons is dit die begin van Sy lewe op aarde, ja natuurlik as ’n mens, maar Hy is God van ewigheid af. So by God is daar nie’n begin en ’n einde nie, maar ’n Ewigheid. Dit is ons groot troos. Dit is wel die einde van 2021, maar dit is deel van die ewigheid van God. 

  • Kom ons bly dus glo en bly in vreugde God dien. 
  • Kom ons geniet ook nog ’n jaar wat God aan ons gegee het. 

 Weet dat ons nog in vreugde sal leef op aarde totdat God die einde daarvan bepaal het, maar dit is dan die begin van ’n ewigheid by God. 

Geniet die rustyd van die einde van die jaar. Mag ons met vreugde ook weer uitsien na die begin van die nuwe jaar. 

Geseende Christus fees vir almal toegebid. 

Ds. Gerrit 

Wat is die mens dat U aan hom dink?

Skriflesing: Hebreërs 2:1-18; Psalm 8:1-8
Teksvers: Hebreërs 2:6-9

Jesus Christus is meer uitnemend as die engele. Hy is die ewige ware God, die Eie Seun van die Vader. Maar Hy wat so uitnemend is, het selfs minder as die engele geword. 

Hy het sy eer en heerlikheid prysgegee om as mens aan sy broers gelyk te word. Oor die engele is Hy nie besorgd nie, maar oor die nageslag van Abraham. 

Wat is die mens tog, dat U aan Hom dink? 

Gewone mense dra die Kersboodskap

Skriflesing: Lukas 2
Teksvers: Lukas 2:8-20

Al ooit die vraag gevra waarom God juis aan die herders op Bethlehem se velde dié groot nuus bring? Of kom ons los die hoogdrawende woord en noem hulle sommer gewone skaapwagters. Veldmense. Vuil mense. Dom mense. Die lae klas! En was die onbetroubares en onreines, en tog maak die Here Homself eerste, heel eerste aan hierdie groep bekend.
Dit sal ook later blyk dat baie min mense hulle aan die skaapwagter ”fabels” gesteur het, want jare later weet niemand meer dat Jesus in Bethlehem gebore is nie en niemand glo dat Hy die Messias is nie.
Jesus kom vereenselwig Hom met die gewone mense en gebruik hulle selfs as die eerste “sendelinge” van die evangelie!

« Older posts Newer posts »