Page 159 of 345
Skriflesing: Joh 1:19-34; Heb 12:1-3; Op 5:1-7; Job 42:5
Teksvers: Johannes 1:29
Die apostel Johannes het die doel om ons daarop te wys dat Jesus die beloofde Messias is. En as hy hom dan sien dan is daar hierdie opwinding in sy “stem”… Hy laat die Doper spreek: KYK! Kyk daar!
Hy roep ons op om die wonder van sy genade nie mis te kyk nie. Die Man van Nasaret, die seun van die timmerman, die mens Jesus, IS die Een wat in staat is om die onmoontlike te doen. Die beloofde een. Daar is net EEN, en dáár is HY! Kyk!
So by die Paasfees kan ons juis die wyse van die wêreld opgaan en Hom heeltemal miskyk!
Sien jy Hom ook raak?
Wys Hom dan aan hulle wat nog nie sien nie.
Skriflesing: Matteus 20:17-28
Teksvers: Matteus 20:18-19, 28
Jesus kondig vir ‘n derde keer aan dat Hy gaan ly en gemartel word en eindelik gaan sterf. Reeds by die eerste aankondiging het Petrus die Here opsy geneem en bestraf dat Hy nie moet sterf nie. Daar is duidelik ‘n valse idee van die ware betekenis van die Koninkryk van God. Ook hier word dit duidelik as die moeder van die seuns van Sebedeus na Jesus kom en vra dat hulle ereplekke moet kry in die Koninkryk.
Christus wys ons egter die teendeel, dat ons klein moet word om groot te wees. Ons staan vanmore stil by die aanloop tot Paasfees en die verwagting van die dissipels.
Dit is met groot dank aan elkeen wat gehelp het om die eerste Koningskinders kamp moontlik te maak. Daar was 50 kinders uit ons gemeenskap wat saam gekamp het en 25 lidmate uit ons gemeente wat onder meer gehelp het as groepleiers, kosspan, speletjies en klerasie. Die jongste hulpgroepleier was 13 en die oudste TLC tannie was oor die 70, wat net bewys dat ieder en elk kan betrokke raak.
Dit sou egter nie moontlik gewees het om die kamp aan te bied sonder al die skenkings en bydraes wat ons ontvang het nie. Aan ieder en elk ‘n hartlike woord van dank. Moet dit egter nie net van my af neem nie, elke kind wat die geleentheid gehad het om daar te wees, het die bederf en liefde so bitterlik baie waardeer.
‘n Mens besef nie elke dag hoe groot verskil ‘n klein bydrae kan maak nie. Daar was ook twee pleeghuise hier in Lyttelton, wie se kinders saam kom kamp het. Een pleeghuis, Huis Dagbreek het reeds by ons gemeente begin inskakel, en ons hoop om hulle te help om van krag tot krag te gaan in hierdie noodsaaklike en onbaatsugtige opoffering om kinders geleenthede in die lewe te bied.
Ook ‘n besondere woord van dank aan ons diakonie wat gehelp het om al die middele te ontvang en aan te wend soos nodig.
Daar is heelwat kinders wat aangedui het dat hulle graag hier by ons wil inskakel. Indien u kan help en graag wil betrokke raak, kom meld gerus aan en word deel.
Aan God alleen alle eer!
Lourens(vdm)