Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 158 of 345

Iets rondom die Gereformeerde Kerk Elandskraal…

`n Pragtige gemeente aan die hange van die Magaliesberg. Die kerkgebou is gebou op die plaas, Elandskraal, na afstigting met Rustenburg (Vandaar die naam ‘Elandskraal’, nie ‘Mooinooi’ nie. Die plattelandse dorpie het eers later rondom die kerk en skool ontwikkel). Aanvanklik was dit `n sterk boerderygemeenskap, maar met die koms van die myne, het die omgewing al meer na `n myngemeenskap omvorm. Toerisme vorm ook `n gedeelte van die omgewing se ekonomie, met die bekende ATKV Buffelspoort, ‘n paar kilometer daarvandaan. 

Tans bestaan die gemeente uit 154 belydende lidmate en 56 dooplidmate. Meeste lidmate is op 1 van die 3 myne werksaam (veral by die myngroep, Sibanye), met nog net ‘n handjie vol boere (lett.) en enkele lidmate wat in groter omliggende stede werksaam is. Wat die gemeenteprofiel betref, is daar ‘n redelik eweredige verspreiding van lidmate tussen die verskillende ouderdomsgroepe. 

Die laaste tien jaar het die gemeenskap baie moeilike tye ervaar: 3 geweldadige stakings in 2012, 2014 en 2016, met allerlei herstrukturerings en afleggings as die direkte gevolg daarvan. Met Sibanye se oorkoop van Lonmin is sommige se posvlakke afwaarts aangepas en salarisse besnoei. Al hierdie verwikkelinge het ‘n geweldige impak op die gemeenskap, en ook op ons gemeente gehad (veral in lidmaattal). Tog was en is die genade van die Here groot deurdat Hy ons in alles en deur alles tot sover gedra het en nog sal dra. Ongelukkig het hierdie krisisse ook sy skadukant met allerlei sosiale probleme soos werkloosheid, drank- en dwelmmisbruik en gebroke huisgesinne. Tans dra die diakonie by tot die salaris van `n maatskaplike werker om die nood te help aanspreek, aangesien meeste mense dit nie kan bekostig om na stede te gaan vir hulp nie. 

Covid het natuurlik ook sy tol geëis. Maar met die genade van Bo kon ons afsluit met ‘n lekker “Bosveld-ete” vir die gemeente en gemeenskap. Ons kon die jaar ook begin met ‘n paar lekker aksies vir die jeug. Die gemeente het ‘n baie hegte en betrokke bejaarde groep wat voor covid, gereeld bymekaar gekom het. Dit bly steeds die gemeente se roeping om ‘n lig en sout te wees wat die hoop en genesing wat Christus bring, aan ons omgewing uit te dra. 

Ietsie oor die predikantsgesin… Ekself, het opgegroei in die Noorde van Pretoria, te Sinoville/Magalieskruin. Vandaar, Potch toe, waar ek gestudeer en my Spreukevrou, Christa, ontmoet het. Sy het in Lichtenburg gematrikuleer en is tans by Sasko-Brits werksaam as rekenmeester. Ons eerste gemeente was Bethal waar ons bedien het van 2004-2008. Daarna, na Komatipoort van 2008-2012 en van 2012 tot op hede, werk ons in Mooinooi. Die Here het ons geseën met 2 seuns, Jano(15) en Handre(13), beide leerlinge aan die Hoërskool Brits. Hulle doen graag atletiek, speel hokkie en krieket. As gesin is ons lief vir die natuur en as `n geleentheid hom voordoen, geniet ons dit om Drakensberge toe te gaan. Dis ons lewe om die Here te dien en dis vir ons lekker om dit saam met ander gelowiges te doen. Baie dankie vir die voorreg om die Woord en sakrament van ons Here aan u te bedien. 

Ds Nelius van Rooy 

Die bloed sal vir julle ‘n teken wees

Paasfees het vir soveel verskillende kulture en gelowe ‘n besondere betekenis. Vir die Jode is die Pesag die begin van die nuwe jaar. Dit is een van die hoogtepunte van die kerklike kalender wat elke jaar gevier moet word. Op hierdie dag, ong 3400 jaar gelede het die Here hulle gered uit Egipte. Vir die Egiptenaars is dit nie juis ‘n fees om te vier nie.

In Christus is die beloftes van die Testament vervul en vier Christene ‘n ander soort Paasfees as die Jode. Maar nie alle Christene vier op dieselfde wyse Paasfees nie. Sommige reis na Jerusalem en gaan wandel in Jesus se spore, en martel hulleself om te deel aan Christus se lyding en smarte.

Sommige assosieer Paasfees met paasbolletjies, ander met kerrievis en ander met ‘n pelgrimsreis na Moria. Daar is natuurlik ook diegene wat in Paasfees slegs die voordeel sien van ‘n langnaweek en ‘n ekstra vakansie.

Wat maak Paasfees vir jou spesiaal?

Aan die een kant sou ons kon redeneer dat Paasfees nie meer vir Christene ‘n fees is om te vier nie, aangesien Christus die betekenis volkome vervul het. Hy het aan ons ‘n ander fees gegee, die Nagmaal.

Tog kan ons ook aan die ander kant die kosbaarheid sien van die waarde wat hierdie vervulling van die Paasfees gebring het. Vergifnis van sondes en gemeenskap van geloof. Die Paasfees is ‘n merker om ons te herinner aan dit wat ons ontvang het in Christus.
Die bloed as teken. Die bloed aan die kosyne was ‘n teken. Nie net ‘n teken van die verlossing nie, maar ook van die dood. Die bloed is ‘n teken van God se oordeel en sy genade. Daardie bloedteken het verlossing gebring. Nie verlossing van die slawerny van die Egiptenaars nie, maar verlossing uit die hand van die Engel van die dood. So word die bloed van Christus ook vir ons ‘n teken.

As die Vader die bloed sien, is dit ‘n teken van die verlossing wat verwerf is. Dan sal die dood ook by jou pasga (verbygaan). Leef dan in daardie gemeenskap met God en dink aan die teken van sy bloed ook met jou doop.

Lourens (vdm)

« Older posts Newer posts »