Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 154 of 345

As die Strelitzias blom

Dit was twee jaar gelede dat ek hier in die kerk se tuin my trane moes inhou weens die eensaamheid en verlatenheid van die kerkwerf tydens die lockdown. Ek het op die stoep gesit en iets gedrink nadat ek die kerk se gras kom sny het wat in die lockdown nie opgehou groei het nie. Die son het so agter die strelitzias gesak. Daar was meer blomme as ooit voorheen. So asof hulle wou sê dat alles nie verby is nie. Die Covid-lockdown het ons stil gemaak, ingehok, bang gemaak. Wat wag vir ons? En dan skyn die laat middagson op die helder oranje van hierdie besondere blomme in die kerktuin en jy kry weer hoop en uitsig. 

En nou bloei hulle weer. In die afgelope twee jaar het ons ‘n paar van ons geliefde lidmate begrawe soos elke jaar. Sommige het weer regtig ‘n paar noue ontkomings met die virus gehad. Soms het ons gestruikel in ons vertroue weens die vrese en kommer. 

Maar die son skyn vandag weer deur die strelitzias… Die kerktuin ‘n lushof van hoop! 

Die Here was getrou. Die Here het gesorg. Hy het ons bewaar. Ja, selfs in die tye van dood en graf was daar die troos van “sal lewe al het hy ook gesterwe” (Joh 11:25,26). 

Die dood was hartseer, maar nie tragies nie. Want ons treur nie soos hulle wat geen hoop het nie. En nou dat Covid deel geword het van ons daaglikse lewenswyse kan ons nog steeds na die strelitzias kyk. Hulle blom weer. Elke jaar sal hulle blom want God, die onderhouer van sy skepping, sorg vir hulle… en vir ons. 

Hy sal ons bewaar in doodgevaar. Jou siel sal Hy bewaar. Die Here sal jou ingang en uitgang bewaar, van nou af tot in ewigheid! (Ps 121) 

Liefdegroete 

Ds Maarten 

Ns: Strelitzia van die genus Birds of paradise, uniek aan Suid-Afrika en verskyn op ons 50c, word ook die kraanvoëlblom genoem.

Jesus Christus is ons GROOT Hoëpriester

Skriflesing: Heb 4:14-5:10
Teksvers: Heb 4:14,15; 2 Kor 5:21; 1 John 3:5; 1 Pet 1:19
HK Sondag 14

Jesus Christus het ook die menslike natuur aangeneem deur soos ‘n mens gebore te word en waarlik self mens ook te word. Hy is gebore uit die maagd Maria. Maar Hy kan alleenlik ons Middelaar wees omdat Hy waarlik God en mens is, SONDER SONDE!

  • Die Hoëpriester was ‘n mens met sonde.
  • Die Groot Hoëpriester was sonder sonde.
  • Die Groot Hoëpriester was volkome Heilig.

Wens na God se wil

Skriflesing: 1 Konings 3:1-15
Teksvers: 1 Konings 3:9-10

As die Here vandag vir jou een wens sou gee, waarvoor sou jy vra? Met hierdie wens kan jy vra net wat jy wil, maar jy kry net een wens. Die meeste van ons het lankal ons wenslysie gereed. Vir die meeste van ons lyk ons wenslysie en ons gebedslysie nie so heeltemal eenders nie. 

Ons kyk vanoggend na hierdie uitsonderlike en tegelyk merkwaardige gebeurtenis dat Salomo se grootste drome waar word en die invloed wat dit het op die geskiedenis wat volg. 

« Older posts Newer posts »