Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 155 of 345

God ontmasker Sondaars

Daar was eens op ‘n tyd waardigheid in die lewe van Jan en San Alleman om geloofwaardig te leef en op te tree. Daar was geloof-waardigheid om verantwoordelikheid vir jou optrede te neem. Daar was geloof-waardigheid om jou eie posisie van voorreg prys te gee indien jy dit sou misbruik of in eie belang sou optree. Daar was eens op ‘n tyd die waardigheid van geloof om sonder filters of voorgee jou medemens van aangesig tot aangesig te aanskou en te vrede te wees om met hulle saam te leef, ongeag hulle dunk van jou. 

Vandag word bykans alles gemeet aan uiterlike vertoon en hoe mense reageer. Ons leef in ‘n wêreld wat deur ons oë bepaal word as die vensters van ons siel. As iets nie vir ons “lekker lyk” nie, dan vermy ons dit. Aan die ander kant skep dit ook ‘n abnormale oorgewig aan begeertes en wense wat nooit ooit in ons harte sou opkom as ons dit nie sien nie… 

Ons het hiper-sensiteif geword vir ander se emosies en reaksies, soveel so dat ons deur afgerigte ongehoorsaamheid onsself laat ontgeld om nie te wees wie ons is nie. Jou identiteit is dit wat ander nie sal aanstoot gee nie. En so ontwikkel ons ‘n skisofrene werklikheid agter al die maskers en filters van ons eie hartswense 

Voor die Almagtige staan ons egter geen kans om weg te kruip of voor te gee nie. Die Heilige Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van ons hart. Die Here ken elke gedagte wat ons koester en elke wens wat ons beny. Die Here ontmasker ons, om voor Hom te staan, sonder gebrek of rimpeling of iets dergeliks. 

Mag die Here ons leer om ons dae so te tel dat ons ‘n wyse hart mag bekom. 

Lourens (vdm) 

Aangenome kinders van die Koning!

Skriflesing: Joh 1:1-14; I Joh 3:1-10; Joh 3:1-8
Teksvers: Johannes 1:12,13
HK Sondag 13

As ons in HK Sondag 13 bely dat Jesus die “Eniggebore” Seun van God is, dan het dit opsigself niks te make met sy menswording nie. Dit is nie ‘n belydenis aangaande sy geboorte in Betlehem toe Hy mens geword het nie! Dat Hy die “Eniggeborene” is (vgl Jh 3:16) dui op sy oorspronklike en ewige afkoms: Hy is uit die Vader “gebore”. Die geloofsbelydenis van Nicea bely dan: “…gebore nie gemaak nie, één in wese met die Vader, deur wie alles tot stand gekom het”.

Wat uit ‘n mens gebore is, is mens. Wat uit ‘n dier gebore is, is dier. Maar… wat uit die Vader gebore is, is God, self God, soos God die Vader self. En Jesus Christus is die ENIGSTE ene wat só die egte Seun van God is en dus van ewigheid af self God is. Hy gaan uit van die Vader. Hy en die Vader is een (Joh 10:30). Athanasius: ”Hy is God uit die wese van sy Vader, voor alle tye gegenereer…” .

As ons dus deur die wedergeboorte kinders van God geword het is ons sy “aangenome” kinders!

God se geskenk aan ons!

Skriflesing: 2 Petrus 1:1-15
Teksvers: 2 Petrus 1:3,5-7

Wie deur genade geloof van God ontvang het, is skatryk. Daarom moet ons elke dag alles in die stryd werp om die sekerheid van ons geloof te versterk, deur entoesiasties ons geloof te verryk. Om ons geloof te verryk het ons WARE KENNIS van God nodig. Geestelike groei gebeur nie vanself nie. Dit vra onderwerping aan God se wil en werk in God se genade. Daarom is hierdie sewe eienskappe nie eienskappe soos sewe krale aan ‘n string nie maar dit vorm alles deel van een geheel. Soos wat een eienskap groei en toeneem word die ander terselfdertyd beoefen en groei jy ook daarin. So vorm dit een geheel.

  1. Wat die ware KENNIS van God en Jesus Christus is.
  2. ‘n Ware geloof het geestelike groei tot gevolg.
  3. Sewe eienskappe van ‘n godvrugtige lewe
« Older posts Newer posts »