Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Preke (Page 9 of 183)

Die Liefde van God Oorwin die Kwaad

(Last updated on November 17th, 2025)

Skriflesing: Genesis 44:24-45:28 (2020)
Teksvers: Genesis 45:7,8

‘n Mens kan jouself net indink hoe groot die skok moes wees vir Josef se broers, dat hulle so lank al die geheim van Josef se “dood” weggesteek het, en gevrees het dat hulle sonde ontdek sal word. 

Die vrees van hulle sonde het onsekerheid en twyfel gebring, hulle was doodsbenoud as hulle dalk vir Josef moes teëkom in Egipte. En nou staan hulle broer hier voor hulle. Die strenge man, die owerste wat hulle soveel onsekerheid en onrus veroorsaak het, die man aan wie hulleself bereid was om as slawe oor te gee vir die lewe van hulle broer Benjamin, hy is hulle broer. Maar Josef gaan nie wraak neem nie. Hy sien God se voorsienigheid, die behoud van sy kinders. Josef is die uitverkore seun wat sy familie moet red. 

God gee hierdie seun as verlosser van sy broers. So oorwin die liefde van God die kwaad. 

God, ons toevlug in alle omstandighede!

Skriflesing: Psalm 46 (2020)
Teksvers: Psalm 46: 2, 5, 9

Die Nuwe-Testamentiese kerk het baie geworstel met die vraag hoe Psalm 46 uitgelê moet word. Die Psalm is dikwels allegories verklaar en dit het tot ‘n willekeurige uitleg gelei (vgl. bv. Augustinus). 

Luther dui egter tydens die Reformasie koers aan en beklemtoon ‘n historiese verstaan van hierdie Psalm. Hierdie Psalm is duidelik ‘n trooslied soos Luther se ‘Ein feste Burg ist unser Gott’ aandui en moet ook so uitgelê word. 

In die Psalm word God verkondig as: 

  1. ‘n toevlug, 
  2. ‘n lewegewende rivier, en 
  3. ‘n oorwinnaars-koning. 

Sonde kan nooit ongestraf bly nie

(Last updated on November 17th, 2025)

Skriflesing: Genesis 43:1-44:34 (2020)
Teksvers: Genesis 43:16

Het jy al probeer om jou sonde vir God weg te steek? Het jy al soos Jona prober weghardloop, of soos Moses die woestyn in gevlug om van jou skuld te prober wegvlug. 

Josef se broers het gedink dat hulle sonde teenoor hulle broer na 22 jaar ‘n stille dood gesterf het, maar dan word hulle ontnugter. Dit is asof hierdie onbekende Egiptiese regeerder hulle altyd een stap voor is. Hulle is in ‘n hoek gedruk vanweë die droogte, hulle kan nie anders nie, Benjamin moet saam anders is daar nie kos nie. 

So is God al die tyd aan die werk, sodat Juda uitroep: God het die onreg van u dienaars uitgevind… Immers, die sonde kan nooit ongestraf bly nie. 

Wie God opreg bely, geniet sy beskerming wanneer Hy tel, weeg en verdeel.

Skriflesing: Daniël 5 (2020)
Teksvers: Daniël 5:22

1. Bedreigings ontmasker ontrouheid 

Koning Belsasar stel sy vertroue in die weerbaarheid van die stad Babel. Die kennis van die lewende God het hy verloor en hy word ontmasker. 

2. Wie die Allerhoogste getrou vereer, lééf egter onder beskerming. 

Beltsasar (Daniël) het nie sy kennis van die ware God agterweë gelaat nie. Hy vrees nie. Wie die Allerhoogste vereer, mag onder beskerming lééf. 

3. Die getroues ontvang ook wanneer die Allerhoogste oordeel. 

Op 12 Oktober 539 v.C. tel, weeg en verdeel die Allerhoogste. Belsasar sterf in God se oordeel. Wie egter hul vertroue in God stel, mag ook reken op beskerming wanneer God oordeel. 

Eerlike mense het niks om oor spyt te wees nie

(Last updated on November 17th, 2025)

Skriflesing: Genesis 42:1-38 (2020)
Teksvers: Genesis 42: 21-22

Ons is eerlike mense, so getuig Josef se broers aan hom. Dit is natuurlik maklik vir elkeen van ons om onsself te beoordeel aan die hand van ons bedoelinge, en nie aan ons dade nie. 

Niemand hou daarvan om as ‘n oneerlike mens bestempel te word nie. En as jou geheim uitgelap word, as jy uitgevang word as iemand wat oneerlik is, dan het jy geen verweer nie. 

So is daar by elkeen van ons dinge waaroor ons spyt is, wat ons dalk anders sou doen. Immers, eerlike mense het niks om oor spyt te wees nie. 

Toringbouers en Oorlogvoerders is Kruisdraers

Skriflesing: Lukas 14:25-35 (2020)
Teksvers: Vers 27
HK: Sondag 7

Ons dink verder saam oor die betekenis van ‘n ware geloof in Christus wat red. 

In hierdie gedeelte maak ons Here Jesus ‘n geweldige aanspraak dat elkeen wat nie sy kruis dra nie, nie agter Hom kan aankom nie. 

Dit beteken elke mens moet hulle eie kruis dra. 

Maar voordat jy jou kruis opneem, moet jy bereken wat die prys daarvan vir jou lewe is sodat jy nie halfpad kom en dan agter kom jy kan nie die taak voltooi nie. 

« Older posts Newer posts »