Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Preke (Page 168 of 192)

Bedoel vir die hel, maar bestem vir die hemel!

Skriflesing: Rom 3:10-12 en 10:18-21 (NAV); Ef 1 en 2 (OAV)
Teksvers: Efesiërs 1:3; (DL 1 art 1-6)

Pelagius kom in die 4de eeu met die leer van die vrye wil van die mens. Augustinus antwoord teen hierdie dwaalleer met die belydenis van God se genadige verkiesing. In die begin 17e eeu kom Arminius weer met die leer van Pelagius na vore en Ds Gomaris van Nederland antwoord hom met die leer van God se soewereiniteit. Die Dortse Sinode gee genadiglik amptelike uitspraak en dit word ons kerke se belydenis.

Ons bekyk vanaand hoe dit gekom het dat mense wat eintlik bedoel is om verlore te gaan, deur die genadige besluit van God (en nie ons eie besluit nie), teen alle verwagting in, tog bestem is vir die ewige lewe! As ons die wese van die mens begryp dan word die genade van God so groot dat ons saam met die apostel (en saam met alles wat asem het) net kan jubel: Aan God kom AL die lof toe!

Laai af

Jesus jubel omdat die evangelie uitgedra word

Skriflesing: Luk 10:1-24
Teksvers: Luk 10:21; Luk 11:27-28

Jesus Christus was nie net vol blydskap soos die twee en sewentig, omdat die evangelie-sending suksesvol was nie, maar ons lees hy het deur die Heilige Gees dit UITGEJUBEL! Die uitdra van die evangelie is so ‘n belangrike saak dat Jesus van blydskap oorgeloop het. So is dit vandag nog ons opdrag om die evangelie met blydskap en dankbaarheid uit te dra. As die Satan in jou pad staan omdat jy voluit vir Jesus werk moet jy bly wees, want dan weet jy Satan beskou jou as ‘n gevaar vir hom. Daarom moet ons ambassadeurs wees wat voluit vir God werk, in sy koninkryk.

Daar is ‘n drievoudige blydskap.

1 Die vreugde lê in dienswerk. Luk 10:17-19

2 Die vreugde lê in ons verlossing. Luk 10:20

3 Die vreugde van God se soewereiniteit en genade. Luk 10:21-24

Laai af

Sola Gratia! Loof die Here!

Skriflesing: Rom 8
Teksvers: Rom 8:28-30

Die Dortse Leerreëls (DL) is een van ons gereformeerde belyde-nisskrifte. Ek is redelik oortuig dat baie mense dit nog nooit of weinig gelees het. Dit is egter ‘n pragtige troosboek. U word aangemoedig om dit so gou moontlik deur te lees (of deur te blaai) en weer uself te vergewis waarvan daar gepraat word. (U vind dit op GKSA se webblad of op ons eie kerk se webblad of agter in jou Psalmboek)

Die DL is in 1619 gefinaliseer, dus presies 400 gelede. Die Here het by hierdie sinode die kerk op ‘n baie spesifieke manier gelei om antwoorde te gee op die destydse dwaalleer wat die kerke bedreig het. In breë trekke sien ons iets van die KETTING van goddelike genade in ons verlossing.

Vanaand begin die drie leraars met ‘n reeks oor die DL wat ten minste oor die volgende ses maande tydens die aanddienste sal strek. U wil dit nie eintlik misloop nie!

Laai af

Die Here wag vir dié wat op Hom wag

Skriflesing: Jesaja 30:8-26
Teksvers: Jes 30:15 en 18

Voel dit soms vir jou asof die dinge in jou lewe net meer-en-meer deurmekaar raak. Jy wag-en-wag op uitkoms van die Here. As niks egter uitwerk nie, dan voel jy dat jy amper verplig is om self in te gryp en self oplossings te vind vir die uitdagings in jou lewe.

In hierdie perikoop sê die Here egter dat Israel se krag te vind is in die stil word voor die Here en deur Hom ten volle te vertrou. Elkeen wat na die Here toe terugkeer, sal ware rus by Hom vind.

Die Here is immers gretig, ja amper ongeduldig om sy kinders genadig te wees. Hy wil hom oor sy kinders ontferm en toevou in sy liefde. Die Here is ’n God wat in jou lewe reg sal laat geskied. Gelukkig is jy wat op die Here vertrou en op Hom wag.

Laai af

Wil jy God beter sien? Maak oop jou ore!

Skriflesing: Ex 32-34
Teksvers: Ex 33:1,3,14-17

Eerder in ‘n wildernis met God as in ‘n paradys sonder God!

Hoe leef ons elke dag, met of sonder God? Is God net in die agtergrond van ons gedagtes? Ploeter ons elke dag voort in ons werk en in ons lewens? Of sien ons God in ons lewens en leef werklik tot eer van God? Moses was ‘n man van God wat in sy teenwoordigheid gelewe het elke dag. Elke dag het hy God “gesien en gehoor”. Moses wou niks doen as hy nie seker was dat God by hom en die volk is nie. Maar God is net by jou as jy in ware opregte afhanklikheid van God leef. Om in afhanklikheid te leef is om te hoor, te verstaan en in ‘n opregte gebedslewe met God te leef.

Ons gaan na drie sake kyk:

  • God se opdrag: Moses trek na Kanaän.
  • God se toorn: Ek trek nie saam met julle nie.
  • God se genade: Goed Ek sal saamtrek.

Laai af

Sien jy die Lam van God raak? Maak oop jou oë!

Skriflesing: Joh 1:19-34; Heb 12:1-3 Op 5:1-7; Job 42:5
Teksvers: Joh 1:29

Ter voorbereiding van die Nagmaal dink ons vandag aan Jesus as ‘die Lam van God’. Soos die lam (ram) wat God vir Abraham en Isak voorsien het (Gen 22), so is Jesus die Lam wat God voorsien vir die versoening van al ons sondes.

Soos die bloed van die oggend- en aandofferlammers wat elke dag omsluit het, so is Jesus deur sy offerwerk die ‘alles’ van ons lewe. En as Johannes Hom hier by die Jordaan ontmoet en Hom as die Messias herken, dan roep hy ons almal op om van alle dinge af te sien en op Jesus ons Verlosser alleen te fokus.

So laat die Nagmaal ons uitsien na die Bruilof van die Lam…

Laai af

« Older posts Newer posts »