Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Numeri

Oordenking 6 Februarie

Vertrou op die Here, laat feite anders lyk!

6 Februarie 2023
Lees: Num 13:26-14:44

Die eerste maand van die jaar 2023 is al verby. Die jaar het voluit begin. Almal is aan die werk en aan die hardloop. Die uitdagings is steeds daar, beurtkrag, ekonomiese uitdagings, sosiale uitdagings. Ook vir die kerk is daar uitdagings wat al feller en feller word.

Maar is die vraag: Wat is ons toekomsverwagting? Wat is Suid Afrika se toekomsverwating? Wat is jou toekomsverwagting vir die jaar waar jy bly en woon en werk?

In Numerie 13 tot 14 lees ons dat Israel moes nou die land Kanaän binnetrek. Eers stuur Moses 12 verkenners om die land te gaan verken. God het beloof dat Hy Kanaän aan hulle sou gee, die land van melk en heuning. Moses kry opdrag om 12 leiers te kies uit elke stam. Nie enige man kon maar gekies word nie, maar leiers. Dit moes manne van inbors gewees het, wat ’n prominente posisie beklee het. Dit was uitgesoekte manne wat leiers was. Hulle moes goeie oordeel en onderskeidingsvermoë aan die dag kon lê, maar bowenal met ’n vaste geloof in die troue Verbondsgod moes hulle leiding neem.

Die twaalf manne wat gekies word se name het almal besondere betekenisse. Die tien manne wat teruggerapporteer het dat hulle die land nie moes binnetrek nie, omdat hulle bang was vir die inwoners se name het almal positiewe betekenisse gehad. Bv. Sammua beteken, “die gebed van sy moeder,” Safat beteken, die Here het reg verskaf.
Die twee manne wat egter teen die tien ’n minderheidsverslag ingedien het dat hulle wel die land moet intrek se name was Hosea wat die naam Josua – die Here is die Verlosser en dan die naam van Kaleb. En ironies genoeg beteken Kaleb – hond. Dus ’n man met die naam hond, is getrou aan God en sy opdrag. ’n Man met die naam hond, vertrou op God.

Josua en Kaleb het ’n positiewe rapport ingedien afgesien van alles wat so negatief gelyk het om die land in te neem. Ons lees in Num 13:30 dat Kaleb sê: “Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kán dit doen.”
Kaleb, die leier uit die stam van Juda. Kaleb, soos ’n hond, altyd getrou aan sy eienaar, so is Kaleb aan God getrou en aan sy opdrag. Hy en Josua getuig met lewensgevaar dat hulle die land moet intrek. In vers 30 lees ons dat Kaleb met beslistheid getuig dat Israel die land in besit moet neem want hulle kàn dit doen.
• God het hulle uit Egipte gelei.
• God het hulle gered van die Egiptenaars, deur die Rooisee oop te kloof.
• God het hulle deur die wolk en vuurkolom gelei.
• God het manna, kwartels en water voorsien.
• God was altyd by hulle.
• God sal hulle ook bewaar as hulle die beloofde land intrek.

Vertroue op die Here laat feite anders lyk.

As ons nou aan ons land dink, wat hou die toekoms is? ’n Korrupte regering, diefstal, roof, landvergrype ens. Maar God se verbond is dieselfde van geslag tot geslag. God se belofte dat Hy met sy kinders met sy kerk sal wees, desondanks. Ons weet nie wat die toekoms polities, ekonomies, en maatskaplik vir ons inhou nie.
• Ons het die belofte dat God getrou is.
• Ons het die belofte dat God sy kerk sal bewaar.
• Ons het die belofte dat die poorte van die hel sal die kerk nie oorweldig nie.

Al lyk die toekoms soms bleek en moeilik, God is en was en sal altyd getrou bly. Ons moet met geloofsvertroue op God die toekoms ingaan. Trouens Jesus Christus het in tyd van felle oorheersing deur die Romeine aarde toe gekom as ons Verlosser. Hy het ons verlos en met God versoen. Jesus het die oorwinning behaal. Jesus Christus is ons Koning en Hy berei vir ons ’n plek voor in die hemel. Ook hier op aarde voor die wederkoms, is Hy by en met ons.

Kom ons leef dus voluit as kinders van God.
Kom ons wees getrou soos Kaleb en Josua aan ons opdrag om nie net vir Jesus Christus te leef nie, maar om ook die evangelie in ’n stukkende wêreld uit te dra.

Wat ’n besondere voorreg om te weet en te kan leef uit die wete…

Vertrou op die Here, laat feite anders lyk!

Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Respekteer Godgewilde gesag

Skriflesing: Numeri 12
Teksvers: Numeri 12: 2,9

Die aanvaarding van gesag oor ‘n mens, is nie sommer iets wat van-selfsprekend kom nie. Normaalweg sal ‘n mens graag sy eie idees en verwagtings probeer bevorder tot sy of haar eie voordeel. In hierdie hoofstuk kom dit na vore dat Mirjam en Aäron nie soseer teen Moses se huwelik met die Kussitiese vrou was nie, maar eerder naywerig was op sy Godgegewe en Godgewilde leiersposisie.
Aangesien Mirjam die een is wat gestraf is, was sy vermoedelik die aanhitser om teen Moses se gesag in opstand te kom. God se antwoord op Mirjam en Aäron se opstand teen Moses is iets beson-ders. Dit kom eintlik daarop neer dat hulle hulle teen die Here se wil en bepalings verset het.
Mag jy groei in jou onderwerping aan alle gesag wat deur die Here bepaal is, sodat daar in jou lewe en in ons land die nodige vrede mag wees.

Laai af