Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Predikante Skryf (Page 34 of 40)

Aanwysing en beroeping

Die kerkraad besluit eerskomende Donderdagaand oor die verdere stappe tot die beroeping van ‘n nuwe jong herder en leraar vir die gemeente. Tot dusver het ons ons name uit die gemeente gevra en ‘n lang lys ontvang. Die kerkraad kon hierdie name sif tot daar ‘n kortlys oorgebly het.

Op sy komende vergadering sal die kerkraad dus waarskynlik tot ‘n tweetal kom wat aan die gemeente in ‘n verkiesingsvergadering (DV voor die Nagmaalsdiens volgende Sondag) voorgehou sal word. Die gemeente (alle belydende lidmate, mans en vrouens en ook die lidmate van die Engelse bediening wat teenwoordig is) stem dan per geslote stembrief oor wie hulle glo die persoon is wat beroep moet word.

Hierdie verkiesing verskil egter van ‘n politieke landsverkiesing daarin dat dit eintlik net ‘n instrument is vir die Here om vir ons te lei in die aanwysing van die regte persoon (Hand 1:15evv). Laat ons nie hier dink oor die gewig van ‘n stem en oor stemreg soos die wêreld dit doen nie, maar oor die voorreg om onder die biddende leiding van die Here te vra wie Hý wil dat ons moet beroep.

Indien sake verloop soos ons beplan sal die uitslag van die verkiesing dan so gou moontlik aan die gemeente bekend gemaak word, waarskynlik aan die einde van sodanige erediens en sal die kerkraad die te beroepe leraar mondelings en skriftelik verwittig. Daarna sal die kerkraad skriftelike ooreenkomste opstel en indien die leraar die beroep aanvaar is dit die wens van die kerkraad dat die persoon nie later nie as Januarie 2020 hier by ons begin werk.

Die grootste beroep in hierdie saak is egter dat elke lidmaat hierdie hele saak ernstig, biddend en gereeld aan die Here moet opdra. Wat die Here dan besluit sal goed en reg wees soos ons dit van Hom afgebid het.

Ds Maarten

Sondig en tog vergewe

In 2 Samuel 7 hoor ons Dawid se versugting om vir die Here ‘n tempel te bou. Tog sê die Here, ten spyte van sy mooi intensies, dat hy nie die tempel mag bou nie omdat hy in te veel oorloë betrokke was. Sy seun, Salomo, sou wel die tempel mag bou. Verder beloof die Here dat daar altyd ‘n koning in Israel uit die geslag van Dawid sal wees. Ons weet egter dat daar oor baie jare al geen koning in Israel is nie. Het die Here dan sy belofte vergeet? Nee, beslis nie. Jesus Christus wat uit die geslag van Dawid kom, het deur sy lyding en kruisiging hier op aarde heen, sy ewige Koning-skap oor die ganse heelal kom bevestig.

Kyk maar net Dawid wat ‘n besondere man van die Here was. Diep gelowig en tog sondaar. Wanneer die Here straf oor Dawid aankondig as gevolg van sy owerspel, bedrog en moord, aanvaar Dawid die Here se regverdige oordeel. Hy verootmoedig hom voor die Here en pleit om genade. Alhoewel die Here Dawid se sonde vergewe het, sterf die kind tog wat in owerspel verwek is. So leer ons dat die Here Dawid se sonde vergewe, maar die onmiddellike gevolge van sy sonde word nie sommer opgehef nie. Hierdie diep berou, anders as in Saul se geval, word verwoord in Psalm 32 en Psalm 51.

Leer dan hoe groot en genadig die Here is oor die gebroke sondaar wat sy toevlug tot die Here neem. Die Here maak die sondaar in Jesus Christus nuut. Die Here verseker ons deur die Woord en die Heilige Gees dat ons sondes werklik vergewe is.

In Psalm 32 erken Dawid dat hy die Here se liefde en genade en goedheid glad nie verdien nie. Hy erken in Psalm 32: 1 en 2 dat hy die wet en gebooie van die Here nie kon gehoorsaam nie. Dit ten spyte van die pragtige woorde wat hy in Psalm 119 oor die wet van die Here geskryf het.

Dawid bely in Psalm 51 dat hy al sondig was voor sy geboorte. Dit wys op die erkenning van die erfsonde wat in sy menswees ‘n realiteit is. Daar is niks goeds in hom as die Here nie die goeie deur die Heilige Gees in hom werk en hom gewillig maak om meer en meer te lewe soos wat die Here dit van hom vra nie.

In Psalm 51:11-13 erken Dawid dat hy nie gered kan word deur ‘n vroom lewe nie. Hy erken dat redding alleen ‘n genade daad van die Here is. Daarom kon hy pleit om ‘n “nuwe hart”. Hy pleit dat die Here nie sy Gees van hom af sal wegvat soos wat dit die geval met Saul was nie. Hy weet dat die Here alle reg het om sy rug op hom te keer. Sonder die Here se genade is daar nie vergifnis en lewe nie. Dawid het opregte berou oor dit wat hy teenoor die Here verkeerd gedoen het.

Vir ons is die realiteit van die genadige Here wat vergifnis gee deurslaggewend in ons daaglikse handel en wandel.

Ds Paul

Negatiewe sake word deur God gebruik vir positiewe gesindhede

Die lewe kan so maklik vir ons negatief raak. Jou omstandighede kan jou so maklik negatief maak. Gebeure in jou lewe, in die skool, by die werk, in die politiek, in die ekonomie, in jou huwelik, in jou verhoudinge met jou werkgewers, onderwysers, ens. Maar hoe reageer jy hierop? Dit is so maklik om vanuit hierdie negatiwiteit te leef en self negatief te raak. Alles kan so maklik donker word om jou.

MAAR…

God is steeds in beheer van jou lewe en van die hele wêreld. Dit is so maklik om op jouself en jou gawes en jou omgewing te vertrou in plaas van op God.

Paulus was seker een wat baie negatief kon raak oor sy lewe en lewensomstandighede. Dink maar hoe het hy gely. Eers was hy ‘n Fariseër, ‘n dinamiese leier van die volk met ‘n blink toekoms van eer en aansien. Dan ruk God alles van hom weg deur hom met blindheid te slaan op pad na Damaskus. Dadelik weet Paulus dit is God wat met hom praat. Paulus word wederbaar sodat hy tot die besef kom dat God nie negatiewe dinge in sy lewe laat gebeur om hom, fisies en geestelik “te breek” nie, nee God gebruik hierdie dinge juis om hom sterk te maak vir sy dienswerk.

My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” 2 Kor 12:9. Dit is juis wanneer jy altyd besef dat jy volkome op God moet vertrou. “Ora et labora!” Bid en werk. En wanneer jy besef Mat 5:3 “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”

Dit is wanneer ons in totale afhanklikheid van God leef dat ons weet dat ons met al ons swaarkry, wat dit ookal mag wees, na God toe moet gaan. Vertrou op God! God is in beheer. God sal nooit die werke van sy hande laat vaar nie. Maar deur swaarkry groei ons ook in ons geloof, omdat ons weet dat God altyd by ons is en vir ons sal sorg.

Ds. Gerrit

Katkisasie – Verbondsonderrig aan ons kinders

Lees Luk 1:1-4; 2 Tim 3:10-17; 2 Pet 1:20,21

Die woord katkisasie is welbekend in gereformeerde kringe. Dit kom van ’n Griekse woord “katecheu”. Alhoewel ons met katkisasie grootword, vergeet ons maklik die belangrikheid en doel van katkisasie. Katkisasie is om uit die Skrif onderrig te word. Dit is om die Bybelse waarhede uit die Skrif te ken.

Hierdie Bybelse waarhede is om God te ken soos wat Hy homself in die Skrif openbaar, om te leer hoedat God wil hê dat ons in gehoorsaamheid tot sy eer moet lewe. Ouers is verplig om hulle kinders op te voed en te leer en te onderrig in die Bybel.

Dit is eerstens die ouers se plig. Tweedens is dit die Kerkraad se plig. Daarom lees ons ook die volgende op die webwerf van GK Centurion: “Die katkisasiekommissie se doel is om die reëlings te tref rondom katkisasieonderrig.” Dit behels die praktiese reëlings wat nodig is sodat onderrig aan die dooplidmate kan plaasvind. In die doopsformulier word daar verwys na “onderrig en laat onderrig”.

Die kommissie sien toe dat die gedeelte “laat onderrig” gepas en toereikend gedoen word. Soos nodig, doen die kommissie verslag aan die kerkraad oor die werksaamhede. Dit is die ouderlinge se verantwoordelikheid om toesig te hou oor die onderrig wat aangebied word en te verseker dat die inhoud getrou en korrek is.

Elke graadgroep volg ‘n gepaste leerplan wat jaarliks deur die kerkraad goedgekeur word. Katkisasie is ‘n baie ernstige wyse van onderrig aan ons verbondskinders. Daarom moet ouers baie noukeurig toesien dat hulle kinders vir katkisasie voorberei en dit getrou bywoon. Sodoende word hulle voorberei om eendag openbare belydenis van hulle geloof te doen.

  • Ons dank die Here vir verbondskinders.
  • Ons dank die Here vir ʼn toegewyde Kerkraad.
  • Ons dank die Here vir ʼn Katkisasie Kommissie.
  • Ons dank die Here vir pligsgetroue ouers.

Ds. Gerrit Kruger

Bronne

https://proregno.com/2013/04/15/ons-roeping-om-onsself-en-ons-kinders-te-katkiseer/https://gkcenturion.co.za/kommissies/katkisasie/

Versorg in die woestyn (Psalm 23:1-6)

Toe Dawid, die digter, hierdie woorde gesing en neergeskryf het, was hy die skaapwagter in die Judawoestyn. Ons moet hierdie Psalm dus lees soos ‘n woestyn-psalm. Die groen weivelde waarvan Dawid sing is dus nie die groen grasvelde of lusernlande van Suid Afrika nie.

Jou gedagtes word teruggeroep na die dorre landskap van die woestyne van Israel. Meestal is dit klipagtige en bergagtige woestyne. ‘n Harde wêreld. Hier kom niks vanself nie. Hier kan ‘n skaap nie eintlik oorleef nie. Hier vergaan jy maklik van die honger en van die dors.

En dit is presies die bedoeling van die lied: Alleen kan ek en jy nie. Ons is soos die skaap wat sonder ‘n herder in die woestyn sal verdwaal en in die hitte en onherbergsaamheid sal omkom. Die wêreld waarin ons woon het geen rus en geen vrede nie. Die wêreld is hard en ongenaakbaar, en dit nog des te meer teenoor die kinders van God, omdat ons anders is, vreemdelinge in die wêreld. Die lewe van God se kinders is ‘n moeilike en moeisame pad waar veiligheid ontbreek en vrees ons metgesel geword het.

Alleen en op jou eie gaan jy dit nie maak nie!

Nou kom Dawid en troos ons met die stok en staf (vs 4 OAV) van die Herder, die waarheid van die Woord van God: Jy kan nie alleen nie, maar jy hoef ook nie alleen nie. Die Here is jou herder. Hy ken die pad waarop ons moet gaan. Hy sal ter wille van Christus, wat aan die kruis deur God verlaat is, ons nooit alleen laat nie. Hy sal ons lei op die regte spore, en Hy sal vir ons rus gee by die waters van die lewe. Selfs in die donkerskadu’s van die lewe sal ons sy teenwoordigheid as Herder beleef. Sal ons Jesus Christus ervaar as ons goeie Herder (Joh 10).

Omdat Hy vir ons sorg sal ek en jy niks ontbreek of kortkom nie.

Ds. Maarten van Helden

Pinkstersondag

Vandag vier die Christelike Kerk regoor die wêreld Pinkstersondag. Dit is vyftig dae na die opstanding van Jesus Christus, en tien dae na sy hemelvaart.

Op hierdie dag dink ons na oor die sin, inhoud en betekenis van die Pinkstergebeure. Daar is by sommige gelowiges ‘n oortuiging dat die Pinkstergebeure weer en weer sal en moet plaasvind. So asof die Heilige Gees weer en weer uitgestort moet en kan word. Hulle glo dat elkeen sy eie Pinkster, dws sy eie uitstorting van die Heilige Gees, kan en moet beleef.

Dan is daar natuurlik die ongelowige mense wat meen dat die uitstorting van die Heilige Gees, Jesus se geboorte uit die maagd Maria, Jesus se kruisiging, sy opstanding en hemelvaart sommer net ‘n mite, ‘n storie is wat onwaar en onmoontlik is.

Ons leer egter uit die Woord van die Here dat hierdie gebeure ‘n vervulling was van God se beloftes wat al in die Ou Testament en deur Jesus Christus in die Nuwe Testament self belowe was.

In Handelinge 1:18 het Jesus Christus gesê dat die dissipels krag sal ontvang wanneer die Heilige Gees oor hulle kom. Verder word in Johannes aangedui dat Jesus self gesê het dat Hy weggaan, maar dat Hy hulle nie alleen sal laat nie. Hy het belowe dat Hy die Vader sal vra, en dat die Vader vir hulle die Voorspraak, die Gees van die waarheid sal stuur om altyd by hulle te wees.

Wat dus op Pinksterdag gebeur het, is God se belofte aan die dissipels en al die gelowiges oor die eeue heen. Die Heilige Gees het op ‘n sigbare wyse in gelowiges se lewens ingegryp om hulle te verseker dat God self altyd in hulle lewens ‘n werklikheid sal wees. Verder herinner die Pinkstergebeure ons daaraan dat die Heilige Gees in die gelowiges se lewens groot verandering, sekerheid en troos sal bring.

Van die Pinkstergebeure af, staan daar in Handelinge dat die gelowiges op die ware leer in Christus gefokus het, dat hulle die Woord van die Here verkondig het, dat hulle eensgesind was, dat hulle in gebede, in mededeelsaamheid, in liefde vir mekaar en in ondersteuning aan mekaar volhard het.

Die Woord van die Here dui verder ook aan dat niemand kan sê Jesus die Here is nie, behalwe deur die werk van die Heilige Gees. Galasiërs 5:25 sê verder: “Ons lewe deur die Gees, laat die Gees dan nou ook ons gedrag bepaal”. Kom laat ons dan, deur die werking van die Heilige Gees, lewe soos mense wat die Heilige Gees in hulle lewe ken en gehoorsaam. Die Heilige Gees stel ons immers in staat om die vrug van die Gees in ons lewens sigbaar te maak. Dit is byvoorbeeld die vrug van sagmoedigheid, liefde, geloof, vriendelikheid, vrede, geduld, getrouheid en selfbeheersing.

Mag jy wat glo dat die Heilige Gees op Pinkster uitgestort is, met oorgawe aanvaar en uitleef dat die Heilige Gees in ons lewens ‘n werklikheid is.

Ds Paul

« Older posts Newer posts »