Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Predikante Skryf (Page 34 of 43)

Wees bly in verdrukking

Paulus skryf aan die gemeente in Rome (5:1-ev) dat hulle moet bly wees en roem in hulle verdrukking, net soos hy ook aan die gemeente in Korinte skryf dat hulle moet bly wees en roem in swaarkry…

“Ek is bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus” 2 Korintiërs 12:10

Later skryf Petrus en Jakobus ook soortgelyke dinge: “My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom…” (Jak. 1:2) en “Verheug julle selfs as dit nodig is dat julle ‘n kort tydjie bedroef word deur allerhande beproewinge…” 1 Petrus 1:6.

Hoekom sal hierdie gelowige manne, apostels van ons Here Jesus, sulke vreemde woorde sê? Dryf hulle nie dalk met ons die spot nie? Hoe kan ‘n mens bly wees as dit sleg gaan? Hoe kan jy uitbundig van vreugde wees as jy swaarkry?

Moet ons nie juis vreugde, blydskap en oorwinning beleef hier op aarde nie?

Inderdaad! Maar die wyse waarop dit geskied is anders as hoe ons dink dit moet wees. Die vreugde wat God gee staan los van alle wêreldse dinge. God wil ons leer wat hemelse vreugde is… Dit is ‘n vreugde wat niemand van jou kan wegneem nie, en wat niemand behalwe God vir jou kan gee nie…

Daardie vreugde is gewortel in God self, in die vrug van die Heilige Gees (Galasiërs 5) en word ons deel alleen in Jesus Christus. Daardie vreugde kom voort uit Christus, wat die vreugde wat Hom voorgehou is, verruil het vir die kruis, sodat ons volkome blydskap kan ervaar…

En dit is: vergifnis van sondes en die ewige lewe by God. Dit is ‘n vreugde wat geld nie kan koop nie, en beter as enige pensioen… Dat jy die Here ontvang as erfenis!

Die prys vir hierdie pensioen is gratis (Sola Gratia) en tog nie verniet nie. Want die volle prys is betaal deur Christus. Ons kry egter slegs deel aan hierdie genade deur die geloof… Maar die geloof moet suiwer wees. Dit word gelouter en getoets en skoongemaak, geheilig en gereinig van alle onsuiwerhede (sonde).

Dink dan so daaraan: Beproewinge is ons eksamens vir geloof. Deur beproewinge word ons gelouter sodat ons rein vir God kan wees. Dit maak ons bly, want die Here maak met ons bemoeienis…

Wees dan bly in verdrukking…

Ds Lourens

Onbetwisbare bewyse dat Jesus Christus opgestaan het uit die dood en die onbetwisbare Koning van God se koninkryk is

Volgens die vier Evangelies en Handelinge en die Eerste brief aan die Korintiërs, het Jesus ten minste tien keer, in hierdie tyd tussen Paasfees en die Hemelvaart aan verskeie mense verskyn aan individue, aan groepe vrouens en mans, aan die dissipels en aan meer as vyf honderd mense gelyk.

Hy het verskyn aan…

  1. Die vrouens by die graf (Mat 28:9-11)
  2. Maria Magdalena (Mark 16:9-11; Joh 20:11-18)
  3. Die twee Emmausgangers (Mark 16:12; Luk 24:13-32)
  4. Petrus in Jerusalem (Luk 24:34; 1Kor 15:5)
  5. Aan tien dissipels (Luk 24:36-43; Joh 20:19-23)
  6. Elf dissipels (Joh 20:24-29; 1 Kor 15:5)
  7. Sewe dissipels wat in Galilea visvang (John 21:1-23)
  8. Elf dissipels in Galilea (Mat 28:16-20; Mark 16:14-18)
  9. Vyf honderd mense (1 Kor 15:6)
  10. Jakobus broer van Jesus Christus (1 Kor 15:7)

Jesus Christus het die mag van die prins van die wêreld verbreek. Satan het geen houvas meer oor God se kinders nie. Ons is meer as oorwinnaars. Jesus Christus is ons Koning wat die mag van Satan totaal en al vernietig het. Jesus Christus is nou ons almal wat in Hom glo se Koning. 1 Kor 15:25.

ds. Gerrit Kruger

ENGELSE DIENSTE BEGIN 7 JAAR GELEDE

Die volgende artikel het op 14 April 2013 in die Kommunikaatjie verskyn. Dit is dus nou presies 7 jaar aan die gang en dit met groot dank aan die Here vir alles wat ervaar, bereik en gedoen is. Die gemeente hoef géén twyfel te hê dat hierdie sewe jaar se werk ooit tevergeefs was nie. Die Here soek nie getalle om die werk te regverdig nie, maar alleen maar gehoorsaamheid aan Sy opdrag! Eendag sal ons terugkyk en weet wat sy ewige plan was met hierdie beskeie werk. Mag u steeds aanhou bid vir hierdie bediening, bekend as Alethea Outreach, en altyd onthou dat dit ten volle deel is van die totale bediening van die GK Centurion. En ja, kom maak so nou en dan ‘n draai en geniet dit om saam met Alethea te aanbid en te kuier (worship and fellowship).

NS: Alethea beteken “waarheid/truth”. Dit is ook die een straat se naam waar ons kerkgebou geleë is!

ENGELSE DIENSTE BEGIN

Daar is die mense wat deur die Here geroep is om vêr van huis te gaan en die evangelie aan die nasies in ander plekke en lande te gaan verkondig. Laat ons nooit ophou om sendelinge uit te stuur en te versorg met fisiese en geestelike ondersteuning nie.

Dit is egter so dat die Here die nasies nou tot op ons voorstoep gebring het. Selfs hier in Centurion en veral hier in die nabye omgewing van die kerk is daar ‘n groot verskeidenheid van mense uit alle tale en nasies! As ons dus nie ons roeping om aan hierdie nasies die evangelie te bring nakom nie, sal ons, ons roeping liederlik versuim. Ons kan nie net oor ons eie verlossing besorg wees en die evangelie vir onsself reserveer nie. Die Here sal ook hieroor van elke lidmaat van hierdie gemeente verantwoording eis.

Die Here het ons nou daartoe gelei om as gemeente met ‘n Engelse Uitreik te begin, wat as die Here wil, moontlik tot die stigting van ‘n nuwe gereformeerde Engelse gemeente kan lei. Hierdie aksie mag nie net van ‘n kommissie of sommige lidmate uitgaan nie. Dit is die uitreik van die hele gemeente aan mense van ander volke en tale en nasies! Gelukkig weet ons dat baie van hierdie mense, indien nie die meeste nie, ook Engels magtig is. Dus sal hierdie Engelse eredienste op hierdie mense gerig wees.

Dit word dus u elkeen se saak om hierdie bediening te ondersteun deur u liefde vir hierdie mense, u gebede vir die bediening en u hulp te gee waar nodig. Ons begin DV aanstaande Sondag die 21ste April om 11:00 met die eerste amptelike Engelse erediens hier in ons kerk-gebou. U kan oorweeg om dit self by te woon, maar ten minste om mense van alle volke tale en nasies na hierdie eredienste te nooi. Ons bede is dat die Here hierdie grootse poging om aan Sy opdrag gehoorsaam te wees, met Sy ryke seën sal bekroon en dat ons eersdaags die Here ook daarvoor sal kan dank.

Ds Maarten

Pandemie en geloof

Op 10 Maart 2020 het die WHO die Corona-epidemie tot pandemie verklaar. Mense word nou op verskeie maniere dramaties geïsoleer om die pandemie te probeer hokslaan. Vroeër jare het mense in tye van epidemies en rampe méér kerk toe gegaan. Meer gaan bid. Dalk selfs vir verkeerde of bygelowige redes, maar hulle het kerk toe gegaan in hoop op antwoorde en genesing. Nou praat ons selfs daarvan dat om kerk toe te gaan gevaarlik kan raak! Hoe kan die plek waar jy die God van lewe en dood gaan dien en verheerlik en loof en prys, nou vir ons vrees inhou? Skielik word mense en selfs gebiede en lande in isolasie (lockdown) geplaas uit vrees vir wat gebeur of wat aan die kom is. Selfs kerke fokus meer op voorkomingsmaatreëls en word hande nie meer geskud en ons deel nie meer die een beker nie.

Ons het verlede week uit die Skrif gehoor-gevra of ons dalk banger vir Covid-19 is as wat ons vir God is. Wie vrees ons werklik: Dit wat jou liggaam kan skaad of Hom wat jou siel kan verwerp in die ewige helse vuur!?

By ernstige siekte het Job op sy ashoop met sy God bly worstel. Hiskia in sy dodelike siekte draai na die muur en smeek sy God in sy nood. Paulus kom uiteindelik by sy doring in die vlees tot besef dat God se genade genoeg is. En Jakobus leer ons dat ons in siekte die ouderlinge moet inroep om vir die siekes te bid.

Isolasie van die virus is sekerlik een van die moontlike voorkomingsmaatreëls. Tog wonder ek so by myself wanneer laas het jy jouself so bietjie van die dinge om jou heen geïsoleer, sodat jy op God kon fokus? Veertien-dae afsondering of langer is dalk God se manier van om ons weer tot nadenke te dwing. ‘n Soort vastyd. ‘n Tyd waarin jy as op jou kop uitgooi en oor jou sondes nadink. ‘n Tyd vir doelbewuste heiliging (‘heilig’ beteken letterlik ‘afsonder’). Soos die getroue God en Vader altyd doen, gee hy die sondaarmens en sy wêreld genadetyd, bekeringstyd, want Hy wil dat almal hulle sal bekeer (2 Pt 3:9). Tyd waarin jy weer kan besef dat jy selfs die dood nie vrees nie want jou lewe is veilig geborge in God, vir ewig.

Vroeër het ons meer geestelike vrae gevra. Deesdae is alles gefokus op fiksheid, vitaliteit en viriliteit. God as hoogste goed en geestelike nadenke is minder relevant. Miskien is hierdie virale aanslag op ons vlees eintlik ‘n Goddelike genade handreiking na sy mens om geestelike tyd te maak en na te dink en terug te keer na dit wat ons werklik nodig het.

Ds Maarten

Bewaar die Woord!

Ons lees telkens in die briewe van Openbaring 2-3 hoe ons Here Jesus Christus kom besoek aflê by die gemeentes om te sien hoe hulle optree. “Ek ken jou werke…” weergalm die woorde. Op grond van hierdie getuienis is daar een van twee dinge wat gebeur: beloning of straf. Ons kan dit verder beskryf as seën of vloek.

Deurgaans word die behoud van die Woord, geloof en beloon. Dit is tot seën. Ons word verder in die apokalips gewaarsku teen verleiding en misleiding. Die onheilige drieheid van die duiwel, die antichris en die valse profeet sal alles moontlik doen om die kerk van Christus te vernietig.

In vandag se wêreld sien ons hierdie misleiding en verleiding baie duidelik veral in die digitale wêreld. Daar is beswaarlik ‘n huis in ons land sonder tv en selfs die armste mens het vandag ‘n selfoon wat kan “youtube” en “whatsapp” en “facebook”. Maar ongelukkig het hierdie wonderlike tegnologie en platforms ons lewe ingesluk sodat ons begin skade ly aan ons persoonlike verhoudinge.

Kinders weet nie meer om in die sand te speel nie, tieners kan nie ‘n behoorlike gesprek voer met ingeligte opinies nie, jong werkendes het nie meer tyd vir ‘n huisgesin nie ens, ens, maar almal kan “facebook” en “youtube”.

Die grootste probleem lê nie soseer by hierdie wonderlike tegnologie nie, maar die inhoud wat dit bevat. As gelowiges het ons ook nie altyd ‘n oplossing hoe om van hierdie wêreldse invloede te ontvlug nie. Dit oorweldig ons so dat ons skoon omsingel voel.

Daar is natuurlik altyd die bekende veg of vlug reaksies wat kan volg. Of ons moet vlug en onsself geheel en al uit hierdie wêreld onttrek. Ons moet asketies raak en op ‘n eiland sit en vergaan terwyl ons wag vir die wederkoms.

Of ons kan terugveg, met goeie en gebalanseerde lewens wat midde die wêreldse invloede steeds soos ‘n helder lig, ‘n baken in die duisternis die blye boodskap van die evangelie laat skitter.

Die Gereformeerde Kerk het pas die nuutste terugvegpoging aangewend in die vorm van glomedia.tv. Op hierdie intekenplatform kan ons kinders enige program kyk wat geestelik en opbouend is in Afrikaans. Daarby is ons in gesprek met rightnowmedia om hulle dienste ook te gebruik, wat slegs op hierdie stadium in Engels beskikbaar is en kinderprogramme bevat sowel as Bybelstudies.

Mag die Here ons die wysheid gee om in die vinnige veranderende wêreld nie verskrik en bevrees te wees vir al die verleidings en misleidings wat so oorweldigend kan wees nie, maar dat ons in die midde van al hierdie uitdagings Sy woord sal bewaar!

Ds Lourens

Rotteresies

Dit is of die lewe net al hoe vinniger en vinniger raak. Om by te bly raak al hoe moeiliker, want daar is nie genoeg tyd in die dag om alles te doen wat jy moet nie. Jy voel later soos ‘n rot in ‘n hok wat in ‘n plastiese wiel hardloop, al vinniger en vinniger en dit voel of jy op pad is na nêrens. Dit kan ‘n mens soms moedeloos maak. Dit kan soms maak dat jy nadink oor die sin van die lewe, die doel van die lewe. Is dit die moeite werd?

Prediker 2:26 lees ons dat alles is ‘n gejaag na wind, AS jy nie werk in afhanklikheid van God nie. Gaan sit ‘n bietjie rustig en bedink jou lewe. Wat is die doel van jou lewe? Wat wil jy bereik? As ‘n mens geluk najaag of rykdom of eer, is jy op die verkeerde pad. As jy werklik wil lewe tot eer van God in afhanklikheid van God, dan het jy die regte doel in jou lewe.

Die prioriteite in ons lewens moet reg wees. Prioriteite gaan oor die verhoudings in ons lewe. Om tot eer van God te lewe is om God eerste te stel in jou lewe. Daar is basies drie verhou-dinge in jou lewe en dit moet in ‘n bepaalde volgorde beskou word.

  • Eerstens jou verhouding met God.
  • Tweedens jou verhouding met jou man/vrou/kinders/naaste.
  • Derdens jou verhouding met jou werk.

As hierdie drie verhouding in plek is, dan is daar doel in jou lewe, is dit nie ‘n dolle gejaag na wind, ‘n rotteresies wat geen doel het nie.

Verbly jou in die Here en dien Hom in jou lewensbestaan, in jou verhouding met jou naaste en in jou werk. Moet nie jou werk eerste stel en daarvan ‘n afgod maak en jou man/vrou/ kinders/naaste afskeep nie. Stel God eerste en dien Hom en al die ander sake sal in plek val.

Pred 2:26

“Vir die mens met wie se lewe God tevrede is, gee Hy wysheid, kennis en blydskap. Maar die een met wie Hy nie tevrede is nie, kry die taak om op te gaar en bymekaar te maak en dit dan te gee aan een met wie God tevrede is. Ook hier kom dit dus tot niks. Dit is ‘n gejaag na wind.”

Ds Gerrit

« Older posts Newer posts »