Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Predikante Skryf (Page 33 of 40)

‘N NUWE BEGIN

Het jy al in jou lewe gewens dat jy weer nuut, ja weer oor kan begin? ‘n Nuwe begin is ‘n nuwe geleentheid vol vreugde en uitdagings. In Klaagliedere 3:18-23 verwoord die skrywer die wonder om nuut te begin na ‘n tyd van beproewings en swaar kry. Danksy die HERE, sê die skrywer, het hy nie omgekom nie, want daar is geen einde aan die Here se barmhartighede nie. In sy lewe jubel hy dat God se barmhartighede elke môre nuut begin.

Vir elkeen wat in Jesus Christus glo, word elke dag ‘n nuwe begin en ‘n nuwe geleentheid om oor bly te wees. Ons daaglikse bekering in Christus, verseker ons dat God daagliks, ja van oomblik tot oomblik nuut met ons begin. Sy genade is elke oggend van ons lewens opnuut vir ons beskikbaar en elke dag is sy getrouheid binne ons bereik. Dink net daaraan dat die Here se liefde en barmhartighede nooit deur ons uitput kan word nie.

So begin elkeen van die 21 jong belydende lidmate vandag met ‘n nuwe fase in hulle geloofslewe. ‘n Nuwe begin waarin elkeen sy of haar geloofsverantwoordlikheid oorneem by hulle ouers. Hierdie nuwe geloofsfase hou in dat elkeen met groot dankbaarheid teenoor hulle ouers en ander geloofsvormers nou self deur die werk van die Heilige Gees kan en wil bely dat Jesus Christus elke dag vir hulle die weg en die waarheid en die lewe is.

Ons het almal een of ander tyd in besonder ‘n nuwe begin nodig. Na ‘n tyd van terugslae en hartseer, verlang ons na ‘n nuwe begin waarin ons weer sal kan begin bou aan die positiewe in ons lewe. Soms verval ons in ‘n groef van sonde, perspektiefloosheid en vrese. Dan kom die Here en lei ons deur sy Woord en die Heilige Gees om op te staan en weer na die Here toe te gaan om so in die Naam van Jesus Christus weer nuut te begin. Ja ook vir jou is daar ‘n nuwe begin waar jy dalk in sorge en sonde oud en vaal geword het. Die wat in Jesus Christus glo, ontvang weer die sekerheid dat Jesus alles nuut maak en weer en weer nuut sal maak tot met sy wederkoms waar ons altyd in die vernuwende krag en genade van Jesus Christus sal kan lewe.

‘n Nuwe begin hou ook in dat jy net meer en meer van die Here se goeie guns en genade sal ontvang. Ja elke nuwe dag en elke nuwe begin in en deur Jesus Christus bring ons ook by hernuwing tot die besef van sy oorvloedige liefde en barmhartigheid. ‘n Nuwe begin in en deur Jesus Christus hou egter in dat ons sal bid om die vrylating van al die ou bagasie en die donkerte. Dit is die aantreklike van Jesus Christus se uitnodiging vir almal wat vermoeid en belas is. Neem sy juk op julle. Sy juk is sag en sy las is lig. In 2 Korinthiërs 5:17 staan daar dat iemand wat in Christus is, ‘n nuwe skepsel is; die ou dinge het verby gegaan, kyk, deur die Here het alles nuut geword.

Ds Paul

VROUE VAN DIE REFORMASIE

Luther, Calvyn, Zwingli en Knox was as mans baie bekend tydens die Reformasie. Daar was egter ook vroue wat destyds op verskillende plekke en maniere in Europa meegewerk het om die Reformasie te bevorder. Dit was veral besonders omdat hulle opgetree het in ‘n tyd waar die vrou in die Rooms-Katolieke Kerk nie gereken was nie. Daar was twee tipes vroue wat tydens die Reformasie op verskillende maniere die reformasie ondersteun en bevorder het. Eerstens was dit vroue wie se mans as hervormers opgetree het. Tweedens was daar die adellike vroue wat ‘n groot liefde en ywer aan die dag gelê het vir die Reformatoriese waarhede. Hier volg inligting oor van hierdie Reformatoriese vroue wat die nuwe verstaan van die Christelike geloof, soos deur Luther en Calvyn beskryf is, hulle eie gemaak en positief ondersteun het:

KATHARINA VON BORA (1499-1550)

Katharina von Bora was Martin Luther se vrou. Sy het vanaf vyfjarige ouderdom as ‘n non in ’n klooster grootgeword. Sy het van Luther se beswaar teen die Roomse Kerk gehoor en haar daarmee vereenselwig. Sy en elf ander nonne het toe een aand in 1523 uit die klooster ontsnap en in Wittenberg aangekom. ‘n Paar jaar later is sy daar met Luther getroud. Sy het ‘n geweldige groot rol in Luther se lewe gespeel. Haar lewe laat ‘n mens onwillekeurig dink aan die vrou van Spreuke 31:10-31. Sy het byvoorbeeld geboer, ’n gastehuis en konferensiesentrum bedryf en handel gedryf. Baie van Luther se besoekers het in haar gastehuis tuisgegaan. Katharina het ook studente-akkomodasie gereël, sy het toegesien dat bier gebrou word en na die tuin en vee omgesien en ook die huishouding se finansies in orde gehou. Sy was, met Luther se dood, die eerste vroulike erfgenaam. Alhoewel sy later deur die staat onterf is. Luther het sy vrou bewonder vir haar skerp intellek en ook haar praktiese ingesteldheid.

ARGULA VON GRUMBACH (1492–1568)

Argula von Grumbach was ‘n vrou uit die adelstand in Beiere. Sy was van kleins af ‘n ywerige leser en het ook die Bybel bestudeer. Sy moes dit tuis doen, want formele opvoeding buite ’n klooster was nie vir jong meisies toelaatbaar nie. Sy het saam met haar man, Friedrich von Grumbach, naby Ingolstadt gewoon. Sy het eendag gehoor van ’n jong student, Arsacius Seehofer, wat by die teologiese fakulteit in Ingolstadt die standpunte van Luther ondersteun en versprei het. Die rektor en die universiteitsraad het vir Seehofer in hegtenis laat neem en hom gedwing om sy steun vir Luther terug te trek. Argula het ’n brief in Duits aan die universiteitsowerhede geskryf waarin sy hulle uitgedaag het om oor teologiese kwessies en spesi-fiek die student se saak met haar te debatteer. Hulle het egter geweier. Haar brief het egter ’n kitstreffer geword en was een van die mees gedrukte geskrifte van daardie tyd. Baie van haar geskrifte daarna het die boodskap van die Reformasie in Duitsland en na ander lande bevorder.

JEANNE D’ALBRET (1528-1572)

Jeanne d’Albret was ‘n Franse adelike. Sy was van jongs af uitgesproke en nie bang om op te staan teen onreg nie. Sy skryf op 12-jarige ouderdom ’n sterk bewoorde beswaarskrif teen haar gedwonge huwelik. Nadat haar huwelik nietig verklaar is, het sy met haar geliefde getrou. Haar seun, was koning Hendrik IV van Frankryk. Op Kersdag 1560 was sy een van die eerste adellikes wat openlik hulle protestantse geloof bely het. As heerser oor die ryk van Navarre het sy die vlugtelinge in Genève finansieel ondersteun. Sy het ook op skrif die protestantse geloof verdedig. Sy het die Bybel in Frans laat vertaal sodat enige gelowige die Bybel self kon lees. Sy het haar ryk se ekonomiese en juridiese sisteme hervorm. Dit alles ten spyte van al die oorloë waarby sy as heerser van haar land betrokke was.

KATHARINA SCHÜTZ ZELL (1497/8-1562)

Sy was een van die mees uitgesproke vroue, ‘n ware vuurvreter, wat by die hervorming betrokke was. Sy was ’n geleerde vrou, getroud met haar mede-hervormer, Matteus Zell. Sy was bekend vir haar barmhartigheid en omgee vir mense. Sy het byvoorbeeld haar ontferm oor die voortvlugtende hervormermans se vroue. Tydens ’n vlugtelingkrisis in haar tuisdorp, het sy die behoeftiges versorg. Sy en haar man was van die mees verdraagsame ondersteu-ners van die Reformasie. Sy het byvoorbeeld by Luther gepleit om liefdevol teenoor Zwingli op te tree oor hulle verskille met mekaar.
Die Here het bogenoemde vroue saam met ander mans en vroue instrumenteel gebruik om die groei en vestiging van die Reformasie daar te stel. Soli Deo Gloria!!!

Ds Paul

Verhoudings in jou lewe

Elke mens staan in ‘n klomp verhoudings in sy lewe. Dit begin met huweliksverhoudings, gesinsverhoudings, werksverhoudings, vriendskapsverhoudings en nog baie meer. Maar die belangrikste verhouding is sekerlik die verhouding met God.

Gesonde verhoudings is een van die belangrikste bepalers van lewensgeluk. Daarom is dit so belangrik om altyd aan jou verhoudings te werk, of jy ‘n groepsmens is of nie. Eerstens gaan dit oor jou verhouding met God. “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en siel en verstand.(Mat 22:34-40) Dit is die grond van jou gesindheid in verhoudinge. As jy respek en eerbied en ontsag vir God het, sal jy ook respek en eerbied vir jou naaste hê wat die tweede gebod in is.

Die res van die verhoudings waarin jy op aarde verkeer, hetsy huweliksverhouding, gesinsverhouding, werksverhouding, vriendskapsverhoudings moet jy nooit as vanselfsprekend aanvaar nie. (Ef 6:1-9) Elke verhouding waarin jy staan moet jy koester en aan werk.

In enige verhouding waarin jy staan, moet jy altyd respek en eerbied vir mekaar hê. Moet ook nie eerbied en respek verwag as jy dit nie gee nie. As jy nie ‘n vriend respekteer en uit jou pad gaan om liefde te bewys nie, moet jy ook nie respek en liefde terugverwag nie. Koester jou vriendskappe en dra mekaar op die hande. Wees goed vir mekaar. Laat die vrug van die Gees ook in jou verhoudinge tot uiting kom.

Gal. 5:22 Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.”

Wat ‘n voorreg is dit om vriende te hê by wie jy veilig voel en is. Vriende met wie jy lief en leed kan deel. Vriende wat vir mekaar omgee as dit goed gaan en as dit sleg gaan. Vriende wat mekaar in die liefde van God op die hande dra. Veral vriende met wie jy jou geloof kan deel. Waardeer opnuut die vriendskappe wat jy het, koester dit, en wees goed vir mekaar. Moet nie net van ’n vriendskap voordele verwag nie, maar gee ook aan ander en vorm mekaar tot eer van God.

Spr. 27:17 Yster slyp yster, vriende vorm mekaar.”

Ds Gerrit

Genade op genade

Johannes maak hierdie besondere proklamasie in sy proloog in die Evangelie oor die koms van die Messias.

En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade“. (Joh 1:16)

In die Engelse weergawe staan iets soos ‘genade bo en behalwe die genade wat reeds gegee is‘. Met reg kan dit vergelyk word met die golwe van die see wat kom en weer kom… en weer kom.

Eerstens verwys dit na die genade wat in die tyd van Ou Testament, dws vóór Christus aan Israel bewys is, en wat nou opgevolg word deur die genade wat uit die koms van Christus na Israel en alle mense toe kom. God was geduldig oor die mense van die outyd. Nou kom Christus en God gee nog meer genade. Golf na golf.

So gee die Here nou nog ‘genade op genade…’

Elke dag weer genade. Elke sonde word keer op keer vergewe. Elke môre is sy genade nuut (Kl 3:23). Elke dag ‘n nuwe skoon blaadjie.

Elke keer as daar weer nuwe mense tot bekering kom. Elke nuwe sondaar wat by die reeds begenadigde gemeente toegevoeg word. Elke keer sing die engele oor een sondaar wat hom bekeer.

Elke dag wat ons opnuut weer onder sy voorsiening mag lewe en sy genadige versorging mag ontvang in middele en gesondheid en in geleenthede.

Ja, selfs in die uitdagings van beproewings is sy genade telkens weer daar om ons staande te hou.

Voorwaar kan ons bely dat ons van die begin af deel was van die belofte van die Messias wat die slang se kop sal vermorsel (Gen 3:15). Maar bo en behalwe die beloftes, is ons nou deel van nog meer genade omdat God sy woord gehou en sy Seun gegee het as versoening vir al ons sondes vir ewig en altyd!!

Waarlik genade op genade op genade!

Ds Maarten

 

Koppig!

Koppigheid is iets wat reeds vroeg na die sondeval sy kop begin uitsteek het. Die eerste keer wat ons van koppigheid hoor, is in Genesis 4:6 waar die Here vir Kain waarsku oor sy voorneme om Abel dood te maak. Daarmee saam het die Here aan Kain die opdrag gegee om oor die sonde te heers. Koppigheid hou egter in dat jy jou nie laat voorsê nie. Jy weet iets is verkeerd, maar jy doen dit nogtans.

In Spreuke 21: 29 (1933/53) word die koppigheid van die goddelose as volg beskryf: “Die goddelose trek ’n onbeskaamde gesig, maar die opregte gee aan sy weë die regte rigting.” Letterlik staan daar dat die koppige mens ‘n “harde gesig maak”. In Jesaja 48:4 sê die Here vir Israel dat Hy weet dat hulle hardkoppig is, dat hulle so weerbarstig soos ’n stuk yster is en dat hulle kop so hard soos brons is.

‘n Koppige mens wys nie wat hy dink of voel nie. Hy sal nie erken dat hy oor iets verkeerd is nie. Hy sal altyd sy optrede wil regverdig en homself wil verontskuldig.

Die koppige mens gaan doelbewus en arrogant voort om verkeerde en bose dinge te doen. Dit ten spyte van die gebooie van die Here. Hy sal homself handhaaf en teregwysings verwerp. Daarom word die koppige mens getipeer as ‘n goddelose mens wat nie sal toelaat dat sy gewete hom kan aankla oor die sonde en verkeerde dinge in sy lewe nie. Inderdaad loop ‘n koppige mens oor van gewaande selfvertroue en sal hy of sy ongeag vermanings van ander, net doen wat hy of sy wil. So ‘n koppige mens kry nie skaam oor sy sonde en die verkeerde wat hy doen nie. Inteendeel, hy is trots op homself en op al sy dwaasheid.

Hy is skaamteloos. Hy het geen gevoel vir ander mense nie. Hy het geen fyn aanvoeling vir dit wat die Heilige Gees in sy lewe volgens die Woord aan hom voorhou nie.

‘n Mens maak sy hartsingesteldheid bekend deur die manier waarop hy voorskrifte en opdragte hanteer. Koppige en slegte mense kom in opstand teen goeie advies en vermanings. Hoe meer hulle aangespreek word, des te harder word hulle harte en koppe. Hulle sal teen alle goeie advies eerder die destruktiewe pad kies om te loop.

Die koppige mens sal bloot uit beginsel goeie advies en onderrig verwerp. Hy verkies om eerder te rebelleer as om hom te onderwerp aan goeie leiding en advies.

Daarteenoor word die gelowige tereggewys en stel die Heilige Gees hom in staat om van koers te verander en om te lewe volgens die Here se wil. ‘n Mens se reaksie op God se voorskrifte maak baie meer van jou aard en karakter bekend as wat jy graag sou wil erken.

Ons kan nie met God speel nie. Hy wat elke koppige gedagte van jou ken, van elke koppige handeling weet, Hy weet dat jy nooit jouself kan onderwerp aan Sy leiding nie. Daarom het Hy sy Heilige Gees aan ons gegee om ons te vertroos en te vermaan. Mag jy deur die Heilige Gees in staat gestel word om bewus te word van jou eie sondige koppige geaardheid en mag jy in oorgawe groei in gehoorsaamheid aan die Here se wil.

Ds Paul

Kerkraadsvergadering en sy werking

Donderdagaand het die Kerkraad saam met die diakens vergader, volgens artikel 4 en 5 van die Kerkorde om te besin en te besluit oor ‘n tweetal predikante, vir beroeping na die gemeente. Enige ampsdraer wat verkies word is ‘n baie belangrike saak in die koninkryk, soveel te meer ‘n predikant wat die gemeente moet voorgaan in Skrifverklaring en leiding. Daar was oor die sestig kerkraadslede en diakens teenwoordig en almal het baie ernstig voor God gebuig na gebede en bespreking.

Op die kerkraadsvergaderings is daar baie sake wat bespreek word. Die hele gemeentelike bedrywighede word behandel en bespreek en verslag van gedoen. Drie baie belangrike kommissies is die wat spesifiek handel oor die Woordbediening. Daar is die bedieningskommissie wat handel oor alle sake rondom die bediening van die Woord. Daaronder word die prediking bespreek en al die werk van die predikante en die ouderlinge aangaande die Woordbediening. Die volgende kommissie is die katkisasiekommissie wat handel oor die katkisasie, die kinders se bywoning, die katkisasieonderwysers se voorbereiding, lesmateriaal en alle sake rondom die katkisasie. Die evangelisasiekommissie handel oor alle evangelisasiewerk. Die gemeente het ‘n beleid om veral betrokke te wees by die opleiding van predikante en daarom is ons baie betrokke by “Mukhanyo Theological School” waar ds. Maarten ook ondervoorsitter is van hulle raad. Ons is betrokke by Covenant College in Zambië, in ‘n minder mate nou by Hefsiba in Mosambiek. Ons is baie betrokke by Geref. Kerk Tembisa. Die evangelisasiekommissie se werksaamhede word opgedeel in drie dele, Binnelandse evangelisasie, Buitelandse evangelisasie, dan ‘n paar enkelpersone wat ons ondersteun. Bybelverspreiding word ook by die kommissie gereël. Dan is daar ook nog verskeie ander kommissies wat rapporteer onder andere die Jeug-, Finansies-, Instandhouding-, Diakonie en ook ad hoc (tydelike kommissies met spesifieke opdragte). Dit is elke keer ‘n baie lywige vergadering en alles gaan om die Eer van God en die uitbreiding van die koninkryk.

Dit is met groot dankbaarheid dat die Gereformeerde kerk Centurion, baie gawes (lidmate) het met verskeie talente wat in die Koninkryk gebruik word. Maar elke lidmaat is deel van die liggaam van Christus en saam dien ons God (1 Kor 12:12-31). Elke lidmaat van die jongste tot die oudste is belangrik in die kerk vir God. Ons leef vanuit ‘n diepe afhanklikheid van God (Mat 5:3) en Jesus Christus is die Hoof van die gemeente (Ef 1:22,23) en ons is sy liggaam.

Ef 1:22,23 “Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as Hoof van die kerk. 23) Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal ver- vul.”

Ds Gerrit

« Older posts Newer posts »