Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Predikante Skryf (Page 30 of 40)

Geduldig en Dankbaar

Die meeste van ons se geduldmeters het reeds uitgebrand. Dit is so moeilik om geduldig te wees, veral as jy nie tyd het om te kan wag nie. In baie opsigte is dit wat nou gebeur… Ons wil so graag hê dat ons lewens net weer moet koers kry en terugkeer na normaal, en ons kan nie meer wag nie. Ons kan nie meer wag om terug te gaan werk toe nie, om weer ou vriende en familie te sien, om kerk toe te gaan, om op vakansie te gaan.

Dit is snaaks hoe ‘n mens se geduld teenoor sekere dinge net heeltemal onmoontlik voel. Asof ‘n rooi lig nooit vinnig genoeg kan omslaan nie. Of die laaste periode van skool voor die vakansie aanbreek net nie wil verbykom nie.

My vrou lag altyd in haar mou as my geduldmeter moet ingaan vir herstelwerk, want sy reken dat ek gebid het vir geduld, en nou stel die Here my op die proef om my geduld te leer.

Dit voel vir die meeste van ons of die opheffing van die regulasies nie vinnig genoeg kan kom nie. Maar dan moet ons tog weer vir ‘n oomblik terugdink aan die gejaag van ons lewens wat soms nie tyd het vir stilword nie. Dalk is dit juis dat ons nou moet leer wat dit beteken om balans te hê in die lewe. Nie te veel gejaag en nie te min stiltetyd nie…

In ‘n oogwink gaan dinge verander, en ons gaan terugdink aan die tyd toe ons geduldig moes wag op die Here vir uitkoms… Dan besef ons hoeveel dinge daar is waarvoor ons kan dankbaar wees. Laat ons dan geduldig wees, en uit dankbaarheid die Here loof!

Mag ons elke dag so verlang na die wederkoms…

Lourens (vdm)

Inperking positief of negatief i.v.m. die gesin

Die inperkings was baie radikaal in ons almal se lewens. Vir die eerste keer in ons lewens is ons ingeperk en mag nie uit ons huise gegaan het nie. Nou word die inperkings stelselmatig opgehef maar die krisis is nog nie verby nie en ons moet self verantwoordelikheid neem vir ons doen en late.

Maar hoe het die inperkings jou eie of jou gesinslewe beïnvloed? Daar was sekerlik meer tyd saam as gesin, sonder sport en buitemuurse aktiwiteite. Die kinders het egter ook baie skoolwerk gehad wat hulle moes doen. Maar hoe hoe het dit julle gesinslewens geraak en veral huisgodsdiens? Ons lees in Deut 6:6,7 Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. 7) Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.”

Gesonde lewens as jy enkel is of gesonde gesinslewens kom juis na vore as jy in dankbare gehoorsaamheid doen wat God vra. God vra van ons ‘n dankbare en toegewyde lewe aan Hom. Hierdie is nie ‘n moeilike gebod nie. God vra nie geld of diere-offers nie, “lof” is die offer wat God vra.

Deur te lees en te bid, is jy besig om te leer hoedat God wil hê dat ons moet lewe. Daar is nie ‘n voorskrif van hoe nie, maar wel dat ons dit moet doen. Hierdie is nie ‘n moeilike gebod nie, dit is ‘n gebod wat ons net met erns en toewyding moet uitvoer. Maar dit gaan verder as net bloot lees en bid in die gesin, dit gaan ook oor gesamentlike aanbidding.

Ons is steeds daarmee besig, al is dit met die elektroniese media. Maak jy as verbondshoof erns daarmee om Sondae saam met jou gesin te gaan sit en in te skakel op die eredienste en saam met die gemeente God te aanbid? Want alhoewel ons nie bymekaar kan kom nie, wel net in ‘n baie beperkte hoeveelheid in ons gemeente, is ons tog in die gees saam besig om God te dien.

Al is baie van ons lidmate besig om van die huis af te werk en baie dalk meer ure werk, al is hulle by die huis, moet nie vergeet dat ons eerste doel is om God te dien en te eer en te aanbid nie. Maak erns daarmee en dien Hom voluit as jy alleen is, of as jy saam met jou gesin is.

Soli Deo Gloria! Aan God alleen die eer.

Ds Gerrit

Die amp gaan die kerk vooraf – die erediens as (amp)telike vergadering met God

Die ingrendeling het ons as kerk tot baie insigte gebring… Dit laat ons opnuut nadink oor die doel en die wese van ons geloof, en natuurlik die wese van die kerk. Is daar iets dieper aan die belydenis van “heilige, algemene, katolieke kerk, die gemeenskap van die heiliges”?

Prof. Dries du Plooy skryf ‘n baie goeie en belangrike artikel in Die Kerkblad, Junie 2020 oor die wese van die erediens en of dit moontlik is om sakramente so oor die internet te bedien.

Hy skryf: “Die tegnologie het in ons tyd geweldig ontwikkel en ons almal het ‘n goeie begrip van hoe kerke nuttig gebruik maak en kan maak van die tegnologie. Sondae kan ons met gemak en effektief elektronies inskakel en luister (en selfs kyk) na ons predikant (of na ander predikante) se aanbieding van ‘n virtuele diens.”

Hy skryf verder: “Dit is egter nie ‘n erediens nie. Die begronding vir ‘n erediens word in die vierde gebod gegee, en die prinsipiële raamwerk hiervoor vanuit die Skrif verder in Sondag 38 van die Heidelbergse Kategismus geformuleer. Belangrike elemente daarvan sentreer rondom die feit dat dit ‘n fisiese samekoms van gelowiges onder leiding van die Heilige Gees is waartydens na die bediening van die Woord geluister moet word, sakramente gebruik moet word, saam gebid word en die Christelike liefdesgawes gegee word.”

Hy verduidelik dan: “’n Inherente eienskap van die erediens is deelname en geloofsaktiwiteite tussen God en sy volk. Dis ‘n ontmoeting tussen God en sy volk op ‘n geskikte plek van aanbidding. Dit is ‘n amptelike vergadering van gelowiges (of kerk) onder leiding en toesig van die ampte wat God self daarvoor ingestel en laat bevestig het. Tydens sodanige erediens/ontmoeting met God is daar ‘n bepaalde liturgie (sakrale of heilige handelinge) wat van die aanvang tot die afsluiting ‘n besondere amptelike toonaard en karakter daaraan verleen (vgl. Ook die NGB art 27-32).

‘n Erediens word uit die hemel as opdrag gegee. Dit is nie die “kerk” se erediens nie, maar die Here s’n. Dit is daar waar die gelowiges almal saam kom, om in die eenheid van ware geloof die Here met lofsange en danksegging en gawes te eer.

Die erediens is ‘n amptelike vergadering tussen God en volk. Amptelik. Met ander woorde die ampte moet teenwoordig wees. Want die amp gaan die kerk vooraf. Die Here gee eers die ampte, die gawes, en daarna versamel Hy die kerk.

Hy het immers gegee, sommige as apostels en ander as profete en evangeliste en herders en leraars om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk…” Efesiërs 4:11 ev.

Daarom stel die apostel in Romeine 10:14 ev “Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie?”

Die geloof is dus uit die gehoor en die gehoor is uit die Woord van God… Deur die verkondiging van die evangelie kom ons deur die werking van die Heilige Gees tot geloof.

Die amp is noodsaaklik vir kerkwees. Sonder die ampte kan ons ook nie erediens hou nie, ten minste, nie soos die Here dit as opdrag gee nie. Daarom het ons as predikante onder leiding van die “Corona-kommissie” wat die bedieningskommissie is, soos aangewys deur die kerkraad, sover dit vir ons moontlik was die virtuele dienste gehou soos ‘n erediens.

Nou het ons egter weer toestemming van die owerheid om met die ampte ‘n erediens te mag hou. Ons bede is dat ons spoedig saam met die gemeente mag saamkom, soos die Here dit van ons verlang om Hom met ons hele hart en siel en al ons kragte te aanbid.

Lourens (vdm)

Daar sal waarskynlik goeie mense in die hel ook wees!

Lees: Mat 19:16-30; Mar 10:17-31; Luk 18:18-30

Baie keer dink mense dat die hemel net vol “goeie mense” is en die hel vol “slegte mense”. Baie keer dink ons: Wat kan ek nog doen wat “goed” is sodat ek God kan beïndruk, of iets kan doen wat darem tot my voordeel is om in die hemel te kom. Baie keer dink ons dat wat ek doen belangrik is vir God se besluite oor my.

God wil nie iets van jou hê nie, alles behoort aan hom. God wil jou hê, Hy wil jou hart hê, Hy wil gehoorsaamheid hê, Hy wil hê dat ons sy wil moet doen. Ons lees van hierdie jongman, wat baie ryk was, en wat alles gedoen het wat hy moes, hy het die gebooie onderhou, maar Jesus sê vir hom: “Gaan verkoop alles wat jy het en volg My!”

Dit was vir hom baie swaar. Hy het bedroef weggegaan. Tog het hy na Jesus toe gekom in nederigheid, hy het gehardloop, hy het gebuig voor Jesus, Hy het Hom in eerbied aangespreek en eerlike vrae gevra. Ons lees in Mar 10:21 dat Jesus hom liefgekry het. Maar hierdie versoek van Jesus was te veel vir hom. Hy het bedroef geraak. Hoe kan jy sommer maar alles wat jy het verkoop?

Jesus het hier verseker bedoel dat die jongman God nog nie volkome liefgehad het met sy hart en siel en verstand nie. Hy het nog te kort geskied. Sy besittings was vir hom nog baie belangrik. Daarom moet ons onthou dat ons goeie werke ons nie in die hemel bring nie. Ons rykdom bring ons nie in die hemel nie. Ons godsdienstige lewe bring ons nie in die hemel nie. Ons geloof in Jesus Christus, bring ons in die hemel.

Jesus Christus was dié volmaakte mens. Jesus Christus was volkome gehoorsaam aan sy hemelse Vader. Jesus Christus het niks op aarde gehad nie, alhoewel alles aan Hom behoort het, het Hy nie geroem op aardse rykdom nie, Hy het op ’n donkie gery, maar Hy het altyd die wil van sy Vader gedoen. Hy het liefgehad tot aan die kruis. Hy het sy dienswerk op aarde volbring. Glo in Jesus Christus as jou enigste weg na die hemel. Dien God in liefde en in dankbaarheid. Vra altyd vir genade op genade.

Ds. Gerrit

‘n Wonderteken in die hemel (Openbaring 12)

In Openbaring 12 lees ons van ‘n teken wat in die hemel. Johannes noem dit ‘n wonderteken (Grieks: semeion, byna soos Jesus se wonderwerke!).

As ons die vrou van nader bekyk is dit reeds ‘n wonder: Sy dra die son as kleed om haar en die maan onder haar voete en op haar kop ’n kroon van twaalf sterre. Vir seker dui die twaalf sterre dan op die twaalf stamme van die volk Israel! Die Ou Testamentiese kerk is dus in heerlikheid geklee. En sy dra die son as kleed – sy is die draer van die boodskap van die lig! Daarom is die maan (nag) onder haar voete. Lig heers oor duisternis. Dit is die beskrywing van die glorie en prag van die kerk as die bruid van Christus .

Wat is dan nou so wonderlik aan hierdie teken? (Johannes skryf dat dit ’n “groot teken” = semeion) was (12:1). Dit begryp ons as ons egter kyk na die geskiedenis van die kerk in die OT. As ons die geskiedenis van Israel onder die loep neem, dan vind ons daar soveel afvalligheid en sonde.

* Sommer al voor die hek van die paradys vind die eerste moord plaas.

* Die aartsvaders Abraham, Isak en Jakob is aarts-leuenaars.

* Dawid is ’n owerspelige moordenaar.

* Die een koning na die ander doen “wat verkeerd is in die oë van die Here”!

So lyk die tragiese geskiedenisvan Israel!

Uit die geskiedenis sien ons niks van die heerlikheid van hierdie son en maan en sterre nie! Dis net sonde op sonde. Dit lyk selfs of die duisternis die oorwinning behaal as God sy eie volk in ballingskap verstoot! Maar is dit dan nie juis so wonderlik nie, dat juis hulle, hierdie afvallige volk, die draer mog wees en kon wees van die geboorte van die heilige Seun van God. Die Here God het sondaars uitgekies om draers te wees van die heerlikste evangelie. Uit hulle word “die Son van geregtigheid” (Mal 4) gebore!

Maar, die wonderteken is nog mooier as ons verder lees in Openbaring 12:

Dan merk ons hoe die draak wat regdeur die OT gepoog het om die koms van die Messias te keer, oorwin word. Hy wat die slang van ouds was, kry dit nie reg om die Kind van Betlehem te verslind nie. Nee, die Kind word weggeruk na die troon van God, waar Hy sit as Oorwinnaar oor die Bose.

Ja, die wonderteken in die hemel… daar sit Hy nou aan die regterhand van die Vader op die troon! Die hemelvaart is die troonsbestyging van Jesus Christus.

Laat ons steeds in alles wat gebeur, die teken in die hemel onthou: Ons Middelaar sit op sy troon en Hy regeer as Here van die here!

Ds Maarten

Post Tenebras, Lux!

Op die reformasie muur in Genève, regoor die muur met Farel, Calvyn, Beza en Knox in die middel, staan die bekende woorde “Post Tenebras, Lux!” Genève is ‘n Franse vlugtelingstad uit die reformasie waar Calvyn baie jare deurgebring het.

Maar die begin, die oorsprong van die reformasie, soos dit bekend staan kom uit Duitsland. Dit is Maarten Luther wat op 31 Oktober 1517 die 95 stellinge as dispuut teen die kerkdeur van Wittenberg vasgenael het. Dit het die koers van die geskiedenis verander.

Uit die duisternis, die donker middeleeue, lig! Dit is wat hierdie woorde beteken: na die duisternis, Lig! Dit sal ook die geval wees met hierdie virus, dit sal ook die geval wees met al die swaarkry en moeite van ons lewens. Christus Triomfeer.

Duitsland en in baie opsigte, Europa het sekulêr geword. Die geboorteland van die reformasie is in geestelike duisternis gedompel. Daarom is ons dankbaar vir die Sending onder Duitssprekendes om weer die evangelie, die lig van hoop aan hulle te bring. Geen ingrendeling kan die evangelie bind nie!

Dr VE d’Assonville word DV 16 Mei 2020 in Postmasburg bevestig as sendeling om hierdie werk by die RTS voort te sit in Heidelberg, Duitsland. Mag die Here hierdie werk seën, mag daar weer ‘n reformasie kom: Post Tenebras, Lux!

Ds Lourens

« Older posts Newer posts »