Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Predikante Skryf (Page 31 of 43)

Veranderinge in die Suidland (Psalm 126)

Om Namakwaland se blomme te gaan kyk is ‘n groot voorreg en eintlik ‘n móét vir elkeen wat dit kan doen. Kyk ek na ons foto’s van die afgelope naweek dan besef mens jy kan die prentjie-mooi land nie op film vaslê of oorvertel nie. Die Here het kwistig sy verfkwas gebruik en ‘n wonderwêreld opgetower vir ons om te sien en Hom te verheerlik.

Psalm 126 kom by my op soos ons deur die semi-woestyn van Namakwaland en die Knersvlakte ry. Eintlik is dit ‘n dorre en barre wêreld, waar dit meesal met temperature rondom die veertig grade worstel. So ook die Suidland van Israel. Die Hebreeus gebruik die naam van die Negevwoestyn suid van Judea. Harde wêreld! Dorre aarde, ja, maar laat dit net reën in die winter, dan kom die blomme in die vroeë lente in krag uit die aarde, net soos in die Weskaap van Namakwaland!

Die digter van hierdie psalm roep in herinnering dié kere dat God ingegryp het en hulle lot drasties verander het. Nou vra hy dit moet weer gebeur. Die woestyn kan ‘n lushof word, maar net die Here kan so iets vermag.

Ook ons gebed is vandag so. Ons soek weer die vreugde van die vryheid van pandemie en misdaad en korrupsie. Ag Here, verander tog ons lot, soos u die Negev in waterstrome en lentebloeisels verander. Net u kan dit doen omdat Jesus dit vir ons met sy bloed gekoop het.

Bid maar hierdie gebed gereeld in jou trane, want as God verhoor sal jy met vreugde maai wat jy gesaai het! (vs6)

Eintlik is ons gebed dat die groot verandering van die wederkoms kom wanneer Hy ons van hierdie woestynlewe kom verlos, en die poorte van die paradystuin oopsluit: Maranata, kom Here Jesus, ja, kom gou!

Ds Maarten

Verkondig Christus en Hom as gekruisigde

Die meeste van ons ken van kindsbeen af die frase: “Jesus het vir ons sondes gesterwe”.

Maar het u al ooit gedink watter vreemde gedagte dit inhou. Dat iemand se dood ons moet bly maak. Nie net moet bly maak nie, maar jou hele lewe verander. In die meeste gevalle is die dood iets wat ons selfs ons vyande nie eens toewens nie, wat nog te sê dat jy ‘n vriend of geliefde die dood toewens.

Tog praat ons met ons kinders oor die dood asof dit nie net normaal is nie, maar goed is. Jesus se dood is wonderlik! Jesus het vir jou en my aan die kruis gesterf…

Die afgelope tyd is my gedagtes geprikkel deur wat dit beteken om Christus te verkondig? Beteken dit bloot om vir ons kinders te vertel ‘n jong man van so in die dertig het ongeveer 2000 jaar gelede gesterf aan ‘n kruis en die lewe vir ons daardeur beter gemaak?

Of sit daar dalk iets dieper in die betekenis en die verandering van ons harte wat Christus se dood verkondig totdat Hy weer sal kom. Om Christus te verkondig beteken tog in wese dat die koninkryk van die hemele naby gekom het. Dat die dood geen mag oor die mens meer het nie. Dat ons die eiendom van God is. Dat ons lewe ‘n doel en betekenis het. Dat ons elke dag ons lewe kan rig tot die eer van God. Dat ons vreemdelinge en bywoners is in hierdie wêreld.

Om Christus te verkondig is om te leef met die hoop op die onvervulde beloftes van God, wat rotsvas gevestig is in Sy woord met die bewyse van sy liefde deur Sy dood en opstanding.

Om Christus te verkondig is om vry te lewe van die vrees en verskrikking van die aanslae van hierdie lewe, met ‘n diepgewortelde sekerheid in God se troue sorg en liefde. Dit is om te weet jy behoort, jy is kosbaar, jy is ‘n gawe uit God se hand aan jou medemens.

Laat ons dan besef, om Christus te leef is nie om iets te kry nie, nie om bakhand te bedel vir genadekrummels van die dominee nie, maar om as erfgenaam self deel te kry aan die ewige en heerlike erfenis wat in die hemel bewaar word in Christus. Dit is om iets te gee. Dit is om te aanbid. Om jou lewe met al jou begeertes, en bo alles jou hart te offer. Om jou lewenseer aan God te gee.

Mag ons Here ons deur die krag van die Heilige Gees daartoe versterk

Lourens (VDM)

Grendeltyd Fase 2 Eredienste

Noudat ons in Fase 2 is van die grendeltyd, begin ons stadig maar seker weer terugkeer na die “normale” lewe. Maar wat is normaal? Normaal is nie net om te doen wat ons altyd gedoen het nie, maar normaal is die intense begeerte om die Here VOLUIT saam met jou medegelowiges te dien.

Psalm 84 verwoord die intense verlange van die pelgrims om na die tempel te gaan en daar in die nabyheid van God, Hom te loof en te prys. Die tempel was die simbool van die Here se teenwoordigheid. Die pelgrims was in ʼn vrolike feesoptog vir die moontlike Huttefees. Op die lang en intense reis was daar ‘n intense verlange om in die tempel te wees.

So het ons die afgelope drie en ‘n halwe maand gesmag om weer saam in ‘n erediens te vergader. Hierdie reis van die pelgrims was ook simbolies van die verlange om vir ewig by God te wees, ‘n verlange na die ewige Godstad, die Nuwe Jerusalem, Open 21,22. Die Koragiete kon slegs in die voorhof van die tempel kom. Dit was vir hulle egter genoeg, hulle was in die tempel.

Maar geliefdes, tydens Jesus Christus se kruisiging het die voorhangsel geskeur en het ons vrye toegang tot by God. Heb 10:19-25. Deur Jesus Christus se soenverdienste heen het Hy vir ons die weg gebaan om by God te wees, om God te aanbid. Die Heilige Gees is uitgestort sodat ons ook deur Hom gelei, kan word in gebed, in ons daaglikse lewe om met verlange uit te sien om God elke dag te loof en te prys.

Ons lees in Open 21:22 dat daar nie ‘n tempel in die Nuwe Jerusalem is nie, maar God en die Lam is die tempel. Daarom die hunkering om by God te wees. Daar is ook die hunkering om by God te wees saam met my medegelowiges.

Sien jy ook uit om saam eredienste te kan hou tot eer van God!

ds Gerrit

MISSIO DEI

“My Vader werk tot nou toe en Ek werk ook” (Joh 5:17)

Van tyd tot tyd gaan daar in die teologie begrippe rond waarmee mense probeer om die grootheid en grootsheid van die Goddelike openbaring te beskrywe. Begrippe wat populêr raak en dan soms weer in onbruik. Opsigself is dit net die bewys dat God en sy genadewerk onbeskryflik groot is (Rom 11:33). In die laaste paar dekades kry ons die begrip ‘Missio Dei’ as poging om die missionêre fokus van die kerk te beskrywe. Die Latynse woorde sou vertaal kan word met “God se Sending”. God se groot plan om vir Hom ‘n gemeente van uitverkorenes te versamel (Hbk vr 54).

In wese beskrywe Missio Dei die taak van die kerk van die Here binne die groot plan van God self. Die kerk is dan nie die doel opsigself nie, maar die instrument wat God gebruik om sy werk te voltooi. Dit gaan dus nie net om die kerk te wees nie, maar om as kerk van Christus, die werk wat Hy begin het voort te sit. Hy het sy taak voltooi (dit is volbring), maar Hy maak ons sy medewerkers in die versameling van sy uitverkorenes en die oprigting van sy koninkryk.

Die taak van die kerk is dan om deel te wees van die Missio Dei. God het ‘n plan of ‘n sending in die wêreld en om sy doel te bereik stuur Hy sy eniggebore Seun op die groot sending om mense van hulle sondes te verlos. As Christus na die hemel opvaar maak Hy sy dissipels en ook ons deel van die Goddelike plan of sending, deur ons uit te stuur en met ons saam te gaan na alle nasies om mense sy dissipels te maak (Mat 28).

God is nie soos die heidense afgode wat mense sy slawewerk laat doen nie, maar maak mense na sy beeld en roep hulle as medewerkers in sy koninkryk. Hy wil dus sy werk, sy ewige raadsplan voltooi en ons deelmaak van hierdie sending. Dit gee aan ons elkeen die voorreg en verantwoordelikheid om werklik om te gee vir verlore mense en alles in die stryd te werp om mense vir Christus te wen (Hbk vr 86). Daarby kry ons die belofte dat Jesus Christus self saam met ons sal wees in die uitvoering van hierdie kerklike taak (Mat 28) en dat Hy die verkondiging van die Evangelie onder die nasies seën (Hand 2:47b).

Wat ‘n groot voorreg is dit dan om saam met Paulus en baie ander gelowiges oor die eeue heen deel te wees van die sendingwerk van die kerk van die Here. Mag Hy gee dat ons elkeen altyd ‘n oop en gewillige hart het om aan ander mense die evangelie van Christus te bring.

Ds Maarten

Om ‘n mens te wees…

Ons hoor gereeld dat mense op ‘n “onmenslike” wyse moet oorleef. Daar is baie landsburgers wat in onmenslike omstandighede elke dag ‘n bestaan moet maak; wat onmenslike werksomstandighede moet verduur; wat onmenslike behandeling ontvang ens.

Tog is daar ‘n diep vraag wat dit werklik beteken om mens-”waardig” te wees. Ongelukkig word hierdie twee uiterste pole as die enigste vorm menslikheid gesien, waarby menseregte dan die skeidsregter is.

Volgens menseregte moet jy so en so behandel word en die volgende dinge ontvang om menswaardig te wees… As jy dit nie kry nie, het jy die reg om op jou menswaardigheid aanspraak te maak deur te protesteer…

So word die gedrag van mense negatief ingestel deur mensgemaakte wette om ons samelewing te orden om ons wese te laat leef en te bestaan met destruktiewe gedrag. Op hierdie wyse word die mens sy eie god. Elke mens moet deur sy eie opinies en eie regte self veg vir sy menswees. Die moderne eksistensialisme is bloot petrol op die vuur deur identiteitspolitiek en die “woke”kultuur. Want nou word elke mens vertel dat hulle self kan besluit wat hulle liggaam is…

Hierbinne lê ‘n diepgewortelde tweestryd tussen Platoniese dualisme wat natuur en genade skei. Die liggaam is net die kerker van die siel. Maar terselfde tyd ook ‘n eksistensiële realisme, dat ek net vir die hier en nou bestaan. Ek moet my beste lewe nou leef…

Nie een van hierdie filosofiese denkstrome kom egter by die antwoord uit wat dit beteken om mens te wees nie. Want al hierdie denke is gerig op die mens. Die begin en einde van alles gaan net oor ons. Dit kaap soms ook die Skrif om te beweer dat alles net gaan oor die mens. “Want so lief het God die wêreld gehad….”

Dit gaan egter oor meer as “die mens” in hierdie skepping. Die mens is geskep, nie vir homself nie, maar vir God. As kroon van die skepping is die doel van die mens om God te verheerlik. “…sodat elkeen wat glo, die ewige lewe kan hê…” Dit is, om God te dien en Hom lief te hê en Hom te verheerlik…

U sien, om mens te wees is om te verstaan dat jy broos is, soos Enos, om God te aanbid. Om te begryp wat Dawid uitroep in Psalm 8: “Wat is die mens dat U aan hom dink…?” Dan kom ons uit by die ware mens, Jesus Christus… Soos Pilatus Jesus aan die skare wys: “Daar is die mens!” Johannes 19:5

Om mens te wees is om te verstaan dat jy geskep is deur God, met die doel om Hom te dien en te eer. Om mens te wees is om deel te hê aan die ware mens, Jesus Christus. Dit is om herstel te word na die beeld van God – om die Heilige Gees te ontvang.

Dan verstaan ons dat ons liggaam ‘n tempel is van God! ‘n Tempel waarin die Heilige Gees woon. Die liggaam is nie nikswerd nie, Jesus Christus het met Sy eie liggaam vir ons liggame betaal sodat ons nie in die helse vuur gewerp sal word nie, maar in die hemelse heerlikheid sal deel.

Dit is tog wat ons bely aan die Nagmaalstafel, dat die brood ons gemeenskap is met die liggaam van Christus… En dan eet ons daardie brood sodat ons liggaam versterk kan word.

Daarom bely ons ook, as die fondament van dit wat ons glo, wat ons ENIGSTE troos is, dat ons na liggaam en siel, in lewe en in sterwe aan Christus behoort.

Mag die Here ons versterk en moed gee ook in hierdie tyd van Covid 19, om te onthou dat ons volkome aan Hom behoort, na liggaam en siel. Dat ons nie hoef te vrees nie. Dat die dood ons nie van Hom kan skei nie… Maar dat ons met ‘n volkome hart Hom sal dien en eer en verheerlik, in lewe en in sterwe want daartoe het Hy ons vry gekoop!

Lourens (vdm)

Ken jouself! Wees beskeie oor jouself! Roem in God alleen!

Rom 12:3 “…Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het.”

God het aan elkeen van ons gawes gegee. Sommige het meer gekry en ander minder. Een gawe is egter nie belangriker as ’n ander nie. Hoe meer gawes jy gekry het, beteken nie jy is belangriker nie, maar jy het ’n groter verantwoordelikheid om al jou gawes reg te gebruik.

Om meer van jouself te dink, is tipies hoe hierdie wêreld ons wil breinspoel. Dit word aan ons voorgehou om altyd te strewe na die belangrikste, die beste, om te presteer, sodat jy, of mense om jou, jou op die skouer kan klop. Dit is in direkte lyn met wat die Bybel aan ons leer. Die gawes wat God jou gegee het moet jy voluit gebruik, nie soos jy wil nie, maar soos wat God wil. As daar die geringste selfvoldaanheid is, soek jy nie meer God se wil nie, maar jou eie wil.

Nee, vra en soek biddend van God, wat is my gawes? Waarin is ek goed? Ken jouself, waarin jy goed is, wat jou gawes is. Erken die gawes wat God aan jou gegee het en gebruik dit biddend tot voordeel van sy koninkryk. Dit beteken om vol blydskap, met dankbaarheid, God te dien en tot voordeel van jou naaste te doen wat jy doen. Paulus noem verder in die perikoop, gawes wat mense ontvang het is die van, profesie, diens, onderrig, bemoediging, om te kan leiding gee, te kan uitdeel en met toewyding en blymoedigheid te werk.

Daarom is dit so belangrik dat ons die gesindheid van Jesus Christus sal navolg. Hy het op ’n donkie Jerusalem binnegery. Hy het nie vir materiële rykdom gewerk nie, alles behoort tog aan Hom. Hy het nagte deur vir sy kerk, vir sondaars gebid. Hy het sy lewe gegee vir son-daars. Hy was bereid om fisies en geestelik, helse pyn en lyding, te ondergaan ter wille van sy mense.

  • Kom ons erken en ken ons gawes wat God aan ons gegee het.
  • Kom ons gebruik dit tot voordeel van die kerk, van ons medemense.
  • Kom ons waardeer ons medemense, prys hulle, met hulle gawes.
  • Kom ons dien God en eer God en loof en prys Hom.

ds. Gerrit

« Older posts Newer posts »