Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Predikante Skryf (Page 21 of 40)

Calvyn kan nou Afrikaans ook praat…

Die meeste van ons ken die naam Johannes Calvyn. Indien iemand Calvyn aanhaal, is daar in die tradisionele gereformeerde kringe erkenning of aanvaarding van die standpunt, want, Calvyn het immers so gesê. Op ‘n sekere manier is Calvinisme die enigste vorm van -isme wat nie ‘n -isme is nie. 

Die interessante is dat nog bitter min van Calvyn se werke in Afrikaans beskikbaar is. En dat bitter min gewone lidmate ooit in hulle lewe, self die werke van Calvyn gelees het. Die meeste predikante het dus ‘n Engelse of Hollandse vertaling van Calvyn se werk. Met die gevolg dat die aanhalings wat u dus tot dusver gehoor het van Calvyn, niks anders is nie as die dominee se vertaling van die Engels of Nederlands, wat ‘n vertaling is van die Latyn of Frans. 

Ja, Calvyn het in Latyn geskryf, alhoewel hy ‘n Fransman was. Latyn was die algemene taal van die akademie. Omtrent soos Engels vir ons vandag. Baie van Calvyn se werke is dan ook in Frans vertaal vanuit die Latyn. 

Die grootste werk van Calvyn wat in Afrikaans beskikbaar is, is die bekende 4 blou bundels van die institusie wat deur wyle prof. Simpson direk uit die Latyn vertaal is vanaf 1984 tot 1992. Prof Fanus Postma het onderneem om hierdie werk voort te sit en het die eerste keer in 2008 ‘n kommentaar in Afrikaans die lig laat sien. Die Romeine kommentaar. Ek het die voorreg gehad om daardie bekendstelling by te woon, daar in Potchefstroom. 

Twee weke gelede het ek weer die voorreg gehad om by nog ‘n bekendstelling te wees na byna 13 jaar, waar 4 werke van Calvyn in Afrikaans bekend gestel by GK Wilropark. Hoewel prof. Postma nie meer met ons is nie, het hy die 4 kommentare wat oorspronklik in een bundel uitgegee is, vertaal nl. Galasiërs, Efesiërs, Filippense en Kolossense. 

Dit is ‘n wonderlike skat wat die besondere gawes van Calvyn soveel meer persoonlik aan ons in ons eie taal weergee. Hierdie werke is beskikbaar by ons GKSA Admin buro en is ‘n wonderlike aanwins vir ons in Afrikaans en in ons geloof en vir enige huis. 

Immers, nou kan Calvyn met ons ook in Afrikaans praat! 

Lourens (vdm) 

Vriende van God (Joh 15:15)

Wat ‘n wonderlike genade dat ons kinders van God genoem word (1 Joh 3:1). Dit is wat ons is omdat God ons so noem. Sy eie Seun het dit moontlik gemaak. Sy Vader is nou ons Vader! En ons is dan die aangenome kinders van God. 

Net so aangrypend en wonderlik is die feit dat Jesus ons sy “vriende” noem. Van vyande tot vriende van die Here! En dat Hy die grootste liefde bewys deur sy lewe vir sy “vriende” te gee. En nou het Hy alles wat Hy van die Vader gehoor het aan sy vriende bekend gemaak (Joh 15:15). Hy is immers die openbaring van God die Vader. Deur Hom sien en ken ons die Vader! 

Ons lees dat Abraham ‘n vriend van God genoem word. In Jakobus 2:23 lees ons: “Abraham het in God geglo en dit is hom tot geregtigheid gereken. En hy is ‘n vriend van God genoem.” 

Die enigste direkte verwysing in die Ou Testament na Abraham as “vriend van God” vind ons in Jesaja 41:8: “…nageslag van Abraham, my vriend…”. Ook in die huweliksformulier praat ons van Abraham, Isak en Jakob as “vriende” van God. In Genesis 18 sien ons dat God sy hart met Abraham deel omdat God met hom en sy nageslag ‘n verbond gemaak het. Dan open-baar God wat Hy van plan is om met Sodom te doen. Ook met Moses het God gepraat” soos ‘n man met sy vriend praat”. 

Nou is dit wel belangrik om te verstaan dat as enige hooggeplaaste jou sy ‘vriend’ noem, hy dan nie noodwendig jou vriend word nie. So is dit dan dat jy nie van God as jou vriend of maatjie kan praat nie. Hy bly God. Jesus is nie jou vriend nie, maar jou Here. Jou God en Meester. Dit is egter ‘n buitengewone voorreg en genade dat Hy ons sy vriende en kinders noem! En dan gee Hy sy lewe vir sy vriende. 

As jy egter nie sy vriend is nie, dan is jy sy vyand. Jakobus skryf dit: “Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God” (Jak 4:4). Vyande van God wil ons nie wees nie. As vyand van God kom jy in die ewige oordeel. Dit is geen mooi vooruitsig nie. 

Jesus sê egter dat ons sy vriende is. Dit is as ons dan ook doen wat Hy wil. “Julle is my vrien-de as julle alles doen wat ek julle beveel” Joh 15:14) en sy gebooie is nie swaar nie. Laat ons dan dit doen wat God wil – al haat die wêreld ons as sy vriende. 

Laat ons dan die Here dank dat Hy ons sy vriende noem en laat ons aan Hom die eer gee wat Hom as ons Verlosser en heilige ewige God toekom. 

Ds M 

Volharding in die Geloof is die vrug van Hoop

Hulle wat God volgens sy voorneme tot die gemeenskap van sy Seun, ons Here Jesus Christus, roep en deur die Heilige Gees wedergebore laat word, verlos Hy wel van die heerskappy en slawerny van die sonde. Tog verlos Hy hulle in hierdie lewe nie heeltemal van hulle bedorwe natuur en bestaan nie.

Hieruit ontstaan die daaglikse sondes van swakheid, en selfs die allerbeste werke van die heiliges is nog gebrekkig. Daarom moet hulle voortdurend voor God verootmoedig, hulle toevlug tot die gekruisigde Christus neem, die bedorwe natuur hoe langer hoe meer doodmaak deur die Gees van gebed en die heilige beoefening van godvresenheid en vurig na die bereiking van die volmaaktheid verlang, totdat hulle losgemaak van hierdie sterflike liggaam, met die Lam van God in die hemel regeer.

Vanweë die oorblyfsels van die inwonende sonde en ook vanweë die aanvalle van die wêreld en die Satan kan die bekeerdes nie in hierdie genade volhard as hulle aan hulle eie kragte oorgelaat was nie. Maar God is getrou. Uit barmhartigheid bekragtig Hy hulle in die genade wat een maal aan hulle gegee is, terwyl Hy hulle ook tot die einde toe kragtig daarin bewaar.

Die mag waardeur Hy die ware gelowiges in die genade bekragtig en bewaar, is so groot dat dit nie deur die sondige natuur oorwin kan word nie…

Hierdie bewaring van God word ook vermeld in die teksvers op die embleem van die GKSA: Die poorte van die hel sal dit nie oorweldig nie. Dit word ook genoem in die doopsformulier: dat hulle wat gedoop is altyd deur die Heilige Gees regeer sal word, sodat hulle Christelik en godvrugtig opgevoed mag word en in die Here Jesus Christus mag groei en toeneem, sodat hulle die Vaderlike goedheid en barmhartigheid, kan bely en in alle geregtigheid onder ons enigste Leraar, Koning en Hoëpriester, Jesus Christus, kan lewe en moedig teen die sonde, die duiwel en sy hele ryk kan stry en oorwin, om die Drie-enige God te verheerlik en te loof en te prys.

So troosryk en bemoedigend is ons belydenis (Dordtse Leerreëls 5.1-3|). Hierdie woorde van ons belydenis moenie net by woorde bly nie, dit moet ook sigbaar word in ons lewe… Hou daarom vas aan die beloftes van God in Sy Woord. Leer Hom ken deur jou te verdiep in die Skrif. Volhard in jou geloof. Want volharding in die geloof is die vrug van Hoop!

Lourens (vdm)

Het jy tyd om vrug te dra tydens die inperkings?

Joh 15:4
“Julle moet in My bly en Ek in julle. ‘n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie.”

Dit is belangrik om vrugte te dra wat by die bekering pas. Veral in hierdie tyd van inperkings moet ons bly vrug dra. Maar nou is die probleem dat ons nie meer vrylik, elke Sondag, eredienste kan en mag bywoon nie. Is dit ‘n probleem vir jou om vrug te dra? 

Die probleem is dat baie Christene se vrug dra beteken om eredienste by te woon en die res van die week is daar nie baie tyd om aan God te spandeer nie. Miskien kan ek selfs as predikant of ouderling of diaken of suster baie besig wees met “kerkwerk”. Dit kan wees dat jy baie tyd spandeer by die kerk en vir die kerk en met die kerk. Määr hoeveel tyd spandeer jyself, fisies met Bybellees en persoonlike gebede. Die wedergeboorte is om as ‘n ware ingeënt te word in die wingerdstok, Jesus Christus. 

Hierdie inenting vra tyd saam met God. Dit vra dat jy persoonlik tyd moet spandeer met Bybellees en bid. Jy moet biddend deur die leiding van die Heilige Gees jou krag put uit die Woord. Die gevolg is ook dat jy sal honger na nog meer, na die geestelike voedsel. Ook Sondae word ons gevoed in die eredienste. Daarom sal jy ook hunker na die eredienste, sal jy ywerig, binne die protokolle, Sondag die eredienste wil bywoon. Net soos wat jy werk toe moet gaan, winkels toe moet gaan vir kos, kan jy ook na die eredienste toe kom. Moet daarom nie te besig raak met jou werk, jou persoonlike sake, jou wegkruip vir die virus en nie by God uitkom nie. 

Is jy werklik besig om soos ‘n loot aan ‘n wingerdstok, in hierdie tyd van inperkings en die virus, jouself te voed met die Woord? Is jy besig om geestelik te groei soos in loot wat ‘n tak word? Dit is so noodsaaklik tot verheerliking van God en tot vertroos-ting en versterking van ons almal. Mag God ons vashou en seën en voed in Sy groot, onmeetbare liefde en barmhartigheid. 

Ds. Gerrit 

Arbeid van Liefde

Die verskillende maniere waarop die terme Geloof en Hoop en Liefde gebruik word in die Nuwe Testament, laat ‘n mens telkens verwonderd. In 1 Tessalonisense 1 word die Grieks vertaal met arbeid van liefde, die ander van inspanning. In die 2020 vertaling staan daar die moeitevolle inspanning van liefde… 

Liefde is immers baie meer as ‘n gevoel. Dit is ‘n daad. ‘n Mens bewys liefde deur jou optrede. En hierdie optrede is baie kere met moeitevolle inspanning. Liefde sou ons kan sê is harde werk. Dit is tog juis die gewilligheid van jou vriend of vriendin se uiterste moeite wat hulle so kosbaar maak. Dit is jou pa en ma se ongekende inspanning om jou laste te help dra waarmee hulle liefde aan jou bekend word. Dit is die verpleegster wat met soveel ekstra moeite nog ‘n keer opdaag en help versorg, wat haar liefde bewys. Die dokter wat uit die pad gaan om iemand se lewe te red of verbeter. Die vreemdeling wat langs die pad sonder vrae help en hand bysit. 

Elke dag is daar mense wat met moeitevolle inspanning hulle liefde uitleef, sonder dat dit waardeer word of altyd gesien word. Ten minste nie deur mense nie. Maar dit is juis wat God raaksien. Die gewilligheid wat ons het om met liefdesinspanning ander mense te help… Dit is daardie inspanning van ons liefde wat so groot beloning inhou vir elkeen wat dit bewys. 

Dit is juis deur die uitleef van die liefde en die inspanning van ons lewe wat die wêreld anders en beter maak. Die feit dat daar iemand is wat jy weet jy kan bel wat geen moeite sal ontsien om jou te help nie, bring baie vertroosting en berusting… Die feit dat daar iemand is wat met moeitevolle inspanning dit geen moeite ag om die liefde van Christus uit te leef nie, maak jou lewe beter. 

Paulus moes inderhaas in die nag uit Thessalonika vlug vir sy lewe. Hy was maar skaars drie weke daar. Dan stuur hy vir Timotheus, ‘n jong man wat hy kort te vore ontmoet het, terug om die nuutbekeerde gelowiges te ondersteun. 

Hierdie mense het skaars ‘n evangelis vir drie weke gehad, toe daar met geweld teen hulle opgetree word en hulle gedreig word om nie hulle geloof in Christus uit te leef nie. Hulle het geen moeite ontsien om hierdie splinternuwe geloof in Christus te omhels en self daardie lief-de uit te leef nie! 

Mag die Here gee dat ons liefde ook so geken word. Dat ons liefde ‘n werk sal wees. Dat ons sal arbei in liefde. Dit is daardie liefde van Christus wat ons dring… 

Lourens (vdm) 

Die Brullende Leeu

Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. Bly standvastig in die geloof en …” – 1 Petrus 5:8 

Die laaste waarskuwing van die ou apostel Petrus aan die kerk in die wêreld is om nie in die illusie te leef dat julle welkom moet voel in hierdie wêreld nie. Vanaf die heel eerste woorde in die brief dra die lesers die identiteit van “vreemdelinge” (1 Pt 1:1). Hier kry die skrywer van die Heid Kategismus ook die feit dat ons drie aartsvyande/doodsvyande het nl. die duiwel, die wêreld en ons eie sondige natuur (Vr en Ant 127, Sondag 52). 

Daarom word ons opgeroep tot waaksaamheid. Letterlik sê die apostel dat ons nie onder die invloed (dronk) moet wees van die teorieë en idees (ideologieë) van die tyd nie. Ons is van ‘n ander koninkryk en moet ons gedagtes skoon hou van die wêreld. Dit sal daartoe lei dat ons deur die wêreldse mense gehaat word, en dus verwerp en vervolg word. Daar is ‘n komplot teen die kerk. Julle moet nie in die illusie leef dat die owerheid(e) ons voordeel in gedagte het nie. Jy moet nugter wees beteken dat jy mooi moet nadink oor wat werklik aan die gang is! 

Dit is dan duidelik dat die duiwel ons teenstander/vyand is. Hy weet dat hy nie teen die Leeu van Juda opgewasse is nie. Hy kan God nie teenstaan nie. Nou vat hy sy kant op die mense van God se koninkryk. Die draak is die teenstander (satan) en die duiwel en slang van ouds (Op 12:9) en hy staan die vrou, d.i. die bruidskerk van Christus teen. 

As ons hom weerstaan sal hy wegvlug (Jak 4:7)! So het Jesus in die woestyn hom weerstaan en hy het gevlug. Maar so het die Leeu van Juda aan die kruis gebrul en die duiwel en sonde en die dood verslaan. Die duiwel weet dat hy min tyd het, want hy is die gekweste leeu (Op 13:3). Dit maak hom nog gevaarliker. 

Wees dus wakker. Waaksaam. Maak jou geloof en dié van jou kinders standvastig deur die Woord te ondersoek en te glo en te leef en openlik teen die wêreld in te getuig. En die Here sal jou seën en jou deur die wapenrusting van God (Ef 6) die krag gee om staande te bly. 

En wie tot die einde toe volhard sal gered word (Mat 24:13). 

Ds Maarten 

« Older posts Newer posts »