Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Predikante Skryf (Page 11 of 43)

Voornemens

Ons trek alweer verby die helfte van die eerste maand van die nuwe jaar! ‘n Nuwe jaar met nuwe geleenthede. Natuurlik ook nuwe uitdagings. Ons wens u een en elk ’n baie geseënde jaar toe in u persoonlike- en gesinslewe en ook in die gemeente. Ons bede is dat u mag groei in die geloof deur die genade van die Here. 

Met ons tema op die kalender (jaarprogram) mik ons juis vir groei in geloof en veral die heiligmaking. Heiligmaking is die progressiewe verandering van ‘n kind van die Here, weg van die wêreldse dinge af om meer en meer beeld van God te wees. Daarvoor is bekering en volharding nodig waarvoor ons gedurig vir onsself en mekaar moet bid, en dan sal die Heilige Gees ons daarin lei. So neem ons die verbondsbeloftes van God asook ons verbands-verantwoordelikhede as kinders van die Here ernstig op. 

Daarom is nuwe voornemens jaarliks ‘n baie goeie ding. Voornemens veral rakende jou toewyding aan die Here en jou daaglikse lewensgewoontes, sodat jy daarmee aan jou skeppingsdoel en goddelike roeping kan beantwoord. So groei ons in alle opsigte na Christus toe. 

Dit is dus ons wens dat elkeen weer met goeie voornemens begin en ook daarin sal volhard en dat die groei van hierdie gemeente hierdie jaar vir almal sigbaar sal wees tot ere van God. En as ons dalk (reeds) in van ons voornemens sneuwel en struikel mag ons weet dat die genade van God in Christus genoeg is om weer op te staan en ons bes probeer om te doen wat Hy van ons vra. So sal jy ook jou eie naam en goeie reputasie eer aandoen en God in alles verheerlik. 

Mag God deur sy Gees ons hierin help. 

Ds Maarten 

DIEN DIE HERE MET BLYDSKAP

Ons sluit die jaar 2023 met die jaartema soos hierbo vermeld, nou af. Dit is die woorde van Psalm 100. Ek wonder toe nou of ons rêrig die Psalm as ons eiendom aanvaar het. Ons doen dinge dikwels so outomaties dat ons nie eers dink wat ons doen of sê nie… 

Dien die Here met blydskap! 

Blydskap waarvoor? 

Blydskap of vreugde omdat die Here aan ons gedink het, sy Seun gegee het en ons verlos het. Dit is ons enigste en grootste rede vir ware blydskap. Of is dit? Laat ons bietjie nadink! Hoe bly is ons? Het ons genoeg sondebesef om te weet dat die verlossing in Christus ons grootste rede is vir vreugde. Vreugde wat alle omstandighede te bowe gaan! Dat geen straf ons meer op ons sondes wag nie. Ons sonde is ten volle betaal. Ons rekening by God is vereffen! 

Egter ook blydskap omdat die Here ons versorg het, en toe ons in die nood was en gebid het, het Hy ons uitgehelp en versorg en gedra en uit die nood verlos. Ook in ons daaglikse gewone lewe. 

Blydskap omdat ons weet dat die ellende van die gewone alledaagse nie die einde is nie. Ons is pelgrims oppad en daar wag vir ons die allesoortreffende en heerlikste en vredevollle lewe saam met ons Here en Verlosser vir ewig! 

Blydskap omdat ons weet dat die Here trou is aan sy Woord en Hy sy beloftes nakom. 

Blydskap omdat ons en ons kinders en ons medegelowiges in sy hande, veilig is en niks toevalligs oor ons kom nie. 

Veilig omdat die die tekens van sy wederkoms aan die horison wink. 

Blydskap omdat ek weet dat ek kind is van God die allerhoogste en niemand dit kan wegneem nie. Die Bose kan ons nie uit sy hand ruk nie. 

Kom ons dien die Here met ware blydskap! 
Seënwense vir u almal oor die feestyd! 

Ds Maarten 

Blaas jou genadegawes weer aan soos ‘n vuur!

Skrifgedeelte: 2 Tim 1:1-18 (AFR83) 
Fokusgedeelte: 2 Tim 1:6-11 

As ek in die Bosveld gaan kamp, dan maak ek elke aand ‘n vuurtjie met lekker bosveldhout, wat goeie, warm kole maak. Die volgende oggend as jy ontbyt maak, dan blaas jy net die as van die kole af, sit ‘n bietjie fyn houtjies op en blaas die kole van die vorige aand totdat die vuur weer brand. Dit is hierdie beeld wat Paulus gebruik om Timoteus aan te moedig om die genadegawes wat hy ontvang het weer aan te blaas sodat sy hart warm vir die evangelie klop. 

Genadegawes, o.a. ons geloof, bly nie outomaties brandend nie. Jou geloof, jou genadegawes moet voortdurend gekoester en opgeskerp word, uit die Woord en met gebed deur met God besig te wees. Blaas die vuur aan! Blaas jou geloof weer aan die brand! Brand van ywer vir God en sy koninkryk! 

Paulus is op hierdie stadium in Rome ‘n gevangene. Paulus staar die dood in die oë. 2 Tim 4:6 “…Die tyd van my dood is voor die deur.” Maar Paulus dink nie net aan homself nie, hy is nie op homself gefokus nie, hy is gefokus op sy taak as apostel. Paulus skryf aan die jong predikant Timoteus en bemoedig en versterk hom in die geloof. Timoteus het ook gedurig aanmoediging nodig, soos almal van ons. 1 Kor 16:10-11 Paulus praat hom voortdurend moed in en versterk hom in sy dienswerk. 

Wat is genadegawes? Die genadegawe waarvan hier gepraat word, is spesifiek om die Woord uit te dra, om te preek, om te getuig van die verlossing deur Jesus Christus.1 Tim 4:14 

Genadegawes moet met ywer gebruik word. Deur die Gees, die wedergeboorte, word ons in staat gestel om God te dien. 

Bid voortdurend vir vervulling van die Heilige Gees. Die probleem is dat selfliefde en egoïsme lei tot vrees. Vrees dat alles nie meer sal wees soos wat ek dit wil hê of gewoond aan was nie. Ons kan maklik bekommerd raak dat ons aansien, mag of geld of besittings of voorregte kan verloor. Maar as ons biddend deur die werking van die Heilige Gees leef ervaar ons die werking van 2 Tim. 1:7 “Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.” 

Om hierdie rede word ons herinner om die genadegawes wat God gegee het, elke dag weer soos ‘n vuur in ons lewens moet aanblaas. 

Ds Gerrit 

‘n Heilige oorlog?

Oorlog is oorlog. Meesal is daar weinig winste uit ‘n oorlog. Eerder pyn en lyding en diepe hartseer. Oorlog is geweld en nogmaals geweld. Die duiwel sit daaragter. 

In die Bybel gebruik die Here oorlog as deel van sy Godsopenbaring. Ons mag nie vandag enige oorlog op dieselfde lyn stel as die oorloë van ou Israel waar die Here die heilige geslag (draers van die belofte van die komende Messias) teen die aanslag van die draak of slang van ouds (Op 12) beskerm het nie. 

Die oproep van beide Israel én Palestina is dat die huidige oorlog in die Midde-Ooste ‘n heilige doel het omdat dit gaan oor God se volk of die nageslag van Abraham. Die interessante hiervan is dat beide nasies biologies kinders van Abraham is! En God seën beide die kinders van Isak én die kinders van Ismael! (Gen 12:3) 

Die seën oor Isak was daarin spesiaal dat hy die bloedlyn van die beloofde Messias sou dra, die Verlosser wat gekom het en uiteindelik juis deur die nasie van Israel verwerp is. Noudat hierdie belofte vervul is staan al die nasies van die hele wêreld gelyk voor God, met die enigste uitsondering van diegene wat in Gal 3:29 bedoel word: 

“En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en, ooreenkomstig die belofte, erfgename.” Galasiërs 3:29 AFR20 

Die oorlog in die Midde-Ooste mag wel verstaan word as ‘n noodsaaklike optrede teen terreur, en moet natuurlik ook gestaak word as daardie doel bereik word, nl. die verhindering van terreur soos wat onder andere op 7 Oktober 2023 in Israel plaasgevind het. 

Die hele konsep dat ons hier te make sou hê met ‘n sg. “heilige oorlog” is nie ‘n Bybelse konsep nie. Behalwe dat God ‘n God van vrede is en vredemakers liefhet, weet ons dat sy Gees nie een van mag en geweld is nie, maar van liefde en selfbeheersing. Ook kom die wraak volgens die Skrif net aan God toe. Dus het die owerheid die swaardmag om sy onderdane te beskerm en te verdedig, maar steeds met die nodige beginsels van die Woord van God in gedagte. 

Ook die aanname dat Israel se grondgebied nou eintlik ‘heilig’ sou wees en daarom ook in die spreektaal die “Holy Land” genoem word, skep die valse idee dat ons nou in Israel met ‘n sg. heilige oorlog te make sou hê. Ons kan egter eerder glo dat elke duim grond (elke plek en elke hart) waar Christus se gesag onomwonde aanvaar en uitgeleef word, dit heilige grond mag wees. Daar waar Hy regeer daar het die koninkryk van God naby gekom!

Die naïewe idee dat God “aan ons kant is” is egter ‘n fout wat baie nasies in die verlede gemaak het, en nou waarskynlik in Israel weer. Die Moslems se Jihad is vir hulle niks anders as ‘n sogenaamde heilige oorlog nie, en insgelyks dink die Jode dieselfde aan hulle kant. Dit is net so kinderagtig sou twee rugbyspanne voor ‘n wedstryd bid dat God kwansuis hulle span moet laat wen! 

Veel eerder is dit van belang dat ons elkeen seker maak dat ons aan God se kant is. Dit is immers die les wat Josua by die Leërowerste van die Here moet leer voor hy die oorlog teen Kanaän aanpak (Jos 5 en 24). So behoort ons te bid vir die bekering van Jode én nie-Jode, omdat God sy genade slegs gee aan hulle wat aan sy verbond in en deur Jesus Christus getrou bly. 

Die enigste sogenaamde “heilige oorlog” sou dan die een wees, wat Jesus teen die duiwel en die sonde kom voer het en natuurlik ook gewen het! Ons moet egter weet dat die geestelike oorlog op ‘n ander terrein plaasvind en dat die Here belowe het om sy kerk deur hierdie stryd heen te suiwer en te bewaar. Ons moet ons dus gereed maak en onsself staal vir die ergste stryd en vervolging wat die kerk (= die ware Israel, bestaande uit Jode én nie-Jode) nog ooit beleef het, want deur kruis en stryd heen sal die oorwinning van die ware kinders van Abraham kom. 

“Nie deur krag en mag nie, maar deur my Gees, sê die Here!” (Sag 4:6) 

As jy dus vir Israel wil bid, bid dan dat die Here die ware Israel (Rom 9:6), die ware kinders van Abraham, sal vashou in die uur van sware stryd wat oor die wêreld aan die kom is. (vgl. Ps 122:6).

Ds Maarten 

Ora et Labora

Hierdie bekende Latynse spreuk beteken: Bid en werk. Dit wys op die twee

belangrike aspekte van ons bestaan. Die geestelike, dit is om te bid, en die vleeslike

naamlik om te werk.

Die verhouding tussen hierdie twee aspekte het deur die eeue heen baie spanning

veroorsaak. Watter een is nou die belangrikste? Ons kan nie lewe as ons nie werk

nie, maar om te werk is nie al waarvoor ons leef nie. As jy nie werk nie, mag jy nie

eet nie, maar as jy werk bring dit soms uitdagings om tyd te maak vir gebed.

Dit is hier waar roeping ‘n deurslaggewende rol speel. Roeping beteken in kort: om ‘n

uitnodiging te ontvang om deel te kry aan die ewige verlossing wat God gee. God

roep ons deur die evangelie, die blye boodskap, om deel te kry aan die verlossing

deur Sy Geliefde Seun.

Ons word egter vir meer geroep as om net gered te word. Ons word ook geroep tot

diens. Die Griekse woord klessis, wat ons as roeping vertaal, is die grondwoord van

ekklesia, wat uitroep tot gemeenskap beteken. Ons vertaal dit ook met gemeente.

Ons word geroep uit die duisternis tot die lig, maar ons word ook geroep tot

gemeenskap van geloof.

Roeping is aanroeping van God, sowel beroep tot diens. Dit is die twee tafels van die

wet. Liefde tot God en liefde tot jou naaste. Daarvan word beskryf in 1 Korintiërs 12

hoe ons hierdie liefdediens kan verrig in verskeidenheid van genadegawes,

bedienige en werkinge.

Nie almal ontvang dieselfde gawes, dieselfde bediening of dieselfde werking nie. Tog

word ons in die verskeidenheid van gawes geroep tot eenheid in en onder Christus

as Sy kerk. Daardeur word nie net ons ora nie, maar ook ons labora as diens aan

God gewy. Om biddend te werk. Dan word ons deur die geloof, medewerkers van

God, in sy diens, en tot sy eer.

 Lourens (vdm) 

Gebed vir Israel? 

“Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” (Ef 6:12) 

Soos mens seker kan aflei is ek nogal baie lief vir die landjie wat Israel genoem word. Ek wens ek kon al ons lidmate net een keer op toer saamneem vir die ervaring van jou lewe. Nie dat die land opsigself so mooi is nie, want dit is eintlik maar ‘n woestyn en ‘n semi-woestyn, maar die plek raak jou hart aan omdat daar ‘n onbeskryflike geestelike skoonheid betrokke is. Hier het God Homself aan ons geopenbaar soos dit in sy Woord opgeteken is! 

Daarom is daar by my groot pyn en hartseer oor dit wat tans in Israel en Gaza gebeur. Maar so is daar pyn en hartseer oor alle geweld en oorlog elders in die wêreld. Geweld en haat soos ons dit op ons TV skerms sien of hoor, is direk uit die hel aangesteek! Dit saai dood en verwoesting en bring groot mense-lyding en nood. Daarom kan ons maar bid vir vrede in Israel én ook op ander plekke waar haat en oorlog verwoesting saai en mense onnodig laat ly. 

Dit is egter belangrik dat ons moet onthou dat die oorloë tekens is van die eindtyd en dit mag jou hoop op die wederkoms van Jesus versterk. 

Ons gebed moet egter nie maar net uit simpatie vir Israel as land of volkie wees nie, maar vir die WARE Israel, die volk van God, die kerk wat elke dag onder die aanslag/oorlog/stryd teen die te staan kom. Ons stryd is nie teen vlees, en bloed nie… 

Bid dus vir die volharding van die gelowiges in hierdie oorlogsgeteisterde gebiede, maar ook elders waar gelowiges swaarkry, insluitend hier in ons eie land en kontinent. DIE Here alleen kan oorloë laat ophou of in sy plan gebruik, maar Hy wil dat ons staande bly in die geestelike oorlog en dat ons Hom nie sal verloën nie. 

Bid dus ernstig vir die kerk se oorwinning, vir sy vervolgde kerk en vir die spoedige koms van Jesus Christus op die wolke van heerlikheid! 

Ds Maarten

« Older posts Newer posts »