Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Predikante Skryf (Page 10 of 43)

BELA BELA

Moenie jouself misgis en dink ons het hier met Bela Bela in die Limpopo te make nie. Die BELA Wet (Basic Education Laws Amendment Bill), wat binnekort in die parlement dien, raak die hart van ons en ons kinders en die skole en onderwysers waarmee ons hulle vertrou. Na al die insette van die publiek, politieke partye en onderwyskundiges storm die regering voort om ons die beheer van ons skole te ontneem, sodat hulle die pad kan oopmaak vir totale beheer. 

Die belang van ouerdeelname aan die eerskomende beheerliggaam-verkiesings is van die uiterste belang vir die beperking van staatsinmenging en totale beheer van ons skole. Die hele BELA wetgewing is volgens kenners nie in lyn met die grondwetlike beginsels nie en eïen die Staat homself funksies toe wat hom nie toekom nie. 

Dit sal dus in belang van ons geloof en ons kultuurgoedere wees dat ons hierdie wetgewing bly beveg en dat ons bid vir hulle wat die moed het om dit in die Konstitusionele Hof vir ons te doen. 

Die opvoeding en dissipline van ons kinders is tog in die eerste plek die plig en taak van die ouer. En ook hiervan gaan u en ek eendag aan God moet rekenskap gee. 

Die regering se magswellus neig steeds na totale beheer waar hulle selfs oor u en my persoonlike lewe besluite sal kan neem. Dit sal ‘n kwade dag wees as dit gebeur en daarom moet ons die Here van hemel en aarde bid dat Hy ons en ons kinders hiervan sal bewaar. Sekere sake, soos die opvoeding van ons kinders, is ononderhandelbare Godgegewe take. Bly maar op u knieë vir die sake van skole en onderwys en bly betrokke by die bestuursake van die skole waar u kinders is. Mag die Here ons hierin bewaar! 

Ds Maarten 

Om te BEHOORT

Een van die swaarste dinge in die lewe is wanneer ‘n mens voel dat jy nie behoort nie. Dit is belangrik om dan die onderskeid te maak tussen die gevoel en die werklikheid. Ongelukkig is dit baie moeilik as die gevoel nie wil verander of weggaan nie. ‘n Mens se emosies kan soms met jou weghardloop. Want niemand kan emosies ontken of ontduik nie. 

Die gevaar bestaan egter daarin dat ‘n mens se emosies uiteindelik die oorhand kry, en veroorsaak dat jy opgee in die lewe. Wanneer jy jou werk verloor, wanneer jou verhoudinge verbrokkel, wanneer jy net nie gesond kan word nie, wanneer jy net nooit kan voor kom met jou finansies nie. 

Dit maak nie saak hoe hard jy probeer nie, dit is asof niks wil reg loop nie. Niks wil uitwerk nie. Niks wil in plek val nie. Baie keer is dit nie een groot probleem nie, maar die klomp klein jakkalsies wat saam die wingerd verniel. 

Hieroor skryf die apostel aan die Korintiërs. In sy eerste brief staan dit so duidelik, veral die eerste drie hoofstukke. Hulle is so vasgevang in ‘n verkeerde denkpatroon, dat hulle nie raak sien wat God besig is om te doen nie. Hulle is so besig om met mekaar te baklei en te kompeteer, dat daar geen plek is vir groei en opbou en versterking nie. 

Dit is aan die einde van hoofstuk 3 wat die apostel die belangrike opmerking maak: 

“Alles behoort aan julle.” 

Daarmee bedoel hy, dat hulle in Christus die volle rykdom van God se besitting deel. Hulle moenie baklei en twis en stry soos armes wat niks het nie. Hulle moet anders dink oor hulle rykdom. Want nie net behoort alles aan die gelowiges nie, gelowiges behoort ook self. Jy is duur gekoop. Jy behoort aan Christus. Jy is die eiendom van die opgestane Heiland. 

Dit is die boodskap wat ons moet uitdra! Nie net behoort ons nie, ons moet ander ook leer wat dit beteken om te behoort. Oor ‘n maand begin ons Koningskinders-kamp. Dan gaan ons as gemeente ook aan kinders uit ons gemeenskap leer wat dit beteken om ryk te wees in God. Om alles in Christus te besit. Self deel ons die rykdom van God se gawes in lewensmiddele en in die Heilige Gees. Omdat alles aan jou behoort, mag jy en moet jy dit ook deel en uitdeel. 

Onthou dan, ongeag jou omstandighede, dat alles aan jou behoort. En dat jy self behoort. Aan Christus. En Christus behoort aan God. 

Lourens (vdm) 

Paulus het geplant, Apollos het natgegooi en God het laat groei!

Paulus was baie teleurgesteld, omdat die gemeente van Korinte hulle nie deur die Gees van God laat lei het nie. Hulle moes teen die stadium al volwasse in die geloof gewees het. Het Paulus dan nie al vir agtien maande lank die gemeente toegerus en vir hulle gepreek en hulle bedien nie? Duidelik stel Paulus dit in vers 9 dat hy en Apollos, net medewerkers is, in diens van God. 

Paulus het die gemeente in Korinte geplant of gestig. Hy was eerste daar om die evangelie van Jesus Christus aan hulle te verkondig. Paulus het hard gewerk om Jesus die Christus te verkondig (Hand 18:1-11). 

Apollos het ook in die omstreke gewerk. Ons lees in Hand 18:24-28 dat Apollos kragtig in die openbaar uit die Skrif bewys het dat Jesus die Christus is. Hy het dus natgegooi en die evangelie verder en duidelik verkondig. Hy kon dit doen want hy was ’n begaafde spreker met ’n deeglike kennis van die Skrif, (Hand 18:24-25). 

God laat egter die evangelie in die harte vasslaan en ontkiem en dit is God wat laat groei. Hier is God Drie-enig aan die werk. God die Vader sorg vir ons en Hy skenk die geloof aan ons uit loutere genade (Ef 2:8-10). Jesus Christus is ons Verlosser, ons Koning, die Hoof van die kerk, die Seun van God, ons Here. Die Heilige Gees is elke dag in ons harte besig met sy heilige werking om ons al heiliger as nuwe mense in en deur Jesus Christus te maak. 

Ons is die saailand van God, (1 Kor 3:9). Beide Paulus en Apollos is medewerkers in diens van God. Hulle is gelyk voor God. Een is nie belangriker as die ander nie. Albei het hulle werk en hulle taak as medewerkers in diens van God om in Sy saailand te kon werk. So het die gemeente van Korinte tot stand gekom. 

In die Gereformeerde Kerk Centurion is ons ook drie predikante. Al drie van ons saai en plant en maak nat. Elkeen van ons is ‘n medewerker in die koninkryk van God, in hierdie gemeente. Ja ons moet die herders wees wat die Goeie Herder navolg. Ons moet sekerlik ook ’n voorbeeld stel en ons verkondig niks en niemand anders nie as Jesus Christus, en wel Hom as gekruisigde en opgestane Verlosser. Kom ons bly dus God dien in opregtheid met die liefde vir God in ons harte. Kom ons hou vas aan Jesus Christus en nie aan Paulus, Apollos of Petrus nie. 

Ds. Gerrit 

Corona Muralis

So onthou ek die week van die Pro Patria Medalje wat al ons manne destyds gekry het as jy vir ‘n sekere aantal dae anderkant die kaplyn vir SA in die Bosoorlog gewerk of geveg het. Dit was so ‘n algemene medalje dat die troepe van die ProNutro medalje gepraat het! In die Romeinse tyd het soldate ook erkenning gekry vir die dapperheid in die oorloë wat wyd en syd gevoer is. Een van die toekennings was die Corona Muralis. 

Hierdie dekorasie is toegeken vir uitsonderlike dapperheid aan die soldaat wat eerste was om die vyandelike stadsmuur te bestyg en die Romeinse standaard (Vlagwapen) op die muur van daardie stad te plant (Aulus Gellius, Noctes Attici, 5.6.4). 

Wat dit nou vir óns interessant maak is dat Paulus spottenderwys daaroor handel as hy in 2 Kor 11:23,33 daarin ‘roem’ dat hy eerste was om in ‘n mandjie van die stadsmuur van Damaskus neergelaat te word en so die vyand te ontvlug (Hd 9:23-25). 

In die kerk van die Here en in sy magtige koninkryk word ons nie gedekoreer met pryse en medaljes of toekennings nie. Die wat laaste is sal eerste wees, het Jesus ons self geleer. As jy belangrik wil wees moet jy jou naaste se mindere word en diens lewer. 

Dis nie sterkstes wat wen nie maar die nederiges en die sagmoediges en die treurendes. Wie sy/haar lewe wil behou moet hom/haarself verloën… Só hoor ons die stem van die groot Prediker van Nasaret. 

Nuwe mense lewe nie meer vir hulleself in die hoop om geprys en vereer te word nie. Ons dien mekaar in liefde uit dank vir God wat ons eerste lief gehad het, en ons voel selfs eer daarin om vir Christus te ly. 

Ds Maarten 

TRIOMF IN CHRISTUS

Om te triomfeer is meer as om te wen. Soms kan ‘n mens wen, sonder om te triomfeer. As jou lewe daarop gerig is om in alles wat jy doen eerste te wees, of om te wen, kan dit baie negatiewe gevolge hê. Dink maar aan jou huwelik, jou gesin, jou werk. Jy kan nie “wen” in die huwelik nie. Daar is nie ‘n eerste plek in ouerskap nie. In ‘n huisgesin kan jy nie die beste familielid wees nie. Want waaraan sal jy dit tog kan meet? 

By die werk gaan jou kollegas verbitter raak teenoor jou as jy die heeltyd ten alle koste wil wen of die beste wil wees. Jy gaan dalk eerste kom, maar jy gaan laaste wees… Dit is presies wat Jesus ons leer dat ons oorwinning nie in wêreldse terme bepaal word nie. Want ons oorwinning is nie aan ons self gekoppel nie. Ons oorwinning is deur die geloof in Christus. Elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om Christus wil verloor, sal dit vind. 

Aan God kom toe al die dank en die lof en die eer en die verheerliking, wat ons altyd in Christus laat triomfeer. Ons is nie wenners in Christus nie, maar oorwinnaars. Paulus skryf hierdie woorde met die agtergrond van swaar beproewinge. Hy en sy metgeselle het getwyfel of hulle gaan oorleef. Die enigste hoop wat hulle gehad het, was die opstanding uit die dood. 

Deur die genade van God, in geloof, is hulle bewaar, en het hulle oor al hierdie omstandighede getriomfeer. God het uitkoms gebring. Hulle het nie “gewen” nie, hulle het oorwin. Hulle het deur die dal van doodskaduwee moes gaan, en het behoue, deur God se genade ander kant uitgekom. 

Soms gaan ons deur swaar beproewinge. Finansies druk, die werk se vereistes raak al moeiliker, jou geduld word al minder, jou huwelik begin skade lei. Jy vind uit jou spanning veroorsaak gesondheidsprobleme. Depressie, kanker, uitputting, maagsere. Jou vriende is skielik besig en afwesig, jou ouers het probleme, ‘n geliefde sterf. 

Teen hierdie elemente kan jy eintlik wen nie, maar jy kan in Christus, deur die geloof, oorwin. Jy kan aan die ander kant uitkom. Dalk nie soos jy gedink het nie, maar soos God dit beplan het. Jy is egter nie ‘n toeskouer nie, maar ‘n medewerker in die triomf van Christus. Jy is ‘n medewerker in gebed (2 Kor. 1:11) en ‘n medewerker aan blydskap (2 Kor. 1:24) saam met die medewerkers wat die evangelie verkondig in hulle swaarkry en vertroosting. 

So word ons medewerking en ons oorwinning deel van die triomf van Christus! 

“Wie sal ons skei van die liefde van Christus: verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard? Soos geskrywe is: “Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape. Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.”” Rom. 8:35-37 

Lourens (vdm) 

Bemoediging

Die nuwe jaar het begin en daar is alreeds vir elkeen van ons uitdagings. Die skole het begin. Die daaglikse arbeid het begin. En vir almal is daar alreeds uitdagings. Daar is besluite wat geneem moet word en daar is reeds spertye en harde werk. 

Hoe gaan ons die jaar deursien? Dit is juis vir ons as christene nie ’n krisis nie omdat ons die wonderlike bemoediging en genade, van God, ons Hemelse Vader ontvang. God is in beheer. God regeer. God het ons met Homself versoen deur Jesus Christus. Daarom is ons “Nuwe mense” in en deur Jesus Christus. Hy is ons Trooster. Omdat Hy ons bemoedig kan ons ander bemoedig. 

Daarom is dit so ’n wonderlike voorreg om deel van ’n gemeente te wees. Ja nie net aan ’n gemeente te behoort nie, maar om deel van ’n gemeente te wees. Omdat ons deel van die gemeente is, met Jesus Christus as ons Hoof, is daar vir ons oorvloedige vertroosting. Deur Jesus Christus weet ons dat ons alreeds God se kinders is, dat God alreeds en steeds ons versorg en elke dag by ons is en sal wees. 

Wat dan van die oorloë en aanslae van die Satan en die wêreld en ons eie vlees elke dag? Ons hoef nie bang te wees nie, want in en deur Jesus Christus is ons meer as oorwinnaars. 

Kom ons leef daarom ’n opregte, eerlike en dankbare lewe voor God. God bemoedig ons, maar kom ons bemoedig mekaar uit die Woord, deurdat ons ons lewe totaal aan God toewy. Alles wat ons dink en doen sê, kom ons doen dit tot eer van God. God se bemoedig uit sy Woord is so groot, maar kom ons maak dit ons eie deur in toewyding en gehoorsaamheid, aan God al die lof en al die eer en al die heerlikheid toe te bring. 

Om so te kan leef is die meelewing in die gemeente van kardinale belang. Dit is hier waar ons mekaar bemoedig en vermaan en versterk deur gebede, deur mekaar se hande vas te hou en deur mekaar aan die Here op te dra. 

Mag ons ’n geseënde en vrugbare jaar beleef, tot eer van God! 

Ds. Gerrit Kruger 

« Older posts Newer posts »