Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Blogs (Page 50 of 53)

Pyn in die lewe

Orals in die lewe is daar vandag pyn. Geestelike en fisiese pyn. As ons sensitief is in ons liefde vir mense, dan hoor ons dat mense swaarkry. Maar almal van ons het ook maar elkeen ons eie innerlike swaarkry en pyn. As jy pyn ervaar, moet jy egter biddend probeer uitkom by die oorsaak. Wat is die oorsaak van die pyn? As dit ’n fisiese pyn is, gaan ons dokter toe en op die manier kom ons agter wat die oorsaak is en dan kry jy medisyne of ’n operasie of welke behandeling. Soms is dit egter van so ’n aard dat jy net moet leer om daarmee saam te leef so goed as wat jy kan. Veral as die ouderdom begin intree, is daar dikwels onomkeerbare pyn en lyding vanweë die veroudering. Maar die grootste probleem is dikwels geestelik, sielkundig agv van ’n onvermoë, nie goeie menseverhoudings nie of in die meeste gevalle dan wat kulmineer in spanning “stress” en depressie en ander geestelike, emosio- nele toestande, wat ook psigosomaties reaksies tot gevolg kan hê.

As daar pyn is moet ons spesiaal, doelgerig daadwerklike hulp gaan soek, wat is die oorsaak van die pyn?

  • Eensaamheid is dikwels ’n pyngevoel wat jy beleef vanweë mense-verhoudings wat nie gemak- lik is nie, of alleenheid of ʼn geliefde wat gesterf het.
  • Skuldgevoelens is ’n pynlike emosie wat jy heel waarskynlik beleef omdat jy iets verkeerd gedoen het.
  • Depressie is een van die moeilikste siektes om te diagnoseer, te beleef en te behandel.

Ons leef in ’n sondegebroke wêreld waarin mense dikwels baie seer het vanweë baie verskillende oorsake. Daarom het ons genesing nodig. Innerlike genesing kan ons egter verkry, al gaan dit selfs met worsteling gepaard, as ons ons opreg eerlik tot die Here rig.

By God is daar genesing en uitkoms. Ons moet leer om reg te dink, te leef saam met mense. Ons lewe moet gerig wees op die Woord as rigsnoer, met God as ons Vader en Jesus Christus as ons Verlosser. Ons moet weet dat die Heilige Gees ons Trooster is wat aan ons gegee is. Daarom moet ons biddend genesing soek by God. Met al ons pyn en hartseer en swaarkry moet ons ons na God wend. Dit moet ons doen deur die Woord te lees.

  • Ps_119:105 “U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.”
  • 1 Tes_5:17 “Bid gedurig.”
  • Gal_6:2 “Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus.”

    Mat 11:28-30

    “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.”

Ds Gerrit

Die Hervorming

31 Oktober 1517. Maarten Luther slaan sy 95 stellings teen die valse leringe van die Roomse kerk teen die kerkdeur van Wittenberg vas. Dit is die amptelike begin van die Hervorming. “Hervorm” is om weer terug te keer na die oorspronklike vorm. Die kerk is deur die Rooms Katolieke vervorm tot dit wat nie suiwer kerk is nie. In die plek van Jesus Christus kom die Pous as die hoof van die kerk. In die plek van die suiwer evan- gelie word die evangelie vervals om geld te maak dmv aflaatbriewe vgl. 2 Kor 2:17.

Luther verkondig dat saligheid verkry word uit genade alleen deur die geloof in Jesus Christus se verlossingswerk, Rom 1:17. Kerklik en teologies word die gesag van die Bybel weer bo alle twyfel gestel. Onomkeerbaar is die kerk weer deur God se genade op die pad van die Woord en die suiwer evangelie geplaas.

Daar sal altyd aanslae teen die kerk van die Here wees. Hierdie aanslae kom deur Satan wat hom voordoen as ’n engel van die lig, (2 Kor 11:14). Satan is daarop uit om die kerk van die Here te vernietig deur God se kinders met valse leringe en dwaallerin- ge van God af weg te lei. So gebruik Satan die evangelie en verdraai dit sodat dit soms baie moeilik is om te onderskei tussen die suiwer en die valse evangelie.

Daarom het God dit beskik dat daar in 1618-1619 die Sinode van Dordrecht gehou is juis om van die dwaalleringe uit te wys en weereens die kerk op die regte pad te plaas. Die hoofsaak van die Dordtse Sinode het gehandel oor drie sake, die vertaling van die Bybel in Nederlands, nl. die Statevertaling. Die Kerkorde is daar grootliks vasgestel en die Dordtse Leerreëls wat handel oor die uitverkiesing vind hier sy ontstaan. Dit is gerig teen die Remonstrante, wat geloën het dat God sekere mense uitverkies het om salig te word en gesê het dat dit van die mens self afhang of hy salig gaan word of nie. Die Dordtse Leerreëls is die derde besondere belydenisskrif wat deur die Gerefor- meerde Kerke bely word.

So sal God sy kerk bewaar, vandag en ook in die eeue wat kom tot met die weder- koms. Vanweë Satan se aanslae sal daar altyd stryd in die kerk wees. Maar die oor- winning sal altyd daar wees vir die opregtes wat aan die suiwer Woord en dus aan Jesus Christus alleen vashou.

Ds. Gerrit

Augustinus uit Afrika

As gelowiges bely ons dat God Drie-enig oor alles en almal beskik. Juis daarom gee Hy op spesifieke tye in sy kerke se geskiedenis besondere persone met spesiale gawes en vermoëns om sy kerk te stuur, te rig en te lei. So sal dit wees tot en met die wederkoms. Een so ‘n persoon is Aurelius Augustinus. Hy is in die Noorde van Afrika gebore in die jaar 354.

Augustinus word deur God gebruik om sy kerk by die Woord te hou en dwalinge teen te staan. Augustinus sou een van die bekendste kerkvaders word. Die kerkvaders was persone, wat deur God beskik is wat die teologie uitgebou het en oor die kerkleer ge- skryf het. Van almal sou Augustinus die belangrikste word.

Augustinus se pad met die kerk was nie vanselfsprekend nie. Van sy geboorte in 354 tot hy biskop word van die kerk in Noord-Afrika is ‘n lang en moeisame pad. Sy vader is welgesteld, ‘n man van aansien, bekend en gewild, maar van godsdiens wil hy niks weet nie. Inteendeel hy is ‘n uitgesproke heiden wat godsdiens verag het.

Augustinus se moeder daarenteen was ‘n opregte kind van die Here. Sy bely Christus openlik en haar grootste begeerte was dat haar man en seun ook Christene sou word.

Augustinus het as jongman ‘n sedelose lewe gelei ver van God en sy Woord af. Hy maak ‘n draai in Rome waar hy in kontak kom met die preke en voordragte van Ambrosius. Deur die preke het die Heilige Gees in Augustinus gewerk sodat hy tot geloof gekom het.

In 387 word Augustinus deur Ambrosius gedoop. So begin sy dienswerk in die koninkryk van God. Toewyding en ywer sou sy lewe kenmerk. God het hom gebruik as ‘n groot bewaarder van die waarheid vanuit die Skrif. Augustinus het baie geskryf en van sy geskrifte is nog van baie groot waarde vir die kerk. Luther en Calvyn het dikwels daaruit aangehaal.

Die geskrifte van Augustinus getuig van ‘n diepe insig, besondere begaafdheid, gees- telike nederigheid en erkenning van sy eie swakheid en gebrokenheid.

Ds. Hannes Noëth

Noodsaaklik, maar swaar

Wat is in die lewe van ‘n gelowige noodsaaklik, terwyl dit terselfdertyd sleg en onaange-naam mag wees?

Spreuke 10:17 sê: “Wie hom laat leer, ken die pad na die lewe; wie teregwysing verwerp, dwaal van dié pad af.” Ja dit is verseker nie maklik om iemand tereg te wys nie, om nie eens daarvan te praat om self deur ander tereg gewys te word nie.
Teregwysing is noodsaaklik vir elke gelowige, maar dit is ook baie moeilik om tereg gewys te word.

So maklik sien ons die verkeerde in ander mense se lewens, maar dit is moeilik om die verkeerde in my eie lewe raak te sien en te erken. Nog moeiliker as iemand gedring deur die Heilige Gees met my kom praat oor verkeerde dinge in my lewe.

Dit is so belangrik om iemand wat gesondig het, en op ‘n dwaalpad is, te vermaan. Verma-ning en bemoediging word altyd saam gedoen. Soms is daar meer aanmoediging nodig as vermaning en soms is dit net anders om. Die een kan egter nie sonder die ander gebruik word nie.

Ons vermaan mekaar en stel onsself oop vir vermaning, omdat ons mekaar nie net kan oorlaat aan ons eie lot nie. Dán sal ons verlore gaan.

Vermaning hou egter in dat ons dit in ‘n gees van sagmoedigheid sal doen. So sê Galasiërs 6:1: “Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ’n gees van sagmoedigheid reghelp. En pas op: jy kan self ook in ver-soeking kom.”

Verder sê Hebreërs 12:11 vir ons: “Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, ’n goeie vrug, naamlik vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God.”

Mag jy met ‘n sagte hart ander gelowiges vermaan en mag jy deur die werk van die Heilige Gees jouself oopstel om self in liefde vermaan te word.

Ds Paul

Waar kom die Evangelies van Markus vandaan?

Die mense het nie destyds boeke geskryf soos ons nie – die meeste kon nie skryf nie en die materiaal was baie duur. (Daar was nie CNA’s waar mens vinnig papier kon koop nie). Omdat alles nie neergeskryf is nie, is die mense van kleins af geleer om te onthou – hulle moes dinge memoriseer. (Daar word vertel dat van Griekse kinders verwag is om bv. Die Iliad – ‘n reuse dik boek – te memoriseer). Juis omdat niks neergeskryf is nie, was dit ‘n storiekultuur. Die aand om die vuur is die stories wat belangrik was oor en oor vertel en die mense het daaruit geleer. So deur en saam met stories het hulle baie belangrike kennis opgetel oor die lewe.

So het dit ook gewerk met Jesus. Hy het niks neergeskryf nie. Sy dissipels het alles gehoor en… onthou. Na Jesus se hemelvaart het die dissipels die verhale oor wat Jesus gesê en gedoen het, oorvertel aan die Christene. Hulle het dit weer onthou en vir ander vertel. Dit was die eerste wortels van die Evangelies – die verhaal van Jesus was in die koppe van die Christene bewaar. Die dissipels/apostels het gesorg dat die ouens nie sommer die stories verander nie. Hulle was die waarborg vir die waarheid van die stories.

Toe die apostels begin doodgaan en die kerk begin uitbrei het dit nodig geword om ‘n ander plan te maak – die verhale is neergeskryf. So is die verhale “bewaar” – nou kan mense dit nie verander nie en het dit outentiek gebly soos die dissipels dit vertel het.

Markus was die eerste evangelis wat die verhaal van Jesus neergeskryf het. Die Markus-evangelie is dus ons oudste evangelie. Dit het so 30-40 jaar na Jesus se hemelvaart ge-beur, dus so tussen 60 en 70nC. Dit is belangrik om net weer te sê: die evangelie het nie toe tot stand gekom nie. Dit is net toe neergeskryf. Dit wat van die begin af in die geheue van die Christene was en elke dag aan mekaar oorvertel is, is toe net neergeskryf.

Hoewel dit altyd moeilik is om vas te stel wie ‘n boek geskryf het (hoe weet ‘n mens presies as jy nie die persoon self sien skryf het nie), is daar tradisioneel aanvaar dat Markus die skrywer was. Dit is ook nie seker waar hy presies was toe hy die evangelie geskryf het nie, maar Antiogië aan die Orontes (die hoofstad van Sirië) is ‘n goeie moontlikheid. Dit was in die eerste eeu die hoofstad van die Christene buite Jerusalem en was ook die stad vanwaar Paulus sy sendingreise onderneem het.

Prof Jan vd Watt

Dankbaarheid

Wat is daar waarvoor jy vanoggend werklik dankbaar is en kan wees? Dit is so maklik om beswaard en vol vrese te lewe. Dink maar wat nuuswaardig is? Ja, slegte nuus is nuus-waardig. Goeie nuus, het nie noodwendig ‘n positiewe impak in ons lewe soos wat slegte berigte van moord, staatskapings en bedrog het nie.

‘n Positiewe ingesteldheid teenoor God, my medegelowiges en die wêreld is nie iets wat maklik van ons as mense uitstraal nie. Die wonderlike in die Christelike geloof, is juis dat die Heilige Gees ons in staat stel om met ander oë na God, ons naaste en die wêreld te kyk. Jesus Christus is die Een wat die donkerte en die lelike kom verander het. So leer Romeine 12:2 dat dit God is wat ons innerlik verander om met ‘n positiewe en dankbare ingesteldheid te kan lewe.

Hierdie dankbaarheid hou in dat my verhouding deur Jesus Christus my leer om vir mense in my lewe, God in my lewe, ja, vir elke ding en vir elke dag dankbaar te wees.

Dankbaarheid fokus egter nie net op die wonderlike genade in en deur Jesus Christus nie, maar dit laat my ook in dankbaarheid lewe na buite. Ons leer in 1 Petrus 3:9 dat ons deur God se genade die slegte met die goeie kan beantwoord. So kan ons geloofwaardige getuies wees van God se liefde, sy goedheid en sy genade.

Dankbaarheid in Christus stel my in staat om na die wet te luister en my te verwonder oor alles waartoe ek opgeroep word en bemagtig word deur die Heilige Gees.

Dankbaarheid in Christus verander die aard en trant van my gebedslewe. In plaas van vrees kan ek dankbaar wees. In plaas daarvan om te vra en vra, kan ek God dank vir so baie wat ek onverdiend uit die Hand van die Here ontvang.
Dankbaarheid in Christus is een van die beste teenvoeters vir negatiwiteit, vrese en bekommernis.

Mag jy groei in jou dankbaarheidslewe vir al God se genade en mag jy bekend staan as ‘n vreugdeskind van die Here. Vergenoeg in alle omstandighede.

Ds Paul

« Older posts Newer posts »