Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Blogs (Page 51 of 53)

Die aanloop tot Dordrecht (1618)

Die Dordtse Leerreëls is die geformuleerde reaksie van die Sinode van Dordrecht op die remon-stransie (protes of teenbetoog) van ’n groep predikante wat later as die Remonstrante bekend geword het. Die Sinode, wat in dié stad in Nederland plaasgevind het, word op 13 Nov geopen en sluit af op 29 Mei 1619.

Die aanloop tot die Sinode word ietwat vroeër gevind in die dispuut wat tussen twee professore ontstaan aan die teologiese fakulteit van Leiden en hul volgelinge, naamlik Jacobus Arminius (1560-1609) en Franciscus Gomarus (1563-1641). Die dispuut tussen hulle ontstaan oor die uitverkiesing wat vir Arminius daarop neerkom dat God van ewigheid besluit het om sommige in Christus vir wie Hy geloof skenk, te regverdig, tot kinders aan te neem en aan hulle die ewige lewe te skenk. Eweneens is die verwerping van ander ’n besluit van die toorn of van die streng wil van God waardeur van ewigheid besluit is dat hulle nie sal glo nie en buite die gemeenskap met Christus gestel is, verdoem tot die ewige dood. Eenvoudiger gesproke het dit ook gegaan oor die vraag of gelowiges ’n bydrae tot saligheid kan lewer al dan nie.

Die aanvanklike meningsverskil tussen Arminius en Gomarus en hul volgelinge verbreed en loop uit op twee strydende partye wat bekend sou staan as die party wat Arminius gesteun het, naamlik die Remonstrante, teenoor die Contra-Remonstrante wat uit die aard van die saak Gomarus se standpunt verder gevoer het. Behalwe die twee kerklike partye wat teenoor mekaar te staan gekom het, raak die owerheid ook betrokke – wat in dié tyd as normaal beskou is.

Die aard en omvang van die verskille tussen Arminius en Gomarus kom aan die lig in die dispu-tasies of openbare lesings wat respektiewelik op 7 Feb en 31 Okt 1604 plaasvind. Die spanning verhoog sodat dit uiteindelik vir die kerkraad van Leiden en die kuratorium duidelik word dat daar inderdaad diepliggende verskille tussen die twee professore was. Arminius wend hom tot die Staten van Holland en Wes-Friesland (die owerheid van twee Nederlandse provinsies), en op 30 Mei 1608 verskyn Arminius en Gomarus saam met vier predikante op las van die Staten voor die sogenaamde Hoge Raad. Die samekoms lewer nie die gewenste resultaat nie, selfs as onder leiding van Johan van Oldenbarnevelt (1547-1619) (raadspensionaris of landsadvokaat) op 12 Aug1609 verdere gesprek gevoer word oor regverdiging, predestinasie en hersiening van die belydenis. Die spanning neem toe en versprei verder in die kerk. Nog voor die vergadering formeel beëindig is, moes Arminius hom weens siekte onttrek; hy sterf op 19 Okt 1609. Tydens die Sinode van Dordrecht 1618 word egter beslis dat Arminius se dwaalleer nie aanvaar word nie en die Dordtse Leerreëls word as antwoord opgestel.

Ds Maarten

“Kuier onder die sterre”

Psalm 8:4,5

“As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink,
die mensekind dat U na hom omsien?”

In hierdie lofpsalm word die Skepper, God, in die skepping in digterlike taal beskryf. Sy grootheid, sy almag, sy heerlikheid en sy wonderlike Naam word beskryf. Dawid wat sekerlik baie nagte in die natuur onder die sterre deurgebring het besing hoe glansryk en onbeskryflik groot is die hemelruim met die maan en die sterre daarin. Hy voel homself klein voor God en die skepping van God.

Dit vervul hom met soveel blydskap en vreugde dat hy ook diep onder die besef kom van sy eie nietigheid, sy kleinheid as mens voor hierdie pragtige skepping. Hierdie Psalm is so belangrik dat Jesus Christus dit self aanhaal met die reiniging van die tempel in Mat 21:15,16. Die mens is so belangrik vir God gewees dat Hy sy eie Seun Jesus Christus ‘n mens laat word het sodat Hy sy kinders kon red en verlos met sy dood aan die kruis. Heb 2. God kry al die eer vir die skepping, die maan en die sterre en ook vir die mens wat God as heerser geskape het.

Saterdagaand, 8 September gaan ons as gemeente onder die sterre kuier. Dit gaan daaroor dat ons as gemeente aan God die eer toebring onder die sterre met ‘n heerlike kuier, Koinonia, gemeenskap van die heiliges. Ons gaan ‘n paar Psalms sing, die groot-heid van die skepping beleef en lekker saam eet aan potjiekos en lekker kuier.

Mag ons die grootheid van God altyd raaksien in die skepping.

Mag ons God altyd eer en verheerlik.

Mag ons saam met die Psalmdigter altyd God se grootheid besing met die woorde: Ps 8:2,10

“Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het!”

Ds Gerrit

“Smaaklike ete”

Daar sit meer in ‘n heerlike ete as bloot net ‘n smaaklike ete. Het jy al deur die Bybel geblaai om te kyk na al die etes wat in die Ou- en Nuwe Testament beskryf word? Ons kan byvoorbeeld dink aan die heerlike kos wat voorberei was in die lewe van Abraham, Isak en Jakob. So kan ons dink aan die etes wat voorberei is in die tyd van Josef. Josef het byvoorbeeld by geleentheid die drome van die Farao uitgelê wat oor kos gehan-del het. Josef het selfs etes vir sy broers voorberei. Ons kan dink aan die offers wat die Here voorgeskryf het, waar die gesin saam geëet het. Verder die instelling van die Paasfees met die Paaslam, met al die simboliese betekenis wat daarin opgesluit is. Dink aan Jesus wat soveel wonders gedoen het rondom kos. Byvoorbeeld die eerste wonder waar water in wyn verander is op ‘n troue en by ʼn ander geleentheid waar broodjies en vissies genoeg was om ‘n menigte mense te voed. Dink aan die gelykenisse wat Jesus vertel het wat rondom kos gegaan het. So kan ons dink aan die etes wat Jesus saam met gelowiges en ongelowi-ges, vriend en vyand gehad het. Dink aan Petrus wat die visioen gehad het met die onrein en rein diere waar die Here aan Petrus opdrag gegee het om dit te eet. Verder het Jesus die nagmaal ingestel wat van-dag nog deur ons gevier word. Ook Sy belofte dat ons eendag in die ewigheid saam met Hom by die brui-lofsmaal sal gaan aansit.

Dit is juis met hierdie ewige feesmaal in gedagte dat ons onder andere na Jesaja 25:6-9 kan gaan kyk. Dit is Jesaja wat onder leiding van die Heilige Gees hierdie woorde aan Israel rig. Dit is nie net die Jode nie, maar alle volke wat hulle troos en redding by die Here soek, wat by die feesmaaltyd sal gaan aansit wat op die Sionsberg deur die Here die Almagtige gereed gemaak sal word. Hoor net hoe wonderlik hierdie fees sal wees wat deur die Here voorberei gaan word: Dit sal ’n feesmaal wees met die beste om te eet en te drink, goeie kos en geurige wyn. Die wat in Jesus Christus glo, sal die begenadigdes wees wat werklik sal kan verstaan dat die sluier oor hulle oë verwyder sal word. Hierdie fees is daarop ingestel om die oorwin-ning oor die dood te vier. Ons vier fees omdat Jesus Christus die dood doodgemaak het vir sy kinders. Dit is die Here God wat die dood vir ewig sal vernietig, en die trane op almal se gesigte sal afvee. Wat ‘n fees-vreugde dat die Here die smaad sal verwyder wat sy kinders ervaar het op aarde. Hierdie feesmaaltyd hou in dat elkeen wat by die feesmaaltyd is, sal kan getuig dat dit ons God is wat hierdie wonderlike dinge gedoen het. Hy is immers ons God op Wie ons vertrou het. Hy het ons gered. Dit is die Here! Ons het op Hom vertrou. Laat ons bly wees en juig omdat Hy ons gered het.

Daar is ‘n rede waarom mense saam eet. Dit hou in dat iets of iemand hierdie besondere groep mense saamgebind en saamgebring het. Vandag nog, is die saam met mekaar eet, vir ons as Christene iets beson-ders. Die nagmaal, die gemeenskaplike maaltye en etes saam met familie en vriende is vir ons meer as net ‘n blote ete. Medegelowiges wat mekaar in die Here vind en saam eet, maak iets bekend van hulle geloof in die gemeenskap van gelowiges. Ons saam eet, hou ook in dat ons mekaar graag werklik in Jesus Christus wil ontmoet en leer ken. Kom gerus, daar is vandag na die nagmaal, ‘n gemeenskaplike maaltyd waar jy jou liefde vir die Here en vir jou medegelowiges verder sal kan kom beleef.

Ds Paul

Is dit waar? Is dit mooi? Is dit noodsaaklik?

Ons gemeente het soveel wonderlike geleenthede. God seën ons met soveel mooi gelowi-ges wat lief het en omgee. Soveel wat met sagtheid met medegelowiges werk wat seer het.

Die teendeel kan ook waar wees. Kan jy dalk dink aan iets wat jy onlangs óór of vír iemand gesê het wat negatief was? Dit kan onnadenkend wees, of dit kan doelbewus wees. Tog weet ons dat die Here ons as geloofsgemeenskap oproep om teenoor mekaar en die wêreld positief te lewe. Waarom gebeur dit dat gelowiges mekaar soms so kan seermaak?

Waarheid sonder liefde, is tog nie die waarheid nie! Paulus roep ons op in Filippense 4:8 en 9 om te fokus op alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is. Ja watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees, kom ons fokus ons gedagtes daarop. As ons doen wat die Here in sy Woord aan ons voorhou, dan sal God wat vrede gee, met ons wees.

Kan dit wees dat ek met my siening oor die waarheid en in die hantering van medegelowiges hulle dalk van die Here en die geloofsgemeenskap kan vervreem? Mag die Heilige Gees jou lei om met sagtheid te bemoedig, te vermaan en te vertroos. As dit nie waar is nie, as dit nie mooi is nie of as dit nie noodsaaklik is nie, bid dan eerder vir mekaar as om mekaar seer of verdag te maak.

Paulus waarsku ons telkens in sy briewe teen skeurmakery, verdeeldheid, afguns en jaloe-sie. So erg dat die gelowiges gewaarsku word dat hulle moet oppas dat hulle mekaar nie later sal verslind nie. Ons kan tog nie deel vorm van die spreuk: “Hond vreet hond” nie.

Die geloofsgemeenskap, ons tema vanjaar van “ons gee om” is deel van ons lewe om ‘n oog en ‘n oor en ‘n hart vir stukkende mense te kan ontwikkel.
Mag dit wees dat met dieselfde sagtheid wat die Here met jou werk, jy ook met ander sal werk. Mag jy eendag voor die Here staan en weet jy het gebou en nie afgebreek nie. Mag jy instrumenteel in die Hand van die Here wees om mense wat worstel, seer is, skaam, bang en bekommerd is te vertroos en toe te vou in die liefde van die Here.
Ds Paul

Vervulling met die Heilige Gees

Hoe word jy vervul me die Heilige Gees? Wat beteken dit om vervul te wees met die Heilige Gees?

“In die Nuwe Testament word daar nêrens aan die mense die eis gestel: word wedergebore of word met die Heilige Gees gedoop nie. Maar wel verneem ons telkens met betrekking tot die Heilige Gees ’n hele aantal bevele: “word vervul met die Gees” (Ef 5:18); “wandel deur die Gees” (Gal 5:16); “as julle deur die Gees gelei word” (Gal 5:18, voorwaardelik gestel); “wees heilig” (1 Petr 1:16).”
(Floor.1979:116)

God gee in Christus, uit vrye genade, aan al Sy kinders, sy lewendmakende Heilige Gees. Jesus Christus het ook aan ons geleer in Joh 14:16,17, “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: 17) die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.”

Ons moet onderskei tussen die “inwoning” en “vul” van die Heilige Gees. Die Heilige Gees word aan al God se kinders gegee, (Ef 1:13) die oomblik van wedergeboorte sodat hulle kan glo. Niemand kan uit eie inisiatief in God glo en die verlossing verkry as God dit nie aan jou gee of dit aan jou openbaar nie. (Gal 3:2) Daarom bly die Heilige Gees in al God se kinders.

Maar omdat ons die Gees ontvang het, die kosbare heilige geloof, moet ons ook groei in die geloof, in kennis en vertroue, Gal 3:2.

Daarom moet ons ook biddend die Bybel lees, en doelbewus van die sonde wegvlug en ons volmaak met die sake van God. In Psalm 19:14 leer ons: “Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o HERE, my rots en my verlosser!”

Om daarom met die Heilige Gees vervul te word, beteken dat ons elke dag biddend ons sondes moet bely, wegvlug van die sonde af, en in gehoorsaamheid ons aan God toewy in gedagtes, woorde en werke. Dan het die Gees ’n vrye werking in ons om ons te lei. Sodoende word ons ook elke dag deur God se genade gelei om ’n al heiliger lewe te lei en meer en meer met die Heilige Gees vervul te word.

Ds Gerrit

Kontra-Reformasie

Tydens die afgelope toer op die spore van die Reformasie het ek weer intens bewus geraak van die erns van die gereformeerde waarheid versus die dwalings van ons tyd. Behalwe die vyf Solas het ek weer die waarde van die Calvinisme besef en my liefde vir die gereformeerde leer is intens versterk.

‘n Mens het bewus geraak van die erns waarmee ons voorouers vir die waarheid gesoek en gestry het. Hulle was maar altyd in die minderheid teen die magtige Rooms-Katolieke Kerk, maar nooit skaam om op te staan vir alles wat hulle glo nie. Ek is weer besiel met ʼn nuwe lus en liefde vir die geskiedenis van die kerk en hoe die Here ons van die Roomse dwaling bewaar het.

Laat ons nie die fout begaan om te dink dat die Pous en Rooms-Katolieke Kerk altyd dinge stil en gela-te aanvaar het nie. Naas die openlike vervolging van die Protestantse ketters is daar in verskeie kerkli-ke vergaderings ingrypende besluite geneem om vas te staan in die Roomse beskouings. Ons praat hiervan as die Kontra-Reformasie. Later is die protestantse leer sinodaal vervloek!

Die Sinode van Trente het indringend op al die dispute ingegaan en oor byna 20 jaar (1545-1563), in drie hoofvergaderings sy dwalings herbevestig.

Daar is o.a. oor die volgende besluit (regstreeks teenoor die beginsels van die reformatore):

  • Die gelykwaardigheid van die apokriewe boeke met die kanonieke boeke van die Skrif.
  • Die Sakramente se saligmakende waarde en ook die nagmaaltekens wat werklik die liggaam en bloed van Christus word. Die beker word nie deur gewone lidmate gebruik nie,
  • Die selibaat van die geestelikes in diens van die kerk is goed vir die siel.
  • Besluite oor die huwelik as sakrament, en oor egskeiding wat hertrou onmoontlik maak.
  • Die interpretasie van die Bybel is die alleenreg van die pous (en hoogstens sekere kardinale wat hom kan bystaan)
  • Sinvolheid van aflate, ens.

In antwoord op hierdie sinodes volg die protestante weer met ‘n gereformeerde sinode wat nie alleen die Roomse dwaling nie maar ook die Armenianisme weerlê (in baie kort: Armenius en Pelagius maak ons saligheid afhanklik van die menslike keuse). Die Sinode van Dordrecht (1618-1619) bely die soe-wereiniteit van God. Ons kry uit hierdie Sinode die standaard Bybelvertaling van die Statenbijbel, ook die Dortse Kerkorde en die bevestiging van die Drie Formuliere van Geref Eenheid: Nederlandse ge-loofsbelydenis (NGB), die Heidelbergse Kategismus (HBK) en die Dortse Leerreëls ((DL).

Ons dank die Here wat volgens sy belofte sy kerk getrou deur al hierdie stormtye gedra en bewaar het.

Ds Maarten

« Older posts Newer posts »