Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Blogs (Page 49 of 50)

Is dit waar? Is dit mooi? Is dit noodsaaklik?

Ons gemeente het soveel wonderlike geleenthede. God seën ons met soveel mooi gelowi-ges wat lief het en omgee. Soveel wat met sagtheid met medegelowiges werk wat seer het.

Die teendeel kan ook waar wees. Kan jy dalk dink aan iets wat jy onlangs óór of vír iemand gesê het wat negatief was? Dit kan onnadenkend wees, of dit kan doelbewus wees. Tog weet ons dat die Here ons as geloofsgemeenskap oproep om teenoor mekaar en die wêreld positief te lewe. Waarom gebeur dit dat gelowiges mekaar soms so kan seermaak?

Waarheid sonder liefde, is tog nie die waarheid nie! Paulus roep ons op in Filippense 4:8 en 9 om te fokus op alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is. Ja watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees, kom ons fokus ons gedagtes daarop. As ons doen wat die Here in sy Woord aan ons voorhou, dan sal God wat vrede gee, met ons wees.

Kan dit wees dat ek met my siening oor die waarheid en in die hantering van medegelowiges hulle dalk van die Here en die geloofsgemeenskap kan vervreem? Mag die Heilige Gees jou lei om met sagtheid te bemoedig, te vermaan en te vertroos. As dit nie waar is nie, as dit nie mooi is nie of as dit nie noodsaaklik is nie, bid dan eerder vir mekaar as om mekaar seer of verdag te maak.

Paulus waarsku ons telkens in sy briewe teen skeurmakery, verdeeldheid, afguns en jaloe-sie. So erg dat die gelowiges gewaarsku word dat hulle moet oppas dat hulle mekaar nie later sal verslind nie. Ons kan tog nie deel vorm van die spreuk: “Hond vreet hond” nie.

Die geloofsgemeenskap, ons tema vanjaar van “ons gee om” is deel van ons lewe om ‘n oog en ‘n oor en ‘n hart vir stukkende mense te kan ontwikkel.
Mag dit wees dat met dieselfde sagtheid wat die Here met jou werk, jy ook met ander sal werk. Mag jy eendag voor die Here staan en weet jy het gebou en nie afgebreek nie. Mag jy instrumenteel in die Hand van die Here wees om mense wat worstel, seer is, skaam, bang en bekommerd is te vertroos en toe te vou in die liefde van die Here.
Ds Paul

Vervulling met die Heilige Gees

Hoe word jy vervul me die Heilige Gees? Wat beteken dit om vervul te wees met die Heilige Gees?

“In die Nuwe Testament word daar nêrens aan die mense die eis gestel: word wedergebore of word met die Heilige Gees gedoop nie. Maar wel verneem ons telkens met betrekking tot die Heilige Gees ’n hele aantal bevele: “word vervul met die Gees” (Ef 5:18); “wandel deur die Gees” (Gal 5:16); “as julle deur die Gees gelei word” (Gal 5:18, voorwaardelik gestel); “wees heilig” (1 Petr 1:16).”
(Floor.1979:116)

God gee in Christus, uit vrye genade, aan al Sy kinders, sy lewendmakende Heilige Gees. Jesus Christus het ook aan ons geleer in Joh 14:16,17, “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: 17) die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.”

Ons moet onderskei tussen die “inwoning” en “vul” van die Heilige Gees. Die Heilige Gees word aan al God se kinders gegee, (Ef 1:13) die oomblik van wedergeboorte sodat hulle kan glo. Niemand kan uit eie inisiatief in God glo en die verlossing verkry as God dit nie aan jou gee of dit aan jou openbaar nie. (Gal 3:2) Daarom bly die Heilige Gees in al God se kinders.

Maar omdat ons die Gees ontvang het, die kosbare heilige geloof, moet ons ook groei in die geloof, in kennis en vertroue, Gal 3:2.

Daarom moet ons ook biddend die Bybel lees, en doelbewus van die sonde wegvlug en ons volmaak met die sake van God. In Psalm 19:14 leer ons: “Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o HERE, my rots en my verlosser!”

Om daarom met die Heilige Gees vervul te word, beteken dat ons elke dag biddend ons sondes moet bely, wegvlug van die sonde af, en in gehoorsaamheid ons aan God toewy in gedagtes, woorde en werke. Dan het die Gees ’n vrye werking in ons om ons te lei. Sodoende word ons ook elke dag deur God se genade gelei om ’n al heiliger lewe te lei en meer en meer met die Heilige Gees vervul te word.

Ds Gerrit

Kontra-Reformasie

Tydens die afgelope toer op die spore van die Reformasie het ek weer intens bewus geraak van die erns van die gereformeerde waarheid versus die dwalings van ons tyd. Behalwe die vyf Solas het ek weer die waarde van die Calvinisme besef en my liefde vir die gereformeerde leer is intens versterk.

‘n Mens het bewus geraak van die erns waarmee ons voorouers vir die waarheid gesoek en gestry het. Hulle was maar altyd in die minderheid teen die magtige Rooms-Katolieke Kerk, maar nooit skaam om op te staan vir alles wat hulle glo nie. Ek is weer besiel met ʼn nuwe lus en liefde vir die geskiedenis van die kerk en hoe die Here ons van die Roomse dwaling bewaar het.

Laat ons nie die fout begaan om te dink dat die Pous en Rooms-Katolieke Kerk altyd dinge stil en gela-te aanvaar het nie. Naas die openlike vervolging van die Protestantse ketters is daar in verskeie kerkli-ke vergaderings ingrypende besluite geneem om vas te staan in die Roomse beskouings. Ons praat hiervan as die Kontra-Reformasie. Later is die protestantse leer sinodaal vervloek!

Die Sinode van Trente het indringend op al die dispute ingegaan en oor byna 20 jaar (1545-1563), in drie hoofvergaderings sy dwalings herbevestig.

Daar is o.a. oor die volgende besluit (regstreeks teenoor die beginsels van die reformatore):

  • Die gelykwaardigheid van die apokriewe boeke met die kanonieke boeke van die Skrif.
  • Die Sakramente se saligmakende waarde en ook die nagmaaltekens wat werklik die liggaam en bloed van Christus word. Die beker word nie deur gewone lidmate gebruik nie,
  • Die selibaat van die geestelikes in diens van die kerk is goed vir die siel.
  • Besluite oor die huwelik as sakrament, en oor egskeiding wat hertrou onmoontlik maak.
  • Die interpretasie van die Bybel is die alleenreg van die pous (en hoogstens sekere kardinale wat hom kan bystaan)
  • Sinvolheid van aflate, ens.

In antwoord op hierdie sinodes volg die protestante weer met ‘n gereformeerde sinode wat nie alleen die Roomse dwaling nie maar ook die Armenianisme weerlê (in baie kort: Armenius en Pelagius maak ons saligheid afhanklik van die menslike keuse). Die Sinode van Dordrecht (1618-1619) bely die soe-wereiniteit van God. Ons kry uit hierdie Sinode die standaard Bybelvertaling van die Statenbijbel, ook die Dortse Kerkorde en die bevestiging van die Drie Formuliere van Geref Eenheid: Nederlandse ge-loofsbelydenis (NGB), die Heidelbergse Kategismus (HBK) en die Dortse Leerreëls ((DL).

Ons dank die Here wat volgens sy belofte sy kerk getrou deur al hierdie stormtye gedra en bewaar het.

Ds Maarten

Calvyn se Nagmaalstafel

Een van die grootste dorings in Calvyn se vlees in Genève was die Libertyne. Selfs nadat Calvyn vir meer as 15 jaar in St. Peter kerk in Genèvegepreek het, was morele verval oral aan die orde van die dag – selfs in die kerk. Vir die Libertyne het “gemeenskap van die gelowiges” (koinonia) beteken dat alles gedeel is – huise, besittings… en vrouens. Hulle was seksueel promisku in die naam van Christelike vryheid. Maar hulle wou nog steeds aan die Nagmaalstafel sit…
Die krisis rondom die Nagmaal het in 1553 tot breekpunt gekom. ‘n Welgestelde Libertyn genaamd Berthelier is deur die kerk verbied om aan die Nagmaal deel te neem, maar hy het by die Stadsraad appèl aangeteken teen die besluit. Die Stadsraad het die kerk se besluit omgekeer.
Dit het ‘n krisis vir Calvyn veroorsaak wat op geen manier ‘n Libertyn by die Nagmaalsta-fel kon toelaat nie. Sy beginsel was soos altyd – die glorie van God.
Op die dag het die Libertyne opgedaag om aan die Nagmaal deel te neem. Die preek was klaar en Calvyn het van die preekstoel afgeklim om die Nagmaal te bedien. Die Libertyne het opgestaan en in die rigting van die Nagmaalstafel beweeg.
Calvyn het sy arms om die brood en wyn geslaan en met ‘n harde stem uitgeroep:
“Hierdie hande kan julle verbrysel, hierdie arms kan julle afkap, my lewe kan julle neem, my bloed kan julle verspil, maar julle sal my nooit kan dwing om die tafel van my God te ontheilig nie”
Hierna het die Libertyne die aftog geblaas en die res van die gemeente het die sakrament in besonderse gewyde stilte gevier…
Ds Maarten

Die toepassing van die tug

In die kerk regeer Jesus Christus deur sy Woord en sy Gees. Dus is die toepassing van die tug die dissiplinering van die kerk deur Christus self. Die mense wat in leer en lewe afwyk word getug. Die tug is daar sodat sekere dele van Christus se liggaam (Christene) nie verlam word nie, maar ‘n gesonde lewende lid sal wees.

Die ouderlinge in die gemeente oefen Christus se gesag namens Hom uit. Die kerkraad het geen hoof behalwe Jesus Christus nie. Dit is dus een van die kerkraad se regeringspligte om die tug op afgedwaaldes toe te pas.

Die tug, saam met die evangelie, is praktiese sleutels tot die koninkryk. Dit kan die hemel vir iemand oopsluit (as die persoon hom bekeer) of toesluit (as die persoon hom nie bekeer nie en afgesny word). Die doel van die tug is drieledig: Die eer van God, die opbou/suiwering van die kerk. Die tug moet altyd in liefde bedien word. Daarom word soms gepraat van die tug as “die bediening van die versoening”.

Maar, eerstens moet die tug nie net deur die kerkraad toegepas word nie. As iemand teen jou persoonlik gesondig het, moet jy hom eers alleen aanspreek. As hy nie wil luister nie, moet jy weer gaan, maar dié keer met getuies saam. As hy/sy dan nie wil luister nie moet jy dit aan die gemeente (kerkraad) bekend maak. (Matt 18: 15 – 17).

Tydens die tugtiging van ‘n persoon moet die persoon van die sakramente (Doop en nag-maal) afgehou word (Kerkorde Art. 76). Daar word dan ook drie afkondigings aan die ge-meente gemaak. Daar kan ‘n hele tydperk tussen die afkondigings verloop. (Kerkorde Art. 77)

  1. Maak die saak aan die gemeente bekend, sonder om die persoon se naam te noem, en vra dat die gemeente vir hom moet bid.
  2. Maak die saak bekend en noem die persoon se naam.
  3. Finale afsnyding. (Daar is ‘n formulier hiervoor agter in jou psalmboek)

Die doel van die tug word gereeld misverstaan en mense bedank die kerk vanweë hulle onkunde. Ten eerste is die tug ‘n liefdeshandeling vanaf God (Spr 3:11,12), toegepas deur ‘n persoon of die kerkraad. Verder is dit daar gestel om die sondaars te red wat afgedwaal het en om die gemeente heilig te hou. Maar op die ou end is dit alles net tot die eer van God

Ds Maarten

Kom laat ons bid!

God gee vir ons om, daarom gee ons ook om deur vir mekaar te bid.
Die Here het ons geroep om hier op aarde vir Hom en ons naaste lief te hê en om werklik ‘n oog vir ander te behou.
Daar is soveel oproepe in die Skrif wat ons aanspoor om met ‘n sagte hart teenoor ons naaste en selfs teenoor ons vyande en vreemdelinge op te tree. Dit is immers die voorbeeld wat Jesus Christus vir ons gestel het. Hy het sy alles vir ons as gebroke mense gegee. Hy het verder vir ons die Heilige Gees gegee om altyd by ons te bly en ons te leer en te lei om biddend ‘n oog en hart vir ander mense te kan hê.
Wie is daar in jou lewe wat voorbidding nodig het? Dit is onder andere mense wat jy ken wat siek is, mense wat oud geword het en nie meer die krag het om dinge te kan doen soos wat hulle gewoond was om te doen nie. Verder word ons ook opgeroep om vir elkeen wat twyfel, wat onverskillig is en wat perspektiefloos is, te bid.
Dink aan jou geliefdes wat ‘n belangrike rol in jou lewe speel en jou ondersteun. Weet jy wat hulle eie worsteling en vrae is? Bid dan in besonder ook vir hulle.
Om vir iemand anders te bid is alleen moontlik as die Heilige Gees jou in staat stel om jouself te verloën en op die Here en jou medemens te fokus. Gebed is ‘n besondere en uitstaande manier om jou medemens te dien.
Verder lei gebed, vir ander mense, ons om nie net te praat nie, maar ook te doen. Hoe meer jy bid, hoe meer sal die Heilige Gees jou in staat stel en wysheid gee om mense in woord en daad te kan bedien.
In besonder het ons ‘n geleentheid om te bid vir mense wat in die geloof verslap het, mense wat in die strik van sonde vasgeval het en vir mense wat in die mag van die duiwel beland het. Daarom sal ons nooit opgee en nooit ophou bid vir elkeen wat nie die troos en krag en hoop in Jesus Christus ken nie.
Jesus Christus is by uitnemendheid ons voorbeeld vir voorbidding. Hy is ons ware Middelaar wat by die Vader vir ons intree en pleit vir genade vir ons. Hy is die ware Voorbidder saam met die Heilige Gees vir elkeen van ons wat God se kinders is.
Kom laat ons werklik biddend tot die Here nader vir elkeen wat jy weet voorbidding en omgee nodig het.

Ds Paul

« Older posts Newer posts »