Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Blogs (Page 48 of 53)

Gewete

Wie het nie al geworstel in sy hart?

Moeg gewroeg en hartseer?

Die gewete wat jou agtervolg!

Die onsigbare oog wat jou vervolg!

Gewete is goed as jy reg doen,

maar is hard op jou as jy verkeerd doen.

Vanuit die hart die daad,

of dit reg of verkeerd is.

Gewete volg jou soos ‘n skaduwee.

Dit is die onsigbare oog wat jou dophou.

Getuie op jou voetspoor…

Dit kyk of jy nie ontspoor.

My gewete soek na kennis en vertroue.

Waar het ek verbrou?

Watter plek het ek gebou?

Met die gewete word gevra na goed en kwaad.

Die gewete in God is om saam te weet.,

geanker om nie gewetenloos te wees.

God moet my bewaar van gewetenloosheid,

Om nie te handel in liefdeloosheid.

In die gewete word gegroei na God’s beeld.

Wanneer sal ek dit bereik?

Wie sal bepaal die rus is finaal klaar?

Net God weet, geloofd sy God!

Dr Kobus Erasmus (Predikant van die Gereformeerde kerk Volksrust)

Loof en dank

Lof is ʼn ander woord vir “om vir God dankie te sê”. Aanbidding is om God te erken vir wie Hy is; lof is om Hom dankie te sê vir wat Hy in jou lewe doen.

Ja, dit is om te erken dat Hy in jou lewe besig is en dat wat daar gebeur van Hom af kom. As jy dus erken dat jou talente en jou gawes van God af kom en jy sê vir Hom dankie daarvoor, dán loof jy die Here. As jy vir die Here dankie sê dat jy gesond is en kan leef, dán loof jy Hom.

Dit beteken dat ons God op baie maniere kan loof. Ons kan stil op sy skoot gaan sit en net vir Hom daar dankie sê. Ons kan lekker luidkeels saam met ʼn orkes vir hom dankie sê vir sy redding en genade. Ja, glo dit of nie, ons kan selfs met stemmige orrelspel Hom heerlik loof. Dit gaan nie oor die manier nie, maar oor die opregte dankie sê.

Ons hoor partymaal na ʼn lekker singsessie dat iemand sê: “Ek het die Here nou lekker geloof”. Dit is goed om daarna lekker te voel, maar die groot vraag is nie of jy lekker gevoel het nie. Die vraag is of God lekker gevoel het.

Lof se doel is om Hom te erken vir wat Hy in jou lewe gedoen het. Dit sal vir God aangenaam wees. Maar kan ek nog die Here loof as dit swaar gaan? Waarvoor moet ek dan vir Hom dankie sê? Natuurlik kan jy God dan nog loof, al is dit net vir die voorreg om Hom te ken en te weet…

Hy sal jou nooit in die steek laat en jou ook nie bo jou kragte versoek nie. Soek dan jou krag in sy krag. Daaroor kan jy die Here vir seker loof.

Uit: Geloof in Aksie-Bybel

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika Loof die Here vir 160 jaar se genade!

Dit is vandag, 10 Februarie 2019, presies 160 jaar gelede wat ons geloofsvoorouers by Rustenburg biddend daartoe oorgegaan het om die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika te stig. Die diepste motief was en is nog steeds om ‘n kerk van die Here te wees wat die Woord van die Here voorop stel in alles wat ons doen, dink en sê.

Die Here het deur 160 jaar die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) instrumenteel gebruik om die boodskap van redding en genade in Jesus Christus uit te dra aan alle volke en tale in ons land en ook aan mense in lande buite Suid-Afrika.

Kyk ons terug, dan staan die GKSA daarvoor bekend dat hulle onvoorwaardelik aan die waarheid van die Woord vasgehou het. Wanneer daar in die kerkverband onrus of verskil bestaan het, is die vrede gevind deur die buig voor die gesag van die Woord van die Here.

Die GKSA het in die 160 jaar steeds reformerend gebly. Diep in ons harte bly dit staan om altyd te reformeer, terug na die Woord van die Here, nader aan die waarheid van die Woord van die Here.

Vele uitdagings en druk word tans van buite die GKSA beleef. So is daar druk van die kant van die regering en van sekere mense om te konformeer met die wêreldse standaarde en beskouings. Wetgewing in Suid-Afrika van die staat se kant om beheer en inspraak in kerke te probeer kry, is ‘n uitdagende saak. Die wettiging van lotery, aborsie op aanvraag, regstellende aksies, homoseksuele/lesbiese huwelike en moontlike grondonteiening is maar ‘n paar sake wat die lidmate van die GKSA mee gekonfronteer word.

Dan is daar ook druk en verskil wat binne die GKSA beleef word. So is daar onder andere vandag verskillende opinies oor die Bybelvertalings, oor die vrou in die amp, oor die nagmaalsgebruik, oor die sing van geestelike liedere bo en behalwe die Psalms en huidige Skrifberymings. Verder is daar ook groot kommer oor die dalende lidmaat getalle van gelowiges regoor die wêreld en veral in die GKSA.

Die GKSA het reformatories wonderlike groei en geleenthede beleef ten opsigte van die uitdra van die evangelie in Suid-Afrika en ander lande aan die mense wat nog nie tot geloof in die Drie-Enige God gekom het nie.

Mag die pad vorentoe vir die GKSA steeds wees:

  • Sola Scriptura – Die Bybel (Skrif) alleen
  • Solus Christus – Christus alleen
  • Sola Gratia – Genade alleen
  • Sola Fide – Deur die geloof alleen
  • Soli Deo Gloria – Aan God Alleen die Eer.

Ds Paul

Die enigste ware roem

Gal 6:14 “Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld.”

Paulus het in sy vroeër jare as ‘n Rabbi menslikerwys baie dinge gehad om oor te roem, Hy het bo die Jode van sy tyd uitgestyg vanweë sy fanatieke ywer om die kerk van die Here te vervolg, Gal 1:13,14. In Fil 3:1-10 lys hy waarop hy alles sou kon roem. Maar nou het Paulus tot bekering gekom en besef hy die mens het niks om op te roem nie. Alles is genade en ons genade is gesetel in die kruis.

Die kruis was in Paulus se tyd ‘n vervloekte, veragte dood en die uiterste voorbeeld van swakheid en skande. En tog het Saulus van Tarsus die krag van die kruis ondervind en Paulus die apostel geword. Die kruis was nou nie meer ‘n struikelblok vir Paulus nie maar die fondamentsteen van sy boodskap: “Christus het vir ons sondes aan die kruis gesterf en betaal.”

Paulus het besef dat die kruis Vryheid gebring het van homself, Gal 2:20, van die liggaam Gal 5:24 en van die wêreld Gal 6:14. Met die dood en opstanding van Jesus Christus is God se krag geopenbaar en aan ons gegee om vryspraak te kry van sonde en dood. Die vleeslike mens en selfs die wettiese gelowige blaas sy eie roem en ego vir wat hy/sy doen, bevredig sy aardse menswees en doen goed vir die wêreld. ‘n Ware Christen roem alleen in die genade wat ons ontvang het deur Jesus Christus se kruisdood en lewe volkome uit dankbaarheid.

Elkeen wat dan in Jesus Christus glo en Hom dien en aanbid is deel van die nuwe, ware Israel. Gal 6:16.

Daarom roem ons saam met Paulus in die kruis van Jesus Christus. Aan die kruis het Hy gesterf, betaal en in ons plek die vervloeking geword vir al ons sondes.

1 Kor_1:31

“Daarom, soos daar geskrywe staan: “Dié wat wil roem, moet in die Here roem.”

Ds Gerrit

Die Dordtse Leerreëls

Na die Hervorming wat op 31 Oktober 1517 amptelik begin is deur Luther wat sy 95 stellinge teen die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker het, het daar weereens dwalinge ontstaan. Die Sinode van Dordrecht se bedoeling was om ‘n einde te bring aan die godsdienstige stryd wat die Remonstrante (Arminiane) teen die suiwer Bybelse leer gevoer het tov die uitverkiesingsleer.

Arminianisme het die uitverkiesingsleer verwerp en verkondig dat ‘n mens alleen gered kan word as jy glo maar dit hang van jou af of jy uitverkies is of nie. Dit was weer die leer van Pelagius (400 nC) wat geleer het daar is geen erfsonde nie, die mens het ‘n vrye wil en kan self kies vir sy saligheid of nie, daar is geen uitverkiesing nie maar slegs ‘n voorkennis by God en die dood is nie die gevolg van sonde nie.

Gomarus was die Kontra-Remonstrantse leier, ook voorsitter van die Sinode en onder sy leiding het die Sinode die Dordtse leerreëls opgestel. In hoofsaak handel die Dordtse Leerreëls oor die Predestinasie-leer of die Uitverkiesingsleer wat beteken dat God voor die skepping van die wêreld af al bepaal het wie eendag hemel toe gaan en wie nie. Die Kontraremonstrante verwerp die vrye wil van die mens wat bepalend is vir sy saligheid en die suiwer Bybelse siening word in vyf standpunte saamgevat (Calvinisme se standpunt):

  • Die totale verdorwenheid van die mens.
  • Die onvoorwaardelike uitverkiesing van die mens.
  • Die beperkte versoening.
  • Die onweerstaanbare genade van God.
  • Die volharding van die gelowiges.

Vir die volgende klompie Sondae gaan ons die Woord bring aan die hand van die vyf hoof-stukke van die Dordtse Leerreëls.

  1. Goddelike uitverkiesing en verwerping.
  2. Die dood van Christus en die verlossing van die mens deur sy dood.
  3. Die verdorwenheid van die mens, sy bekering tot God en die wyse waarop dit plaasvind.
  4. Die verdorwenheid van die mens, sy bekering tot God en die wyse waarop dit plaasvind (vervolg)
  5. Die volharding van die Heiliges.

Ds. Gerrit

God regverdig?

Jy moet eers gou die gelykenis van Jesus in Matteus 20: 1-16 lees. Die konklusie is dat die eienaar van die wingerd kan doen wat hy wil…

God is die eienaar van alles wat Hy gemaak het. Hy kies sy kinders uit en gee aan hulle die lewe deur Jesus Christus. Dit is sy genade. Hy het baie genade! Baie! Hy kan dit gee vir wie Hy wil, wanneer Hy wil. Hy is die almagtige, vrymagti-ge, soewereine en enigste God! Daarvoor loof en prys ons (en alles wat asem het) die Here!

Daar is mense van die kant van die ongelowiges wat dink dat God onregverdig is. Dit is te verstane. Hulle insig skiet net vér tekort. Dat daar egter gelowiges is wat dink dat God onregverdig is omdat Hy vir sommige red en ander nie, gaan mens se verstand te bowe. Ek as verloste word dus “onregverdig” behandel.

Mense raak jaloers op mekaar as jy soos die wêreld na dinge kyk. In die wêreld is dit net die vinnigstes wat wen, en die eerstes kry die trofee. By God werk dinge egter ‘n bietjie anders, of soms heeltemal anders, ja selfs soos teenoorgestel-des… Daarom eindig die gelykenis met die sg. absurde: “Die wat laaste is sal eerste wees, en…”

God is nie regverdig omdat Hy vir alle mense dieselfde gee of dieselfde kanse gun nie. Nee, as God in daardie opsig regverdig moes wees, sou Hy geen ander keuse gehad het as om ons almal in die helse vuur te gooi nie. Ek glo nie dit is wat jy wil hê moet gebeur nie.

God is regverdig in die sin dat Hy geen sonde het of doen nie, en dit ook nie kan aanvaar nie. Hy kan wel daarmee ‘n plan maak, want Hy is soewerein (kan doen wat Hy wil). Hy het sy Seun gegee as die plan vir die wegneem van sondes en daarom vergewe Hy om-Christus-wil telkens weer.

Gaan aan die Nagmaal met die wete dat jy ‘n regverdige God dien. Die nagmaal-tekens is simbole van die plan wat Hy gemaak het om ‘n einde te maak aan son-de en straf.

Ds Maarten

« Older posts Newer posts »