Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Blogs (Page 47 of 53)

DIS WEER VERKIESINGSTYD

Die vraag kan gestel word of Christen-gelowiges aan ‘n staatkundige bestel se verkiesings behoort deel te neem en daaraan mee te doen, terwyl daardie bestel se waardes en norme direk indruis teen die Christelike norme en belydenis. Wat se eer is daar vir God deur Christe-ne se deelname aan of instemming met ‘n humanistiese (mensgerigte) bestel? Oorwegings van bloot sekulêre en politieke aard geniet blykbaar voorkeur. ‘n Pragmatiese benadering vir die bevordering van belange word nagestreef deur deelname aan die verkiesing. Dit hoort egter nie so nie. Jesaja 65 : 12 sê iets van so ‘n situasie: “Julle het gedoen wat verkeerd is in my oë, julle het gekies vir wat My nie aanstaan nie.“

Die Woord van God is baie duidelik omtrent die beginsels wat vir ons daaglikse lewe en ons menslike aktiwiteite behoort te geld. “Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God” (1 Kor 10 : 31). As dit dan in die gewone dinge so belangrik is, hoeveel te meer in belangriker sake, soos byvoorbeeld verkiesings? Dit is die vraag wat elke opregte Christen-gelowige ten opsigte hiervan moet beantwoord.

Natuurlik kan ons leef en werk in enige vorm van staatkundige bestel, ook in die huidige. Maar kan ons as Christene ‘n humanistiese bestel ondersteun, propageer, bevorder en daarin opgaan? Nee, dit mag nie! Dit is in sekere sin vyandskap teen God en sy koninkryk, al is dit op ‘n indirekte wyse. Dan moet ons maar liewers die gevolge dra, soos wat dit tans op elke lewensterrein sigbaar is en daagliks aan die lyf gevoel of ervaar word. So verklaar Hosea 5 : 11 dan ook: “Efraim is verdruk, verbreek deur die oordeel; want dit het hom behaag om na die gebod van mense te wandel” (Sien ook: Ps 146 : 3; Jer 17 : 5; Jes 2 : 22).

Die euwels (bv aborsie ens) van die huidige bestel word egter gewettig en as goed en reg verklaar op grond van daardie einste Grondwet waarvoor talle Christen-gelowiges in April 1994 gestem het. Toe was daar geen beswaar of teenkanting vanuit die kerklike gemeenskap of van die geestelike leiers teen die liberaal-humanistiese waardestelsel wat deur middel van die nuwe Grondwet gevestig sou word nie – inteendeel!

Nou is die tyd ryp vir deeglike besinning. Duidelike en sterk standpuntstelling is dringend noodsaaklik vir elke Christen-gelowige in ons land. Dan kan daar begin word om die sogenaamde “morele krisis” aan te spreek. ‘n Verknogtheid aan ‘n politieke party en sy beleid is hier onvanpas want dit belemmer ‘n onbevange besinning en verhinder ‘n suiwere beginsel-standpunt en -formulering.

Kom, laat ons dan in die geloof en getrou aan Gods Woord, vreesloos die regte pad loop. Die tyd is min, die verantwoordelikheid is groot en die gevolge is ernstig.

Marius Coetzer (Kerkpad)

WAAROM WAG?

Ons leef in die tyd waarin ons in besonder dink aan die uitstorting van die Heilige Gees. Het jy al gewonder waarom die Heilige Gees eers 10 dae na die hemelvaart uitgestort is? Waarom moes die dissipels 10 dae wag op die vervulling van die belofte van Jesus Christus volgens Johannes 16:7?

Die uitstorting van die Heilige Gees is een van die wonderlike gebeurtenisse wat in die Bybel verhaal word. Die Heilige Gees het gekom om altyd by ons te wees. Om hierdie wonderlike gawe te kon ontvang, was dit nodig dat die dissipels moes wag om ‘n paar dinge te leer.

Ons kan ons nie werklik indink wat in die gemoedere van die dissipels die voorafgaande tyd afgespeel het nie. Die een oomblik was Jesus nog hier op aarde. Hulle het gesien en gehoor en ervaar wat Jesus alles hier op aarde gedoen het. Dan die skok van die gevangeneming van die Here Jesus. Binne enkele ure die verhoor en die kruisiging van hulle Here en Meester. Binne drie dae van verslaentheid, die opstandig van Jesus uit die dood. Dan die 40 dae wat Jesus nog op die aarde is en dan die hemelvaart.

Hierdie tyd van wag was tyd van gebed en voorbereiding op die koms van die uitstorting van die Heilige Gees (Handelinge 1:4). Die wag hou in dat die Here hulle voorberei het om sy getuies te wees, om met oorgawe en vertroue die Here te kan dien. Die wag het ingehou dat hulle die gebeure van die afgelope tyd kon verwerk en werklik tot verstaan kon kom oor wie Jesus Christus werklik is en wat hulle opdrag was.

Mag jy nadink oor die tyd van afwagting wat die dissipels deurgegaan het tot met die uitstorting van die Heilige Gees. Mag jy ook leer om op die inwerking van die Heilige Gees te wag. Mag jy leer om te wag op die uitkoms en troos en bemagtiging van die Heilige Gees ook in jou eie lewe.

In Johannes 16:8-15 sê Jesus dat wanneer die Heilige Gees kom, dan sal Hy bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde, en dat die reg aan Jesus Christus se kant is, en dat die oordeel al gekom het. Die Heilige Gees sal die dissipels help om te verstaan dat die wêreld skuldig is aan sonde. Die dissipels sal sien dat die wêreld nie in Jesus Christus wil glo nie.

Verder hou wag op die koms van die Heilige Gees in dat die dissipels werklik die ware waarheid sal leer ken en verstaan. Die wag hou in dat hulle gereed is om dit wat deur die Heilige Gees verkondig is, te glo omdat dit van die Vader en die Seun af kom. Hy sal die dinge wat nog gaan kom, aan hulle verkondig. Hy sal Jesus Christus verheerlik in alles wat deur Hom aan ons geopenbaar is. Alles wat die Heilige Gees van Jesus Christus ontvang het, sal Hy aan hulle verkondig. Daarom was die wag die geleentheid om te verstaan, te glo en te gaan doen. Vanuit die uitstorting van die Heilige Gees kon die dissipels volhardend en met oortuiging die blye boodskap van redding en genade aan die wêreld uitdra.

Ds Paul

Om werklik op God te vertrou

Om op God te vertrou, ten spyte van die menslik onmoontlike, is werklike vertroue. Twee Sondae gelede het ons ‘n verootmoedigingsdag gehad. Ons het ons voor God verootmoedig oor ons sondes, die droogte en die onrus in ons land. En alhoewel ons besig is om die winter in te gaan het dit hier in ons omgewing BAIE goed gereën. Daar het ook goeie reëns oor groot dele van die land geval. Is dit toevallig of is dit geloofsvertroue dat God sal voorsien op sy tyd? Verseker is dit God wat voorsien.

Ons moet ook weet dat God droogte gee. Dit bely ons in Sondag 10 oor die voorsienigheid van God. “Die almagtige en oralteenwoordige krag van God waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer dat lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede en alles ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom.”

Ons lees dat Abraham werklik op God vertrou het. Rom 4:19 “Al was hy so-wat honderd jaar en al het hy dus goed besef dat sy liggaam reeds gedaan was en dat Sara te oud was om kinders te hê, het sy geloof nie verswak nie.”

Abraham het nie getwyfel in sy geloof nie. Abraham was eerder “ten volle oortuig dat God ook die mag het om te doen wat Hy beloof het” Rom 4:21.

God is getrou. God kan nie ontrou wees teenoor Homself of teenoor ons nie. God se beloftes is altyd waar. God sal vir ons sorg. God sorg nie altyd soos wat ons dit wil hê nie, maar Hy sorg soos wat Hy dit in Sy Raadsplan bestem het. Ons moet net bly glo, bly bid, bly vertrou, bly werk en dan kan ons verseker wees dat God altyd sorg, want Hy is barmhartig en genadig. ‘n Latynse spreekwoord leer: “Ora et labora.” dit beteken, “Bid en werk.” God sal voorsien.

Prys die Here!

Ds. Gerrit

Christelike perspektief oor die verkiesing op 8 Mei 2019

Op Woensdag 8 Mei 2019 vind die sesde sg demokratiese algemene verkiesing in ons land plaas. Tot op datum het die ANC die land met ‘n volstrekte meerderheid regeer. Al hoe meer onrus en verdeeldheid in eie geledere het meegebring dat die sekerheid van die ANC se beheer begin verkrummel. Korrupsie, swak ekonomiese omstandighede, die swaard van grondonteiening en ander sake raak ook elke Christen in die land. Daarom is dit goed dat elke gelowige hom of haarself voor die Here afvra oor sy verantwoordelikheid om te gaan stem.

Daar word gereken dat daar amper 27 miljoen kiesers is wat geregistreer is en ongeveer 9 miljoen mense wat nie geregistreer het vir die verkiesing nie. Daar word volgens die statistieke in Suid-Afrika bereken dat tussen 70% tot 80% van ons land se inwoners Christene is. Sou dit waar wees, dan wonder ‘n mens of hierdie groot getal Christene met hierdie verkiesing ‘n verskil kan maak met die verkiesing van die leiers van ons land?

Ons bely dat die Here die regeerders oor ‘n land daarstel. Romeine 13 vra dat ons ons aan die owerheid van die dag sal onderwerp insover dit reg en billik volgens God se Woord is. In die Nederlandse geloofsbelydenis Artikel 36 bely ons onder andere dat die Here ‘n owerheid daarstel om te sorg vir goeie orde sodat ons as Christene in alle gods-vrug en eerbaarheid ‘n rustige en stil lewe kan lei (1 Timoteus 2:2).

Ons sien dit ook as die taak van die owerheid om te verseker dat die Woordbediening beskerm sal word. Die owerheid se taak is volgens die Woord van die Here om verder die geleentheid te bevorder vir die verkondiging van die Woord sodat God deur elkeen in ons land geëer en gedien sal word soos Hy dit in sy Woord beveel.

Mag dit wees dat die Here jou lei in die tyd om biddend te vra vir die leiding van die Heilige Gees. Mag dit wees dat ons werklik gelowig die Here sal vertrou om leiers te laat aanwys wat in alle trou en eerbaarheid rentmeesters sal wees voor die Here. Mag ons bid vir die regeerders en leiers in ons land dat hulle in gehoorsaamheid aan die Here, ons sal regeer.

Ds Paul

Die genade van die nagmaalsgebruik

Jesus Christus het in die nag waarin Hy verraai is brood geneem en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis.” Net so ook die beker na die ete met die woorde: “Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit so dikwels as julle daaruit drink tot my gedagtenis.”

(1 Kor 11:23-28)

Jesus Christus het met ’n spesifieke doel aarde toe gekom en dit is om met sy liggaam en sy bloed te betaal vir ons sondes. Deur Jesus Christus se dood het daar vir ons versoening met God gekom. Jesus Christus het al ons sondes en oortredinge op Hom geneem en aan die kruis gesterf. Dit het Jesus gedoen in opdrag en gehoorsaamheid van God sy Vader. Dit was verskriklik om as sondelose mens, die hele mensdom se sondes op Homself te neem en die vervloekte kruisdood te ondergaan. Hy het in ons plek gesterf en is in ons plek gekruisig.

Wat ’n groot genade is dit nie vir ons nie. Daarom het ons die heerlike voorreg om gereeld die nagmaal te gebruik. Dit is so ’n groot genade dat ons dit nie eers ten volle kan verstaan nie. Maar God het dit uit sy soe-wereine genade aan ons geskenk. Die nagmaal is ook daar om ons te ver-sterk in ons geloof en stryd op aarde. Net soos wat enige mens moet eet en drink om jou liggaam te voed en krag te gee om te kan lewe elke dag, net so moet ons gereeld die nagmaal gebruik om herinner te word aan die groot genade wat God aan ons geskenk het.

Die nagmaal dien daarom ook as herinnering en geestelike versterking oor die geweldige daad van Christus waardeur ons verlossing ontvang het.

Die nagmaalsgebruik is daarom ’n geweldige vertroosting en versterking. Ons prys en loof en dank God vir die genade van die nagmaalsgebruik.

Ds. Gerrit

Vroomheid

Dalk het jy al gehoor dat iemand vroom is? Dalk het jy al gehoor dat iemand se vroomheid skynheilig is. Piëtisme of spiritualiteit word baie keer as sinonieme vir vroomheid gebruik.

Wat is vroomheid regtig? Luther het reeds in sy tyd standpunt ingeneem teen die Roomse beskouing van vroomheid in die Middeleeue. Gedurende die Middeleeue het die Roomse Kerk op uiterlike vroomheid gefokus. In daardie tyd was vroomheid op die uiterlike gerig. Mense het deur hulle uiterlike handelinge en deur uiterlike seremonies ander probeer beïndruk met hulle uiterlike vroomheid. Dit het onder andere ingehou dat jy op ‘n sekere manier gepraat, geloop en gelyk het.

Vir Luther het vroomheid nie oor die uiterlike gegaan nie, maar juis oor die verinnerliking van die gelowige se leefwyse voor die Here. Vroomheid verwys dus na die innerlike ervaringskant van die geloof in die Drie-enige God. Vroomheid fokus op die gelowige se lewe voor die aangesig van die Here. Dit fokus op die bewustelike lewe voor die aangesig van die Here. Vroomheid gaan oor die lewe wat beleef word as ‘n “wandel-met-God”.

Wanneer die gelowige in sy hart (innerlik) opreg voor die Here lewe, sal die vroomheid ook sigbaar word in die uiterlike handel en wandel van die gelowige. Vroomheid hou in om deurentyd bewus te wees dat ek voor die aangesig van die Here lewe. Ja ek weet dat die Here altyd by my en met my is. Elke oomblik van die lewe, op elke lewensterrein, in voorspoed en teëspoed, ervaar die gelowige die realiteit van die Here se teenwoordigheid. Innerlike vroomheid hou verder in dat ek deurentyd bewus is dat ek in diens van die Here staan.

Mag jy groei in jou verhouding met die Here (innerlik) en mag jou innerlike vroom-heid, jou lewe in en deur Jesus Christus, sigbaar word in jou lewe, in jou woorde, dade en gedagtes.

Aan die Here alleen kom al die lof en eer in my lewe toe.

Ds Paul

« Older posts Newer posts »