Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Blogs (Page 46 of 50)

Die enigste ware roem

Gal 6:14 Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld.”

Paulus het in sy vroeër jare as ‘n Rabbi menslikerwys baie dinge gehad om oor te roem, Hy het bo die Jode van sy tyd uitgestyg vanweë sy fanatieke ywer om die kerk van die Here te vervolg, Gal 1:13,14. In Fil 3:1-10 lys hy waarop hy alles sou kon roem. Maar nou het Paulus tot bekering gekom en besef hy die mens het niks om op te roem nie. Alles is genade en ons genade is gesetel in die kruis.

Die kruis was in Paulus se tyd ‘n vervloekte, veragte dood en die uiterste voorbeeld van swakheid en skande. En tog het Saulus van Tarsus die krag van die kruis ondervind en Paulus die apostel geword. Die kruis was nou nie meer ‘n struikelblok vir Paulus nie maar die fondamentsteen van sy boodskap: “Christus het vir ons sondes aan die kruis gesterf en betaal.”

Paulus het besef dat die kruis Vryheid gebring het van homself, Gal 2:20, van die liggaam Gal 5:24 en van die wêreld Gal 6:14. Met die dood en opstanding van Jesus Christus is God se krag geopenbaar en aan ons gegee om vryspraak te kry van sonde en dood. Die vleeslike mens en selfs die wettiese gelowige blaas sy eie roem en ego vir wat hy/sy doen, bevredig sy aardse menswees en doen goed vir die wêreld. ‘n Ware Christen roem alleen in die genade wat ons ontvang het deur Jesus Christus se kruisdood en lewe volkome uit dankbaarheid.

Elkeen wat dan in Jesus Christus glo en Hom dien en aanbid is deel van die nuwe, ware Israel. Gal 6:16.

Daarom roem ons saam met Paulus in die kruis van Jesus Christus. Aan die kruis het Hy gesterf, betaal en in ons plek die vervloeking geword vir al ons sondes.

1 Kor_1:31

Daarom, soos daar geskrywe staan: “Dié wat wil roem, moet in die Here roem.”

Ds Gerrit

Die Dordtse Leerreëls

Na die Hervorming wat op 31 Oktober 1517 amptelik begin is deur Luther wat sy 95 stellinge teen die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker het, het daar weereens dwalinge ontstaan. Die Sinode van Dordrecht se bedoeling was om ‘n einde te bring aan die godsdienstige stryd wat die Remonstrante (Arminiane) teen die suiwer Bybelse leer gevoer het tov die uitverkiesingsleer.

Arminianisme het die uitverkiesingsleer verwerp en verkondig dat ‘n mens alleen gered kan word as jy glo maar dit hang van jou af of jy uitverkies is of nie. Dit was weer die leer van Pelagius (400 nC) wat geleer het daar is geen erfsonde nie, die mens het ‘n vrye wil en kan self kies vir sy saligheid of nie, daar is geen uitverkiesing nie maar slegs ‘n voorkennis by God en die dood is nie die gevolg van sonde nie.

Gomarus was die Kontra-Remonstrantse leier, ook voorsitter van die Sinode en onder sy leiding het die Sinode die Dordtse leerreëls opgestel. In hoofsaak handel die Dordtse Leerreëls oor die Predestinasie-leer of die Uitverkiesingsleer wat beteken dat God voor die skepping van die wêreld af al bepaal het wie eendag hemel toe gaan en wie nie. Die Kontraremonstrante verwerp die vrye wil van die mens wat bepalend is vir sy saligheid en die suiwer Bybelse siening word in vyf standpunte saamgevat (Calvinisme se standpunt):

  • Die totale verdorwenheid van die mens.
  • Die onvoorwaardelike uitverkiesing van die mens.
  • Die beperkte versoening.
  • Die onweerstaanbare genade van God.
  • Die volharding van die gelowiges.

Vir die volgende klompie Sondae gaan ons die Woord bring aan die hand van die vyf hoof-stukke van die Dordtse Leerreëls.

  1. Goddelike uitverkiesing en verwerping.
  2. Die dood van Christus en die verlossing van die mens deur sy dood.
  3. Die verdorwenheid van die mens, sy bekering tot God en die wyse waarop dit plaasvind.
  4. Die verdorwenheid van die mens, sy bekering tot God en die wyse waarop dit plaasvind (vervolg)
  5. Die volharding van die Heiliges.

Ds. Gerrit

God regverdig?

Jy moet eers gou die gelykenis van Jesus in Matteus 20: 1-16 lees. Die konklusie is dat die eienaar van die wingerd kan doen wat hy wil…

God is die eienaar van alles wat Hy gemaak het. Hy kies sy kinders uit en gee aan hulle die lewe deur Jesus Christus. Dit is sy genade. Hy het baie genade! Baie! Hy kan dit gee vir wie Hy wil, wanneer Hy wil. Hy is die almagtige, vrymagti-ge, soewereine en enigste God! Daarvoor loof en prys ons (en alles wat asem het) die Here!

Daar is mense van die kant van die ongelowiges wat dink dat God onregverdig is. Dit is te verstane. Hulle insig skiet net vér tekort. Dat daar egter gelowiges is wat dink dat God onregverdig is omdat Hy vir sommige red en ander nie, gaan mens se verstand te bowe. Ek as verloste word dus “onregverdig” behandel.

Mense raak jaloers op mekaar as jy soos die wêreld na dinge kyk. In die wêreld is dit net die vinnigstes wat wen, en die eerstes kry die trofee. By God werk dinge egter ‘n bietjie anders, of soms heeltemal anders, ja selfs soos teenoorgestel-des… Daarom eindig die gelykenis met die sg. absurde: “Die wat laaste is sal eerste wees, en…”

God is nie regverdig omdat Hy vir alle mense dieselfde gee of dieselfde kanse gun nie. Nee, as God in daardie opsig regverdig moes wees, sou Hy geen ander keuse gehad het as om ons almal in die helse vuur te gooi nie. Ek glo nie dit is wat jy wil hê moet gebeur nie.

God is regverdig in die sin dat Hy geen sonde het of doen nie, en dit ook nie kan aanvaar nie. Hy kan wel daarmee ‘n plan maak, want Hy is soewerein (kan doen wat Hy wil). Hy het sy Seun gegee as die plan vir die wegneem van sondes en daarom vergewe Hy om-Christus-wil telkens weer.

Gaan aan die Nagmaal met die wete dat jy ‘n regverdige God dien. Die nagmaal-tekens is simbole van die plan wat Hy gemaak het om ‘n einde te maak aan son-de en straf.

Ds Maarten

2019

Elke nuwe jaar bring nuwe uitdagings, nuwe geleenthede in jou lewe. Dit begin by kinders wat gebore word, kinders wat skool toe gaan, universiteite toe gaan, gaan werk, verlowings, troues, nuwe werke, werksuitdagings, aftredes, sterftes. Elke jaar hou nuwe sake in vir elke mens. Party is lekker en party is nie lekker nie.

Dan is dit ook so dat baie mense nuwejaarsvoornemens het, dit omdat ons as mense die ewige optimiste is met hoop of vertroue dat dit beter sal gaan of soms nie. Nuwejaarsvoornemens word na skatting, in meer as 90% van die gevalle, nie volhou nie. Dit is tog of mense vandag al versigtiger raak met nuwejaarsvoorne-mens omdat die praktyk dikwels wys dat dit net nie volgehou word nie.

Hoe moet ons as Christene oor 2019 dink?

In die eerste plek moet ons altyd onthou dat God se wil sal geskied. God se Raadsplan staan vas. God is van ewigheid tot ewigheid die enigste, ware, lewen-de, getroue Verbondsgod. Wat God bepaal het sal gebeur. Ook wat God toelaat sal gebeur.

Daarom moet ons eerstens oor ‘n nuwe jaar dink as ‘n nuwe geleentheid om steeds in diens van God te staan, tot Sy eer en tot Sy verheerliking. As ons eer-stens dink aan God se wil dan is dit sekerlik die opsomming van die wet wat ons lees in Mat 22:34-44. Dit gaan oor die liefde vir God en die liefde vir ons naaste. Liefde moet met die daad bewys word. Daarom moet ons God dien met alles wat ons is en het.

Om Hom te dien is om aktief Hom te loof en te prys, om aktief te bid, om aktief deel te wees, meelewend te wees met die kerk om myself met alles wat ek is en het aan God toe te wy. Paulus gee ‘n baie goeie opsomming van wat God vir ons wil en wat God van ons verwag in 1 Tes 5:16-24. Mag ons almal onsself opnuut voorneem om ons hele lewe aan God te wy, sodat God meer sal word in ons lewens en ons minder. Joh 3:30

Ds Gerrit

Ons het nie krag nie!

Die krag het nou-net afgegaan. Ek bel die bure. Ja, hulle krag is ook af. Ek bel nog iemand in ‘n ander deel van die dorp. Hulle het ook nie krag nie. En daar sit ons nou met die halfgebakte pere. Die radio wat gelukkig met batterye werk laat hoor so ‘n uur of wat later van die kragkrisis. Eskom het probleme. Almal het nou probleme: ons het nie genoeg krag nie! Dit dreig om ‘n nasionale krisis te word, al sê die minister ook wat.

Skielik besef ek hoe afhanklik ons geraak het van iets wat ons as vanselfsprekend begin aanvaar het. Jy druk mos net ‘n knoppie, en siedaar… die ligte werk! Nooit gedroom dat ons weer in donker Afrika sou wees nie. En nou is dit so. Ons krag is te min. Gereeld sal ons sê: Ons het nie krag nie. Laat my toe dink hoe ons eintlik as mense ook maar nie krag het as dit nie van bo gegee word nie! Ons lewenskrag kom immers nie uit onsself nie. Eintlik is ons maar “net kleipotte wat maklik breek… die krag wat alles oortref kom dus van God, nie van ons nie” skryf Paulus (2 Kor 4:7). Krag wat alles oortref! In die voorafgaande verse gaan dit juis oor Christus wat in ons harte woon en daar skyn met die lig van die heerlikheid van God. Ons is “mense van die lig” omdat ons Christus het wat “die Lig vir die wêreld” is! In sy lig sien ons die lig (Ps 36:10). Deur sy krag en genade leef ons en beweeg ons en is ons!

Tog het ons al so in die gewoonte gekom dat die Here krag gee, dat ons dit ook maar as vanselfsprekend aanvaar het. Natuurlik gee God aan ons die nodige krag vir elke dag. Dit is sy genade. Juis in ons swakheid kom sy krag in ons beter sigbaar na vore. Dan kom al die eer ook Hom toe wat ons die krag gee. As ons te veel op eie krag sou staatmaak, dan maak Hy ons weer bewus van ons swakheid (deur beproewing of teenspoed) sodat ons kan bely: “As ek swak is dan is ek sterk” (2 Kor 12:10).

Ons het nie krag nie!

Ja, dit is waar die Here ons wil bring. Ons het self nie krag vir die lewe en sy aanslae nie. Uit daardie besef groei die gebed: Here gee ons krag! Gee vir elke dag die genadekrag wat ons nodig het. En vergewe ons as ons dit dikwels as vanselfsprekend aanvaar het. Ons prys U, want U is ons lewe! U gee krag na kruis. U skenk ons alles wat ons nodig het om te lewe en u te dien (2 Pet 1:3).

Al gaan die krag dus af. Vir my en my bure en ook vir u elkeen is daar krag by die Here te vinde… ja, ook hier in donker Afrika!

Ds Maarten

Betlehem – Het jy geweet?

Mense wat vandag Betlehem, die geboorte plek van Jesus, in Israel besoek, besef dat daar niks oorgebly het van die “oop velde” waar herders hulle skape laat wei het nie. Vandag is die hele gebied toegebou en val Betlehem sedert 1995 onder die administrasie van die Palestyne. Dit is ‘n gebied wat oorstroom word deur toeriste, busse en motors. Oor die plek (‘n grot) waar Jesus sogenaamd gebore was, is vandag ‘n kerkgebou. Drie godsdienstige groeperinge span saam om die kerk wat oor die sg geboorteplek van Jesus gebou is, te bestuur. Betlehem was eintlik maar net ‘n gehuggie in die tyd van Dawid en selfs met die geboorte van Jesus. Betlehem se ontstaan gaan vermoedelik sover terug as ongeveer 1400vC.

Die naam Betlehem beteken in Hebreeus “huis van brood” en in Aramees “huis van vleis”. Daar is geleer- des wat meen die stad is oorspronklik vernoem na die Kanaänitiese vrugbaarheidsgod, “Lehem”. Betle- hem is ongeveer 10 kilometer Suid van Jerusalem geleë.

In die Bybel word daar die eerste keer na Betlehem verwys in Genesis 35:19 (sien ook Genesis 48:7) wat oor Jakob se vrou, Ragel, se graf gaan. Rigters 19:1 verwys na die Leviet wat vir hom ‘n byvrou uit Betlehem in Juda gevat het. Rut 1:1 verwys na Elimelek en sy vrou Naomi wat agv hongersnood uit Betlehem na Moab vertrek het. In 1 Samuel 16:13 word Dawid tot koning gesalf en in 1 Samuel 20:6 word daar na Betlehem as die familiewoongebied van Dawid verwys. Dit hou dan ook in dat hy daar gebore is. 2 Kronieke 10:6,11 en 12 vertel van Rehabeam wat onder andere Betlehem herbou en versterk het. Esra 2:21 vertel dat daar 123 balinge na Betlehem terug gekeer het. Lukas 2:4 vertel ook van Josef en Maria wat na Betlehem gegaan het om te registreer as afstammelinge van Dawid. In Johannes 7:40 – 42 word vertel van die meningsverskil onder die Jode oor Wie Jesus is. Omdat Jesus in Nasaret in Galilea groot geword het, het van hulle gemeen dat Hy nie die Christus kon wees nie, aangesien die Skrif (Miga 5:1) sê dat die Christus uit die nageslag van Dawid en uit Betlehem sou kom.

Betlehem was vernietig in die 2de eeu nC. Die stad is na bewering herbou onder aansporing van Konstantyn die Grote se ma, Helena. Sy het na bewering die opdrag in ongeveer 327 nC gegee dat ‘n kerk (die kerk van Nativiteit – dit beteken: oorsprong of geboorteplek van Jesus) oor die sogenaamde grot waar Jesus gebore is, gebou moes word. Die kerk was in ongeveer 529 nC deur die Samaritane erg beskadig en is toe weer daarna herbou.

Van 637 nC tot ongeveer 1099 is Betlehem deur die Moslems beheer. Die kerk het verval en is weer in die 16de eeu nC deur die Ottomans herbou. Gedurende 1948 het Betlehem onder die beheer gekom van die Jordaniërs. In 1967, in die sesdagoorlog, het Betlehem weer onder die beheer gekom van Israel. Betlehem se meeste inwoners is tans Moslems. Daar is egter ook ‘n sterk Palestynse Christelike gemeenskap. Vandag word Bethlehem veral gedurende die kersseisoen deur Christen pelgrims oorstroom.

Gelukkig gaan dit nie vandag meer oor Betlehem nie. Betlehem herinner ons wel vandag nog aan die Here wat sy beloftes in stand hou en dat Hy die Here van redding en genade is.

Ds Paul

« Older posts Newer posts »