Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Blogs (Page 45 of 50)

Christelike perspektief oor die verkiesing op 8 Mei 2019

Op Woensdag 8 Mei 2019 vind die sesde sg demokratiese algemene verkiesing in ons land plaas. Tot op datum het die ANC die land met ‘n volstrekte meerderheid regeer. Al hoe meer onrus en verdeeldheid in eie geledere het meegebring dat die sekerheid van die ANC se beheer begin verkrummel. Korrupsie, swak ekonomiese omstandighede, die swaard van grondonteiening en ander sake raak ook elke Christen in die land. Daarom is dit goed dat elke gelowige hom of haarself voor die Here afvra oor sy verantwoordelikheid om te gaan stem.

Daar word gereken dat daar amper 27 miljoen kiesers is wat geregistreer is en ongeveer 9 miljoen mense wat nie geregistreer het vir die verkiesing nie. Daar word volgens die statistieke in Suid-Afrika bereken dat tussen 70% tot 80% van ons land se inwoners Christene is. Sou dit waar wees, dan wonder ‘n mens of hierdie groot getal Christene met hierdie verkiesing ‘n verskil kan maak met die verkiesing van die leiers van ons land?

Ons bely dat die Here die regeerders oor ‘n land daarstel. Romeine 13 vra dat ons ons aan die owerheid van die dag sal onderwerp insover dit reg en billik volgens God se Woord is. In die Nederlandse geloofsbelydenis Artikel 36 bely ons onder andere dat die Here ‘n owerheid daarstel om te sorg vir goeie orde sodat ons as Christene in alle gods-vrug en eerbaarheid ‘n rustige en stil lewe kan lei (1 Timoteus 2:2).

Ons sien dit ook as die taak van die owerheid om te verseker dat die Woordbediening beskerm sal word. Die owerheid se taak is volgens die Woord van die Here om verder die geleentheid te bevorder vir die verkondiging van die Woord sodat God deur elkeen in ons land geëer en gedien sal word soos Hy dit in sy Woord beveel.

Mag dit wees dat die Here jou lei in die tyd om biddend te vra vir die leiding van die Heilige Gees. Mag dit wees dat ons werklik gelowig die Here sal vertrou om leiers te laat aanwys wat in alle trou en eerbaarheid rentmeesters sal wees voor die Here. Mag ons bid vir die regeerders en leiers in ons land dat hulle in gehoorsaamheid aan die Here, ons sal regeer.

Ds Paul

Die genade van die nagmaalsgebruik

Jesus Christus het in die nag waarin Hy verraai is brood geneem en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis.” Net so ook die beker na die ete met die woorde: “Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit so dikwels as julle daaruit drink tot my gedagtenis.”

(1 Kor 11:23-28)

Jesus Christus het met ’n spesifieke doel aarde toe gekom en dit is om met sy liggaam en sy bloed te betaal vir ons sondes. Deur Jesus Christus se dood het daar vir ons versoening met God gekom. Jesus Christus het al ons sondes en oortredinge op Hom geneem en aan die kruis gesterf. Dit het Jesus gedoen in opdrag en gehoorsaamheid van God sy Vader. Dit was verskriklik om as sondelose mens, die hele mensdom se sondes op Homself te neem en die vervloekte kruisdood te ondergaan. Hy het in ons plek gesterf en is in ons plek gekruisig.

Wat ’n groot genade is dit nie vir ons nie. Daarom het ons die heerlike voorreg om gereeld die nagmaal te gebruik. Dit is so ’n groot genade dat ons dit nie eers ten volle kan verstaan nie. Maar God het dit uit sy soe-wereine genade aan ons geskenk. Die nagmaal is ook daar om ons te ver-sterk in ons geloof en stryd op aarde. Net soos wat enige mens moet eet en drink om jou liggaam te voed en krag te gee om te kan lewe elke dag, net so moet ons gereeld die nagmaal gebruik om herinner te word aan die groot genade wat God aan ons geskenk het.

Die nagmaal dien daarom ook as herinnering en geestelike versterking oor die geweldige daad van Christus waardeur ons verlossing ontvang het.

Die nagmaalsgebruik is daarom ’n geweldige vertroosting en versterking. Ons prys en loof en dank God vir die genade van die nagmaalsgebruik.

Ds. Gerrit

Vroomheid

Dalk het jy al gehoor dat iemand vroom is? Dalk het jy al gehoor dat iemand se vroomheid skynheilig is. Piëtisme of spiritualiteit word baie keer as sinonieme vir vroomheid gebruik.

Wat is vroomheid regtig? Luther het reeds in sy tyd standpunt ingeneem teen die Roomse beskouing van vroomheid in die Middeleeue. Gedurende die Middeleeue het die Roomse Kerk op uiterlike vroomheid gefokus. In daardie tyd was vroomheid op die uiterlike gerig. Mense het deur hulle uiterlike handelinge en deur uiterlike seremonies ander probeer beïndruk met hulle uiterlike vroomheid. Dit het onder andere ingehou dat jy op ‘n sekere manier gepraat, geloop en gelyk het.

Vir Luther het vroomheid nie oor die uiterlike gegaan nie, maar juis oor die verinnerliking van die gelowige se leefwyse voor die Here. Vroomheid verwys dus na die innerlike ervaringskant van die geloof in die Drie-enige God. Vroomheid fokus op die gelowige se lewe voor die aangesig van die Here. Dit fokus op die bewustelike lewe voor die aangesig van die Here. Vroomheid gaan oor die lewe wat beleef word as ‘n “wandel-met-God”.

Wanneer die gelowige in sy hart (innerlik) opreg voor die Here lewe, sal die vroomheid ook sigbaar word in die uiterlike handel en wandel van die gelowige. Vroomheid hou in om deurentyd bewus te wees dat ek voor die aangesig van die Here lewe. Ja ek weet dat die Here altyd by my en met my is. Elke oomblik van die lewe, op elke lewensterrein, in voorspoed en teëspoed, ervaar die gelowige die realiteit van die Here se teenwoordigheid. Innerlike vroomheid hou verder in dat ek deurentyd bewus is dat ek in diens van die Here staan.

Mag jy groei in jou verhouding met die Here (innerlik) en mag jou innerlike vroom-heid, jou lewe in en deur Jesus Christus, sigbaar word in jou lewe, in jou woorde, dade en gedagtes.

Aan die Here alleen kom al die lof en eer in my lewe toe.

Ds Paul

Gewete

Wie het nie al geworstel in sy hart?

Moeg gewroeg en hartseer?

Die gewete wat jou agtervolg!

Die onsigbare oog wat jou vervolg!

Gewete is goed as jy reg doen,

maar is hard op jou as jy verkeerd doen.

Vanuit die hart die daad,

of dit reg of verkeerd is.

Gewete volg jou soos ‘n skaduwee.

Dit is die onsigbare oog wat jou dophou.

Getuie op jou voetspoor…

Dit kyk of jy nie ontspoor.

My gewete soek na kennis en vertroue.

Waar het ek verbrou?

Watter plek het ek gebou?

Met die gewete word gevra na goed en kwaad.

Die gewete in God is om saam te weet.,

geanker om nie gewetenloos te wees.

God moet my bewaar van gewetenloosheid,

Om nie te handel in liefdeloosheid.

In die gewete word gegroei na God’s beeld.

Wanneer sal ek dit bereik?

Wie sal bepaal die rus is finaal klaar?

Net God weet, geloofd sy God!

Dr Kobus Erasmus (Predikant van die Gereformeerde kerk Volksrust)

Loof en dank

Lof is ʼn ander woord vir “om vir God dankie te sê”. Aanbidding is om God te erken vir wie Hy is; lof is om Hom dankie te sê vir wat Hy in jou lewe doen.

Ja, dit is om te erken dat Hy in jou lewe besig is en dat wat daar gebeur van Hom af kom. As jy dus erken dat jou talente en jou gawes van God af kom en jy sê vir Hom dankie daarvoor, dán loof jy die Here. As jy vir die Here dankie sê dat jy gesond is en kan leef, dán loof jy Hom.

Dit beteken dat ons God op baie maniere kan loof. Ons kan stil op sy skoot gaan sit en net vir Hom daar dankie sê. Ons kan lekker luidkeels saam met ʼn orkes vir hom dankie sê vir sy redding en genade. Ja, glo dit of nie, ons kan selfs met stemmige orrelspel Hom heerlik loof. Dit gaan nie oor die manier nie, maar oor die opregte dankie sê.

Ons hoor partymaal na ʼn lekker singsessie dat iemand sê: “Ek het die Here nou lekker geloof”. Dit is goed om daarna lekker te voel, maar die groot vraag is nie of jy lekker gevoel het nie. Die vraag is of God lekker gevoel het.

Lof se doel is om Hom te erken vir wat Hy in jou lewe gedoen het. Dit sal vir God aangenaam wees. Maar kan ek nog die Here loof as dit swaar gaan? Waarvoor moet ek dan vir Hom dankie sê? Natuurlik kan jy God dan nog loof, al is dit net vir die voorreg om Hom te ken en te weet…

Hy sal jou nooit in die steek laat en jou ook nie bo jou kragte versoek nie. Soek dan jou krag in sy krag. Daaroor kan jy die Here vir seker loof.

Uit: Geloof in Aksie-Bybel

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika Loof die Here vir 160 jaar se genade!

Dit is vandag, 10 Februarie 2019, presies 160 jaar gelede wat ons geloofsvoorouers by Rustenburg biddend daartoe oorgegaan het om die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika te stig. Die diepste motief was en is nog steeds om ‘n kerk van die Here te wees wat die Woord van die Here voorop stel in alles wat ons doen, dink en sê.

Die Here het deur 160 jaar die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) instrumenteel gebruik om die boodskap van redding en genade in Jesus Christus uit te dra aan alle volke en tale in ons land en ook aan mense in lande buite Suid-Afrika.

Kyk ons terug, dan staan die GKSA daarvoor bekend dat hulle onvoorwaardelik aan die waarheid van die Woord vasgehou het. Wanneer daar in die kerkverband onrus of verskil bestaan het, is die vrede gevind deur die buig voor die gesag van die Woord van die Here.

Die GKSA het in die 160 jaar steeds reformerend gebly. Diep in ons harte bly dit staan om altyd te reformeer, terug na die Woord van die Here, nader aan die waarheid van die Woord van die Here.

Vele uitdagings en druk word tans van buite die GKSA beleef. So is daar druk van die kant van die regering en van sekere mense om te konformeer met die wêreldse standaarde en beskouings. Wetgewing in Suid-Afrika van die staat se kant om beheer en inspraak in kerke te probeer kry, is ‘n uitdagende saak. Die wettiging van lotery, aborsie op aanvraag, regstellende aksies, homoseksuele/lesbiese huwelike en moontlike grondonteiening is maar ‘n paar sake wat die lidmate van die GKSA mee gekonfronteer word.

Dan is daar ook druk en verskil wat binne die GKSA beleef word. So is daar onder andere vandag verskillende opinies oor die Bybelvertalings, oor die vrou in die amp, oor die nagmaalsgebruik, oor die sing van geestelike liedere bo en behalwe die Psalms en huidige Skrifberymings. Verder is daar ook groot kommer oor die dalende lidmaat getalle van gelowiges regoor die wêreld en veral in die GKSA.

Die GKSA het reformatories wonderlike groei en geleenthede beleef ten opsigte van die uitdra van die evangelie in Suid-Afrika en ander lande aan die mense wat nog nie tot geloof in die Drie-Enige God gekom het nie.

Mag die pad vorentoe vir die GKSA steeds wees:

  • Sola Scriptura – Die Bybel (Skrif) alleen
  • Solus Christus – Christus alleen
  • Sola Gratia – Genade alleen
  • Sola Fide – Deur die geloof alleen
  • Soli Deo Gloria – Aan God Alleen die Eer.

Ds Paul

« Older posts Newer posts »