Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Blogs (Page 44 of 50)

VADER

(Aramees: ABBA Grieks: Patēr)

’n Mens loop dikwels die uitdrukking “abba” raak in meer populêre geestelike geskrifte. Daarom is dit goed dat ons ’n slag dieper daarna kyk. Abba is die Aramese vorm van die Hebreeuse ‘ab’ en kom voor in die uitdrukkings ‘abi’ (“my vader”) en abba (“ons vader”). Ons vind dit ook in ’n titel, soos byvoorbeeld by rabbi’s, soos abba Gamaliël.

Volgens die woord abba se gebruiksgeskiedenis was dit oorspronklik net deel van ’n kindergebed. Die pa van die gesin sou dan aan sy kinders sê: Julle kan die aanspreekvorm Abba vir God gebruik solank julle nog kinders is, maar nie langer as julle volwassenes is nie, en dan feitlik uitsluitlik in kultiese en liturgiese verband van eredienste.

Volgens die Ou Testament kom abba baie min voor en is dit dan te verstane in die sin van die Hebreeuse ‘ab’ (vader). Dit is die vaderfiguur wat die familie konstitueer, die orde in die familie handhaaf, familielede beskerm en die taak het om hulle op te voed. Hy moet ook toesien dat die verbondsbepalinge nagekom word. Vir koning Dawid is God ’n Vader volgens 2 Sam 7:14: “Ek sal vir hom ’n Vader wees en hy sal vir My ’n seun wees.” God se Vaderskap van die skepping loop soos ’n goue draad deur die hele Ou Testament.

Die Nuwe Testament gebruik abba slegs drie keer, telkens in ’n noemenswaardige verband: een keer in die Markus-Evangelie en twee keer by Paulus in die briewe aan die Romeine en Galasiërs.

Gewoonlik word die Griekse woord vir Vader, patēr, gebruik, en nie Abba nie, maar in die beslissende en intense momente kry ons abba. Ons kan dus tot die gevolgtrekking kom dat Abba as aanspreekvorm vir God “gereserveer” is vir die besondere momente. Selfs wanneer Jesus aan sy dissipels se versoek voldoen om ’n eie gebed te hê, net soos die ander rabbi’s en hulle skole, gebruik Matt 6:9-13 en Luk 11:2-4 nie Abba nie, maar die gewone Patēr.

’n Mens sou dink dat Jesus aan sy groep dissipels die besondere toestemming sou gegee het en hulle selfs sou aanmoedig om Abba te gebruik. Trouens, Jesus sou later van laster beskuldig word omdat Hy God sy Vader noem. Dit bevestig net weer die vasgestelde gebruik dat die Jode uit respek vir God Abba vermy het. Wat wel uitstaan, is dat daar tussen Jesus wat Abba in sy lydensgebed gebruik en sy hemelse Vader ’n unieke verbintenis was. Dit herinner ons nogal aan die Griekse patria potestas wat die mag van ’n vader beklemtoon het in die tipiese Griekse familie.

In die Nuwe Testament kom die term vader (patēr) in ʼn godsdienstige sin 245 keer voor. God is die goeie Vader (Matt. 7:9-13) wat verstaanbaar net soos aardse vaders versorgend en beskermend optree. Hy is ook geestelike Vader (1 Kor. 4:14). Abba verskil wel deeglik van Patēr wat algemeen gebruik is. Die Evangelies (vgl. Markus) plaas Abba slegs in Jesus se intense oomblikke van lyding (vgl. Mark. 14:30) en die bedoeling is dat ons as Christene dit moet respekteer. God se vaderskap word wel in biologiese sin in die Ou Testament in Genesis 1:28 vermeld. Psalm 103:13 verklaar die volgende oor God se geestelike vaderskap: “Soos ’n vader hom ontferm oor kinders, ontferm die Here Hom oor die wat vir Hom ontsag het.”

’n Belangrike aspek van God se Vaderskap is die eskatologiese betekenis daarvan. Die Gees as eindtydse gawe van die Vader begelei gelowiges om deel te wees van die eindgebeure en God daarom met die grootste respek Abba te noem.

God is die Vader van die skepping (Ef. 3:14) en ook van die verlossing, deur sy Seun se kruisdood. Die natuurlike beeld van die vader in die Joodse en Christelike huishouding kom voor, maar eintlik is sy Vaderskap die oorsprong en onderhoud van die hele skepping. Sy Vaderskap het alle verskille tussen Jode en Grieke, tussen slawe en vryes en tussen man en vrou in die eindtydse perspektief geplaas (Gal 3). Deur Jesus het die Vader ’n nuwe geslagsregister van gelowiges as familie van die Vader begin. En dié register sluit aardse en hemelse familie in. God se Vaderskap, deur die intieme Abba te gebruik, bevestig sy koningsheerskappy vir tyd en ewigheid.

Daarom buig ons eerbiedig saam met Paulus in Efesiërs 3:14 “… voor die Vader van Wie elke geslag in die hemel en op aarde sy naam ontvang”.

Verkorte uittreksel: Die Kerkblad dd Okt 2018 – Prof Jan Du Rand

God ‘n ervaarbare werklikheid in my lewe

In 2 Timoteus 3:5 word daar gepraat van die krag van godsdiens. Wat is hierdie krag van ons diens aan die Here?

Elke gelowige wat in ware geloofsgemeenskap met die Here staan, sal kan getuig hoe die krag van die Heilige Gees elke dag en elke oomblik in sy of haar lewe ‘n werklikheid is.

Vir die gelowige is dit baie belangrik om daagliks die persoonlike gemeenskap met die Here te kan beleef. Juis in die tyd van ons lewe, word dit net meer en meer ‘n behoefte om die Here as ‘n ervaarbare werklikheid te kan beleef.

As jy voel dat jou lewe vreugdeloos, sinloos, vol vrese, woede en uitdagings is, is dit nodig om te bid dat die Here deur sy Woord en Gees vir jou ʼn daaglikse ervaarbare werklikheid sal wees. Dit is dan wat die krag van God, in ons diens aan die Here, ‘n heerlike werklikheid word.

Vra jouself gerus maar af wat is die werklikheid en selfs wenslikheid van die Here in jou daaglikse lewe? Die Here wat by my huis, by die werk, by die skool en op die pad vir my ‘n werklikheid is, ‘n ervaarbare werklikheid, sal kan getuig dat sy of haar manier van dink en doen totaal anders geword het.

Om die krag van godsdiens te kan ken en te ervaar, is dit nodig dat ons die Here sal ken en vertrou soos Hy Homself in sy Woord aan ons geopenbaar het. Juis die geloof in die Here, sal soveel stukrag en moed vir jou gee in die uitdagende tye in jou lewe.

Mag jy deur die Heilige Gees gelei word om vanuit jou persoonlike verhouding met die Vader, Seun en die Heilige Gees, die strome lewende water wat uit jou binneste vloei, te ken en te kan beleef.

Ds Paul

Gees, siel en liggaam: Wat is die verskil?

Kom ons begin by wat die Bybel sê oor die skepping van die mens. Ons lees daarvan in Ge-nesis 2:7: “Die Here God het toe die mens gevorm uit die stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens ‘n lewende wese (letterlik: “lewende siel”) geword het”. Hieruit kan ons die volgende afleidings maak:

Die mens is ‘n eenheidswese. Toe hy/sy gemaak is, is hulle tegelykertyd liggaam en siel gemaak. Ook uit Ps.139:13 is dit duidelik dat die mens ‘n eenheidswese van konsepsie af is.

•Die Bybel maak nie ‘n skerp skeiding tussen liggaam en siel, asof liggaam en siel twee “dele” is waaruit die mens bestaan, nie. Maar bedoel telkens die mens in geheel, as lewende wese. Net so ook praat die Bybel van “siel”. Vgl. Joh.10:11: “die goeie Herder lê sy lewe (letterlik: sy siel) af vir sy skape”.

•Al hierdie Skrifgedeeltes dui bloot aan dat dit nie voldoende (en volledig) is om te sê: ‘n mens het ‘n siel; of is ‘n siel nie. Net so ook: dat ‘n mens nie ‘n liggaam het of ‘n liggaam is nie.

•Die verste wat ons behoort te gaan is om te sê die mense lewe, en die lewe van die mens is sy lewe as liggaam en siel.

•Nog ‘n onderskeiding wat die Bybel ten opsigte van die mens maak (waarna jy vra), is “gees”. “Mag God… julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar…” (1 Tes.5:23). “Gees” wys egter ook nie op ‘n derde (ge)deel(te) van die mens nie, maar gee ‘n beskrywing van die wyse waarop die mens (as liggaam en siel) bestaan. Lees 1 Kor 2:10-12

•Hierdie eenheid (van liggaam en siel) word verbreek slegs by die dood, as gevolg van die skeiding van liggaam en siel. Die siel word onmiddellik deur God geoordeel en verkeer in die “doderyk” – vir gelowiges is dit by God in die (voorlopige) hemelse saligheid (wat die “finale” bestaanswyse van die gees van die mens is (Pred.12:7). Vir die ongelowiges is dit in die (voorlopige) helse smart (Luk.16:22-23). Met Jesus se wederkoms sal al die grafte oopgaan en die liggame opstaan en weer met die siel herenig word (Fil.3:20-21; 1 Tes.4:16-17). Hoe dit presies gaan gebeur, is die Bybel nie duidelik oor nie. Dit bly ‘n goddelike misterie, wat ek met verwagting en vreugde afwag.

Ds Charl van Rooy

Bron: http://www.gkrandburg.org.za/gesprekskamer/lysvrae/579-verdudelik-asb-of-ons-uit-liggaam-siel-en-gees-bestaan

DIS WEER VERKIESINGSTYD

Die vraag kan gestel word of Christen-gelowiges aan ‘n staatkundige bestel se verkiesings behoort deel te neem en daaraan mee te doen, terwyl daardie bestel se waardes en norme direk indruis teen die Christelike norme en belydenis. Wat se eer is daar vir God deur Christe-ne se deelname aan of instemming met ‘n humanistiese (mensgerigte) bestel? Oorwegings van bloot sekulêre en politieke aard geniet blykbaar voorkeur. ‘n Pragmatiese benadering vir die bevordering van belange word nagestreef deur deelname aan die verkiesing. Dit hoort egter nie so nie. Jesaja 65 : 12 sê iets van so ‘n situasie: “Julle het gedoen wat verkeerd is in my oë, julle het gekies vir wat My nie aanstaan nie.

Die Woord van God is baie duidelik omtrent die beginsels wat vir ons daaglikse lewe en ons menslike aktiwiteite behoort te geld. “Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God” (1 Kor 10 : 31). As dit dan in die gewone dinge so belangrik is, hoeveel te meer in belangriker sake, soos byvoorbeeld verkiesings? Dit is die vraag wat elke opregte Christen-gelowige ten opsigte hiervan moet beantwoord.

Natuurlik kan ons leef en werk in enige vorm van staatkundige bestel, ook in die huidige. Maar kan ons as Christene ‘n humanistiese bestel ondersteun, propageer, bevorder en daarin opgaan? Nee, dit mag nie! Dit is in sekere sin vyandskap teen God en sy koninkryk, al is dit op ‘n indirekte wyse. Dan moet ons maar liewers die gevolge dra, soos wat dit tans op elke lewensterrein sigbaar is en daagliks aan die lyf gevoel of ervaar word. So verklaar Hosea 5 : 11 dan ook: “Efraim is verdruk, verbreek deur die oordeel; want dit het hom behaag om na die gebod van mense te wandel” (Sien ook: Ps 146 : 3; Jer 17 : 5; Jes 2 : 22).

Die euwels (bv aborsie ens) van die huidige bestel word egter gewettig en as goed en reg verklaar op grond van daardie einste Grondwet waarvoor talle Christen-gelowiges in April 1994 gestem het. Toe was daar geen beswaar of teenkanting vanuit die kerklike gemeenskap of van die geestelike leiers teen die liberaal-humanistiese waardestelsel wat deur middel van die nuwe Grondwet gevestig sou word nie – inteendeel!

Nou is die tyd ryp vir deeglike besinning. Duidelike en sterk standpuntstelling is dringend noodsaaklik vir elke Christen-gelowige in ons land. Dan kan daar begin word om die sogenaamde “morele krisis” aan te spreek. ‘n Verknogtheid aan ‘n politieke party en sy beleid is hier onvanpas want dit belemmer ‘n onbevange besinning en verhinder ‘n suiwere beginsel-standpunt en -formulering.

Kom, laat ons dan in die geloof en getrou aan Gods Woord, vreesloos die regte pad loop. Die tyd is min, die verantwoordelikheid is groot en die gevolge is ernstig.

Marius Coetzer (Kerkpad)

WAAROM WAG?

Ons leef in die tyd waarin ons in besonder dink aan die uitstorting van die Heilige Gees. Het jy al gewonder waarom die Heilige Gees eers 10 dae na die hemelvaart uitgestort is? Waarom moes die dissipels 10 dae wag op die vervulling van die belofte van Jesus Christus volgens Johannes 16:7?

Die uitstorting van die Heilige Gees is een van die wonderlike gebeurtenisse wat in die Bybel verhaal word. Die Heilige Gees het gekom om altyd by ons te wees. Om hierdie wonderlike gawe te kon ontvang, was dit nodig dat die dissipels moes wag om ‘n paar dinge te leer.

Ons kan ons nie werklik indink wat in die gemoedere van die dissipels die voorafgaande tyd afgespeel het nie. Die een oomblik was Jesus nog hier op aarde. Hulle het gesien en gehoor en ervaar wat Jesus alles hier op aarde gedoen het. Dan die skok van die gevangeneming van die Here Jesus. Binne enkele ure die verhoor en die kruisiging van hulle Here en Meester. Binne drie dae van verslaentheid, die opstandig van Jesus uit die dood. Dan die 40 dae wat Jesus nog op die aarde is en dan die hemelvaart.

Hierdie tyd van wag was tyd van gebed en voorbereiding op die koms van die uitstorting van die Heilige Gees (Handelinge 1:4). Die wag hou in dat die Here hulle voorberei het om sy getuies te wees, om met oorgawe en vertroue die Here te kan dien. Die wag het ingehou dat hulle die gebeure van die afgelope tyd kon verwerk en werklik tot verstaan kon kom oor wie Jesus Christus werklik is en wat hulle opdrag was.

Mag jy nadink oor die tyd van afwagting wat die dissipels deurgegaan het tot met die uitstorting van die Heilige Gees. Mag jy ook leer om op die inwerking van die Heilige Gees te wag. Mag jy leer om te wag op die uitkoms en troos en bemagtiging van die Heilige Gees ook in jou eie lewe.

In Johannes 16:8-15 sê Jesus dat wanneer die Heilige Gees kom, dan sal Hy bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde, en dat die reg aan Jesus Christus se kant is, en dat die oordeel al gekom het. Die Heilige Gees sal die dissipels help om te verstaan dat die wêreld skuldig is aan sonde. Die dissipels sal sien dat die wêreld nie in Jesus Christus wil glo nie.

Verder hou wag op die koms van die Heilige Gees in dat die dissipels werklik die ware waarheid sal leer ken en verstaan. Die wag hou in dat hulle gereed is om dit wat deur die Heilige Gees verkondig is, te glo omdat dit van die Vader en die Seun af kom. Hy sal die dinge wat nog gaan kom, aan hulle verkondig. Hy sal Jesus Christus verheerlik in alles wat deur Hom aan ons geopenbaar is. Alles wat die Heilige Gees van Jesus Christus ontvang het, sal Hy aan hulle verkondig. Daarom was die wag die geleentheid om te verstaan, te glo en te gaan doen. Vanuit die uitstorting van die Heilige Gees kon die dissipels volhardend en met oortuiging die blye boodskap van redding en genade aan die wêreld uitdra.

Ds Paul

Om werklik op God te vertrou

Om op God te vertrou, ten spyte van die menslik onmoontlike, is werklike vertroue. Twee Sondae gelede het ons ‘n verootmoedigingsdag gehad. Ons het ons voor God verootmoedig oor ons sondes, die droogte en die onrus in ons land. En alhoewel ons besig is om die winter in te gaan het dit hier in ons omgewing BAIE goed gereën. Daar het ook goeie reëns oor groot dele van die land geval. Is dit toevallig of is dit geloofsvertroue dat God sal voorsien op sy tyd? Verseker is dit God wat voorsien.

Ons moet ook weet dat God droogte gee. Dit bely ons in Sondag 10 oor die voorsienigheid van God. “Die almagtige en oralteenwoordige krag van God waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer dat lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede en alles ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom.”

Ons lees dat Abraham werklik op God vertrou het. Rom 4:19 “Al was hy so-wat honderd jaar en al het hy dus goed besef dat sy liggaam reeds gedaan was en dat Sara te oud was om kinders te hê, het sy geloof nie verswak nie.”

Abraham het nie getwyfel in sy geloof nie. Abraham was eerder “ten volle oortuig dat God ook die mag het om te doen wat Hy beloof het” Rom 4:21.

God is getrou. God kan nie ontrou wees teenoor Homself of teenoor ons nie. God se beloftes is altyd waar. God sal vir ons sorg. God sorg nie altyd soos wat ons dit wil hê nie, maar Hy sorg soos wat Hy dit in Sy Raadsplan bestem het. Ons moet net bly glo, bly bid, bly vertrou, bly werk en dan kan ons verseker wees dat God altyd sorg, want Hy is barmhartig en genadig. ‘n Latynse spreekwoord leer: “Ora et labora.” dit beteken, “Bid en werk.” God sal voorsien.

Prys die Here!

Ds. Gerrit

« Older posts Newer posts »