Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 199 of 344)

Die evangelie is ‘n ope GEHEIM…

Alle mense het geheime. Baie geheime. Daar is geheime familie-resepte, geheime doepas, geheime plekke en geheime wat net jy in jou hart bewaar… Wat is jou diepste geheim? 

Dink maar net wat sal gebeur as jou geheim uitkom? Sal jy kwaad wees of ongelukkig of teleurgesteld? Want nou is jou geheim nie meer kosbaar nie. Jou geheim is nie meer geheim nie. Dit is nie meer iets spesiaal wat niemand anders weet nie. 

As kinders het ons baie keer geheime wat jy met net jou beste maat deel. As jy en jou maat kwaai vriende raak, dan vertel jy soms, of andersom, sommer daardie geheim vir almal om jou maat te na te kom. 

Met die Bybel is dit nie so nie. Die Bybel is ‘n ope geheim. En dit is nogal ‘n snaakse manier om daaraan te dink. U sien, die boodskap van die Bybel is oop vir enige iemand om dit te lees. Maar nie almal wat dit lees, verstaan wat dit beteken nie. Nie almal glo die boodskap nie. Daarin lê ‘n misterie… In die werk van die Heilige Gees. 

Die boodskap van die Bybel is ‘n blye boodskap van vergifnis en vrede en innerlike blydskap. Dit is ‘n belofte wat ons nou alreeds kan ontvang in ons harte, maar wat ons met ons hele lewe op vertrou – ‘n hoop op die toekoms. Dit word verseker en bevestig deur die werk van die Gees en die bewys van ons dade en woorde… 

Hierdie boodskap van Hoop is in Christus. Dit is die ware geheim van die lewe. Dit is Christus self. Hy is ons HOOP. Dit is die geheim wat ons in ons harte bewaar, maar ‘n geheim wat ons ook met ander MOET deel. Moenie die geheim van Christus net vir jouself hou nie! 

Onthou ook om nie jou hartsgeheim van jou verlossing weg te steek of daarvan te vergeet nie. Moenie vergeet van die hoop wat ons het in Christus nie, nee, laat die geheim van jou hart ook vir die wêreld sigbaar word. 

Lourens (vdm) 

Missio Dei

Skriflesing: Openbaring 1:1-3 
Teksvers: Openbaring 1:1-2 

Ons word soms so maklik mislei deur opskrifte wat nie in die Bybel staan nie. Dink bv. aan die Bybelboek Openbaring wat algemeen bekend staan as die Openbaring van Johannes. Tog staan daar iets heeltemal anders in die eerste verse: die Openbaring van Jesus Christus… 

Ons wil vir die volgende paar weke fokus op die Sendingsopdrag soos dit deur die Skrif aan die lig kom met betrekking tot ons taak as kerk om sending te doen en bo dit alles, die ware Sendeling, God self. God stuur Jesus Christus om te openbaar wat gou gaan gebeur, deur die sending van die engel, wat aan Johannes te kenne gee, wat aan sy diensknegte bekend maak. 

Dit is die Sending van God, die Missio Dei. Amen 

« Older posts Newer posts »