Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 198 of 328)

God beproef ons met die brood wat ons eet

Skriflesing: Eksodus 16:1 ev 
Teksvers: Eksodus 16:4 
HK Sondag 50

Daar was om en by ‘n miljoen Israeliete wat uit Egipte getrek het, wat heel tereg gewonder het waar gaan hulle kos vandaan kry. Wat vir ons onmoontlik is, en ons finansieel sal ruïneer, om vir ‘n miljoen mense vir 40 jaar elke dag kos te gee, is vir die HERE voor die hand liggend… 

Hy gee aan sy bemindes wat hulle nodig het in die slaap. 

Hierdie woorde, waarmee ons Here Jesus ons leer om te bid, gee ons vandag ons daaglikse brood, is geweldig moeilik in ons huidige omstandighede. Dit voel byna onmoontlik om in te sien waar ons “brood” vandaan gaan kry. 

Ons staan vanaand stil by die HERE wat ons beproef in die brood wat ons eet.

Amen

Laat ons die wedloop met volharding hardloop

Skriflesing: Heb 12:1-4; 1 Kor 9:24-27 
Teksvers: Heb 12:1-3 

As Paulus vandag geleef het, sou hy heel waarskynlik die sport-bladsye van die koerante elke dag gelees het. Want in baie van sy briewe gebruik hy die beeld van atlete, wedlope, oorwinning en hoe ‘n wedloop gehardloop moet word. 

In ons teksverse skryf hy juis ook hoe ‘n atleet met volharding ‘n wedloop moet hardloop. Is jy besig met die geloofswedloop. Hierdie is nie ‘n fisiese wedloop nie, maar ‘n geloofswedloop. Dit het baie raakelemente met ‘n gewone wedloop maar verskil ook baie. 

Maar daar is een groot gemeenskaplike faktor, VOLHARDING. Ons kan ook volharding vertaal met blydskap, aanhoudende volharding, om met blydskap nie op te hou om te probeer nie. 

Is REG regtig reg?

Wanneer is dit wat reg is, nie eintlik meer reg nie? Dit is die vraag op so baie van ons se harte. Die inperking het lankal reeds ‘n onmeetbare tol ge-eis. En niemand van ons weet hoe lank ons nog so sal kan of moet aanhou nie. Dit voel soms soos ‘n nagmerrie maar niemand wil jou wakker maak nie. Want dit wat verkeerd is, is reg en dit wat reg is, is verkeerd. 

So wat is die regte ding nou werklik om te doen? Dit is asof ons nie eintlik meer weet nie. Asof die lyne tussen reg en verkeerd heeltemal vervaag. Want dit wat jy dink reg is, is nie eintlik meer reg nie. 

Dit wat jy jou lewe lank glo, en dit waarvan jy oortuig was, om God te aanbid in die erediens, het ‘n oortreding geword en wek onsekerheid. Dit wat ons die meeste vrede en berusting en vreugde moet gee, het nou ‘n vrees geword waarin ons onveilig voel. 

Dan besef ons ook dat woorde en wette soms net oë-verblindery kan wees. Soos die opskrif, kan die woordorde en die klemverskuiwing soms ‘n wêreld se verskil maak. Die woordjie reg vorm op so baie maniere deel van ons woordeskat. Regtig – Dit wat waarlik so is. Regverdig – Om reg op te tree teenoor verskillende partye. Geregtig – Dit waarop jy kan aanspraak maak. Voorreg – Iets wat jy geniet sonder enige ver-dienste. Gereg – Die wetlike owerheid (of iets wat jy kan eet)… Regsinnig – Iemand wat reg dink. Ens. 

Sondag 23 van die Heidelberger vra drie vrae wat hierop gemik is: 

1. Wat is die waarde van jou geloofsbelydenis? 

2. Hoe is jy regverdig voor God en 

3. Waarom kan jy alleen deur die geloof regverdig wees. 

Die antwoorde op hierdie vrae help ons ook om te verstaan hoe om te onderskei wat regtig reg is. Want die waarde van jou geloof is dat jy in Christus geregverdig is, en ‘n erfgenaam is van die ewige lewe. Hierdie regverdiging kom alleen deur die geloof. 

Dan word die antwoord tog so duidelik: Die regverdige deur die geloof, sal lewe. 

Lourens (vdm) 

« Older posts Newer posts »