Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 194 of 328)

Daar is blydskap in die hemel oor elke-een wat sy geloof bely!

Skriflesing: Luk 15:1-7 
Teksvers: Luk 15:7 

Belydenis van Geloof en Nagmaal 

Vanaand is daar groot vreugde… 

Eerstens is daar volwassenes wat belydenis van hul geloof doen en een wat gedoop word. Tweedens gaan ons as gemeente weer na ’n jaar die Heilige Nagmaal vier. 

Ons moet dit nie gering skat as mense wil deel word van die Kerk van die Here nie. Dit is so belangrik dat Jesus selfs in ’n gelykenis aan ons leer dat ons die nege-en-negentig ander skape moet los om die een te soek wat verlore is. Los beteken natuurlik nie in die wildernis nie, maar onder toesig en ordelik moet los. 

Daarom moet ons vanaand die Here opnuut loof en prys dat ons letterlik hierdie vreugde beleef om nuwe broeders en susters te verwelkom en die heilige nagmaal saam met hulle te vier. 

Die HERE is bly oor JOU!

Skriflesing: Sefanja 3:1-20 
Teksvers: Sefanja 3:17 

Die HERE wil ons harte bly maak. Hy wil hê dat ons vreugde vind in hierdie stukkende lewe. Maar ons veroorsaak soms ons eie smarte. Ons is so eiewillig en hardkoppig dat ons nie wil luister en doen wat die HERE ons leer wat vir ons goed is nie. Dink maar hoe Josia se hervorming gepoog het om die mense op te roep tot verantwoordelikheid sonder enige blywende gevolge. 

Die sonde is totaal destruktief. Dit vernietig alles. Daarom die belofte en vooruitsig: Op ‘n dag sal daar verlossing kom. Die HERE jou God is by jou, ‘n held wat verlossing skenk. Want Hy is bly oor JOU! Die HERE juig oor jou met gejubel. 

Deur God se oordeel oor die sonde kom daar verlossing. Dit is wat ons vandag gedenk. Almal saam. Verlossing in Jesus Christus. Die HERE is bly oor jou, vind jou vreugde in Hom… Amen

‘n GLOBALE EVANGELIE

Daar is ‘n baie groot verskil in die gelykenise van die verlore skaap en die verlore penning en die verlore seun. Die ooreenkoms gaan oor die feit dat wat verlore was gevind is. Dat wat dood was lewe. En daaroor is daar blydskap in die hemel! Die verskil is egter dat daar nie noodwendig blydskap op die aarde daaroor is nie! Die eerste verse van Lukas 15 gee immers die leidraad. Die hemel probeer die aarde tot ware blydskap oorhaal… maar hulle wil nie! 

Terwyl die groot gebod die liefde is, vind ons die groot finale opdrag van Jesus in sy globale visie vir die mensdom: Gaan dan na AL die nasies toe en verkondig… Maak mense uit AL die nasies dissipels van MY! Jesus Christus het sy kinders onder al die mense-soorte, en al die wêreldoorde. Hy sal weer kom as die Evangelie “aan AL die nasies verkondig word”. (Markus 13:10) Vroeër het ekself nogal gewonder hoe op dees aarde gaan ons dit regkry… AL die nasies? En nou met die pandemie het ons gesien dat in ‘n paar weke het almal die protokol van maskers en sanitering aangeleer… Al die nasies! 

Jesus Christus ons Koning en Verlosser is ook die een wat beheer het oor alle dinge, Ook die tegnologie behoort aan Hom. Alhoewel die bose die tegnologie misbruik en ons selfs tot sonde aanspoor, beteken dit nog nie dat die bose in beheer is nie. God het die duiwel toegelaat om baie tot sonde te verlei. Dit staan op die sondaar se eie rekening, en daarom kom die hemelse Regter om regverdig te oordeel. Aan die meer positiewe kant sien ek nou hoe die Here self alle nasies kan bereik met die Evangelie. Die tegnologie is ‘n magtige middel daartoe. Ons bronne wys byvoorbeeld dat ons Afrikaanse en Engelse eredienste wêreldwyd beluister en later afgelaai word: Afrika, Nederland, Italië, Amerika, Kanada, Australië, Nieu-Zeeland en selfs Saoedi-Arabië. Die getalle is soms selfs asemrowend. En dit is net ons gemeente. 

As ons dink hoeveel die lugruim (media en internet) tans gevul is met die ware evangelie van Christus, dan moet daar BLYDSKAP in ons harte kom! Daar moet ook blydskap op aarde kom, omdat God kan doen wat ons nalaat om te doen. Net soos by die drie gelykenisse is daar nie baie wat soek na verlore mense nie. Kyk mooi hoe soek die herder én die vrou na hulle verlore goedere. Maar niemand soek die verlore mens nie! God soek wel. Hy vind die seun by die varkhok. Hy lei hom na die Vader. 

Die vraag is dan of daar ten minste ook by jou die blydskap is dat daar mense die evangelie hoor op ander plekke as net in ons gemeente. Die Kommissie vir Evangelisering van ons gemeente lei ons om wyd en syd uit te reik. Bid vir die sending van God in en deur hierdie gemeente, en wees bly. Wees bly dat God doen wat ons nalaat. Anders sou die Here Jesus seker nooit kom nie. Nou wag ons met blydskap op sy koms, want Hy het gekom om te soek en te vind wat verlore is. Mag Hy ons en ons bedieninge gebruik en blydskap daagliks vermeerder!

Ds Maarten 

« Older posts Newer posts »