Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 193 of 344)

“Ek is die Helder Môrester!”

Die laaste “Ek is…” uitspraak in die Bybel. 

Lyk die toekoms vir jou duister? Wonder jy oor wat gaan van die land word? Wonder jy of jy jou kinders of kleinkinders in hierdie land moet grootmaak? Vrae en vrae en vrae… Positiewe antwoorde en negatiewe antwoord. 

Die toekoms is helder verlig! Ja dit is die belofte van die laaste “Ek is…” uitspraak in die Bybel. Jesus openbaar Homself as die helder Môrester. 

Miskien sien ons nie meer altyd die helder môrester nie. Maar ek het ‘n vriend wat ‘n melkery het naby Reitz in die Vrystaat. Elke oggend moet hy al vyfuur in die melkstalle wees. Die helder môrester is vir hom elke dag ‘n wonderwerk sê hy. Vir ons in die stad, sien ons nie meer die sterre gereeld nie en dit is ook soms dof vanweë die besoedeling, maar op die platteland is dit helder en duidelik. 

Wanneer sien mens die helder môrester? Wyle ds. Willem Vogel het dit so beskryf: (http://gkcachet.org.za/preke/2013-05-12-aand/) 

“Die môrester kom op wanneer die nag aan die verbygaan is. 

  • Die môrester skyn op sy helderste net voordat die dag breek. 
  • Die môrester sê dat die nag amper verby is en die nuwe dag amper daar is. 
  • Die môrester dien as ’n gids, ’n vaste punt. 
  • Die donker is besig om deur die lig vervang te word.” 

Jesus Christus openbaar Homself as die “HELDER MÔRESTER!” 

  • Ons lees alreeds dat die profeet Jesaja in Jes 9:1 geprofeteer het van die volk wat in donkerte geleef het, sal ‘n groot lig sien, wat hulle lewens sal verlig. 
  • Bileam het al geprofeteer in Num 24:17 dat “’n Ster sal te voorskyn kom uit Jakob.” 
  • Die Wyse manne uit die Ooste is in die nag van Jesus se geboorte deur ‘n ster gelei na Jesus toe. Mat 2:2 

Watter troos is dit vir ons? 

As daar lig is, kan daar nie duisternis wees nie. Die lig verwyder die duisternis. Nou dink ons die toekoms is dalk donker. Maar die toekoms word al ligter. Die Môrester, Jesus Christus skyn al helderder en duideliker vir ons wat Hom ken en wat gereed maak vir die wederkoms. Ons moet nie vaskyk teen die aardse stryd, waar die Satan die lig wil uitdoof nie, maar ons moet opkyk en die helder Môrester raaksien. Jesus Christus leef. Jesus Christus is besig om vir ons plek voor te berei in die hemel. Jesus Christus laat sy lig helder skyn vir almal wat Hom moet raaksien in die geloof. Daarom is ons nie bang nie. Daarom is dit nie donker nie. Dit is helder verlig vir elkeen wat Jesus Christus ken en in sy hart het.

Ds. Gerrit 

BY DIE HERE ALLEEN IS DAAR RUS EN VREDE

SKRIFGEDEELTE: Jesaja 55
TEKSVERSE: Jesaja 55: 8 & 9

Tydens hierdie gebeure in Jesaja 55:1-13 was die Israeliete (Juda) in die Babiloniese ballingskap. Hulle het na vrede en uitkoms gesoek deur hulle eie planne te probeer maak. Daarom spreek die Here hulle aan in sy bemoedigende woorde deur te vra waarom wil julle iets koop wat nie met geld gekoop kan word nie. Dit wat hulle soek, daardie innerlike honger en dors na vrede en rus, sal nooit deur hulle eie insette gestil kan word nie. Die HERE bied aan hulle die ware rus en vrede deur sy aankondiing van ‘n nuwe verbond met hulle.

Daar is egter ‘n verskil tussen die verbond wat die Here met Dawid aangegaan het en die nuwe verbond waarin die Here vrede vir alle volke bied wat opreg na die Hom smag. Die nuwe verbond is gesetel in Jesus Christus, vol genade en onverdiend en in ‘n sekere sin ook ongevraagd. Die Here gee aan die opregte soekers na die Here, sy Gees wat hulle sal leer en lei tot volle vertroue en oorgawe aan die Hom.

Die Here kom om deur hierdie gebeure ons te leer dat die Here se gedagtes en sy paaie nie vir ons altyd verstaanbaar is nie. Wat ons wel weet, is dat die Here veel meer vir ons bied as wat ons ooit kan dink of droom. Ons kan Hom vertrou. Hy weet wat Hy doen en waarheen Hy met ons oppad is.

Mag jy die blye boodskap van blywende troos en vrede in en deur Jesus Christus in die onverstaanbare wêreld waarin ons lewe, ken en getroos lewe in en deur die Heilige Gees.

Ds Paul

18 Julie Oggenddiens

Skriflesing: Job 1:1-2:10; Job 19:25,26,27; Job 42:1-6
Teks: Job 1:20,21 & 19:25-27

In donker dae is die Here steeds in beheer. Ons lewe in ‘n gebroke wêreld en die duiwel sal ons beproewings wil omdraai in versoekings! Job se lewe val op een dag in stukke, en tog kry hy die genade om sy oog op God gerig te hou. Sy dieptepunt in lyding word ‘n hoogtepunt in geestelike groei.

« Older posts Newer posts »