Skriflesing: Hebreërs 1:1-5; Hebreërs 2:5-9 (1983)
Teksvers: Hebreërs 2:9
As mens die Bybel deurlees besef jy gou dat Christus byna op elke bladsy in die Bybel geskrywe staan – Ou én Nuwe Testament! Hy is die Bruidegom van Hooglied, Hy is die Koning van Dawid, Hy is die Profeet wat sou kom, Hy is die Tabernakel, Hy is die Seun van God. Al word die engele die “seuns van God” genoem, is daar net Een werklike Eniggebore Seun van God… (gebore, nie gemaak nie – Athanasius) – want Hy is self God, eenwesens met die Vader.
As Seun van God is Hy in alles vér bo die engele verhewe. Tog lees ons dat hy op ‘n keer “minder” geword het as die engele? Vandag sal ons dan besef dat Hy selfs in sy dienswerk beter is as die engele.
Elke dag sorg engele vir ons. Miljoene engele in diens van die uitverkorenes (Heb 1:14). En tog is Christus se dienswerk net beter en groter as wat enige engel kan droom om vir ons te doen!