Die Nagmaal is een van die kosbaarste gawes wat die Here Jesus Christus aan sy kerk gegee het. Wanneer ons die brood eet en die wyn drink, dink ons nie bloot terug aan ‘n gebeurtenis uit die verlede nie. Ons vier en verkondig die wonderlike waarheid dat Jesus Christus deur sy dood ‘n nuwe verbond tussen God en sy volk tot stand gebring het.
Tydens die laaste Pasga het Jesus die brood geneem en gesê: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word.” Daarna het Hy die beker geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond/testament deur my bloed” (Lukas 22:19-20).
Die nuwe verbond is die vervulling van God se belofte deur die profeet Jeremia (Jeremia 31:31-34). God belowe dat Hy sy wet in ons harte sal skryf, dat Hy ons God sal wees en dat Hy ons sondes volkome sal vergewe. Hierdie belofte word moontlik gemaak deur die bloed van Jesus Christus.
Die brood en wyn herinner ons daaraan dat ons verlossing nie uit ons eie werke of verdienste kom nie. Christus het sy liggaam gegee en sy bloed gestort om ons sondeskuld te betaal. Sy offer was volkome en hoef nooit herhaal te word nie.
Wanneer ons aan die Nagmaalstafel aansit, ontvang ons dus nie bloot ‘n herinnering nie, maar word ons geloof versterk deur die belofte van God. Ons word opnuut verseker dat ons deur Christus aan Hom behoort. Ons deel ook in die gemeenskap van gelowiges, want ons is saam een liggaam in Christus.
Die Nagmaal wys terug na die kruis, versterk ons geloof in die hede en laat ons uitsien na die dag wanneer ons saam met Christus aan die bruilofsmaal van die Lam sal aansit.
Kom ons vier die Nagmaal daarom met dankbaarheid, selfondersoek en ‘n vaste geloof in Jesus Christus, die Middelaar van die nuwe verbond.
Ds. Maarten