Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 96 of 332

Oordenking 4 Mei

Bemoediging in lyding as christen.

Donderdag 4 Mei 2023
Lees: 1 Petr 4:12-19 “Daarom moet dié wat ly omdat God dit wil, hulle lewe toevertrou aan die
getroue Skepper, en aanhou goed doen.”

Petrus skryf hierdie brief, nie aan ongelowiges nie, maar aan gelowiges. Veral hulle wat verspreid wonend is, maw ver van Jerusalem af, in die vreemde. Hy skryf dit ook aan my en jou wat glo in Jesus Christus en Hom bely as ons Enigste Verlosser en Saligmaker.

Petrus skryf ook hierdie eerste brief spesifiek aan die christene wat lyding en swaarkry verduur. Lyding is ‘n harde werklikheid vir christene. Die christene in Petrus se tyd het baie vervolging in die oë gestaar maar ook vandag, in hierdie wêreld, want om waarlik christen te wees, vra dat jy nie met die wêreld se losbandigheid en die wêreldse standaarde sal meeleef nie, maar met Christelike waardes soos wat die Bybel dit aan ons openbaar. Dit het dan ware lyding tot gevolg.
God wil hê dat ons in die wêreld ook vandag moet leef en ons lig moet laat skyn.

Die wêreldse-, goddelose mense, die heidene vind dit vreemd dat ons nie langer met hulle wil saamleef, soos wat die wêreldse standaarde is nie. 1 Petr 4:4.

Daarom bemoedig Petrus ons in ons lyding en leer hy ons wat ons moet doen as ons lyding ondergaan twv Jesus Christus. Want ons verheerlik, (δοξάζω – doxazō in die griekse taal,) God, deur te leef tot Sy eer en soos wat Hy van ons verwag in die Woord.

Onthou dat selfs ons swaakry is nie buite God se toelatende wil nie. God is Alwetend. God weet dat ons dit in die huidige wêreld sal swaar hê. Om ‘n christen te wees is nie sommer outomaties nie, dit vra toewyding in geloof en vertroue op God.

Petrus noem God hier in vers 19, die getroue Skepper. Dit is die enigste plek in die Nuwe Testament waar God Skepper, (κτιστής – ktistēs – in die griekse taal) genoem word.

Ons moet ons lewens aan ons getroue, (πιστός – pistos in die griekse taal) Skepper, toewy. Getroue God, dui op God wat ons nie net gemaak het nie, maar wat elke dag, elke oomblik van die dag en nag vir ons sorg, ons dra in sy groot liefde en omgee.

Die lyding gaan so erg wees, maar ook God se versorgende hand is so volkome, dat ons lees in Luk 21:17-19
17 “En julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word, maar
18 daar sal selfs nie eens ‘n haar van julle kop af val nie.
19 Deur julle volharding moet julle julleself red.”

Want ons kan ook verseker weet dat daar nie ‘n haar van ons hoof sal val, sonder dat God dit weet nie. Daarom dat Petrus skryf dat ons moet aanhou goed doen. Ons dade moet van liefde getuig en ons moet barmhartigheid aan ons medemens betoon, tot eer en verheerliking van God.
Deur goed te doen aan almal, al word ons vervolg of beledig, ly ons tot eer en verheerliking van God. Wat ‘n voorreg en genade om ‘n kind van God te wees en vir Hom te ly.
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Jesus bid dat ons geloof nie sal ophou nie 

Skriflesing: Lukas 22:24-34
Teksvers: Lukas 22:32
HK: Sondag 1 en 7

Geloof in God maak ons opgewonde. Daar is min dinge wat ‘n mens so hart so vrolik maak as wanneer jy weet dat God jou liefhet en deur sy genade as sy Eie kind aanneem. Maar om te glo is nie altyd so maklik nie. Somtyds is daar bykans onmoontlike omstandighede wat lyk of dit ons lewens gaan ruïneer.

So gebeur dit ook net voor die kruisiging dat Jesus die dissipels waarsku dat hulle geloof tot die uiterste getoets gaan word. Al sal ons soos Petrus Hom drie maal verloën, bid Jesus dat ons geloof nie sal ophou nie.

Bou jou huis op die Rots 

Skriflesing: Matteus 7:1-29
Teksvers: Matteus 7:24-25

Om nie ‘n huis te hê nie, is glad nie lekker nie. Daar is oor die wêreld miljoene mense wat nie ‘n huis het nie.

Almal probeer tog om vir hulleself ‘n skuiling te maak of ‘n veilige plekkie waar hulle beskerm word teen die elemente van die natuur. Maar as jy hierdie huis of skuiling op die verkeerde plek bou, kan dit jou duur te staan kom. So is daar in Centurion baie huise wat sommer net wegsak in die grond, want die fondamente is nie goed.

Op hierdie manier verduidelik Jesus dat ons ook ons geestelike lewe op die vaste fondament moet bou en nie op sandkastele nie.

Oordenking 24 April

Dien mekaar met julle gawes.

Maandag 23 April 2023
Lees: 1 Petr 4:7-11 7 “Die einde van alles is naby. Daarom moet julle selfbeheers en nugter wees, sodat julle kan bid. 8 Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê, want die liefde bedek baie sondes. 9 Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla. 10 As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy ‘n genadegawe ontvang het, die ander dien.
11 As iemand die gawe ontvang het om te preek, moet God deur hom aan die woord kom; as dit is om in die gemeente te dien, moet hy dien met die krag wat God verleen. So moet julle God in alles verheerlik deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort tot in alle ewigheid! Amen.”

Ons lees in vers 7: “Die einde van alles is naby…” Die christene van die vroeë kerk het verwag dat die Jesus in hulle leeftyd, weer sal terugkom aarde toe. Maar die presiese tyd weet niemand nie net die Vader in die hemel. Ons lees in Mat 24:36 “Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit.” Maar alhoewel ons nie die presiese dag en datum en tyd van Jesus se wederkoms weet nie, beteken dit nie dat ons nie voorbereid moet wees nie. Ons weet verseker dat Jesus Christus weer sal terugkom aarde toe met die wederkoms, wanneer die einde van die aarde aanbreek. Daarom moet ons in Verwagting leef.

Maar hierdie tyd waarin ons in verwagting leef, beteken nie dat ons maar kan terugsit en niks doen nie. Inteendeel ons lees van Paulus se harde werk onder die gemeente van Tessalonika in 2 Tes 3:6-18. Dit is om hierdie rede dat ons in verwagting moet leef, maar met ‘n voorbereidheid en dit terwyl ons mekaar dien.

Petrus gee hier tien opdragte van hoe ons moet leef terwyl ons wag op die wederkoms.
1 Wees nugter en selfbeheers. V7a Die Heilige Gees woon in jou en leef onder Sy leiding.
2 Bid gedurig. V7b
3 Wees hartlik lief. V8
4 Wees gasvry. V9
5 Gebruik jou geestelike-gawes om ander te dien. V10,11
6 Moenie verbaas wees oor swaarkry nie. v12
7 Verbly julle oor lyding namate die wederkoms nader kom. V13
8 Moet nie skaam wees oor lyding nie. V15,16
9 Verheerlik God. V16-18
10 Vertrou jou lewe toe aan God. V19

Hoe ons as christene moet optree namate die eindtyd naderkom is om in liefde mekaar te bedien. Ons moet so leef dat ander mense en gelowiges kan sien dat ons liefhet en omgee vir mekaar en vir alle mense. Ons opdrag is om opreg en eerlik en in liefde vir God en vir mekaar te leef.

Ware liefde is om mekaar se goeie punte raak te sien en daarop te fokus en dit te help uitbou. Moet nie iemand anders se swak punte raaksien en dit uitbuit, sodat dit hulle tot oneer strek nie. Werklike liefde is om mekaar te bedien met die liefde van God tot eer van God en tot voordeel van jou naaste. Dit is regtig harde werk, want as mense is ons dikwels geneig om die slegte in mekaar raak te sien en net oor die slegte te praat, te skinder en nie die goeie oor te praat nie.

Dien dus jou medemense met liefde en begrip en gasvryheid. Bid vir mekaar en wees lief vir mekaar. Namate die wederkoms nader kom gaan dit ook al hoe moeiliker raak op aarde, maar verbly jou in die Here, in jou verlossing in en deur Jesus Christus, want ons weet waarnatoe ons op pad is, na die ewige lewe by ons Hemelse Vader.

Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Hoe dankbaar? 

Skriflesing: Romeine 12 
Teksvers: Romeine 12:1-2 
HK Sondag 1 vr 2 

Ons leer by die kategismus-leraar dat ons troos nodig het. Sy tweede vraag veronderstel dat ons sekere kennis nodig het wat ons sal troos. 

Kennis wat swaarder weeg as die probleem van die gemors waarin ons weens die sonde beland het. Gewoonlik sal ‘n goeie gereformeerde dit opsom as kennis van sonde-verlossing-dankbaarheid… 

Miskien is daar meer in die belydenis as net die drie woorde of dinge. Paulus skryf selfs dat ons ‘n metamorfose moet ondergaan! 

« Older posts Newer posts »