Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 97 of 332

Eerlik vir liefdesappels gehuur 

Skriflesing: Genesis 30:1-26
Teksvers: Genesis 30: 14-16

Sommige mense voel hulle lewe lank verwerp en nie goed genoeg dat iemand hulle sal liefhê nie. Lea was so vrou. Jakob haar man, het 7 jaar lank gewerk vir haar pa Laban om met haar suster Ragel te trou, maar haar pa het haar, die ouer suster aan Jakob gegee. Maar dit was nie die vrou wat Jakob wou hê nie, daarom het hy nog 7 jaar gewerk vir Ragel. 

In hierdie tragiese gebeure sien ons hoe twee susters veg om liefde. Ons staan vanmore stil by die kwartaal tema van die huisgesin waar Lea so ver gaan as om haar eie man, nogal eerlik vir liefdesappels te huur. 

Koningskinders: Die huis op die Rots 

Eerskomende Woensdag vertrek ons gemeente op ons tweede koningskinderskamp na Udolpho Rivierplaas. Ons het ongeveer 100 kinders genooi uit ons gemeenskap hier in Centurion vanuit die verskillende laerskole. 

Vir baie van hierdie kinders is dit die eerste keer in hulle lewe wat hulle op ‘n kamp gaan. Die laaste drie jaar het ‘n nog swaarder las op baie gesinne geplaas wat dit glad nie kan bekostig om enigsins van die huis af weg te kom nie. 

Daar is ongeveer 50 lidmate uit ons gemeente wat saam op die kamp gaan as groepleiers, kosspan, triekfabriek en sommer net algemene hulp. Daarby het nog tientalle lidmate gehelp om al die middele in te samel wat ons nodig het om hierdie kamp moontlik te maak. 

Daar is sjampoe in botteltjies afgemeet, lekkergoed pakkies gepak, handpoppies gemaak en koekies en beskuit gebak. Daar is te veel om op te noem om te kan dankie sê. Vir elke lidmaat wat hand uitgereik het, ons innige dank. Maar dan moet ons ook dit sê: hoe sê ons dankie as ons doen wat ons as gelowiges moet doen. Dit is tog ons roeping om die evangelie uit te dra. 

Daarom gaan ons ook vir elkeen wat nie ‘n Bybel het nie, hulle eie Bybel gee. Ons tema hierdie jaar is: die huis op die Rots gebou. Ons gaan vanuit God se Woord ondersoek hoe ‘n huis lyk met goeie fondamente en wat gebeur met ‘n huis wat nie goeie fondamente het nie. 

Dit geld ook vir ons gemeente en ons elkeen se eie lewe. Ons moet lewende stene wees gebou op die fondament, die Hoeksteen, Christus. As die Here wil sal ons volgende Sondag, almal saam hier die erediens bywoon, as die hoogtepunt van ons kamp. 

Mag die samekoms van die gelowiges, ook vir jou die hoogtepunt wees waar elke nuwe week begin, om jou huis op die Rots te bou. 

Lourens (vdm) 

Oordenking 20 April

God se genade tydens ons lyding.

Donderdag 20 April 2023
Lees: 1 Petr 4:1-6

Eerste Petrus 4 en 5 handel oor God se genade in lyding. Petrus waarsku die christene, dat daar vurige vervolginge vir hulle voorlê. Onthou Nero het Rome aan die brand gesteek en die Christene beskuldig dat hulle Rome aan die brand gesteek het. Nou vervolg die Romeine die christene.

Maar wat het die lyding tot gevolg in ons lewens?

Lyding leer ons om ons sonde te bely en af te lê en ‘n rein lewe voor God te lewe.
Wanneer die lewe gemaklik en sonder sorge is, kan dit maklik gebeur dat ‘n mens kommervry kan begin leef, in die sondige wêreldse verleidinge. Maar ons lees duidelik in Psalm 66:10
“U het ons beproef, o God, ons gelouter soos silwer:” ’83 vertaling
“Want U het ons getoets, o God, U het ons gelouter soos ‘n mens silwer louter.” ’53 vertaling

Jesus Christus het aan die kruis in ons plek swaargekry en gesterf. Soos wat ons vir Christus lewe en teen die sonde en die duiwel stry en oorwin, leer ons om God al meer en meer lief te hê. Want om in Jesus Christus se voetspore te wandel, beteken dat ons deur Hom en nav sy versoeningsdood en die krag van die Heilige Gees die sonde al meer en meer aflê.

Dit is juis dat as ons lyding verduur as gevolg van ons christenskap, dat ons besef dat ons volgens en deur die wil van God wil lewe. Ons wil nie volgens menslike maatstawwe lewe nie, maar volgens die maatstawwe van God.

Die wêreld vind dit vreemd dat ons nie die sondige bestaan najaag nie. Die wêreldse dinge word aan ons voorgehou asof dit so mooi en maklik en lekker is. Ons kan maklik dink dat die norm is, om soos die wêreld te wees, waar ons net vir onsself leef, maar God vra dat ons moet leef tot sy eer en verheerliking.

Ons moet nie lyding en swaarkry sien as iets swaar en ongewoon nie. Ons as christene moet leef volgens die wil en die woord van God. As ons dan swaarkry omdat ons God se wil doen, maak dit ons nie bitter nie, maar maak dit ons dankbaar dat ons ter wille van God gely het.

Jesus Christus het ook aan die kruis gely as gevolg van ons sondes. Maar Jesus Christus het gewillig gely, sodat ons gered kon word. Liggaamlik kan ons lei en selfs sterf, maar geestelik is ons gered en sal ons ewig lewe.

Bid daarom in ons swaakry sodat die Heilige Gees ons sal krag gee, om sterk te staan in ons swaarkry.
Bid sodat ons nie sal swig onder swaarkry nie, maar dat ons tot eer van God sal bly lewe.

Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Oordenking 17 April

Jesus se oorwinning.

Maandag 17 April 2023
Lees: 1 Petr 3:19-20 “En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig. 20 Dit is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy groot geduld met hulle aan die dag gelê het in die tyd toe Noag die ark gebou het. Net ‘n klein klompie in die ark, ag in getal, is deur die water gered.”

Ek gebruik ruimskoots die verklaring en woorde van Dr. EP Groenewald in sy verklaring van 1ste Petrus in die Die Briewe van Petrus van 1985.
Bron Groenewald EP 1985 Die briewe van Petrus p.66-69

“Hierdie twee verse in 1ste Petrus 3:19 en 20 is uiters moeilik om te verklaar, omdat byna elke woord in die griekse grondteks sy probleme oplewer…” sê Dr. Groenwald.
Dit gaan oor die lewe en werk van Jesus Christus. (Groenewald. 1986:66-69)

Baie mense wil in die verklaring hiervoor ook 1ste Petrus 4:6 gebruik om dit te verklaar.
1 Pet 4:6 “Daarom is die evangelie immers ook verkondig aan dié wat nou dood is sodat, hoewel hulle as mense onder die oordeel was om na die liggaam te sterwe, hulle na die gees sou lewe soos God lewe.”

Maar die twee tekste handel nie oor dieselfde saak nie en elkeen moet dus afsonderlik in sy eie teksverband ondersoek en verklaar word. Dr. Groenewald verklaar hierdie twee verse aan die hand van vyf vrae wat hy vra. (Groenewald. 1986:66-69)
1 Wie is die prediker van vers 19?
2 Wanneer het Hy daar gepreek?
3 Wie is die geeste vir wie Hy gepreek het?
4 Wat is die gevangenis?
5 Wat was die inhoud van sy prediking?

Groenewald gee kort antwoorde op elke vraag:

1 Wie is die prediker van vers 19? Die antwoord op hierdie vraag is voor die hand
liggend. Dit is Jesus Christus. Maar in watter gestalte of hoedanigheid het Hy gegaan om te preek? In die ’53 Afrikaanse vertaling staan daar in vers 19, korrek vertaal, “in wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis,” Die 1983 vertaling verklaar dit direk met “En so het Hy, (Jesus Christus) na die geeste in die gevangenis gegaan…”

2 Wanneer het Hy daar gepreek? Het Jesus daar gaan preek voor sy opstanding of
terwyl Hy in die graf was? Die vraag is dus wanneer en gaan nie nou oor die plek nie.
Die gevolgtrekking waartoe Groenewald kom is … “dat die triomftog van Jesus wat
met sy opstanding uit die dood begin, as sodanig ‘n verkondiging was aan die geeste in die gevangenis.” (Groenewald. 1986:68)

3 Wie is die geeste vir wie Hy gepreek het? Daar is verskeie verklarings hiervoor.
Is dit bose geeste, is dit geeste in die doderyk, is dit gevalle engele? Mat 12:45; Luk 10:20
“Daar is egter ‘n duidelike verwysing na die dae van Noag, Mat 24:37-39. Die
gevolgtrekking van Groenewald is dat die “geeste” die tydgenote van Noag aandui:
mense wat die geleentheid tot bekering gehad het, maar wat in die verharding van hulle
harte gesterf het.” (Groenewald. 1986:68)

4 Wat is die gevangenis? Daar is ‘n opvatting dat die bose geeste in die lug woon
volgens Ef 6:12 “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die
owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen
die bose geeste in die lug.” Dus ‘n blyplek tussen die hemel en die aarde, êrens in die
lug. Die Jode het egter gepraat van die doderyk as “sjeool” en die grieke as “hades”. Hiervolgens is die voorstelling dat die doderyk êrens diep onder die aarde is. Volgens Simon J. Kistemaker, (1987:143) intepreteer hy die gedeelte as volg: “Gevolglik interpreteer ek die frase die geeste in die tronk om te verwys na bonatuurlike wesens en nie na die siele van mense nie.”

5 Wat was die inhoud van sy prediking?
Van die latere verklarings, waarmee ek saamstem, is dat die opgestane Christus, met sy hemelvaart, aan almal wat nog op aarde leef en diegene in die hemel, sy oorwinning oor die dood verkondig het met woord en daad. Die opgestane, verhoogde Christus, het sy Oorwinningstog aangekondig, verkondig en geproklameer met sy koms na die aarde, sy kruisdood en opstanding en hemelvaart.

Samevatting

Om daarom mee af te sluit, bely ons, glo ons, en loof ons God volgens Rom 8:31-39, die Oorwinningslied van Paulus.
Rom 8:37-39
37 “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.
38 Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige
dinge of kragte
39 of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei
nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”

• Jesus Christus leef.
• Jesus Christus berei vir ons plek voor in die hemel.
• Jesus Christus is my Koning, my Here, My Verlosser.
• Jesus Christus is die Oorwinnaar en ek saam met Hom en deur Hom.

Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

In Christus is die ewige lewe ons troosprys 

Skriflesing: Genesis 37:1-4, 17-36 en 45:1-9, 24-28
Teksvers: Genesis 37:34-35
HK Sondag 1

Waarom laat God toe dat slegte dinge gebeur met goeie mense? Dit is sekerlik een van die moeilikste vrae om te kan beantwoord.

Waarom doen God niks as gelowige mense onreg verduur nie? Waar is God in ons swaarkry? Dalk het jy ook so ‘n vraag… Dalk is daar by jou ook die teleurstelling en hartseer van traumatiese gebeurtenisse en vrae wat onbeantwoord bly.

Ons kyk vanaand na Sondag 1 van ons belydenis oor die troos prys in Christus.

« Older posts Newer posts »