Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 90 of 332

Oordenking 15 Junie

Petrus se laaste testament of afskeidsboodskap!

Lees: 2 Pet 1:12-15

12 “Om hierdie rede sal ek julle altyd aan hierdie dinge herinner, al weet julle dit en al staan
julle reeds vas in die waarheid wat aan julle bekend gemaak is.
13 Ek ag dit immers my plig om julle aan te spoor deur julle hieraan te herinner so lank as ek
nog lewe.
14 Ek weet dat my dood nie meer ver is nie. Ons Here Jesus Christus het dit trouens duidelik
aan my bekend gemaak.
15 Daarom sal ek my daarvoor beywer dat julle ook ná my heengaan altyd hierdie dinge sal
onthou.” Bron Groenewald, EP 1977 Die briewe van Petrus. p.116ev

“Hierdie gedagte-eenheid word gewoonlik Petrus se laaste Testament of sy afskeidsboodskap
genoem. Hy weet dat hy sy einde nader en rig daarom ‘n dringende woord aan sy lesers.”
(Groenewald, EP. 1977 116ev)

Petrus skryf aan sy lesers en hy herinner hulle aan die evangelie wat hy aan hulle verkondig het. Dit is nie ‘n nuwe evangelie waaraan hy hulle herinner nie, maar wat hulle reeds weet deur die eerste brief wat hy aan hulle geskryf het nl. die eerste brief van Petrus.

Die woord vir herinner het egter ook die betekenis dat hy weer, opnuut, dieselfde evangelie en boodskap, weer aan hulle verkondig. Dit is so ernstig dat Petrus wil aanhou en aanhou en hulle herinner en herinner en bly herinner word aan die evangelie.

Dit is so belangrik dat ons elke dag net die Woord en niks anders as die Woord van God sal lees en verkondig en preek nie.
Ons hoef nie in lang redenasies met ongelowige- of kleingelowige mense te gaan nie…Ons moet net aanhou die suiwer evangelie verkondig.
Dit gaan oor die konstante, konsekwente en voortdurende herinnering, prediking, verkondiging van die waarheid aan God se kinders en die wat nog tot geloof moet kom.
Terwyl ons erken dat ons nooit die dieptes van God se Woord sal ken nie, en in daardie sin voel dit asof ons altyd iets nuuts leer.
Tog is die lewe van ‘n christen, ‘n lewe van herinner word aan dit waarvan ons reeds oortuig is en wat ons weet en erken en bely.
Die plig van die prediker is nie om elke Sondag iets nuuts te bring nie, maar om die Skrif oop te maak en die lidmate te herinner aan die dinge waarvan hulle weet en waarvan hulle oortuig is.

Dit is wanneer herders en christene, hierdie heilige plig versuim dat wolwe die kraal betree en verwoesting saai.
• Mag ons altyd ywerig en ywerig wees in ons roeping om die skape te herinner.
• Mag die lidmate, deur hierdie oproepe tot waaksaamheid gewek word.

Maar aan Petrus is bekendgemaak dat hy spoedig sou sterf.
Ons lees in vers 13 en 14 in die 2020 vertaling dat sy tentwoning binnekort afgebreek gaan word. Daarmee stel hy dit duidelik dat hy gaan sterf.

2 Petr 1:13,14 2020 vertaling
13) “Ek beskou dit as gepas om julle deur herinnering op te skerp so lank as wat ek nog in hierdie tentwoning verkeer; 14) want ek weet dat my tentwoning binnekort afgebreek sal word – soos ons Here Jesus Christus dit ook aan my duidelik gemaak het.”

Hierdie tentwoning herinner ons baie sterk daaraan dat ons verblyf op aarde maar tydelik is. Ons is maar vreemdelinge op aarde wat tydelik bly. Ons weet tog dat die liggaam net vir ‘n tyd, 60, 70 of 80 jaar daar is en dan sal dit afgebreek word. Dan het ons ‘n vaste gebou in die hemel.

Maar Petrus gebruik hier ‘n baie unieke woord vir sy sterwe.

Hy gebruik die woord vir heengaan of sterf in die griekse woord, EKSODUS!
Maw soos wat Israel uit Egipte getrek het olv van Moses en na die beloofde land, getrek het, is ‘n christen ook besig om uit hierdie lewe, ‘n eksodus, na die Ewige Kanaän, maw na die hemel te maak.

Dit is dieselfde woord wat ons lees by die verheerliking op die berg in Luk 9:31 dat Moses en Elia in ‘n gesig met Jesus gepraat het oor sy uittog uit Jerusalem.
Soos wat die Israeliete vinnig uit Egipte moes trek, “’n Eksodus” om van die Egiptenare af weg te kom, so het Jesus ‘n Eksodus uit Jerusalem gehad.
Hy het met pyn en lyding ons misdade op Hom geneem en is daarom as ‘n misdadiger behandel en so het Hy Jerusalem verlaat op pad na Golgota.
So het Petrus ook waarkskynlik aan die kruis moes sterf.

“Petrus verwys na sy vertrek, of dood, as sy uittog, sy Eksodus, (ἔξοδος), ‘n term wat net drie keer in die Nuwe Testament gebruik word.
• Paulus gebruik die term om te verwys na Israel se uittog uit Egipte (Heb. 11:22) en
• Lukas beskryf Jesus se dood wat in Jerusalem voltrek sou word (Luk. 9:31). Die gebruik in Lukas is interessant omdat die konteks bestaan uit die gesprek tussen Moses, Elia en die Here op die Berg van Verheerliking.
Dit blyk dat hierdie term dien as ‘n brug na die konteks van 2 Petr 1:16-18.
Petrus praat nie van die dood as die einde nie, maar as ‘n eksodus van een plek na ‘n ander.”
(Bron de Ganahl Andy. 2022’02/18 2 Petr 1:12-15 The Purpose of remembering)

So was Petrus se dood vir hom ‘n heerlike heengaan na sy hemelse woning.
Maar voordat hy sou heengaan, sy eksodus na die hemele, het hy sy laaste dienwerk voltooi deur sy lesers te herinner aan die bly evangelie van genade en verlossing.

Ons ywer vir die Here moet daarom ook wees om gedurig, om altyd die blye evangelie van verlossing en genade te verkondig.
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Oordenking 12 Junie

Ons Roeping en Verkiesing!

Lees: 2 Petr 1:10-11
10 “Daarom, broers, moet julle julle des te meer daarvoor beywer om deur julle lewe te bewys dat God julle geroep en verkies het. As julle hierdie dinge doen, sal julle nooit struikel nie.
11 En dan sal daar vir julle vrye en feestelike toegang wees tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.”

In ons Skrifgedeelte merk ons ’n stygende lyn van dringendheid, waarmee Petrus skryf.
In verse 3-9 skryf Petrus van die deugde wat God aan ons, die gelowiges geskenk het.
Die geloofsketting en hoe ons ons geloof moet verryk en versterk.

Petrus waarsku ons nou, op hoe ’n wyse ons, ons verkiesing moet sien. Petrus skryf aan ons dat ons ons verkiesing moet vas maak. Ons moet deur ons lewe bewys dat God ons uitverkies het.

Dit moet ons met ywer doen. Ons moet dit haastig doen. Ons moet geen moeite ontsien om dit te doen nie. Ons lewe moet ‘n getuienis en ‘n bewys wees daarvan, dat God ons uitverkies het.
In ons Skrifgedeelte verleen Petrus ook verder krag aan sy bevel deurdat hy ons as broers aanspreek wat natuurlik ook die susters insluit. Broers dui hier op die intiemse geloofsband waarmee Petrus tot die gelowiges staan.

Die feit dat Petrus aan gelowiges skryf, hulle aanspreek as broers, en hulle beveel om te ywer om hulle verkiesing te bewys, dui op die besondere verhouding wat daar tussen die uitverkorenes en God bestaan. Uit genade alleen, sonder verdienste, Ja, selfs van voor ons geboorte af het God ons in sy ewige Raadsplan uitverkies.

Ons het dan ook ’n sekere heilsorde of verlossingsorde wat ons uit die Skrif bely:

  • Die eerste en belangrikste hiervan is ons uitverkiesing,
  • Daarna word ons geroep.

Ons lees in Rom 8:28-30:

28“En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy besluit of voorneme geroep is.
29Die wat Hy lank tevore verkies het, het hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê, van wie Hy die eerste is.
30Die wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep.
En die wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek.
En die wat Hy vrygesrpeek het, het Hy ook verheerlik.”

God het ons dus uit genade alleen uitverkies. Ons kan of kon niks doen om uitverkies te word nie. God het ons egter nie uitverkies en net so laat staan nie.
Nee, ons is uitverkiesing stel ook seker eise aan ons. Dit plaas ’n verantwoordelikheid van dankbaarheid en gehoorsaamheid op die uitverkorene. Ons as gelowiges moet ons verkiesing sigbaar in ons lewens laat uitkom. Dit moet sigbaar wees nie net vir ons mede-broeders en susters nie, maar ook vir onsself.
Prakties in ons lewens vandag, plaas hierdie bevel van Petrus ’n baie skerp oproep op elkeen van ons. Ons moet oppas om nie wêreldgelykvormig te word nie. Die aanslae van die wêreld is so fel en sondig, sonde word aan ons voorgehou asof dit alles maar reg is.

Die wêreld wil die christen al meer en meer dwing om wêreldgelykvormig te word en sodoende sy ywer om sy verkiesing te bewys af te plat.

Ons kan tog nie twee here dien nie, want ons sal of die een haat en die ander liefhê, of die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God en Mammon dien nie. Mat 6:24 Ons uitverkiesing plaas ’n verantwoordelikheid op ons wat ons moet nakom.

Dit bring ons by die tweede punt.

2 Ywer in die roeping deur Christus.

Vir die ware gelowige is dit nie net noodsaaklik nie, maar verpligtend om die roeping op te volg.

God roep die ware gelowige deur Jesus Christus. Ons word geroep om skoon en vlekkeloos te wees in God se teenwoordigheid.

Daar is egter ook ’n vals roeping. Ons lees in Mat 22:14 “Baie is geroep, maar min is uitverkies.” Genooides is nie vanselfsprekend ook uitverkorenes nie. ’n Vroom lewe alleen is ook nie noodwendig ’n bewys daarvan dat ’n persoon uitverkies is nie. Mense lei soms ’n vroom lewe om hulle-self daardeur te verheerlik. Hulle wil graag dat ander mense hulle vroomheid raaksien en daardeur wil hulle gerespekteer en geëer word. Ons hele lewe moet tog wees tot eer van God alleen.

In vers 5 lees ons dat jy jou geloof moet verryk. Dit is ’n baie interessante woord in die griekse taal.

Die oorspronklike betekenis van die woord was as volg:
In die ou Griekse teater of toneelwêreld het hulle welgestelde ryk persone gekry wat ’n opvoering geborg het. Hierdie borge was dan ook in kompetisie om te sien wie se opvoering die beste en die skouspelagtigste was. Daarvoor het hulle geen onkostes of uitgawes ontsien nie.
Hulle was soms in ’n titaniese stryd gewikkel gewees om te sien wie se geborgde vertoning die beste is.

Petrus gebruik dan nou ook hierdie woord om aan die gelowiges te skryf en aan hulle te verduidelik hoe hard hulle moet ywer om hulle roeping en verkiesing te bevestig.
Hulle moet geen moeite onkoste, tyd of ywer ontsien om hulle roeping te bevestig nie.

Kom ons wees dan ywerig in ons geloof, om ons roeping en verkiesing in Jesus Christus vas te maak.

Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Glo in die Here Jesus Christus! 

Skriflesing: Hand16; 
HK Sondag 7 
Teksvers: Hand 16;31 

Daar is geen ander manier waardeur ‘n mens gered kan word nie, as dat hulle in Hom GLO wat God voorsien het as Middelaar en Verlosser, nl. Jesus Christus die Here. Hy wat mens geword het en vir al ons sondes ten volle betaal het en so volkome versoening gedoen het, dat God hulle sondes kan en sal vergewe! 

Wat moet ‘n mens dan nog doen om gered te word? 

Glo. Glo is immers om Hom te KEN soos die Bybel Hom openbaar en dan ook ten volle te VERTROU dat Hy vir JOU hierdie versoeningswerk volbring het…. te glo dat God jou sondes ter wille van Hom ten volle vergewe. Kom ons vier dit in die teken van die Nagmaal hierdie Sondag. Neem, eet, drink en GLO! 

Die kleed van die bruid is die eer van God 

Skriflesing: Openb 19:1-10
Teksvers: Openb 19:7 en 8

Die kerk is die bruid van Christus. Maar ‘n bruid kan nie sonder ‘n trourok, ‘n bruidskleed, by die troue opdaag nie. In Openabring 19 word vir ons verduidelik hoe die bruidskleed lyk van die kerk. Dit is die regverdige dade van die heiliges. Die goeie werke wat ons doen, is die wyse waarop die bruid haarself gereed maak vir die bruilof van die Lam. 

Vandag vier ons die heilige Nagmaal. Dit is ‘n toonbeeld van die bruilof wat kom. Deur gedurig die dood van die Here Jesus te gedenk, word ons geloof versterk, en kan die bruid haar skoonheid sien in die spieel van God se Woord. Hoe lyk jou bruidskleed? 

“’n Lewendige hond is beter as ‘n dooie leeu” 

Hierdie woorde uit Prediker 9:4 laat ‘n mens diep nadink oor die lewe en al die uitdagings wat dit daagliks bring. Vir ons wat in Afrika woon en bekend is met leeus, is hierdie beeld duidelik. Dit is egter die ander helfte van die versie wat perspektief bring: “Want solank iemand by die lewendes behoort is daar hoop”. Dit is waaroor die Nagmaal gaan, oor hoop! Oor ons verwagting van die toekoms. 

Ek deel graag hierdie gedig van Marno Hermann, na aanleiding van ons afgelope koningskinders kamp. Mag die Here ook vandag weer nuwe hoop gee deur sy genade. 

Waarvoor dank ons God? 
Dryf ons met sy genade spot? 
Om die evangelie te hoor weergalm, 
kinders sing saam ‘n lofpsalm. 

So roep ons op groot en klein, 
om te sing van God’s liefde refrein. 
Ons deel in ‘n enkele doel, 
om saam te werk en te woel, 
sodat kinders die liefde van hul Vader kan voel. 

Daar in jou midde staan tien talle gesigte, 
klein en onseker deel hulle aaklige berigte. 
Hoe hanteer ons dit? 
Ons worstel en vra en bid… 
En wag op die Koning wat in die hemele sit. 

Ons oë gaan oop, 
vir nuwe lewe nuwe hoop. 
Die werk is groot maar God het beloof, 
hou vas aan my beloftes deur geloof, 
ek is met jou! Niemand sal jou die kroon beroof. 
Laat ons dan met saamgevoegde hart die wedloop loop, 
geduldig in lydsaamheid die tyd uit koop. 

Laat ons Hom dank vir wie Hy is, 
en dat ons ewig saam met Hom mag rus. 

Ds Lourens(vdm) 

« Older posts Newer posts »