Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 90 of 344

Hervormingsondag: ‘n Tyd om weer na te dink!

Skriflesing: Deut 8 (1983)
Teksvers: Deut 8:2

Die groot geestelike bedreiging lê nie in die Midde-Ooste of elders op die slagveld nie, maar in jou en my harte. Dáár waar die valse gerustheid insluip, daar is die aanslag (oorlog) teen die Bose op sy gevaarlikste. 

Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die bose magte van die duistenis en teen die ideologieë van die tyd. Die Here roep ons vandag op om weer na te dink oor ons posisie in hierdie stryd van die geloof. 

Gebed vir Israel? 

“Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” (Ef 6:12) 

Soos mens seker kan aflei is ek nogal baie lief vir die landjie wat Israel genoem word. Ek wens ek kon al ons lidmate net een keer op toer saamneem vir die ervaring van jou lewe. Nie dat die land opsigself so mooi is nie, want dit is eintlik maar ‘n woestyn en ‘n semi-woestyn, maar die plek raak jou hart aan omdat daar ‘n onbeskryflike geestelike skoonheid betrokke is. Hier het God Homself aan ons geopenbaar soos dit in sy Woord opgeteken is! 

Daarom is daar by my groot pyn en hartseer oor dit wat tans in Israel en Gaza gebeur. Maar so is daar pyn en hartseer oor alle geweld en oorlog elders in die wêreld. Geweld en haat soos ons dit op ons TV skerms sien of hoor, is direk uit die hel aangesteek! Dit saai dood en verwoesting en bring groot mense-lyding en nood. Daarom kan ons maar bid vir vrede in Israel én ook op ander plekke waar haat en oorlog verwoesting saai en mense onnodig laat ly. 

Dit is egter belangrik dat ons moet onthou dat die oorloë tekens is van die eindtyd en dit mag jou hoop op die wederkoms van Jesus versterk. 

Ons gebed moet egter nie maar net uit simpatie vir Israel as land of volkie wees nie, maar vir die WARE Israel, die volk van God, die kerk wat elke dag onder die aanslag/oorlog/stryd teen die te staan kom. Ons stryd is nie teen vlees, en bloed nie… 

Bid dus vir die volharding van die gelowiges in hierdie oorlogsgeteisterde gebiede, maar ook elders waar gelowiges swaarkry, insluitend hier in ons eie land en kontinent. DIE Here alleen kan oorloë laat ophou of in sy plan gebruik, maar Hy wil dat ons staande bly in die geestelike oorlog en dat ons Hom nie sal verloën nie. 

Bid dus ernstig vir die kerk se oorwinning, vir sy vervolgde kerk en vir die spoedige koms van Jesus Christus op die wolke van heerlikheid! 

Ds Maarten

Die heilige kerk van Christus 

Skriflesing: Efesiërs 4 (1983)
Teksvers: Efesiërs 4
HK: Sondag 21

Ons bely dat Christus oor die eeue vir Homself ‘n vergadering van gelowiges versamel en dat ek daarvan ‘n ewige en lewende lid is. 

Die gemeenskap van die heiliges is nie maar net woorde wat ‘n hoë sosiale status aan die kerk gee nie. Die gemeenskaplike van die kerk is nie net in Bybelstudie of gemeente-etes te vinde nie, maar wel in die geloof. 

So het ons selfs gemeenskap met dié wat reeds die hemele ingegaan het! Die kerk is groter as sy aksies, sy eredienste en sy individue. Dit is die kerk van Christus wat in één geloof in en deur Jesus Christus saamverbind is. 

Elkeen is verplig om hom by die ware kerk te voeg! 

Skriflesing: 2 Kor 6:1-7:1 (1983)
Teksvers: 2 Kor 7:1

Daar is al ‘n algemene neiging om te praat van ‘n kerklose christedom. Maw Christene wil nie meer aan ‘n gemeente behoort nie, om verskeie redes. Tog bely ons in die Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 28 dat: “Elkeen is verplig om hom by die ware kerk aan te sluit!” Nou dit is sekerlik nie so ‘n maklike vraag, wat is die ware kerk nie. Om dit te verstaan moet ons juis hierdie reeks preke volg van hierdie kwartaal wat handel oor NGB arts. 27-30. 

1 Paulus se beroep op standvastigheid. 2 Kor 6:1 
2 Paulus se beroep op suiwerheid. 2 Kor 6:14 
3 Paulus se beroep op gehoorsaamheid. 2 Kor 7:1 

Buite die kerk is daar geen saligheid nie 

Nederlandse Geloofsbelydenis art 28 
1 Joh 4:7-21 (20) 

“Dikwels sê mense in onderhoude dat hulle nog wel in God glo, maar geen erg meer aan die kerk het nie. Hulle wil deel wees van die sogenaamde ”kerk-lose” Christendom. Die kerk het vir hulle te veel sondes, binnegevegte, of is te streng en beperkend. Dis makliker om God te dien sonder ‘n kerk. 

Die NGB (Artiel 28) ontmasker die gesindheid agter sulke uitsprake. Dit bely dat niemand wat sy stand en status ook al is, hom in SELFTEVREDENHEID van hierdie vergadering afsydig mag hou nie”. Dis selftevredenheid wat agter afsydigheid van die kerk skuil. Hierdie selftevredenheid is inderwaarheid ‘n neersien op mede-gelowiges. Dit sê: “Ek is nie soos hulle nie. Ek het hulle nie nodig nie. Ek en God, ons sal allleen regkom, dankie.” 

In ons Skrifgedeelte wys Johannes dat so ‘n houding nie opgaan nie. “Wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, want hy nie kan sien nie” (20). Dis waar dat die kerk baie foute het. Kerkmense is allermins volmaakte mense. Dis ook waar dat geen kerk jou in die hemel sal bring nie. Maar, dis ‘n leuen dat jy God kan liefhê sonder om liefdevol by medegelowiges betrokke te wees. 

Die kerk is die plek waar die liefde van God ontvang en uitgedeel word. Elkeen wat so liefhet is ‘n kind van God en ken God (7). Dink jy werklik dat daar enige saligheid sonder hierdie liefde is? Begin dus vandag om die liefde wat God aan jou bewys het, in alle erns met medegelowiges te deel. Waar mens dit begin doen, word die heerlike wonder van kerkwees sigbaar!” 

Bron. Vergeer Wim. 2007. ‘n Vaste geloof. p.127 

« Older posts Newer posts »