Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 91 of 332

Oordenking 8 Junie

Ons geloofsketting!

Lees: 2 Petr 1:3-8
3 “Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag.
4 Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het.
Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur.
5 En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis,
6 die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug,
7 die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense.
8 As julle dit alles besit en dit neem steeds toe, sal julle met ywer en met vrug ons Here Jesus Christus beter leer ken.”

Geloof is jou kosbaarste besitting. Geloof is die kosbaarste geskenk van God aan ons.
“Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien.” V3a
God het deur sy “krag” aan ons alles geskenk wat nodig is.
Daarom moet daar geloofs-groei by ons wees.

Ons geloof is soos ‘n ketting met sewe skakels. Op sy eie is ‘n ketting-skakel nutteloos, maar aanme-kaar is die ketting ‘n baie sterk gereedskapstuk. So is daar sewe skakels waarmee ons ons geloof moet versterk. Jou geloof moet verryk word met deugsaamheid..
• Deugsaamheid met kennis…
• Kennis met selfbeheersing
• Selfbeheersing met volharding
• Volharding met godsvrug
• Godsvrug met liefde onder mekaar
• Liefde onder mekaar met liefde vir alle mense.

Ons kan hierdie sewe eienskappe in drie groepe opdeel:
• Eerstens die wat handel oor die karakter van ons geloof.
• Tweedens die wat handel oor die gesindheid van ons geloof.
• Derdens handel die wat handel oor intermenslike verhoudinge in die geloof.

Die karakter van ons geloof.

Deugsaamheid Deugsaamheid beteken om volkome in jou doel te slaag. Ons as christene se doel is om God te verheerlik. As ons dan God met ons hele lewe verheerlik slaag ons in ons doel.

Kennis Die betekenis van kennis hier is kennis wat toeneem. Kennis gaan nie net oor intellektuele kennis nie, maar dit gaan oor ’n verstaan van die Woord en die uitleef daarvan deur ’n intiem persoolike verhouding met God en met jou medemens.

Die Innerlike gesindheid van ons geloof.
Selfbeheersing Selfbeheersing gaan daaroor om die verkeerde wêreldse plesiere van die lewe, wat tot sonde lei te weerstaan.

Spr 16:32 “’n Geduldige mens het meer waarde as ‘n bedrewe vegter,
‘n mens met selfbeheersing meer as iemand wat ’n stad inneem.”

Spr 25:28 “’n Stad sonder ‘n muur om hom te beskerm,
so weerloos is ‘n mens as hy nie selfbeheersig het nie.”

Volharding/lydsaamheid/geduld van ons geloof.

Jak 1:3,4 “My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want soos julle weet as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet enduit volgehou word, sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.”

Volharding is iets waaraan ’n gelowige biddend en in diepe afhanklikheid van God moet werk. Dit gebeur nie outomaties of kom vanself nie. Ons lees juis in Rom 5:3,4 “Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, 4 en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop;”

Godsvrug Hierdie woord beteken vrug te dra tot eer van God. Dit beteken om geloofsvrugte te dra. Iemand wat in die regte verhouding met God staan sal ook in die regte verhouding met sy naaste staan. Hy sal vrugte dra wat by die bekering pas. Dit gebeur met almal wat na die wil van God soek en dit biddend in geloof nastrewe.

Interpersoonlike verhoudinge in ons geloof.

Liefde onder mekaar / Broederliefde Petrus skryf juis in sy eerste brief, 1 Petr 1:22, dat die wedergebore kinders van God mekaar moet liefhê. 1 Petr 1:22 “Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het om mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê.”

Liefde vir alle mense / Naasteliefde Hierdie liefde is die agape liefde wat God bewys het teenoor alle sondaars toe Hy aan die kruis vir ons gesterf het. Dit is die liefde wat die Heilige Gees in ons harte uitstort as ons in die Gees wandel. Rom 5:5 “…God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.”

Om mee af te sluit

Kom ons werp alles in die stryd om ons geloof te verryk.
Kom ons bid dat God ons sal seën, om met oorgawe en entoesiasme, die deugde by ons geloof te voeg.
Mag ons lewe so verryk word dat ons ‘n verdieping en ‘n verinniging in ons verhouding met ons Verbondsgod ervaar.
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Oordenking 5 Junie

Ons kosbaarste geskenk van God!

Lees: 2 Petr 1:1,2
1 “Van Simon Petrus, ‘n dienaar en apostel van Jesus Christus. Aan dié wat deur die regverdige
beskikking van ons God en Verlosser, Jesus Christus, dieselfde kosbare geloof as ons
ontvang het.
2 Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees deur julle kennis van God en van Jesus
ons Here!”

Wat is jou kosbaarste geskenk in die lewe?
Wat is jou kosbaarste, veral geestelike besitting, in die lewe?

In 1 Pet 1:7 kry ons die antwoord: “Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan.”

Dit gaan natuurlik oor die inhoud van die geloof. Dit gaan oor dit wat ons glo. Geloof is so kosbaar en belangrik dat ons in die Heidelbergse Kategismus ‘n hele vraag daaraan afstaan.
Die vraag is ook nie net:
• Wat glo jy nie?
MAAR
• Wat is ‘n ware geloof?

Ons bely dan in Sondag 7 van die Heidelbergse Kategismus, vraag en antwoord 21:
“’n Ware geloof….
• Is nie alleen ‘n vasstaande kennis, waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het, vir waar aanvaar nie,
• Maar ook ‘n vaste vertroue wat die Heilige Gees deur die evangelie in my hart werk
o Naamlik dat God nie net aan ander nie,
o maar ook aan my,

  • uit loutere genade,
  • slegs op grond van die verdienste van Christus,
  • vergewing van sondes,
  • ewige geregtigheid en
  • saligheid geskenk het. “

Ons as Nuwe Testamentiese gelowiges, as christene het dieselfde kosbare geloof as wat die apostels gehad het. Hulle het God gesien, gehoor en saam met Hom gewandel, 2000 jaar gelede en persoonlik al Sy wonderwerke en dade en onderwysing ervaar.
Ons het dieselfde kosbare geloof.

Die vraag is: Wat doen ons met hierdie kosbare geloof?
Dit is nie net ‘n geskenk wat ons ontvang het en nou kan ons maar daarmee maak en doen wat ons wil nie.
Dit is nie ‘n geskenk wat ons in ons harte moet bêre en daarvan vergeet nie.
Hierdie is ‘n geskenk wat ons moet gebruik en uitbou tot eer van God en tot opbou van ons geloof.

Petrus roep ons op om hierdie geloof te gebruik. 2 Pet 1:5-8
5 En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met
deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis,
6 die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met
godsvrug,
7 die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense.
8 As julle dit alles besit en dit neem steeds toe, sal julle met ywer en met vrug ons Here Jesus
Christus beter leer ken.”

Volgende keer DV gaan ons kyk na die geloofsketting, na elke skakel wat God van ons verwag hoe Hy wil hê ons moet lewe.
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Alles wys na Jesus Christus 

Skriflesing: Hebr 1:1-9
Teksvers: Hebr 1:1,2
HK Sondag 6

Die tweede hoofdeel van die Heidelbergse Kategismus handel oor ons verlossing en is vraenderwys op soek na die Verlosser. Hy soek een wat ware mens is om vir die mense se sondes te betaal, maar dan moet hy ook ‘n sondelose (regverdige) mens wees. Daarby moet Hy God wees om die toorn van God te kan dra . Die vraag of daar so iemand be-staan word hier beantwoord en die lyn word regdeur die Skrifte getrek om te sien dat dit eintlik Jesus Christus is, die Seun van God. Hy is die antwoord op al ons vrae. 

Geseënd is die wat genooi is na die Bruilof van die Lam

Skriflesing: Matteus 22:1-14
Teksvers: Matteus 22:8-9

Vandag is die voorbereiding van die Nagmaal. Die Nagmaal is die Here se maaltyd, ‘n gemeenskapsmaaltyd, maar ter selfde tyd ook ‘n gedagtenis maaltyd. Gedenk die dood van die Here tot Hy weer kom. Ons dink na oor die betekenis van Christus se kruisoffer. Maar ons doen dit as gemeente. Ons kom saam in die geloof. Dit is ‘n wonderlike seën om aan die Nagmaal van die Here te mag deel. Maar die Nagmaal is ook meer. Dit wys heen na ‘n ander maaltyd. ‘n Feesmaaltyd. ‘n Bruilofsfees. Geseënd is elkeen wat genooi is na die bruilof van die Lam.

DINK AAN MY, MY GOD

Nehemia is bekend daarvoor dat hy op ‘n merkwaardige wyse die mure van Jerusalem kom help herbou het. Na die terugkeer uit Babel se ballingskap, was die herstel maar baie stadig. Onder Serrubabel het die ballinge stadig gevorder met die herstel van die tempel. Deur die aanmoediging van Haggai en Sagaria het dinge weer gevorder, veral onder leiding van Esra die priester.

Maar die stadsmure het steeds stukkend gelê bykans 50 jaar na die terugkoms. As Nehemia inspring en leiding neem, dan word die mure in ‘n rekordtyd van 52 dae herstel, sodat selfs Nehemia se vyande erken: dit was ‘n werk van die Here.

Min mense besef egter die belangrike sosiale herstel wat Nehemia gebring het. Die uitbuiting van die armes deur die ryk en adelike mense is weer reggestel. Die priesters en leviete is weer in hulle poste terug herstel en die tiendes weer ingevorder.

As Nehemia noodgedwonge terugkeer na Babel, waar hy as skinker van die koning opgetree het, dan is die verval net so vinnig. Ons lees dan in die laaste hoofstuk, as Nehemia weer terugkom na Jerusalem, dat hy weereens die volk moet suiwer van hulle verval.

Weer moet hy begin by die tempel en die priesterlike diens waar daar spesiale voordele aan sommige gegee is. Tobia word met al sy huisraad uit die voorraad kamers gejaag en die tiendes weereens herstel.

Alle handel word verbied op die Sabbat en die poorte van die stad word gesluit. As die handelaars opdaag om op die Sabbat hulle goedere te verkoop, word hulle weggejaag.

So ook word die ondertrouery met die heidense volkere verbied en die vreemdes word weggejaag. As Nehemia vermeld dat die kinders so vervreemd geraak het deur hierdie ondertrouery dat hulle nie eers meer Joods kon verstaan nie, sê hy: “Daarom het ek met hulle getwis en hulle gevloek, en sommige van hulle geslaan en die hare uitgepluk en hulle by God besweer: Julle mag nie julle dogters aan hulle seuns gee nie…” Neh. 13:25

Telkens, by hierdie hervormings pleit Nehemia: Dink aan my, my God! Nehemia verstaan iets wat ons baie maal vergeet: Hoe geduldig God met ons sondes is. Hoeveel keer moet ons nie van ons sondes bekeer en weer afsien van ons sonde nie! Hoeveel keer verval ons nie maar net weer terug in die gewoontes van die verkeerde nie.

Maar meer nog: hoeveel van ons is werklik besig met die werk van die koninkryk. Ons sal eerder pleit, Here moet tog nie aan ons verkeerde dade dink nie. So kan ons ook leer om ons geloofsarbeid aan die Here op te dra. Die Here vergeet nie die goeie werke van die gelowiges nie, nee, dit het ewigheidswaarde. (Op. 14:13)

Ds Lourens (vdm)

« Older posts Newer posts »