Page 91 of 344
Skriflesing: 1 Kor 1:18-2:16 (1983)
Teksvers: 1 Kor 2:4
HK: Sondag 20
Om die evangelie, die blye boodskap te verkondig, vra nederige afhanklikheid van die Here. Daar is nie groot geleerdheid of hoë woorde nodig nie, net ‘n diepe afhanklikheid van God. God gee dan deur die kragtige werking van die Heilige Gees die bevestiging van die evangelie in die harte van sy kinders. Geloof kom dus nie deur die wysheid van mense, deur die vermoë van kragtige predikers nie, maar deur die werking van die Heilige Gees met die krag van God.
1 Kor 2:4
“Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig, nie deur geleerdheid en welsprekendheid nie, maar… deur die kragtige werking van die Gees.”
Skriflesing: Romeine 9:1-33 (2020)
Teksvers: Romeine 9: 6-8
Daar is baie mense wat vandag sal sê dat hulle in die Here glo en Hom met hulle hele hart dien, maar nie meer kerk toe gaan nie. Hulle glo nie die kerk as instelling het meer ‘n plek nie.
Veral jongmense ervaar kerk baie negatief en vervelig en sien nie die doel daarvan of ‘n toekoms daarin nie. Die vraag is: Wat is die kerk en waarom bestaan die kerk?
Ons staan vanoggend stil by wat ons bely oor die kerk en oor kerk-wees in die verklaring van die ware Israel en die egte kinders van Abraham.
Die kerk glo AAN kerk-wees. Ons glo nie IN die kerk, met die bedoeling dat die kerk ons kan red nie. Ons glo aan die kerk. Ons glo daar moet kerk wees. Want die kerk is die gelowiges wat almal in Christus glo. Ons bely hieroor onder meer in die Apostoliese Geloofsbelydenis dat “ons glo aan ’n heilige, algemene en Christelike kerk”. In die Belydenis van Nicea bely ons “een, heilige, algemene en apostoliese kerk.”
Die woordjie wat vir “algemeen” gebruik word is die woordjie “katoliek”. Die Latynse beskrywing is De Ecclesia Catholica. Dit is die algemene kerk. Met algemeen, of dan katoliek, word nie die Rooms Katolieke kerk bedoel nie, maar eerder die kerk wat oral op alle plekke voorkom. Dit is eers later, rondom die 5de en 6de eeu na Christus wat die kerk in Rome, haarself as die primus inter pares, die eerste onder die gelykes verklaar het. Gevolglik het die kerk in Rome aangedring om die algemene kerk vanuit Rome te regeer deur die pous.
Die Heidelbergse Kategismus in Sondag 21 verklaar egter: “Dat die Seun van God uit die hele menslike geslag vir Hom ‘n gemeente, wat tot die ewige lewe uitverkies is, deur sy Gees en Woord, in die eenheid van die ware geloof van die begin van die wêreld af tot die einde toe, vergader, beskerm en onderhou, en dat ek daarvan ‘n lewende lid is en ewig sal bly”
Dit is dus nie die kerk in Rome wat regeer nie, maar Christus, ons Here, die Seun van die Lewende God. Die kerk behoort aan Hom. Nie die kerkgebou nie, maar die mense. Die mense is die kerk. En die kerk is almal wat deur die eeue, oral op alle plekke op die aarde deur geloof leef. Dit is die ware kerk. Nie die mense wat hulleself onregmatig die naam kerk toe-eien nie, maar hulle wat in geloof en daad bewys.
Ons gaan hierdie kwartaal die jaar tema afsluit oor wat ons bely van die kerk. Mag u lewe ook daarvan getuig, nie net dat u in die kerk is nie, maar dat u self die kerk is. Dat u aan Christus behoort en Hom bely saam met alle ander gelowiges reg oor die wêreld en deur alle eeue. Immers, buite die kerk is daar geen saligheid nie.
Lourens (vdm)
Skriflesing: Genesis 16
Teksvers: Genesis 16:2
1. Sara versoek haar man.
2. Hagar verset haarself.
3. Abram verstoot God se beloftes.
“Toe sê Sarai vir Abram: “Die Here het my nou eenmaal daarvan weerhou om kinders te kan hê. Gaan slaap by my slavin. Miskien bring sy ʼn kind in die wêreld wat my eie kan word.”
En Abram het saamgestem met sy vrou.”
Genesis 16:2