Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 83 of 344

Die Sleutel wat oopsluit

Skriflesing: Jesaja 22:15-25; Open 3:7-13; Joh 17:1-26
Teksvers: Jes 22:22-25; Open 3:7,8; Joh 14:6; 17:17b
HK: Sondag 31

Almal ken sleutels. Sleutels wat oop en toesluit. Belangrike plekke het gewoonlik “’n sleuteldraer”, iemand wat besluit wanneer ’n deur oopgesluit en wanneer die deur toegesluit moet word. Spesiale plekke het daarom sekuriteit en goeie deure en slotte om dit te beskerm en daarom moet die sleuteldraer spesiale sorg aan die dag lê, vir wie en wanneer en hoe hy oop en toesluit. 

  • Eljakim kry die sleutel om te dra. Jes 22:20-22
  • Jesus Christus is die sleutel na die hemel. Open 3:7
  • Die Woord sluit vir ons die ewige lewe oop. Joh 17:17b 

Nuut gemaak om nuut te lewe

Skriflesing: 2 Korinthiërs 5
Teksvers: 2 Korinthiërs 5:17

Ons skop die jaar se Woordbediening af deur ‘n kykie na die tema-teks. 

“Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” 

(II Kor 5:17 AFR53) 

Hierdie woorde word nie gestel as ‘n droom of belofte of ideaal nie maar as ‘n gegewe waarheid. Dan word dit iets soos ‘n maatstaf vir ons stand van sake in ons geloofslewe. 

Die vraag kom dus na elkeen van ons. Hoe lyk jou lewe van heiligmaking? Ons, sal deur die loop van jaar gereeld aan hierdie tema aandag gee. 

NS. Volgende Sondag begin leeraars met ʼn reeks prediking oor die boek 2 Kotintiërs. 

Voornemens

Ons trek alweer verby die helfte van die eerste maand van die nuwe jaar! ‘n Nuwe jaar met nuwe geleenthede. Natuurlik ook nuwe uitdagings. Ons wens u een en elk ’n baie geseënde jaar toe in u persoonlike- en gesinslewe en ook in die gemeente. Ons bede is dat u mag groei in die geloof deur die genade van die Here. 

Met ons tema op die kalender (jaarprogram) mik ons juis vir groei in geloof en veral die heiligmaking. Heiligmaking is die progressiewe verandering van ‘n kind van die Here, weg van die wêreldse dinge af om meer en meer beeld van God te wees. Daarvoor is bekering en volharding nodig waarvoor ons gedurig vir onsself en mekaar moet bid, en dan sal die Heilige Gees ons daarin lei. So neem ons die verbondsbeloftes van God asook ons verbands-verantwoordelikhede as kinders van die Here ernstig op. 

Daarom is nuwe voornemens jaarliks ‘n baie goeie ding. Voornemens veral rakende jou toewyding aan die Here en jou daaglikse lewensgewoontes, sodat jy daarmee aan jou skeppingsdoel en goddelike roeping kan beantwoord. So groei ons in alle opsigte na Christus toe. 

Dit is dus ons wens dat elkeen weer met goeie voornemens begin en ook daarin sal volhard en dat die groei van hierdie gemeente hierdie jaar vir almal sigbaar sal wees tot ere van God. En as ons dalk (reeds) in van ons voornemens sneuwel en struikel mag ons weet dat die genade van God in Christus genoeg is om weer op te staan en ons bes probeer om te doen wat Hy van ons vra. So sal jy ook jou eie naam en goeie reputasie eer aandoen en God in alles verheerlik. 

Mag God deur sy Gees ons hierin help. 

Ds Maarten 

« Older posts Newer posts »