Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 62 of 331

Die gebooie is verbondseise

Skriflesing: Eksodus 20:1-17 (1983) 
Teksvers: Eksodus 20:3 
HK: Sondag 34 

God het hierdie een hoofdeel van die Bybel, die Tien Gebooie, met sy eie vinger geskryf. Daarin kan ons sien dat Hy, God, ag die gebooie as baie belangrik vir jou en elke ander mens se lewe op aarde. Vir Hom is dit belangrik dat jy goed sal verstaan wat die Tien Gebooie is en met watter gesindheid jy hulle moet gehoorsaam. 

As die regte gesindheid ontbreek, kan dit of daartoe lei dat jy die gebooie van God minag, omdat jy nie God se stem daarin hoor nie, of dat jy die gebooie van God – jou afgod maak. Jou vertroue is dan nie meer op God gestel nie, maar op jou eie onderhouding van die gebooie soos jy dit graag wil interpreteer. 

Juis die inleidende woorde van die wet: “Ek is die Here, jou God, wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny verlos het”, verduidelik juis met watter gesindheid jy hierdie gebooie moet onderhou. 

Daaglikse bekering—ʼn teken van jou nuwe lewe in Christus

Skriflesing: 2 Korintiërs 7 (1983) 
Teksvers: 2 Korintiërs 7:9-11 

Ons sit nou weer die reeksprediking uit die Tweede Korintiërbrief voort, met die oorhoofse tema van die Nuwe Lewe van die Christen (Jaartema – 2 Kor 5:17 – Nuwe lewe in Christus). 

Prakties gesproke is die belangrikste deel van hierdie nuwe lewe juis dit wat Paulus graag by sy lesers wou vind en tot ‘n mate ook gekry het, nl. BEKERING. Ware bekering gaan egter dikwels met diepe worstelinge en droefheid gepaard soos waarna Paulus in hierdie hoofstuk verwys. 

Die sogenaamde ‘Trane-brief’ wat waarskynlik tussen Eerste en Tweede Korintiërs aan die gemeente gestuur is, dien as agtergrond vir die verstaan van Paulus se betoog en ons fokusteks. 

Diepe ontsag vir God lei tot ware broederliefde

Skriflesing: Hebreërs 12 en 13 (1983) 
Teksvers: Hebreërs 12:29 

Ons staan hierdie kwartaal tydens aanddienste stil by die TWEEDE TAFEL van die Wet van GOD. 

In die Hebreërbrief word ons herinner aan die offer van die Hoëpriester wat Homself as Lam van geoffer het vir ons redding en verlossing van al ons sondes. Wie Hom verag kry met ‘n vreeslike God van oordeel te make. 

Wie Hom eer sal dit in sy alledaagse lewe op ‘n heel praktiese manier uitleef in die gewone gang van die alledaagse lewe. 

So kom die eerste en tweede tafel in Christus by mekaar uit. 

God alleen is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang

Skriflesing: Open 4:1-11; 5:1-14(1983) 
Teksvers: Open 4:11; 5:11,13,14 

Daar was nog altyd ‘n stryd in God se kerk op aarde. Ons lees daarvan in Openbaringe 1-3. Ons hoef egter nooit te twyfel of moedeloos te word nie. Juis in Openbaring 4 lees ons van God as Skepper, wat op sy troon sit en in Openbaring 5 van Jesus Christus wat alleen waardig en in staat is om boek in die Vader se hand oop te maak. 

Psalm 33:7 
(Berymd. Totius) 
“Die HEER wat bo die wentelkringe 
van son en maan sy rykstroon stig, 
aanskou die mense en alle dinge – 
daar’s niks bedek voor sy gesig. 
Uit sy vaste woning / waar Hy heers as Koning, 
sien Hy, Skepper-HEER, uit oneindig hoë / blou-deurglansde boë 
op sy skepsel neer.” 

1 Johannes sien die hemele op ’n skrefie oop. 
2 Johannes sien ’n troon. 
3 Johannes sien hoe alles en almal God loof en prys. 

Ware Koinonia

Soos ek hier sit en die herfsluggie om my dartel kry ek koue rillings as ek dink aan April vier jaar gelede toe ons gehok was om tuis te bly weens die Covid-19 Pandemie van 2020. Veral as die Strelitzias begin blom dan onthou ek die droewige tyd van afsondering van geslote kerke en bevreesde mense. 

Hier sit ons nou vier jaar later en ons het al weer byna daarvan vergeet. Destyds het ons geglo, en selfs gesê dat die inperkings van die grendeltyd ons weer honger sou maak vir die intieme koinonia van gemeentelike samekomste. As mens iets mis waardeer jy dit mos meer. 

Die vraag is nou of dit ooit gebeur het en of ons werklik die gemis en verlies aan koinonia in ‘n positief omgekeer het. Hier hoef ons nie groot beoordeling toe te pas en tendense te probeer evalueer nie. Die kerk van Jesus gaan immers maar deur goeie en slegte seisoene. Dit sal eerder vanpas wees om jouself te beoordeel of jy nog die gemis van destyds onthou en gevolglik die geleentheid wat daar nou is met alle mag aangryp en benut. 

Koinonia (gemeenskap van die gelowiges) is immers nie net iets waarby jy alleen kan baat nie, maar waarby ander baat as ek en jy dit nie afskeep nie. Dink maar aan laas naweek se heerlike koek en tee, gemeente-ete, die mooi eredienste en kategese. 

Maak gebruik van die koinonia-geleenthede en leef die nuwe lewe in Christus. 

Laat ons dus die onderlinge byeenkomste nie versuim, soos sommige die gewoonte het nie, maar mekaar eerder aanmoedig… en dit des te meer soos ons die oordeelsdag sien naderkom” (Heb10:25). 

Ds Maarten 

« Older posts Newer posts »