Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 51 of 331

Wat húlle nie weet nie…

Skriflesing: Markus 4:1‑20 (Mat 13); Jesaja 55:8-11 (1983)
Dortse Leerreëls 3-4; 8-12
Teksvers: Markus 4:3

Die Here Jesus vertel hierdie gelykenis van die saaier en die saad wat op verskillende plekke val. Die ontstellende is dat nie al die saad groei en vrug oplewer nie. Hier word iets van die wonder van God se genade in en deur Jesus Christus verduidelik. 

Nie alle mense word sonder meer gered nie. En dit is ook nie uit jou vrye wil dat jy die keuse gemaak het om gered te word nie. Dit is voor alles ‘n genade werk van God, wat gegrond is in sy verkiesende genadebesluit. 

Let op daarna dat Jesus die gelykenis aan die skare van duisende mense rig, maar die verklaring net aan sy dissipels gee (4:10). 

Tekens van die tyd

Ek het die afgelope week ‘n paar video’s gekry waar Christen-predikers in Engeland gearresteer en van London se strate verwyder is. Net daarna sien ons hoe ‘n Moslem Imam, nogal met ‘n luidspreker, sy oproep tot gebed van die bekende London Tower Bridge basuin en dan onder dieselfde polisie beskerming! Dit is ooglopende diskriminasie en openbare vervolging van die Christene. 

Dit moet ons egter nie so baie ontstel of afskrik nie, want dit is maar die tekens van die tyd. Die einde van die wêreld storm nader. Ons stryd is immers nie net vir finansiële oorlewing nie. Ons leef vir die Here en moet hierdie dinge te wagte wees. 

Ef 6:10-12 lui immers:”.. word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. [11] Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. [12] Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” 

Die profesie lui dat die duiwel in die laaste dae ‘n tydjie losgelaat gaan word (Op 20:3,7). Ons sien dit alhoemeer. Die vraag is, dus of ons bewustelik deel is van hierdie stryd. 

Die minste wat ons, kan doen is bid, maar ons kan ook weerstand bied deur dié dinge te doen en te soek wat die koninkryk van God bevorder. Dan sal die Here vir die res sorg. 

“Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” (Matt 6:33) 

Ds Maarten 

Heilsorde(5): Ware Bekering

Skriflesing: Lukas 19 (1983)
Teksvers: Lukas 19:5,10

Daar was jare gelede ‘n program ‘The Biggest Loser’ op TV waar die persoon wat die meeste gewig verloor het, na afloop van ‘n paar weke onder strawwe oefeninge, as die wenner aangewys word. Die grootste verloorder is die wenner!! 

Dit laat my nogal aan die proses van bekering dink. Om die ewige lewe te beërwe moet mens eintlik jouself verloor! Kyk hoe wen Saggeus deur alles te verloor. 

Ons onderskei vanaand dan ook tussen die aanvanklike bekering en die daaglikse bekering. 

Blus die Gees nie uit nie

Skriflesing: Handelinge 7:44-54; Efesiërs 4:17-5:2; 1 Tessalonisense 5:19 (2020)
Teksvers: Handelinge 7:30; 51-53

Die Remonstrante het in die 3de en 4de artikel van hulle leerstellings die standpunt ingeneem dat die mens se sonde nie tot die dood is nie, maar slegs ‘n ernstige aantasting van sy bestaan. Daarby het hulle ook verkondig dat die mens steeds sy vrye wil behou en nie geheel en al verdorwe is nie. So is hulle oortuig dat ‘n mens die werking van die Heilige Gees kan weerstaan, soos beskryf in Handelinge 7. 

Ons kyk vanoggend na die gesamentlike antwoord vanuit die Dordtse Leerreël wat hierdie twee dwalings gesamentlik aanspreek in Hoofstuk 3/4 met die oproep om die Gees van God nie te bedroef nie. 

1-2-3 Blok Myself

Vir die meeste van ons bring hierdie woorde ‘n heimwee vanmelewe se dae oor dinge wat nog onskuldig en pret was. Kinders was buite aktief in die vars lug en het gespeel. Die grootste moeilikheid was hoe om hulle eerstens in die huis te kry, en dan om hulle skoon te kry. Huiswerk was vinnig afgehandel en sport was om te deel in vriendskap. 

Hoewel tye verander en mense verander, is daar sekere dinge wat tydloos bly. Tydlose behoeftes wat deel is van elke mens se mondering: soos om te behoort, om liefde te ervaar, om veilig te wees en voel. Daardie behoeftes verander nooit. 

Dink aan daardie wegkruipertjie speletjie waar jy jouself sonder om gevang te word, moet blok by die einste plek waar die maat wat aan is, jou moet kom soek en vang. By die den was jy veilig en kan jy nie meer gevang word nie. Maar om by die den te kom, om veilig te wees, moet jy die persoon wat aan is, uitoorlê. 

Hoe meer deelneem, hoe beter jou kanse om veilig te wees. Maar strategie en spoed is belangrik. Die oomblik as jy jou kans sien, moet jy laat spaander om veilig by die den te wees met ‘n uitasem: 1 – 2 – 3 Blok myself. 

In ons gemeente het ons ‘n soortgelyke strategie en plan om by al die lidmate uit te kom. Die gemeente is opgedeel in 3 blokke met ongeveer 18 wyke elk. Nou is daar slegs twee dominees wat aan is, en deel ons die werk op sodat ons steeds ‘n geleentheid gee aan elke lidmaat om bedien te word. 

Blok A en Blok B wyke 1-9 val onder ds Lourens en 

Blok C, E en Blok B wyke 10-18 onder ds Maarten. 

Sover moontlik het elke wyk ‘n ouderling en diaken sowel as wyksuster. 

Ek wil u aanmoedig om nie die heeltyd net strategies te wees en weg te kruip om jouself te blok nie. Moenie wegkruip tussen die massa om net vir jouself veilig en gemaklik te wees nie. Kom uit in die vars lug om die evangelie te deel. Bied jouself aan om leiding te neem. Want ons ware den, ons ewige veilige hawe is dit wat nog kom. Dit is die sekerheid in die Woord van God en die gewilligheid om jou lewe volkome aan Hom te wy. 

Of jy nou gereed is of nie, Hy kom. 

Lourens (vdm) 

« Older posts Newer posts »