Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 52 of 344

Jesus Christus bewerk radikale lewensverandering

Skriflesing: 1 Petrus 3 (2020)
Teksvers: 1 Petrus 3:8-9

Word ‘n mens se lewe regtig radikaal verander op grond van jou geloof in Jesus Christus? Die vraag word gevra omdat die Here in sy Woord soveel dinge aan ons voorhou wat nie altyd in alle gelowiges se lewe realiseer nie. 

Kyk maar na die riglyne wat die Here aan ons voorhou in 1 Petrus 3: Mans en vrouens word gelei tot selfondersoek of hulle werklik die man of vrou is soos wat die Here dit aan ons voorhou? Veroorsaak die riglyne van die Here nie net onnodige spanning en skuldgevoelens nie? Tog kom die Here deur sy Woord en Gees om ons op te roep om eensgesind, medelydend, liefdevol, goedhartig en nederig te wees. So asof dit somer so maklik is om die positiewe gesindhede altyd en oral teenoor ons mede-gelowiges en die ander mense te openbaar. 

Dit is daarom so belangrik dat ons by hernuwing sal besin oor die rede waarom die Here hierdie riglyne aan ons voorhou en hoe hierdie radikale lewensverandering in ons kan plaasvind. 

Die HERE is ‘n Muur van Vuur Rondom Sy Oogappel

Skriflesing: Sagaria 2:1-13 (2020)
Teksvers: Sagaria 2:5,10

Hou jy van jou buurman? Sommige mense het sonde met die bure, soos Langenhoven skryf. Hoewel dit tong in die kies bedoel word, is daar tog gevalle waar ongewenste bure langs jou woon. As daar ‘n Mafia baas intrek, en sy dwelms en geweld vanuit die buitekamer bedryf, of dalk iemand wat vreeslik raas. Maar in ander gevalle wil jy nie te naby aan mense bly nie, soos jou baas. Ons wil nie altyd ons privaatheid so intens deel dat mense alles van ons lewe sien. 

Dan besef ons die geweldigheid om die HERE, nie net as buurman te hê nie, maar dat Hy self die muur van vuur rondom sy oogappel is en die heerlikheid daarbinne! 

DIE EER WAT GOD TOEKOM

Dit is opvallend dat beide die Wet, Eksodus 20, en die gebed, Matteus 6, begin met God se heiligheid. Dit is goed om in die hersteljaar weer na te dink oor God se heiligheid en ons respek vir Hom. Dit is ook belangrik om daarop op te let dat die Heidelbergse Kategismus vanaf Sondag 34 tot 52 oor die Wet en Gebed handel. Dit beteken dat hierdie aspekte bedoel is vir Christene wat reeds die eerste beginsels van die geloof verstaan en bely. 

Wanneer ons besef dat ons God se genade nodig het, dan verstaan ons hoe Hy ons verlos van ons doodsbestaan buite sy liefde. Dit berei ons om ons te bekeer omdat Hy ons tot bekering bring deur die wedergeboorte, deur sy Heilige Gees, en kan ons die ou lewe aflê en die nuwe lewe leef. 

Deel van hierdie nuwe lewe is die respek vir Sy heiligheid soos in die eerste Gebod en eerste Bede beskryf word. Naamlik dat ons geen ander gode sal dien nie en dat Sy Naam geheilig sal word (eerstens deur onsself). 

Aangesien ons deur Christus geleer is dat ons op grond van geloof gered word en uit dankbaarheid ‘n heilige lewe moet lei, is dit goed om ons toewyding aan God te herstel. Laat ons die bede uitleef dat Sy Naam geheilig word in wat ons doen, die plekke waarheen ons gaan, die goed waarna ons kyk, die dinge waarna ons luister, die manier en toewyding waarmee ons, ons werk doen, die manier waarop ons met ons gesin, kollegas en vreemdelinge omgaan en op elke ander terrein van ons lewe. 

Matteus 5: 16 lees “Laat julle lig so voor die mense skyn dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is verheerlik.” (2020) 

Oudl Corné Smuts 

God maak op een dag alles reg

Skriflesing: Ester 8 (2020)
Teksvers: Ester 8:11-12

In Ester 3 hoor ons hoe Hamman deur middel van die pur, dit is om die lot te werp, ‘n datum, vir die uitwissing van Mordagai en die Jode, by sy gode gekry het. Dit was die twaalfde maand, die 13de dag van die maand Adar. 

Die proklamasie is uitgevaardig dat alle Jode op daardie dag doodgemaak kon word en dat hulle besitting deur al die mense in die Babiloniese ryk buit gemaak kon word. Dit was die skrikwekkende dag van oordeel én dood én vernietiging vir die Jode in die hele ryk van Koning Ahasveros van Babel. 

Op ‘n wonderlike wyse het die Here hierdie skrikwekkende dag deur ‘n volgende proklamasie verander na ‘n dag van vreugde en feesviering deurdat die Jode bymekaar kon kom en hulle kon verdedig teen enige iemand of volk wat hulle sou probeer aanval. So verander die Here die dag van oordeel in ‘n dag van redding en vreugde. 

« Older posts Newer posts »