Page 52 of 331
Skriflesing: Markus 15:15-41 (1983)
Teksvers: Markus 15:39
Die sterwe van ons Verlosser op Golgota is nie maar net ‘n platoniese verhaal van iemand wat dood is nie.
Elke skrywer van die vier Evangelies probeer immers sy bes om een of meer van die fasette van die openbaring van wie die Christus is, te beklemtoon. Daarom moet ons by die deurgaan van hierdie dieptepunt van sy lyde by die kleinste besonderhede stilstaan.
Vanaand kyk ons aandag na die oomblik toe Hy sy laaste asem uitgeblaas het.
Skriflesing: Esegiël 1:1‑2:3 (1983)
Teksvers: Esegiël 1:28
In Israel dreig daar nou ‘n volskaalse oorlog. Na Hamas in Gaza is dit nou moontlik ‘n geveg met Hezbollah in die Noorde en daarby die aanslag van Iran en sy vennote.
Nie net in die Midde-Ooste nie maar elders in die wêreld dreig grootskaalse oorloë wat mense en lande in gevaar stel. Dit lyk alweer asof die mens kop verloor het.
In ‘n soortgelyke wêreld in die tyd van Esegiël kom die Here en verskyn Hy is sy misterieuse heerlikheid sodat ten minste die profeet met sekerheid weet dat God in beheer is en dit so aan sy volk kan oordra.
Dit moet ons ook troos in ‘n tyd van geestelike verval en politieke wanorde.
Skriflesing: Ef 2; Filip 2:12,13 (1983)
Teksvers: Efesiërs 2:8
Die wonder van die heilsorde is daarin geleë dat dit altyd God is wat aan die werk is in mense se lewens. Sy ingrypende werk bring redding en verlossing.
Dit is egter so dat die genadige werkinge van God in ons, ons ook aan die gang sit om werksaam te raak. Ons is immers nie dooie blokke of skaakstene wat net rondgestoot of geskuif word nie. As God die geloof in ons werk, dan glo ons ook werklik. En daardie reddende geloof is die ware geloof wat die wedergebore mens nou aan Christus, as Verlosser bind.
Deur jou geloof word jy gered!
Skriflesing: Matteus 15:21-28 (Markus 7:24-30) (2020)
Teksvers: Matteus 15:25
Om iemand ‘n hond te noem is ‘n geweldige belediging. Honde was nie soos vandag, bekend as ‘n “man se beste vriend” nie. Honde het vry rondgeloop en geaas. Dit was onrein diere.
Die woorde van ons Here Jesus laat ‘n mens eintlik na jou asem snak, dat Hy die heidene honde noem. Of ten minste dat Hy ‘n Kanaänitiese vrou wat Hom om hulp nader, wegwys en sê: “dit is nie mooi om die kinders se brood te vat en vir die hondjies te gooi nie.”
Ons staan vanoggend stil by die tema wat opgesluit is in die antwoord van hierdie vrou, dat die hondjies die krummels eet wat van hulle base se tafel val.