Page 50 of 344
Skriflesing: Miga 6 (2020)
Teksvers: Miga 6:6-8
In Miga is die Here in ‘n oordeelsgerig met Israel besig. Hulle het nie na die wil van die Here geleef nie. Die Here spreek hulle skerp aan oor hulle verhouding met die Hom. Die Israeliete het gedink dat hulle “dinge” en “goeters” vir die Here moet gee en dat hulle “dinge” moet doen om seker te maak dat die Here hulle nie sal straf nie.
In Miga 6:6-8 dui die Here egter aan dat Hy in die eerste plek nie belangstel in dit wat die Israeliete vir Hom kan gee of in dit wat hulle vir Hom kan doen nie. Hy is ons God wat in ‘n persoonlike verhouding met ons kom staan deur Jesus Christus. Ons het die Heilige Gees as gawe van die Here ontvang. Daarom kom Hy om jou hart te vra. Die Here is nie ‘n “saak” God nie, maar ‘n “Verhoudingsgod”. Wat vra die Here van jou sodat jy in ‘n persoonlike verhouding met Hom kan staan?
Skriflesing: Matteus 3:13-17 (2020)
Teksvers: Matteus 3:17
‘n Mens is nie altyd bly oor die dinge wat jy in die lewe doen nie. Baie mense het berou en spyt oor woorde en dade wat hulle leweslank swaar dra aan die gevolge. Tog is daar ook dinge waarop ‘n mens baie trots is, waaroor jy bly is.
Wanneer jou kind gebore word, dan deel jy met die hele wêreld jou blydskap. Dit is egter iets baie besonders as iemand onbekend jou vertel hoe aangenaam jou kind is, en hoe trots jy op jou kind kan wees…
As ons dink aan die Seun van God, dan maak Hy sy Vader bly. Die Vader is bly oor sy Seun, Hy vind vreugde oor sy Seun want sy Seun maak Hom bly. Is jy ook bly oor God se Seun, of dalk meer nog, dink jy God is bly oor jou?
SABBAT – Die Sabbat hou verband met God se skepping in 6 dae. God het die 7de dag as gereelde rusdag ingestel wat geheilig moet word (Eks 20:11). In Deut 5:15 lees ons dat die Sabbat ook verband hou met Israel se verlossing van hul slawebande in Egipte. Die Nuwe Testamentiese gelowiges heilig nie meer die Sabbat nie, omdat dit vervul is in Christus. Ons vier wel die rusdag (Sondag), synde die opstandingsdag van Jesus uit die dood. Sondag word as rusdag gevier aangesien ons as slawe van die sonde deur Jesus se kruisdood verlos is.
SABBATSJAAR – Dit is al om die sewende jaar gevier en het ‘n jaar lank geduur. In hierdie jaar moes die hele land rus en onbewerk gelaat word. Soos die Sabbat aan God gewy is, is ook hierdie jaar in sy geheel aan God gewy.
Die Sabbatsjaar is gevier tot eer van die Here (Lev 25:2 en 4). Soos daaglikse werk op die Sabbatdag gestaak moes word, so moes werk op die bewerkte lande en wingerde gestaak word. Deur die bewerkte lande en wingerde van menslike gebruik te onttrek, is die Sabbatsjaar aan God gewy deur die rus en herstel. Die Sabbatsjaar gee erkenning aan die feit dat God die werklike Eienaar van die grond is en daarop voorsien.
Die Sabbatsjaar gaan egter ook oor skuldafskrywing van mede-Israeliete, vrygewigheid aan die armes, vrylating van mede-Israeliete wat slawe is en eerstelinge van alle vee wat aan God gewy moet word. Die eerstelinge van grootvee mag nie gebruik word vir werk nie en die eerstelinge van kleinvee geskeer word nie. As offers moes dit in die teenwoordigheid van die Here geëet word op die plek wat die Here aangewys het. (Deut 15:19-20).
As Nuwe Testamentiese gelowiges moet ons blymoedig aan die behoeftes van armes voorsien deur ons diakonale bydraes. Dit gaan dus om die gelowige se verhouding met sy medemens asook ons verhouding met God wat ons as slawe van die sonde deur die kruisdood van Christus bevry het.
Na 7 Sabbatsjare (49 jaar), moes die Hersteljaar in die 50e jaar deur Israel gevier word as ʼn rusjaar tot eer van God. Israel het gejubel omdat die Here hulle uit Egipte verlos het en in die beloofde land ingelei het. In wese gaan die Hersteljaar oor die lossingsreg en teruggee van eiendom aan die oorspronklike eienaar onder bepaalde voorskrifte.
Eerstens gaan die Hersteljaar om Israel se verhouding met die Here. Tweedens gaan dit oor die gelowige se verhouding met sy medemens. Die streng voorskrifte aan Israel is nie meer op die Nuwe Testamentiese gelowiges van toepassing nie.
Alles behoort aan die Here en ons is slegs rentmeesters van dit wat God aan ons gee. Ons moet jubel en juig in die Here se voorsienigheid en daarom moet ons met vreugde en dankbaarheid gee.
As Christene moet ons jubel en juig oor Christus se verlossing van ons sondes en ons erfenis in die hemel. Daarom moet ons as gelowiges aan behoeftiges gee met blymoedige harte en vrygewige hande en moet ons wegdraai van die sonde en lewe tot heiligmaking.
Kom ons lei ‘n jubel lewe tot eer van God.
Oudl Gert Boshof
Skriflesing: Lukas 17:1-10 (2020)
Teksvers: Lukas 17:10
1. Die slaaf in die gelykenis kry nie ‘n ruskans nie. En jy, Gelowige?
Die slaaf moet ná ‘n dag se werk, steeds werk. Onregverdig? Gun ons Here ons ‘n ruskans?
2. Werk sonder ruskans en sonder loon, slaaf van Christus.
Soos die slaaf geen ruskans kry nie, is daar ook geen ruskans vir ons as gelowiges in ons diens aan Hom wat ons besit nie. Ons “geen ruskans” verskil egter radikaal van die slaaf se “geen ruskans”.
3. Geen ruskans in my:
denke, verhoudings, taalgebruik, gebedsgetrouheid, omgee, ens. nie.