Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 49 of 344

Die HERE is my Beker en Erfdeel

Skriflesing: Psalm 16:1-11 (2020) 
Teksvers: Psalm 16:5 

Die meeste van ons het ‘n testament wat ons erflating beskryf. Maar het u al ooit gedink wat gaan jy erf as jy doodgaan? 

Ja, natuurlik is daar vir elke gelowige kind van die Here ‘n erfenis wat “onverwelklik, onbesmet en onverganklik” is soos beskryf in 1 Petrus 1. Hierdie erfenis is nie iets nie, dit is Iemand. Dit is die Here self. Hy is ons erfdeel. Daarom kan Dawid so heerlik getuig en bly wees, want hy erf die Here. 

Daar is egter ‘n tweede beskrywing wat Hiermee saamgaan: die Here is sy Beker. Ons wil vanoggend hieroor nadink, wat beteken dit om die Here as beker te ontvang… 

Die amp van gelowige is diens aan God 

Artikel 2 van die Kerkorde van die Gereformeerde Kerke lui soos volg: 

“Daar is vier soorte dienste: die van die bedienaars van die Woord, die van die professore aan die Teologiese Skool, die van die ouderlinge en die van die diakens.” 

In elke gemeente is 3 van hierdie dienste nl. bedienaars van die Woord, ouderlinge en diakens. Let daarop dat ons praat van dienste. Dit beteken dat die amp ’n diens is van Christus. Hierdie ampte gaan oor die regering en versorging van die kerk. Die amptelike werk is diens tot eer van God. 

Daar is egter ʼn amp waarin elke gelowige staan nl die amp van gelowige. Almal in Christus word tot hierdie amp geroep. Die ampte van herder en leraar, ouderling en diaken se doel is om almal in die amp van gelowige toe te rus om God te dien Ef 4:12. Die fokus val dus op die gelowige. Ons is Christus se kinders wat Hy innig lief het, so lief dat Hy sy lewe vir ons afgelê het. 

In Ef. 1:4 lees ons dat God ons voor die grondlegging van die aarde uitverkies het sodat ons heilig en onberispelik voor Hom kan lewe. Ons is Vader dankbaarheid verskuldig vir ons verlossing. Paulus skryf dat ons as gelowiges konings, profete en priesters is. As koning moet ons ons opdrag van Gen. 1:28 nakom om oor die skepping te heers. Volgens Matt 28: 18-20 moet ons as profete God se Woord verkondig met ons dade en met woorde. As priesters moet ons biddend voor God lewe soos beskrywe in Rom 12:1,2. 

Hierdie amp is ’n heerlike amp waartoe die lewende barmhartige God ons geroep het en met die Heilige Gees ons elke dag toerus om die amp uit te voer. 

Ons sien vandag met groot vreugde die tekens van God se onbeskryflike groot liefde vir almal wat hy tot amp van gelowige geroep het. Hy het Sy Seun oorgelewer sodat ons heilig en onberispelik voor Hom kan wees. Gaan dan in die vreugde van Sy verlossing om God te dien en sy Naam te eer. 

Oudl Jaco Wattel 

Leeutemmer: Mag die Koning Ewig Leef!

Skriflesing: Daniël 6:1-29 (2020) 
Teksvers: Daniël 6: 6, 11, 21-22 

Watter eienskappe kenmerk jou lewe? Is jy iemand wat saggeaard is, of dalk baie geduldig? Daniël was gekenmerk as iemand wat onberispelik is in sy werk, niemand kon ‘n vinger na hom wys nie, maar hy het een “swakpunt” gehad. 

Sy lewe was ‘n volkome toewyding in geloof aan die lewende God. Dit is juis waaroor die verbitterde politici hulleself troos, dat hulle Daniël kan te na kom, omdat hulle weet sy geloof is onwrikbaar. 

Ons staan vanaand stil by die getuienis van Daniël se lewe as leeutemmer. 

Die Here roep tot verootmoediging voor Hy ’n bevryder stuur

Skriflesing: Rigters 6:1-10 (2020)
Teksvers: Rigters 6:8a

Israel was op hierdie stadium so oorweldig deur hulle vyande dat ’n normale lewe nie moontlik was nie. Die Here het dit oor hulle laat kom as gevolg van hulle sondes. Toe hulle om bevryding uit hierdie nood bid, stuur die Here nie dadelik ’n bevryder nie, maar eers ’n profeet. Hy kom ook nie met die goeie nuus van bevryding nie, maar met ’n bestraffing oor hulle sondes. So wys die Here ons dat Hy bekering voor bevryding wil hê. Daarom moet ons, voordat ons die nagmaal-fees van vergewing van sondes deur Jesus Christus geniet, eers ter voorbereiding besin oor ons sondes. 

JUBELJAAR

Die Jubeljaar in Bybelse konteks is ‘n tyd van herstel, dankbaarheid en aanbidding – ‘n tyd waarin God se voorsiening en genade gevier word. 

Die vyftigste bestaansjaar van ons gemeente is ‘n kosbare geleentheid om die grootheid en getrouheid van God oor vyf dekades te erken. 

In Judas 1:24-25 word ‘n lofprysing aan God gerig waarin ons ook kan meedoen met hierdie viering omdat dit fokus op God wat ons oor ‘n tydperk van vyftig jaar behoed en bewaar het. Dit is nie ons pogings nie maar die grootheid en genade van God wat ons beskerm en gelei het. 

Die lied “Hoe groot is U” dien as gepaste loflied om ook God skeppingsmag te eer en die fokus te plaas op Christus se offer aan die kruis wat die kern van ons verlossing en jubeling is. Dit pas by die jubeljaar se tema van herstel en genade. 

Saam met Judas 1:24-25 roep ook hierdie lied ons gemeente op om te erken dat God oor vyftig jaar getrou was en dat Sy mag en heerlikheid tot in alle ewigheid bly. Hierdie teks en lied herinner ons ook aan die bron van ons bestaan en groei – God self – en inspireer ons om die toekoms met geloof, vreugde en vertroue tegemoet te gaan. 

Die jubeljaar is dus nie net ‘n viering van die verlede nie maar ook ‘n uitnodiging om in aanbidding te staan en soos Judas 1:25 te verklaar: “Aan Hom wat die mag het om julle daarvan te bewaar dat julle struikel, en om julle onberispelik en jubelend voor Sy heerlikheid te stel, aan die enigste God, ons Verlosser, deur Jesus Christus ons Here, behoort die heerlikheid, majesteit , krag en mag – van voor alle tye, en ook nou, en tot in alle ewigheid. Amen.” 

Oudl Louis Trichardt 

« Older posts Newer posts »