Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 46 of 344

Kan die Verlosser Homself Red?

Skriflesing: Matteus 27:32-54; Psalm 22:1-12 (2020) 
Teksvers: Matteus 27: 42-43 

As die Verlosser Homself nie kan red nie, hoe sal Hy jou kan red? As Hy van die kruis kan afkom, en Homself kan red van die dood, sal dit tog baie rede gee vir mense om in Hom te glo! 

So is daar in die wêreld baie mense wat op hulle eie voorwaardes sal glo. Dit is egter nie die mens nie, maar God wat die voorwaardes van verlossing stel. 

Ons staan vanoggend stil by hierdie skynbare teenstelling, waarom Jesus Homself nie red nie. 

Psalms

In hierdie jubeljaar het ons die voorreg om Psalms te sing. 

Hierdie is aanhalings uit: “Ek sing ‘n lofsang by my snare” (Psalms as lied in die Erediens) deur T.G. van Wyk. Die Griekse woord “psalmos” beteken ‘n lied wat met begeleiding van snarespel gesing word. Volgens sekere verklaarders is dit ook die betekenis van die Hebreeuse woord “mizmoor” wat in die opskrif van 57 Psalms voorkom en inderdaad in Afrikaans met “psalm” vertaal is. 

Wat gebied die Skrif? 

Luister wat sê Ps. 47:7,8: “Psalmsing tot eer van God, psalmsing! Psalmsing tot eer van ons Koning, psalmsing! … ” 

Ps. 81: (Dit is die Verbond Psalm) Vers 3: “Hef aan ‘n lied…” (In die State-Bybel word in die plek van lied, Psalm gebruik) Vers 5: “…want dit is ‘n insetting vir Israel“. 23 Ps. 105:2: “Sing, psalmsing tot sy eer.” 25 Ps. 147:7: “Sing ‘n danklied tot eer van die Here, psalmsing tot eer van onse God, met die siter“. 

Jakobus 5:13: “Is daar iemand onder julle wat ly? Laat hom bid. Is iemand opgeruimd? Laat hom Psalmsing“. 

1 Kor 14:15: “Ek sal met die gees psalmsing, maar ek sal ook met die verstand psalmsing.” 

Ef. 5:19: “Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here“. 

Kol. 3:16: “Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here“. 

Laat ons dan in hierdie Jubeljaar in gehoorsaamheid en dankbaarheid saam met ons geliefde mede-broeders en -susters psalmsing tot eer van Sy Naam 

Oudl Leon Lourens 

Die kruisiging van Jesus Christus is die spilpunt van ons verlossing

Skriflesing: 1 Kor 2: 1-5 (2020)
Teksvers: 1 Kor 2:2

In ons Christelike geloofslewe beklee die kruisiging van Jesus Christus ‘n baie sentrale plek. Inderdaad is die kruisiging van Jesus Christus die spilpunt waarom ons verlossing draai. Sonder die kruisiging, die dood, die oordeel, die vloek en straf wat Jesus Christus op Hom geneem het, sou daar geen troos of hoop vir ons gewees het nie. 

Mag jy weer nadink oor die rede waarom Jesus gekruisig is en gesterf het. Mag jy by hernuwing dankbaar wees dat die Here dit beskik het, en dat Jesus Christus vrywillige gewillig was, om die verlatenheid van God en mense aan die kruis deur te gaan. So alleen kan ons verseker wees dat Hy die straf en oordeel wat ons moes toekom, op Hom geneem het en aan ons die sekerheid kom gee het dat God ons nooit sal verlaat nie. 

Die Jakkals is Begerig en Bly om Jesus te Sien

Skriflesing: Lukas 23: 1-25 (2020)
Teksvers: Lukas 23: 8-12

Herodes is bly om Jesus te ontvang want hy was al lank begerig om te sien wie hierdie Jesus is waarvan hy al so baie gehoor het. Nooit het Herodes ooit die moeite gedoen om self te gaan kyk of hoor wat Jesus doen en verkondig nie. Tog is hier vir Herodes ‘n geleentheid, om deur Jesus vermaak te word. 

Maar die Here is stil. Hy sê niks, daarom vermaak Herodes homself deur Jesus te mishandel. 

Ons kyk vanmore na die lydingsweg na die kruis en hoe vyande van Christus, vriende van die wêreld word. 

Jubeljaar en Onderwys

Ons bly in ’n stadsomgewing waar ons geseënd is met verskeie skole. Van Kleuterskole Laerskole en Hoërskole, ja selfs Universiteite, Kolleges en ander instellings, wat waarskynlik onder die bestes in ons land tel. Baie van die instellings kan selfs op Internasionale vlak deelneem. Daar is ook in ons gemeente ’n korps van Katkisasie-personeel wat op Sondae ons kinders onderrig. 

Ons is baie maal geneig om hierdie instellings te kritiseer. Dink maar net hoe gereeld bedank ons die onderskeie instellings en hulle betrokke personeel vir die reuse taak wat hulle in ons kinders se lewens verrig? 

Ons ouers het met ons eie doop beloftes afgelê. Ook het ons elkeen as ouers met die doop van ons eie kinders die doopbelofte afgelê. Hoe gereeld gaan herbesoek jy daardie belofte? Luister jy telkens aandagtig met die doop van ’n nuweling in ons gemeente? 

Ek verwys graag na die derde doopbelofte: “Beloof u om hierdie kind, van wie u vader en moeder is, in dié leer na dié beste van u vermoë te onderrig en te laat onderrig?” 

Met die ingedagte, mag ons in die Jubeljaar dankbaar wees vir die instellings en mense waar ons, ons kinders laat onderrig. Mag ons uitreik na die persone wat ons toevertrou in hierdie groot taak. Mag ons hulle bedank vir die positiewe invloed in ons kinders se lewens. Mag ons hulle opdra in ons gebede. En mag ons self ook aanmeld om op die wyse ’n verskil in ander se lewens en in die Koninkryk van God te kan maak. 

Paasfees het juis ook die karakter om as gesin saam te kom en die groot werke van God se verlossing oor te vertel. Gebruik die geleentheid om saam te leer oor Wie God is en wat Hy alles doen en vir ons moontlik maak. 

Laastens, mag ons jubel oor ons kinders en die boodskap so ook aan hulle oordra! 

Oudl Louis Dekker 

« Older posts Newer posts »