Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 45 of 331

Dissiplines van ‘n heilige lewe (5): Gemeenskap van die heiliges

Skriflesing: Hebreërs 10:19-39 (1983)
Teksvers: Heb 10:25

Ons het nou reeds verskeie dissiplines (geestelike gewoontes) van die nuwe mens in die PREDIKING aangespreek. 

Ons teks spreek die slegte gewoontes, van wegbly uit die samekomste aan. As ons besef dat die brief aan die HEBREËRS eintlik aan ‘n groot christelike gemeente in Rome gerig is, verstaan ons ook die sogenoemde ‘samekomste’ (vs 25). Hulle het in klein huisgemeentes saam-gekom. Die Here roep ons dus op tot die intieme samesyn met medegelowiges. 

Die Griekse woord vir hierdie onderlinge gemeenskap is ‘koinonia’ wat nou al byna as ‘n Afrikaanse woord geyk is. 

Hervorming: Luther se 95 Stellings

Op 31 Oktober 1517 het dr Martin Luther, ‘n Duitse teoloog en hervormer, sy 95 stellings op die deur van die Kasteelkerk in Wittenberg, Duitsland se deur vasgespyker. Hierdie dapper daad het die Protestantse Hervorming ontketen en die Katolieke Kerk se praktyke en leerstellings uitgedaag. 

Luther se stellings het die Katolieke Kerk se verkoop van aflate gekritiseer, wat vergifnis van sondes in ruil vir geld belowe het. Hy het aangevoer dat: 

  1. Geloof, nie finansiële transaksies nie, tot verlossing lei. 
  2. Die Kerk het geen gesag gehad om vergifnis te verkoop nie. 
  3. Die praktyk het die armes uitgebuit en ware bekering ondermyn. 

Luther het individuele geloof en Skrif bo kerklike tradisie beklemtoon. Hy het die pous se gesag en die konsep van pouslike onfeilbaarheid uitgedaag. Die stellings het gevra vir teologiese debat en hervorming binne die kerk. 

Die 95 stellings het vinnig versprei en ontevredenheid met die kerk aange-wakker. Luther se idees het ander hervormers, soos Johannes Calvyn en Zwingli, geïnspireer. So ontstaan die Protestantisme van die 16e eeu. Luther se stellings was ‘n groot draaipunt in die Christelike kerkgeskiedenis en het Reformasie op nie alleen kerklike gebied nie maar ook in die politiek, kultuur en taal bevorder. 

Die vyf solas van die Reformasie is: 

  • Sola Scriptura (Alleen die Woord van God), 
  • Sola Gratia (Uit genade alleen), 
  • Sola Fide (Slegs deur die geloof ), 
  • Solus Christus en 
  • Soli Deo Gloria. 

Ds Maarten 

Lees gerus die 95 Stellings: https://proregno.com/2017/07/19/die-95-stellings-van-maarten-luther-in-afrikaans/ 

Die Lof van die Here vul die ewigheid

Skriflesing: Openbaring 14:1-5 (2020)
Teksvers: Openbaring 14:1-2

Die hemel is gevul met almal wat Hom loof en prys. Dag en nag word sy lof besing en sy heerlikheid en eer geprys. Dit is so besonderse taak, dat dit die volheid van die werk omvat van almal wat in die hemel is. Die lof van God vul die ewigheid. 

Dit is die lof waarvoor ons voorberei om saam met al die heiliges te mag deel. Dit mag ons reeds hier op aarde doen. Ons lofsange begin reeds hier op aarde en duur tot in ewigheid. 

Jy my siel, loof jy Hom bowenal! 

Die nuwe lewe in Christus: (4) Die Lewe is Aanbidding

Skriflesing: Numeri 6:1-27 (2020)
Teksvers: Numeri 6:2-4

Sommige mense reken om te lewe is om alles te doen en alles te besit wat jou hart begeer. Op die oog af lyk dit begeerlik en op die oor klink dit reg, maar in die hart bly dit leeg. Indien jy egter nie van beter weet nie, sal dit nie ‘n slegte ambisie wees nie. 

Die Here se Woord leer ons egter dat die lewe baie meer is as wat ons besit. Dit gaan oor wie ons is. Dit is makliker gesê as om te doen. Om so te leef dat jou hele lewe aanbidding is. 

Daarvoor het die Here ‘n uitsonderlike gelofte toegelaat, die van Nasireërskap. ‘n Vrywillige toewyding aan die Here as voorbeeld van ‘n lewe van aanbidding. 

Die lewe is aanbidding

Vita Est Adoratio

Die lewe is aanbidding – dit is wat hierdie bekende spreuk beteken. Die hele lewe is om God te aanbid. Elke dag is soos ‘n erediens wat die hele bestaan van ons menswees omsluit. Ons aanbid God nie net op ‘n Sondag of as ons kerk toe gaan nie, maar in elke gedagte en woord en daad. Ons hele lewe is ‘n toewyding aan God. 

In ons Christelike dissipline van ‘n nuwe lewe in Christus word hierdie aspek die middelpunt wat ons hele lewe dryf. God wil hê dat ons hele lewe ‘n aanbidding moet wees van Hom. Dat Hy regeer oor alle sfere van die lewe. Natuurlik is die erediens sentraal in aanbidding, maar aanbidding strek baie verder as net die erediens. Dit is wat ons leef en beleef in die erediens wat ons help dat ons hele lewe aanbidding word. 

U weet mos wat soms gebeur met ons kinders en jongmense, dat hulle ‘n ikoon het wat hulle lewe inspireer. Dan sal jy sê jou kind aanbid die grond waarop daardie persoon loop. Dit beteken dat daardie persoon so groot invloed uitoefen dat jou kind se gedrag verander. 

Die Bybel leer ons dat ons God so moet aanbid. Ons moet in verwondering wees oor ons Maker. Jy moet Christus navolg in elke aspek van jou lewe. In jou stiltetyd en Bybelstudie, in jou gebed en gemeenskap van geloof sowel as in jou diensbaarheid en belydenis van geloof. Ons word wat ons aanbid. Dit verander jou menswees. Jou aanbidding heilig jou. As jy mammon aanbid, word dit jou lewe. As jy bachus aanbid lyk jou lewe naderhand so. Maar so ook as Jy die Drie-enige God aanbid, dan vertoon jy die beeld van God in sy geregtigheid en heiligheid en waarheid. Jy dra die vrug van die Gees. 

Onthou dan, jou liggaam is ‘n tempel, ‘n plek van aanbidding. Laat God jou verander deur die vernuwing van jou denke, sodat jy sy heilige wil mag volbring deur jouself te stel as ‘n lewende, heilige en welgevallige offer aan Hom, dit is ons redelike godsdiens. 

Lourens (vdm) 

« Older posts Newer posts »