Page 45 of 344
Skriflesing: Lukas 16:1-9 (2020)
Teksvers: Lukas 16:8b
Die antwoorde wat jy in hierdie lewe gee, is veelseggend.
Die bestuurder in Jesus se gelykenis worstel met die een vraag: “Wat moet ek nou doen?” Die antwoord wat hy gee, is veelseggend. Teenoor die antwoorde wat die mense van hierdie wêreld gee, stel Jesus die antwoorde van die “mense van die lig.”
Wie deur die Lig verlig is, behoort:
• die krisisse in hulle lewe gouer en beter te herken en te erken
• nie deur krisisse verlam te word nie
• nie in selfsug tydelike vriende te soek nie, maar in liefde “ewige” vriende.
Skriflesing: Lukas 24:1-35 (2020)
Teksvers: Lukas 24:14
1. Sonder verwagting ná daardie Sondagmôre!
Die Here se oorwinning is reeds bekend. Tog loop twee van sy volgelinge in moedeloosheid en gedagtes wissel.
2. Gelei tot verwagting daardie Sondagmiddag.
Jesus soek sy moedelose volgelinge op. Hy begin saam met hulle stap. Sonder dat hulle weet Wie Hy is, begin Hy hulle op ‘n baie persoonlike en liefdevolle manier in hulle denke begelei.
3. Verwagting verkondig daardie Sondagaand.
Toe die volgelinge se oë geopen is, gaan hulle terug na Jerusalem. Hulle wat “weet” die Here het regtig opgestaan, moet daardie wonderlike wete met ander deel.
Hoe verskil die lewe van ‘n Christen teenoor ‘n nie-Christen? Beleef ons as Christene nie ook maar teenspoed of swaarkry nie? Word ons nie ook maar siek nie? Of beleef ons as Christene nie enige finansiële druk nie? Net soos enige iemand anders, of dalk selfs meer, juis omdat ons Christene is, beleef ons ook moeite, swaarkry en verdriet.
Paulus bid vir die gemeentes van Kolossense en Tessalonisense:
Kolossense 1:3-5: “Elke keer wanneer ons vir julle bid, dank ons God, die Vader van ons Here Jesus Christus. Dit doen ons, want ons het gehoor van julle geloof in Christus Jesus, en die liefde wat julle vir al die heiliges het, op grond van die hoop wat in die hemel op julle wag.”
1 Tessalonisense 1:2-3: “Ons dank God altyd oor julle almal wanneer ons aan julle dink in ons gebede. Voor God ons Vader onthou ons onophoudelik die uitwerking van julle geloof, die moeitevolle inspanning van julle liefde, en die standvastigheid van julle hoop op ons Here Jesus Christus.”
Paulus bid nie: “ons dank die Here omdat ons gehoor het hoe goed dit met julle gaan en hoeveel voorspoed julle beleef”, nee, Paulus dank God omdat die Christene se lewens gekenmerk word deur geloof, hoop en liefde.
Gaan dus hierdie week in met ‘n diepe geloof in ons Koning en Verlosser Jesus Christus, en met standvastige hoop op al God se beloftes en ‘n onvoorwaardelike liefde aan God, aan ons naastes en aan alle mense.
Oudl Eric Guldemond
Skriflesing: Lukas 24: 13-35 (2020)
Teksvers: Lukas 24: 24: 25
Hoofpunte:
1. Jesus se verskyning.
2. Jesus se onderrig.
3. Die gelowige se blye reaksie.
“’n Paar van ons het na die graf gegaan en dit net so aangetref soos die vroue gesê het, maar Hom het hulle nie gesien nie.” Toe sê Hy vir hulle: “O, julle wat so sonder begrip is, met harte wat traag is om alles te glo wat die profete gesê het! “
Lukas 24: 24: 25