Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 47 of 331

ʼn Nuwe lewe in Christus (2): Om God te ken is die lewe 

Skriflesing: 2 Timoteus 3:10-4:5; Handelinge 8:26-40 (2020) 
Teksvers: 2 Timoteus 3:16,17 

Van brood alleen sal die mens nie leef nie, maar van elke Woord wat uit die mond van God gaan. Nie net skep God deur sy Woord nie, Hy herskep. Hy bring lewe uit die dood. God se Woord is die wonderlikste denkbare geskenk wat enige mens kan ontvang. Dit is die lewe self. 

Daarom moet God se Woord vir ons kosbaar wees, dit moet ons lewe omsluit. Dit moet ons asemhaling wees om God te ken. Deur God se Woord ken ons Hom, spreek Hy tot ons, bestaan ons. 

Vanoggend dink ons na oor die wyse waarop Christene God se Woord hulle hele lewe vervul en rig. 

Skerper as ‘n Tweesnydende Swaard

Een van die grootste gevare van die Christendom is ‘n baie onverwagse en skynbare onskadelike vyand. Dit is nie ‘n boosaardige gedrog wat jou wil oorrompel en verskeur, soos ‘n brullende leeu wat op jou afstorm nie, maar een wat lyk soos ‘n engel van die lig. Dit is gewoonlik die skadelikste dwaling, wat die naaste is aan die waarheid. Dwalinge is nie blote namaaksels van die waarheid soos ‘n goedkoper opsie wat Made in China is nie. 

U sien, hierdie gevaar wat menige gelowiges tot ‘n val gebring het, is gemaksug. Dit is die veronderstelling dat jy as gelowige “veilig” is en niks kan oorkom nie, omdat jy die Bybel ken. Dit is die gerief van ‘n Bybel in die sak, maar God se Woord wat ver van jou hart is. 

Baie self-identifiserende Christene verklaar hulself as Bybel kenners, en sommige van hulle ken inderdaad die Bybel goed, maar die Woord van God bring geen verandering in hulle lewe nie. Vir baie toegewyde gelowiges is die Bybel ‘n sentrale deel van hulle lewe, en tog leef hulle nie die Bybel nie. 

Om Bybel te lees het ‘n gewoonte geword, ‘n manier om geestelik gerus gestel te word. Hoeveel maal het u nie al die Bybel gelees en eintlik al vergeet wat jy gelees het nog voordat jy die Bybel terugplaas op jou bedkassie? Dit is soos iemand wat in ‘n spieël kyk en onmiddellik vergeet hoe hy lyk (1 Korintiërs 13). 

God se Woord is die bekendmaking van die Skepper van hemel en aarde. Dit is die eie Woord van God, die Almagtige aan wie jou hele bestaan te danke is. God wil met sy kinders praat, Hy wil hulle onderrig en bemoedig, waarsku en vermaan, maar sy kinders wil nie na sy stem luister nie. Ons het so besig geword dat ons nie meer tyd het om te hoor wat God vir ons wil sê nie. 

Maar weet u, die oomblik as jy jou tyd anders inrig, om tyd te maak vir God om jou tiende van jou tyd ook aan die Here te wy, om Hom te leer ken, dan verander dit jou lewe. Want God se Woord is skerper as ‘n twee snydende swaard. Dit dring deur gewrigte en murg. Dit sny waar geen lem kan bykom nie. Dit opereer jou hart. 

Maak tyd vir God, laat die Woord van God deur die Heilige Gees jou verander deur jou denke te vernuwe. Beproef die goeie en volmaakte wil van God, dan sal jy ware vreugde en vrede ervaar. 

Lourens (vdm) 

Heilig, Heilig, Heilig is die Here

Skriflesing: Openbaring 4:1-11 (2020)
Teksvers: Openbaring 4:8

Slegs twee maal in die Skrif vind ons ‘n drie-dubbele herhaling van dieselfde woord as lofsang. Dit is die engele wat God se lof besing in die visioen van die profeet Jesaja, sowel as hier in Openbaring rondom die troon van God in die visioen van Johannes. 

Ons staan vanaand stil by die lofsang en die betekenis van hoe ons as heiliges ‘n nuwe lied kan sing: heilig, heilig, heilig is die Here. 

Geloofsdissipline van die nuwe mens       in Christus (1): Tyd om die Here te ken

Skriflesing: Eksodus 33:11-17; Joh 17:1-2; Matteus 25:1-13 (1983)
Teksvers: Eksodus 33:12,13,17

In die laaste kwartaal van hierdie jaar, onder die hooftema – Die Nuwe Mens – gee ons nou aandag daaraan hoe ons godsdienstige lewe moet wees vir gesonde groei en geloofsvolharding. 

Vandag dink ons na oor die belang van stil-wees of stil-raak om die teenwoordigheid van die Here te soek. 

In die dolle gejaag van die alledaagse lewe het ons dikwels nie tyd vir stil-sit of stil-raak nie. Dalk kort ons ook hier so bietjie vernuwing of bekering. 

Kerklose Christene

Ek sal nooit Joel Beeke se woorde vergeet wat hy in 2004 by ‘n predikante konferensie gesê het nie. Hy het uit Handelinge 20:28 gepreek. Sy presiese woorde was: ‘The Church was worth His blood, is it not worth your time?’ Wanneer God mense red, plaas Hy hulle in ʼn liggaam en nie in ‘n hoek nie. Die Skrif sê: “Die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop; en daar is op dié dag omtrent drie duisend siele toegebring… En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is.” (Handelinge 2:41, 47). En weer: “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam” (1 Korintiërs 12:13). 

Iemand wat glad nie in ander gelowiges belangstel nie, is ongered. Johannes skryf: “Ons weet dat ons oorgegaan het uit die dood in die lewe, omdat ons die broeders liefhet. Hy wat sy broeder nie liefhet nie, bly in die dood.” (1 Johannes 3:14). Die feit dat jou naam op die lederol van ’n gemeente verskyn, beteken nie noodwendig dat dit in die Boek van die Lewe is nie. “Die Here ken die wat syne is” (2 Timoteus 2:19). Jy kan uiterlik deel wees van ’n kerk sonder dat jy innerlik deel is. Johannes skryf oor sulke mense en sê dat baie van hulle uiteindelik die kerk verlaat: “Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie.” (1 Johannes 2:19). Let asseblief op dat daar volgens Johannes net twee kategorieë is. Iemand wat nie binne die kerk is nie, is buite; iemand wat nie deel van Christus se liggaam is nie, is in die wêreld en ongered. Moet asseblief nie dink jy kan ’n ware gelowige wees en geen belang hê by die kerk nie. As dit so is, beteken dit dat Jesus ‘n Hoof is sonder ‘n liggaam. 

Ek kan hoor hoe sommige van my lesers sê: ‘Daar bestaan in die Bybel nie iets soos lidmaatskap nie.’ ‘I beg to differ.’ Feitlik elke brief in die Nuwe Testament is aan gemeentes of hulle leraars geskryf. Selfs ’n brief aan ’n individu soos Filemon sê: “aan die gemeente wat in jou huis is” (Filemon 2). Dit is ook duidelik dat die vroeë Christene geweet het wie deel was van die gemeente en wie nie. Volgens Handelinge 1:15 was daar eers 120 mense. In 2:41 het daar omtrent 3000 bygekom, en in 4:4 het die getal van die mans alleen tot omtrent 5000 gegroei. Volgens Romeine 16:1 was Febe deel van die gemeente in Kenchreë (Korinte se hawestad). Mense wat sê lidmaatskap is nie Bybels nie, praat onsin. 

Die Bybelverse oor lidmaatskap lê dwarsoor die Nuwe Testament versprei soos kosmos in die Vrystaat. Daar is 58 ‘mekaar’-opdragte in die Nuwe Testament: dra mekaar se laste, bid vir mekaar, vergewe mekaar, vermaan mekaar, bou mekaar op, ens. Hoe kan enige gelowige hierdie opdragte effektief uitvoer as hy nie deel is van ‘n gemeente nie? As ‘n gelowige na vele waarskuwings in sy sonde volhard, moet hy van die gemeente afgesny word (Matteus 18:17). Maar hoe kan hy van die gemeente afgesny word as hy in die eerste plek nie deel was daarvan nie? Trouens, om deel te wees, is niks anders as lidmaatskap nie. 

Verder sê die Bybel dat ons gereeld die nagmaal moet vier. Volgens 1 Korintiërs 10:16-17 en 11:17-34 moet ons dit doen wanneer ons saamkom… SAAMKOM. Dit is onbybels om lidmaatskap te verag en die nagmaal saam met jou gesin te vier. Volgens Hebreërs 13:7 en 1 Tessalonisense 5:12 moet Christene hulle leiers gehoorsaam, liefhê, en respekteer. Impliseer dit nie dat jy deel moet wees van ‘n gemeente met leiers nie? As jy opsetlik by die huis bly en die preke op RSG of DSTV wil luister – iemand wat siek is het ‘n geldige verskoning – moet jy nie verwag dat die plaaslike dominee jou in die hospitaal moet besoek nie. Vra vir RSG om iemand te stuur. Ek verkies om my by Martyn Lloyd-Jones te skaar. In 1927 het hy die volgende woorde geskryf: 

‘People complain about the dwindling congregations and how the churches are going down. Why are people ceasing to attend places of worship? Why is it, that last Sunday night I noticed that, while the places of worship in Cardiff were only sparsely attended, the trains coming from Porthcawl and other sea-side places were packed out? Why did these people spend their Sunday at the sea-side and in other places rather than in the House of God worshipping? Well, the answer is perfectly plain. They obviously prefer to be at the sea-side and feel that they get more benefit there than they do in their chapels and churches. Now it is no use our arguing with people like that, it is no use our telling them that they really do not get greater benefit there, because they honestly believe that they do… What I feel like saying to these trippers is this: If you honestly believe…that you derive greater benefit by spending your day in the country than you do by attending a place of worship, well then, go to the country. Don’t come here if you honestly feel that you could do better elsewhere. Unless you feel that something is being offered and given to you here which no other institution can offer or equal, well then, in the name of Heaven, go out into the country or to the sea-side. The church of Christ is a church of believers, an association of people banded togeth-er by a common belief and a common love. You don’t believe? Well, above all, do not pretend that you do. Go to the country and the sea-side. All I ask of you is, be con-sistent. When someone dies in your family, do not come to ask the church in which you do not believe to come to bury him. Go to the sea-side for consolation…’ 

Liewe leser, jy moet asseblief besef dat lidmaatskap nie ’n blote formaliteit is nie. God verwag toewyding. In die eerste gemeente het die gelowiges hulleself aan goeie prediking, geestelike gemeenskap, die nagmaal en gesamentlike gebed gewy
(Handelinge 2:42). Ek verstaan nie hoe mense sonder gemeenskap deur e-kerk of
preke op die radio wil groei nie. Die Skrif sê dan: “en laat ons op mekaar ag gee om
tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie
versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.” (Hebreërs 10:24-25). As jy nie saam met die gelowiges wíl vergader nie, sal Jesus jou nie spesiaal in jou sitkamer ontmoet nie. Toe Jesus ná sy opstanding met die dissipels ontmoet het, was Thomas nie daar nie. Jesus het nie moeite gedoen om hom in die week te ontmoet nie.

Thomas moes wag tot die volgende Sondagaand (Johannes 20:24-29).
As jy van die gemeentelike byeenkomste af wegbly, sal jy seën mis. Volgens Paulus
en Johannes openbaar Jesus sy heerlikheid in die gemeente (Efesiërs 3:21,
Openbaring 1:13, 20, 2:1). Martyn Lloyd-Jones het gesê:

‘People who neglect attendance at the house of God are not only being unscriptural – let me put it bluntly – they are fools. My experience in the ministry has taught me that those who are least regular in their attendance are the ones who are most troubled by problems and perplexities… Moreover, those who do not attend God’s house will be disappointed some day, because on some favoured occasion the Lord will descend in revival and they will not be there. It is a very foolish Christian who does not attend the sanctuary of God as often as he possibly can, and who does not grieve when he
cannot.’

Dalk ken jy die storie van die man in die noorde van Skotland? Hy was baie ongereeld by die kerk. Die dominee het hom op ‘n koue wintersaand besoek. ‘n Kaggelvuur het gebrand. In doodse stilte het die dominee en die man na die vuur gekyk. Die dominee het later opgestaan en met ‘n ystertang ‘n kooltjie uit die vuur gehaal en eenkant gesit.

Die kooltjie het al hoe flouer begin brand, totdat dit swart was. Die dominee het die kooltjie in die vuur teruggesit. Na ‘n kort rukkie het dit weer gegloei. Die dominee het opgestaan en die man gegroet. Hy het die boodskap gekry.

Ivor Jefferies
(https://goeietyding.wordpress.com/2016/02/24/die-probleem-met-kerklose-christene/)

« Older posts Newer posts »