Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 44 of 344

‘n Herstelde gebedslewe

Skriflesing: Handelinge 12 (2020) Psalm 130
Teksvers: Hand 12:12

In die diepste donker ure van ons aardse lewe en stryd is ons
nooit en nimmer alleen nie. Die Here sien sy kinders en die
Here hoor. Hy hoor altyd.

Dit is dus van uiterste belang dat ons elkeen ‘n diep
persoonlike, maar ook gemeenskaplike gebedsverhouding
met die Here aanleer en inoefen.

Hy is nie vér van enigeen van ons af nie.

Christus die vervulling van dieJubeljaar

Levitikus 25 beskryf die Sabbatsjaar en die Jubeljaar. Elke sewende jaar moet die land rus. Ná sewe sulke siklusse, in die 50ste jaar, is dit Jubeljaar: grond word aan oorspronklike eienaars teruggegee, slawe word vrygelaat, en skuld word herstel—’n jaar van vryheid en herstel volgens God se wil.

Wonderlike vryheid en herstel veral vir onderdruktes en behoewendes, maar moontlik ook ‘n tyd van geestelike beproewing en geloofsvertroue vir welgesteldes wat moet afstand doen van grond en/of arbeiders.

In Lukas 4:16-21 kan ons sien dat Jesus sy koms en sending direk verbind aan die Jubeljaar wanneer Hy in die sinagoge uit Jesaja 61 lees:
“Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die goeie boodskap aan arm mense te verkondig.
Hy het My gestuur om gevangenis aan te kondig dat hulle vrygelaat sal word, en vir blindes dat hulle weer sal sien, om onderdruktes te bevry,
en om die genadejaar van die Here aan te kondig.”

Die genadejaar is ’n verwysing na die Jubeljaar (Levitikus 25) en Jesus sê in wese dat Hy die vervulling is van die Jubeljaar.

Hy praat nie net van ’n ekonomiese herstel nie, maar bied geestelike en sosiale herstel aan: vryheid van sonde, skaamte, skuld en onderdrukking.

In Christus leef ons in ʼn Jubeljaar as onverdiende verloste sondaars; dit roep ons op tot ‘n lewe van dankbaarheid, maar vereis ook ‘n aktiewe geloofsvertroue in God se wil en werking in ons lewens.

Oudl J Hoogendyk

Ware geloof in Christus vra selfverloënende diens en liefde

Skriflesing: Johannes 21:15-25 (2020)
Teksvers: Johannes 21:15-17

Hoofpunte: 
1. Selfverloëning. 
2. Diens. 
3. Liefde. 

“Hy vra hom die derde keer: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief? “Petrus het bedroef geword omdat Hy hom die derde keer gevra het, “Het jy My lief?” en hy antwoord Hom: “Here, U weet alles. U weet dat ek U lief het.” Jesus sê vir hom: “Laat my skape wei.”” 

Joh 21:17 

Wat Wil Jy Hê?

Skriflesing: Nehemia 2:1-20 (2020)
Teksvers: Nehemia 2:4

Die Jubeljaar is ook ‘n hersteljaar. Dit gee geleentheid om dinge reg te maak wat deur die verloop van tyd verkeerd gegaan het. Maar herstel kom nie vanself nie. 

Baie keer is herstelwerk baie meer veeleisend en baie meer moeite as om dinge maar net te los soos dit is. Om dinge egter net te los, bring nie verbetering nie. So het Nehemia verneem dat al die ballinge wat teruggekeer het na Jerusalem, selfs nadat die tempel herstel is, nog nie die muur herstel het nie. 

Nehemia se ontsteltenis is op sy gesig te sien, en in sy houding. Dan vra die koning vir hom ‘n geweldige vraag, en ‘n vraag wat ek en jy self moet beantwoord oor die dinge wat ons graag wil regstel in die lewe: Wat wil jy hê moet gebeur? 

Ware Barmhartigheid

“Julle wat hier sit in die kerk, het my amper dood gemaak.” Dit is harde woorde van ‘n gerehabiliteerde straatbedelaar by ‘n kerkbyeenkoms waar hy sy getuienis gelewer het. 

Ja, hy het ook ‘n verantwoordelikheid, maar elkeen wat sonder verantwoording geld in sy hand gestop het, was deel van sy probleem. 

Barmhartigheid beteken betrokkenheid by die probleem totdat dit opgelos is. Barmhartigheid veroorsaak nie afhanklikheid van mense nie. Ons kan slegs afhanklik wees van God! Die Barmhartige Samaritaan (Lukus 10) het nie net die arme jong man ‘n paar munte in die hand gestop en gehoop hy help homself nie? Hy het werklik deel geword van die probleem tot by oplossing. 

Daar is ongeveer 8000 straatbedelaars in Pretoria en Centurion omgewing, 99,9% van hulle het een of ander afhanklikheid – dwelms en/of drank. Hulle bedel/verdien daagliks ‘n gemiddeld van R300 tot R900 kontant. Soms met die mees hartroerende stories. 

Daar is meer as 42 kosbedieningspunte in die area en ook verskeie organisasies wat help met straatbedelaars. Die geld wat hulle so bedel word primêr vir die koop van dwelms gebruik – kos kry hulle in elk geval. Selfs die kos, doeke en babamelk wat hulle bedel word verkoop. Hierdie is in baie gevalle die mense wat dwelms aan ons kinders verkoop. 

Die gevaar bestaan dat jy nie deel is van die oplossing van die probleem nie maar van die oorsprong daarvan, deur die selfsugtige en onverantwoordelike uitdeel van geld en goed aan die mense wat uiteindelik gaan oor die gewer se “goedvoel” omdat hy/sy “gehelp” het. 

Help eerder die wat reeds help en weet wat om dit te doen, of vra eerder hoe om te help. 

Hippocrates het gesê: “maak ‘n gewoonte van twee goed, om te help, of om ten minste nie skade te doen nie.” 

Oudl Anton Smith 

« Older posts Newer posts »