Page 167 of 332
Skriflesing: Ef 2:11-22; 1 Petr 2:1-10
Teksvers: Ef 2:20-22
As jy op die internet rondblaai, is daar letterlik duisende der duisende Christelike denominasies. Die vraag is altyd, wat, wie en waar is die kerk? Wat is die ware kerk? Wie is die ware kerk? Waar is die ware kerk? Om die antwoord te kry lê egter nie op die internet of doktorsgrade of studies nie, maar lê eenvoudig in die Bybel. Ons moet in die Bybel gaan kyk wat God bedoel het met wat, wie en waar die kerk is! Daarom gaan ons in eenvoud vanaand kyk na wat die Skrif, ook op simboliese wyse aan ons openbaar:
– Wat die kerk is!
– Hoe die kerk gevorm of gebou word!
– Die fondament van die kerk!
– Die bou van die kerk!
– Die dak en die nok van die kerk!
Skriflesing: Esegiël 16
Teksvers: Esegiël 16:60-63
Vir baie mense het die doop, veral die kinderdoop, iets van ‘n familie-ritueel geraak en loop ons die gevaar dat dit eintlik iets soos familie-saamtrek kan word. Dié klemverskuiwing kan gevaarlik wees. Die doop aan kinders (en grootsmense) is vir seker iets waar jou familie (as hulle ons geloof deel) saam bly kan wees. Die doop vind egter plaas in die geestelike familiekring van die gemeente waar hierdie kinders gaan opgroei. En dan besef ons dat dit om iets groters gaan.
Die doop is God se ewige belofte aan ‘n mens! Dit is sy woord van eer aan ‘n mensekind om nou en elke dag tot in die ouderdom, maar ook verder, ja selfs deur die dood heen, vir ewig jou God te wees en jou te seën met die keur van sy genadeseën, tot in alle ewigheid.
Elke predikant sal seker saamstem dat dit van die moeilikste en mooiste dae in jou lewe is, as jy uitgeroep word na iemand se sterfbed en terselfdertyd word daar ‘n kindjie in die volgende saal van dieselfde hospitaal gebore. So was dit twee weke gelede weer die geval toe Oom Pat op 84-jarige leeftyd gesterf het en klein Kobus in ongeveer dieselfde uur gebore is. Vandag is Kobus een van ons dopelinge!
Ek onthou dat destyds toe my jongste dogter in die Westville hospitaal gebore is, ek ook pastorale begeleiding moes doen by Deon, een van ons lidmate, ‘n jong pa wat besig was om aan ‘n seldsame siekte in dieselfde hospitaal te sterwe! In hierdie tye speel jou eie emosies met jou woer-woer. Een van die baie moeilike omstandighede van ons pastorale werk.
Daarby egter ook een van die mooiste. Dieselfde evangelie van die lewe word by beide bedien. Dieselfde Here en Verlosser word aangeroep. Dieselfde genade word deur die Gees uitgedeel! ‘n Sondaar wat by sy sterwe pleit om genade. Nog een wat vasgryp aan Jesus Christus wat die dood oorwin het. ‘n Gelowige wat bely dat sy enigste troos is te vinde in sy getroue Saligmaker wat hom met sy bloed losgekoop het van die toorn van God. En dan weer die kind wat gebore word in die verbond wat God al met Abraham gesluit en in Chris-tus vervul het. Om ‘n kind in die wêreld te bring is immers ‘n yslike waagstuk. Nog ‘n son-daar gebore! Maar dan nog een vir wie die Here Jesus sy lewe as offer gegee het. In beide gevalle strek die evangelie veel verder. Verder as die sonde en die dood.
So kan ons dus mekaar vertroos by die sterfbed én by die kraambed!
Maar ook van die doopvont tot in die ouderdom! Die doop is nie net ‘n kinder- of baba-ritueel nie. Nee God is aan die werk. Hy alleen. Hy belowe daar aan die dopeling (klein en groot) om getrou te sorg van die wieg tot die graf! Hy neem ons as sy kinders aan en sluit ‘n lewenslange, nee nog meer, ’n ewige verbond met ons. So kan ons by die bababed en by die ouderdomsbed staan en getroos wees in die goddelike genade wat in die Woord en Sakramente aan ons uitgedeel word.
So kan ons elke dag en heeldag bely dat ons aan Hom behoort wat ons met sy bloed ge-koop en ons kinders van God gemaak het. Ons kan dus ons hele lewe lank bely dat God getrou is, ja selfs al is ons ontrou. Hy kan Homself nie verloën nie (2 Tim 2:13).
Groete in Christus
Ds Maarten van Helden