Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 164 of 332

Profesie van Jesus se geboorte!

Skriflesing: Miga 5:1-14
Teksvers: Miga 5:1 Mat 2:6

Miga 5:1-5 is definitief ‘n profesie wat dui op die Messias, Jesus Christus se geboorte. God het die klein dorpie van Betlehem uitgekies as die geboorteplek van die Messias. Klein, nederig en tog die totale omwenteling vir God se kinders. 

  • Betlehem ‘n klein dorpie met groot bete-kenis. 
  • Betlehem ‘n klein dorpie waaruit ‘n leier voortkom. 
  • Betlehem ‘n klein dorpie waaruit ons Herder kom. 

God se liefde laat die hoop nie beskaam nie

Skriflesing: Romeine 5:1-11
Teksvers: Romeine 5:1-5

Tydens Paulus se 3de sendingreis het hy weens onvoorsiene omstandighede twee jaar lank in Efese gebly. Vandaar het hy die twee briewe aan die Korintiërs geskryf. Eindelik kon die apostel self na Korinte gaan waar hy drie maande lank gebly het. Vanuit Korinte skryf hy aan die gemeente in Rome, met die verlange om self ook na Rome te gaan en aan hulle van sy koms in kennis te stel. 

Die Romeine brief is egter alles behalwe ‘n telegram. Hier vind ons die aangrypende verkondiging en tema van die hele brief, dat die regverdige deur die geloof sal lewe. En omdat ons deur die geloof vrygespreek word, het ons vrede by God. 

Verbly jou in die Hoop

Solank daar hoop is, is daar lewe… Want hoop is baie meer as net om te wens. Natuurlik is daar niks fout om te wens nie! Ons wens vir ‘n mooi dag of wens om weer geliefdes te sien. Dit is ‘n diep en egte menslike verlange. 

Hoop is nog baie meer as dit. Om te hoop beteken dat daar by jou ‘n verwagting is. Dit word in Hebreeus selfs vertaal met vertroue… Om te hoop is om te vertrou in jou verwagting. Dit word ook so beskryf in die Hebreërbrief met betrekking tot geloof: 

Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. 

Om te hoop is om te vertrou, om te glo. In die Bybel gaan dit altyd om die beloftes van God. Dat ons kan vertrou dat God sy beloftes getrou sal nakom. En Hy het. Deur Jesus Christus sien ons hoe die beloftes van God op geldige gronde wettiglik vervul word. 

So word ons Hoop ‘n uitkoms van seën wat gefundeer is op die verlossing en verdienste van Jesus Christus. Die Here Jesus is ons Hoop. Hy is ons verwag-ting. Hy gee ons ‘n rede om uit te sien na more, en oormore. 

Daarom kan ons bly wees oor ons verwagting. Die Here gee ‘n rede om bly te wees oor dit wat Hy beloof… 

As jou moed jou wil begewe en die verlange jou bemoei, as die druk jou oorweldig en die onsekerheid jou onderkry onthou dan die woorde: 

Wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here; verbly julle in die hoop; wees geduldig in die verdrukking; volhard in die gebed. 

Lourens (VDM) 

« Older posts Newer posts »