Page 15 of 330
Skriflesing: Psalm 22 (1983)
Teksvers: Psalm 22:2 en 19-26
In ons aardse lewe is daar verskeie ervaringe van eensaamheid en dalk verwerping. Alleenlopers of weduwees en wese is nie die enigstes wat eensaamheid ken nie. Soms is mense selfs in ‘n huwelik of huisgesin eensaam. Ons dink in besonder aan beproefdes en veral aan die vervolgde gelowiges wat opgesluit is of gedurig op vlug is.
Miskien is dit ook weer tyd dat ons as lidmate van hierdie gemeente met omgee en liefde sorg dat niemand van ons weens eensaamheid uit die gemeente vervreemd raak nie!
Daarby het ons dan ook nog hierdie evangelie-woorde uit Psalm 22, wat direk net so deur Jesus aan die kruis van Godverlatenheid aangehaal of oorgeneem word.
(Last updated on November 17th, 2025)
Skriflesing: Genesis 44:24-45:28 (2020)
Teksvers: Genesis 45:7,8
‘n Mens kan jouself net indink hoe groot die skok moes wees vir Josef se broers, dat hulle so lank al die geheim van Josef se “dood” weggesteek het, en gevrees het dat hulle sonde ontdek sal word.
Die vrees van hulle sonde het onsekerheid en twyfel gebring, hulle was doodsbenoud as hulle dalk vir Josef moes teëkom in Egipte. En nou staan hulle broer hier voor hulle. Die strenge man, die owerste wat hulle soveel onsekerheid en onrus veroorsaak het, die man aan wie hulleself bereid was om as slawe oor te gee vir die lewe van hulle broer Benjamin, hy is hulle broer. Maar Josef gaan nie wraak neem nie. Hy sien God se voorsienigheid, die behoud van sy kinders. Josef is die uitverkore seun wat sy familie moet red.
God gee hierdie seun as verlosser van sy broers. So oorwin die liefde van God die kwaad.
“Did you know that one vote at a secret meeting decided what billions of people would believe for the next 2000 years? It happened at the council of Nicaea in 325 A.D., when the Roman emperor Constantine gathered bishops to settle a growing problem: Was Jesus divine or human? Was he God or chosen by God? The answer would decide who held spiritual power and who would control it. The debate exploded. Arguments turned into politics. When Constantine called for peace, they took a vote. By a show of hands they declared Jesus fully divine, equal to God. That single decision rewired the foundation of Christianity. Those who disagreed, were branded heretics, exiled and erased. The church would now decide what was true and was forbidden. But here’s the part they never told you: The council of Nicaea was not about faith, it was about empire. – https://vt.tiktok.com/ZSy1rp3SD/”
So lui die inhoud van ‘n video op TikTok wat ingekleur is met pragtige prentjies van tonele tydens die vergadering. Die argument klink nogal betroubaar en ‘n mens voel onmiddellik om tog te wonder oor wat die waarheid is. Sonder om stil te staan by die veralgemenings en verdraaiings van die waarheid in die video, is die sentrale feit van die argument, dat slegs een stem die uitslag bepaal het, geheel uit iemand se duim gesuig.
Net ‘n dekade of so voor die sinode van Nicea, sterf Diokletianus in 311 nadat hy reeds in 305 as keiser geabdikeer het. Diokletianus het die kerk wreed en meedoënloos vervolg, erger as enige ander keiser voor hom. Keiser Konstantyn, wat met die edik van Milan christenskap gewettig het, roep hierdie sinode bymekaar omdat die leer van Arius, dat Jesus ‘n skepsel is en daarom nie gelykwaardig aan die Vader nie, die kerk en staat in beroering gebring het. Sommige van die biskoppe by die sinode het nog die littekens van hulle wonde aan die hand van Diokletianus gedra, byvoorbeeld Paphnutius van Thebes, ‘n biskop uit Egipte, wat ‘n oog verloor het en sy hakskeensenings is afgesny. ‘n Halfblinde en kreupel man wat onwrikbaar in sy geloof staan. Hierdie was nie net teoloë wat oor fyn puntjies in teologiese geskrifte geredekawel het nie, hierdie was manne wat vir Christus gely het!
Toe die debat oor die wese van Christus so warm geraak het dat dit duidelik was dat die twee kante mekaar nie sou kon vind nie, was die voorstel dat ‘n belydenis opgestel word wat almal kan onderteken. Die gevolg hiervan was die Geloofsbelydenis van Nicea wat ons deesdae algemeen gebruik en ons ook nou baie beter ken as voorheen. Sommige bronne sê drie, ander dat vyf biskoppe nie die belydenis onderteken het nie. Daar was ‘n totaal van 200, dalk 318 biskoppe – ons weet nie regtig nie. Ons weet wel dat daar nooit ‘n stemming was waarmee die wese van Jesus tot iets goddeliks verklaar is nie. Dit is ook nie die getalle wat saak maak nie, dit is die gesag van God se Woord. God se Woord openbaar Jesus as die Christus, die enigste Seun van God – een in wese met die Vader. Daaroor was daar voor die sinode van Nicea nie twyfel onder die ware gelowiges nie, net soos wat daar vandag steeds geen twyfel onder ons bestaan nie. Die debat het nie hier geëindig nie, soos die indruk wat die video laat nie, dit het eerder in intensiteit toegeneem. Selfs vandag hoor ons gereeld van dwaalleringe wat hiermee ooreenstem.
Ons moet ons nie laat mislei nie deur mooi woorde en prentjies nie. Net so moet ons ook versigtig moet wees dat ons nie ander mislei met dit wat ons self soms verkeerdelik glo nie. “Ek sal die Vader vra en hy sal vir julle ‘n ander Parakleet gee, sodat Hy vir ewig by julle kan wees. Hy is die Gees van die waarheid, wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat die wêreld Hom nie sien nie en ook nie ken nie. Julle ken hom egter, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.” – Joh 14: 16-17
Oudl Pieter vd Dussen
Skriflesing: Psalm 46 (2020)
Teksvers: Psalm 46: 2, 5, 9
Die Nuwe-Testamentiese kerk het baie geworstel met die vraag hoe Psalm 46 uitgelê moet word. Die Psalm is dikwels allegories verklaar en dit het tot ‘n willekeurige uitleg gelei (vgl. bv. Augustinus).
Luther dui egter tydens die Reformasie koers aan en beklemtoon ‘n historiese verstaan van hierdie Psalm. Hierdie Psalm is duidelik ‘n trooslied soos Luther se ‘Ein feste Burg ist unser Gott’ aandui en moet ook so uitgelê word.
In die Psalm word God verkondig as:
- ‘n toevlug,
- ‘n lewegewende rivier, en
- ‘n oorwinnaars-koning.